Читать книгу Die Generaal - Hans Pienaar - Страница 9

Vyf

Оглавление

Die volgende oggend vat die kaptein my reguit na die kwartiermeester-generaal elders in Salisbury om my nuwe uniform te kry. Buite die skure het ’n paar swart soldate hul nuwe bosdrag oor die gras uitgesprei, aan die bome gehang of oor ’n klipstruktuur gedrapeer. Dis ’n verrassende gesig, swart soldate, en ek kyk haastig weg toe een van hulle pront na my terugstaar.

Ek word na die voorpunt van die tou geroep. Net omdat hulle so groot is en so taai lyk, verdien hulle om voor my bedien te word. Hulle word die Selous Scouts genoem, verduidelik Stomp Voorwerp. Die Selous Scouts staan eenkant toe sonder ’n woord. Maar ek kan hul heimlike blikke aanvoel: hulle het dadelik geweet ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek dink aan die gespot tuis: “Die Rhodies sal ook altyd die kaffers al die werk laat doen.”

Die uniform wat ek kry, is nie groen nie, maar ligblou, en weer lig ’n verveelde kaptein Reynecke my in: “SAP, Suid-Afrikaanse Polisie.”

“Gaan ek dan ’n polisieman word?”

“Net vir vyf minute,” sê hy.

Nadat ek my polisie-uitrusting by een opening in die skuur se muur gekry het, moet ek na ’n ander een ’n paar treë verder gaan, waar ek alles weer inhandig, behalwe vir die vyf onderbroeke en groen camo-tekkies. In ruil daarvoor kry ek die uniform wat ek aanvanklik verwag het, die beroemde sagte koedoeleer-stewels met gespes waarvoor die adjudant tuis my reeds ’n groot som geld aangebied het, ingesluit.

Ek probeer Stomp Voorwerp se verduideliking van agter sy hand met heelwat geloer hier en daar volg: Ons is nie veronderstel om enige betrekkinge met die Rhodesiese leër te hê nie, want dan sal Suid-Afrika beskuldig word van oorlog maak saam met hulle. Daarom moes ons by die polisiekontingent aansluit wat op afgedeelde diens by die Rhodesiese leër is, kastig om telekommunikasie te verbeter.

“Ons,” sê die kaptein, en wys na homself.

“Maar hoekom loop ons nie rond as Suid-Afrikaanse polisiemanne nie? Hulle hoef hulself mos nie te vermom nie?”

“Want ons weermag hou nie daarvan om die polisie uit te help nie, want hulle raak te militaristies,” sê die kaptein, duidelik ongemaklik. Hy is nie veronderstel om hierdie dinge met ’n blote dienspligtige te bespreek nie.

Ek volg die kaptein op sy vervelige rondte en sukkel om te konsentreer op sy verduidelikings van waarheen ek moet gaan en wat ek moet teken en wanneer en waar, en ek knik nie eens nie toe hy sê: “Ek het mense met ‘go’ nodig,” terwyl sy vuis die truspieëltjie net-net mis.

Ons ry in stilte terug na die King Edward VII-menasie.

Halfpad deur die middagete vra die man langs my, ’n een-pipper soos ek: “Wat dink jy, luitenant, dink jy nie daardie vier polisiemanne was ’n klomp jafels nie?”

“Vier polisiemanne?”

Hy dik sy verbasing aan dat ek nie weet nie. Dit blyk dat vier Suid-Afrikaanse konstabels wat op die Zambiese grens ’n paar dosyn kilometer oos van Chirundu gebaseer was, twee dae gelede in ’n lokval doodgeskiet is. Hul lyke het pas vanoggend by die Salisbury-lykshuis aangekom.

Polisiemanne. My kollegas. In teorie. In ons matriekklas was daar ’n polisieman se seun wat soms ’n halfjack brandewyn skool toe gebring het. Dit was swak styl, het almal gesê, want ware rebelle rook dagga. Hy het oor sy pa gespog, hoe hy soms saam met hom op pasklopjagte gaan; hoe hulle op enige klomp swart mense sou neerswiep en hulle in die vangwaens stop om aangekla te word op enige punt wat sou werk in die hof.

Nou lê vier van hulle in ’n buitelandse lykshuis. Ek gee nie ’n duit om vir hulle nie.

“Hul lyke,” lig ’n ander offisier ons in op ’n eienaardig berispende wyse, “is deurboor en hul uniforms is aan flarde gesny nadat hulle geskiet is. Hul tonge is uitgepluk en hul ore en voëls afgesny. Daarna is hul voëls in hul monde gestop.”

My hare rys en ek voel prikkels langs my rugstring af, maar ek gaan voort met eet, net soos die Rhodesiërs. Ek veins onverskilligheid, hulle ook: hulle praat op ware onderbeklemtoonde Britse wyse oor die vier Suid-Afrikaners se onbevoegdheid.

Dis moeilik om van hulle te verskil. Die polisiemanne was in twee voertuie en op ’n pad waar Inligting net verlede week ’n groep CT’s, oftewel Communist Terrorists, gerapporteer het. Die polisie het gereken dat dit twee lokvalle op presies die regte tyd sou verg as die twee voertuie ’n kilometer uitmekaar ry. Hulle het nie gedink dat die CT’s daartoe in staat was nie.

Die eerste Land Rover het reguit in ’n sarsie koeëls ingery. Die tweede het aangejaag gekom om hul makkers te help en só sitting ducks geword vir hul aanvallers wat koel en kalm in die bosse bly wag het.

“Wat is dommer as ’n Suid-Afrikaanse polisieman?” vra iemand. Eers toe daar ’n stiltetjie neersak, besef ek hy praat met my. Ek haal my skouers op.

“Twee Suid-Afrikaanse polisiemanne.” Almal skaterlag.

“Al wat hulle weet, is hoe om by hotelle uitgegooi te word.”

Dan volg ’n paar stories oor hoe hulle dorpe op horings neem. Ek knik maar saam, en lag selfs, want anders sal ek die bietjie ewewig wat ek het, verloor.

Dié middag, toe die kaptein by ’n koeldrankfabriek stop om ’n bestelling te plaas, kan ek dit nie meer hou nie en gaan sit ek teen die muur van ’n skuur. Ek wil my gemoed suiwer van alles wat ek gehoor het. Die beelde van die lyke en die penisse wat in hul monde gedruk is, spook by my. Die arrogante Rhodesiërs. No go. No go. No go. Ek wil my kop vol leë bottels hê, dit ’n skuur van deursigtige glas maak. No go. “Fok jou, kaptein, fok jou,” mompel ek. Ek wil geen “go” in geen lewe hê nie, nie vir ’n lang tyd nie. Deur die venster hou ek die leë bottels dop wat op ’n voerband wegklingel. Die plek is so verskriklik skoon.

Die kaptein kan sy ergerlikheid nie wegsteek toe hy my uiteindelik kry nie.

“Hoekom volg jy my nie, luitenant?”

Ek wil sê ek weet hoe om vorms te teken en my gesig elke vyf minute met ’n sakdoek af te vee, maar ek haal net my skouers op. Ons gluur mekaar vir ’n paar oomblikke aan, maar net toe dit lyk of dinge gaan handuit ruk, klap hy ’n denkbeeldige vlieg langs sy oor weg asof hy wil sê: Snork maar op. Hy draai om en stap terug na die motor.

Ná aandete dryf ek saam met die stroom kroeg toe, en van daar af na ’n eenkantkamer. In ’n kabinet is ’n televisiestel, iets wat ek nog net op koerantfoto’s en in nuusfilms in Suid-Afrika gesien het. Die mense op die skerm lyk te groot vir die vertrek, ek sukkel om daaraan gewoond te raak. Anders as in die bioskoop doen hulle niks nie, staan of sit net rond of praat oor telefone. Hulle lyk eintlik grotesk, soos eksperimente wat skeefgeloop het, asof die gekartelde pote van die televisiekas aan hul lywe vasgeskroef is.

Koorsagtige advertensies volg, en dan die nuus. ’n Man in ’n pak klere en ’n ewe goedversorgde vrou glimlag breed, hoewel hulle baie ongemaklik lyk. Dit lyk asof hulle probeer wegsteek dat daar dwangbuise onder hul klere is.

Dan verskyn ’n man in ’n wit safaripak op die skerm; ’n volwassene in die gedaante van ’n seun wat skoolgrappies aan ’n volwasse gehoor in ’n saal vertel. Hy spel sy naam met ’n W, Wrex, en sy van, Tarr, is gepas, want hy trap so baie rond dat dit lyk of sy bosskoene aan die vloer vassit.

Die Rhodesiese offisiere val amper van hul stoele af van die lag. Ek glimlag maar uit beleefdheid, en gryns styf toe Tarr oor en oor aksente na-aap: “It is eight off the clock and on it, Greenwich. Meantime, here is some news.”

Toe ek later in my bed lê, draai die swart-en-wit beelde steeds in my kop. Die nuus het heeltemal fiktief gelyk. Ian Smith se sidekick, PK van der Byl, geklee in ’n dubbelborsbaadjie, wit broek en ’n fedora – kompleet asof hy op ’n seiljag hoort – oorhandig ’n medalje aan ’n hoofman by ’n hospitaal …

Net soos die hoofman, toon die swart pasiënte absoluut geen waardering daarvoor terwyl ’n welluidende stem praat oor die uitroeiing van bygeloof, wat die “local population” so kwesbaar maak vir “communist terrorist”-uitbuiting in die “near war situation” nie.

Dis ’n bevryding om die volgende dag weg te kom. Maar dis van korte duur, want by die eerste verkeerslig kondig Stomp Voorwerp aan dat hy na die polisiemanne se lyke wil gaan kyk. Die offisier aan diens by die lykshuis is ’n vriend van hom, maar hulle groet mekaar sonder ’n glimlag. Die vriend neem ons na ’n yskoue kamer waar ’n doodsreuk hang.

Hy pluk aan ’n handvatsel en ’n groot staalrak gly oop. Die naakte man lê voor ons, so skoon asof hy pas vir sy huweliksnag gebad het. Daar is geen bajonethale op sy liggaam nie, net ’n magdom halfduimsnitte. Sy tonglose mond is getuit, soos iemand wie se wind uitgeslaan is, en die uitdrukking op sy gesig is peinsend, asof hy op iets diep in homself fokus.

Sy afgesnyde penis is weer aangewerk, met die garing van die steke wat in alle rigtings wys. Ek voel ’n impuls om my hand daaroor te waai sodat hulle soos vlieë kan wegvlieg.

Stomp Voorwerp dring daarop aan om na al vier te kyk, maar ek het genoeg gehad. Ek stap solank motor toe.

Wat het my besiel om te gaan kyk? Ek moet myself dwing om te erken: die man se penis. Dis wat ek wou sien. En hoe hulle die skending herstel het.

Toe ons op die grootpad kom, is dinge dadelik beter. Maar ook nie vir lank nie. Ons bevind ons in ’n rivier van hitte, en die vloei daarvan skyn ’n wit geraas te maak wat jou nie wil sus óf wakker hou nie.

Dan begin die kaptein praat. Vir kilometers aaneen dreun hy voort oor sy “styl van offisierskap”, oor die brigadevlakbestuur by die basis, oor terugvoerstelsels …

“Ek het mense met ‘go’ nodig, mense met woema,” herhaal hy sy mantra oor en oor, elke vyftig kilometer of so, en boggel oor die stuurwiel terwyl hy die venster afwen, en dit weer opdraai omdat die lug binne koeler is as dié buite. Meer as een keer wil ek na die stuurwiel reik wanneer sy ooglede knip-knip. In ’n stadium mompel hy vaak: “Ek hoop jy gaan wys dat jy woema het.”

Hy laat my toe om by die eerste tsetse-beheerpunt oor te neem, net voor die voorlaaste dorp. ’n Mens is veronderstel om jou motor in ’n skuur te stuur sodat ’n beampte die onderstel kan besproei. Maar daar is niemand nie. Al drie beamptes is ’n week gelede in ’n aanval doodgeskiet.

Ons loop om die afdak en Stomp Voorwerp maak allerhande idiotiese afleidings oor die vervaardigers van die koeëls wat hul obsene klein gaatjies in die sinkplaat agtergelaat het. AK-47, Tsjeggo-Slowakye, vinniger, gaatjies nader aan mekaar. Vinniger? Nader?

Somber beveel hy my om twee Uzi’s uit die kattebak te haal. Vir die res van die rit lê hulle in ons skote met die veiligheidsknippe af. Ek probeer vasstel hoe ek voel: angstig, versigtig, opgewonde? Maar daar is net ’n leegheid.

Anderkant Karoi word die landskap al wilder. Die buitengewoon goedgeteerde pad pas glad nie in hierdie land nie; wilde diere slenter heen en weer daaroor en ruk hul koppe verward op om op die vlug te slaan as ons nader kom. Dit word ’n bloedige tog, met dier op onskuldige dier as offer.

“Sjoe!” roep ek, en Stomp Voorwerp ruk van die skrik, terwyl ons al nader aan ’n trop tarentale in die pad kom. Pleks van op die laaste oomblik opvlieg, hardloop ’n paar links en die ander regs en bots met mekaar in die middel. Die motor hink effens van die slag en in die truspieëltjie sien ek net ’n fladderende hoop vlees en vere.

Dit voel naderhand of die rit bedoel is om ’n lid van elke spesie fauna dood te kry, hul beendere vermorsel in die sakke van hul huide, met bloed wat uit hul neuse spuit, hul ruggrate vasgesweis aan die teer …

Nie dat ons elke keer die oorhand het nie. Om ’n draai gekom, moet ek remme aanslaan vir ’n trop olifante skaars ’n paar treë verder. Ons sit eers geduldig en wag en luister na die enjin wat spin onder die kap. Dit lyk of die olifante probeer besluit wat om met ons te maak. Naderhand begin Stomp Voorwerp senuweeagtig fluister dat ek die rathefboom in trurat moet sit en die brandstofpedaal moet pomp, sodat ons nie sal stol as een sou storm nie. Sy vingers is wit soos hulle om die Uzi klou, en hy tuur koorsagtig na die olifante.

Ek besef Stomp Voorwerp is die paniekerige soort. Dis nie verrassend nie. Ons is in ’n land waarin jy nie net kan wéés nie. Jy moet ’n strategie hê, minstens ’n plan vir elke dag. Jy kan nie eens ingedagte na die bome staar nie. Die bome lyk soos Suid-Afrikaanse bome, ja, maar hulle is soveel groter, met meer ingewikkelde stamstelsels, en hulle lig hul takke soos arms, asof hulle rituele wil beoefen wat by verdwaalde monnike hoort.

Sien hierdie bome in jou drome, en hulle sal begin beweeg en hulself uit hul wortels skeur en jou oorweldig.

Toe ons uiteindelik die eskarp bereik, trek ek die motor van die pad af om oor die Zambezivallei uit te kyk. Stomp Voorwerp gee my eers ’n geïrriteerde kyk, maar ook s´y asem word weggeslaan deur die ontsagwekkende oerwoud in die vallei onder ons. Hier speel die natuur nie meer speletjies nie. Hier onthul die monster die krag wat in sy pype skuil, en dat dat hy ongevoelig én ongenadig is. Elders val die natuur aan met krampe in sy kloue en gifstowwe in blertse, en sy steke en byte is desperaat, maar hier staan dit gereed om jou te oorweldig met oordaad en oormaat, onbeteueld en onbeperk.

Ons ry in stilte onder die woud se dak deur, ons arms so oortrek met sweet en die smere van muskiete en steekvlieë en ander insekte met komplekser ontwerpe dat ons lyk soos soldate wat met Black Is Beautiful gegrimeer is.

Chirundu is ’n skietstilstand in die groot groen veldslag rondom ons. Die huise en die winkels, wat eerder handelsposte genoem behoort te word, lyk kuis en versigtig en of hulle kampopdragte na die letter uitvoer. Hulle probeer om hul omgewing nie te beledig nie, roerloos soos bewaarders wat oefen om saam met slange in ’n glaskas te slaap.

Die basis is die uitsondering. Ons kronkel teen ’n bult op, en meteens is dit daar. Ek is verstom dat so ’n groot struktuur so goed verberg kan word, want voor ons toring ’n spektakel van sandsakke: ’n outentieke fort, kompleet met twee wagtorings weerskante van ’n swaar hek waarvandaan twee dik sandsakmure tussen die reusagtige bome in verdwyn.

Binne is daar ’n deurmekaarspul van tawwe voertuie wat amper almal met droë modder bedek is. Agter hulle is ’n paar skewe dog stewige geboue, en nog sandsakke, almal mooi opmekaar waar daar ook al die geringste verskoning vir ’n stapelplek is. Ons draai na regs, waar nog ’n nes geboue onder die bome verskyn, met ’n hele web antennes bokant hulle asof hulle op ’n permanente gereedheidsgrondslag is om, miskien, reusagtige muskiete te vang wat deur die boomtoppe skeer.

Ons stop in ’n vierkant wat met gruis bedek is en die inwoners van die weermag se deel van die basis verskyn in hul barakke se deure. Hulle is net in hul swart oefenbroeke geklee. Een of twee dra ’n paar rooi plakkies. Later sal ek uitvind dat almal so ’n paar het omdat selfs die volprese groen Rhodesiese tekkies te veel hitte absorbeer en te smerig en krapperig raak van al die sweet.

Ek loer rond nadat ek uit die motor geklim het, nie seker of ek hulle moet groet en of hulle nie ten minste behoort te maak of hulle salueer nie.

“Kyk, hy’s klaar bang!” roep een, en die hele klomp lag.

Ek’s nie bang nie, nie omdat ek so dapper is nie, maar omdat ek niks voel nie. Ek draai sonder ’n woord om, knip die kattebak oop en sloer terwyl ek my balsak uithaal.

Dis duidelik uit hul agterdogtige gegluur dat hulle weet hoekom ek hier is. Ek weet ook instinktief dat terwyl sommige van hulle seker daarna uitsien om nog ’n offisier in te breek, daar ’n paar moet wees wat ’n bietjie angstig voel.

’n Laaste een kom om die hoek van ’n gebou gesluip, bekyk die toneel lusteloos met sy skouers in ’n boggel soos hy sy lyf nog slapper maak. ’n Sigaret bly net-net aan sy vingers hang. Dis Swart Vest, sien ek onmiddellik, maar dit lyk nie of hy my herken nie.

Die Generaal

Подняться наверх