Читать книгу Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes - Hilda Lategan - Страница 10
Brood-en-eiertertjies
ОглавлениеLewer 4 tertjies
VOEDINGSTOFANALISE PER PORSIE (1 TERTJIE): | ||||
764 kJ | 13,8 g CHO | 10,5 g proteïen | 8,6 g vet | 2,8 g MOVS |
1,6 g POVS | 4,2 g VV | 2,0 g vesel | GI is laag (52). | |
Een porsie is gelykstaande aan: 1 stysel + 1 mediumvet-proteïen + 1 vet. |
4 snye lae-GI-bruinbrood (± 120 g sonder korsies)
10 ml sagte of “lite” margarien
4 groot eiers
60 ml gerasperde laevet-cheddarkaas (25 g)
’n bietjie paprika
’n bietjie vars pietersielie – takkies of gekap
sout na smaak
varsgemaalde swartpeper na smaak
1.Voorverhit die oond tot 180 °C.
2.Spuit vier ramekinbakkies of vier muffinholtes met kleefwerende kossproei.
3.Sny die korsies van die brood af. Rol elke sny brood platter met ’n rolstok en smeer liggies met margarien. Plaas elke sny brood versigtig, met die gesmeerde kant na onder, in elke bakkie of holte en vorm soos ’n tertkors.
4.Breek ’n eier in elke “tertkors” en bak vir 10 minute teen 180 °C. Strooi die gerasperde kaas bo-oor die eiers. Bak vir nog 5 tot 8 minute totdat die eiergeel na smaak gestol het.
5.Strooi ’n bietjie paprika oor en garneer met pietersielie. Geur na smaak met sout en peper en sit warm voor.
KAN EK DIT BÊRE?
Die tertjies smaak die beste wanneer dit vars bedien word.
SPYSKAART-IDEE
Brood-en-eiertertjies
Gebakte bone in tamatiesous
’n Porsie vars vrugte