Читать книгу Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes - Hilda Lategan - Страница 5

INLEIDING

Оглавление

Daar word geraam dat 366 miljoen mense wêreldwyd diabetes het, en volgens die Internasionale Diabetesvereniging (IDF) sal sowat 552 miljoen mense teen 2030 aan die siekte ly. Hierdie syfers is heelwat hoër as vorige skattings.

In Suid-Afrika word gereken dat daar tans reeds 3,5 miljoen mense (sowat ses persent van die bevolking) met diabetes gediagnoseer is. ’n Verdere vyf miljoen Suid-Afrikaners is na raming prediabeties vanweë insulienweerstandigheid, ’n toestand wat bydra tot verhoogde bloedglukose, hoewel hierdie bloedglukosewaardes nie hoog genoeg is dat die persoon met tipe 2-diabetes gediagnoseer kan word nie. Dit neem gemiddeld sewe jaar voordat iemand met diabetes gediagnoseer word, en teen dié tyd het daar dikwels reeds komplikasies weens die siektetoestand ingetree. Die meerderheid van lyers het tipe 2-diabetes.

Ondanks hierdie skrikwekkende syfers is daar die bemoedigende boodskap dat diabetes nie ’n geïsoleerde, onbekende siekte is wat net vir jou of jou naasbestaandes tref nie, en dat daar mediese navorsing, voedingkundige inligting en medikasie is wat kan help met die beheer van die siektetoestand.

Die vroeë diagnosering van diabetes tesame met die pro-aktiewe behandeling daarvan is belangrik om komplikasies op lang termyn te voorkom en ’n beter lewensgehalte en lewensverwagting te verseker. ’n Persoon met diabetes wie se toestand beheer word, is nie siek nie en hy of sy kan ’n gesonde, aktiewe en gelukkige lewe sonder komplikasies lei. Soos enige ander mens behoort ’n persoon met diabetes ’n gesonde leefstyl na te streef en hy of sy moet gereeld oefen, gebalanseerd eet, matig alkohol gebruik en genoeg rus en ontspan.

Waarom ontstaan diabetes?

Insulien is die hormoon wat glukose in die liggaamselle opneem en help om dit in energie om te sit. Insulien is ook betrokke by die omskakeling en die berging van onbenutte glukose en energie in die vorm van liggaamsvet.

Diabetes is die toestand waar die liggaam nie die bloedglukosevlakke doeltreffend kan beheer nie omdat die pankreas (die klier wat insulien vervaardig) te min of geen insulien produseer nie. Dit gebeur ook dat die pankreas wel insulien produseer, maar dat dit nie doeltreffend gebruik word nie, in gevalle wat later onder tipe 2-diabetes bespreek sal word.

Wanneer te min of geen insulien teenwoordig is, kan die glukose nie behoorlik in die sel opgeneem word nie. Die bloedglukose styg en die bloed word gevolglik dik en “stroperig”, terwyl van die oortollige glukose ook in die urien uitgeskei word. ’n Hoë bloedglukosevlak is gevaarlik en kan ernstige komplikasies inhou as dit nie behandel word nie.

Wat is die simptome van diabetes?

Die simptome van ’n onbeheerde hoë bloedglukosekonsentrasie sluit in:

1.Oorweldigende dors, omdat die liggaam die glukose in die bloed probeer verdun sodat dit deur die niere uitgeskei kan word. Hierdie proses lei tot die oormatige uitskeiding van urien en kan uiteindelik dehidrasie en die verlies van elektroliete tot gevolg hê.

2.Moegheid en swakheid, omdat te min glukose die selle bereik waar energie geproduseer word.

3.Lyfseer en griepsimptome as gevolg van metaboliese wanfunksie en inflammasie.

4.Versteurde sig, omdat die veranderings in die bloedglukosevlakke die druk in die oogbal verhoog, terwyl die posisie en vorm van die lens in die oogbal ook verander.

5.Naalde-en-spelde-sensasie in die voete en hande weens die aantasting van die senuwee-eindpunte.

6.Knaende honger, die behoefte om aanhoudend te peusel en gewigsverlies, omdat die glukose nie doeltreffend in die liggaamselle opgeneem en in energie omgeskakel word nie. Die liggaam breek dan van sy eie vet en proteïene (spiere) af om in sy behoefte vir energie te voorsien.

7.’n Jeukerige vel, infeksie en vertraagde wondgenesing weens die gunstige teelaarde wat deur die teenwoordigheid van suiker geskep word vir bakterieë en ander organismes.

8.Koma – verlies van bewussyn, ’n gevaarlike toestand.

’n Ongesond hoë bloedglukosekonsentrasie en diabetes mellitus word gediagnoseer op ’n kapillêre bloedglukosekonsentrasie van 7,1 mmol/liter (vastend) of 11,1 mmol/liter (twee uur ná ’n maaltyd of lukraak) en met ’n HbA1c van hoër as 6,5%. Die HbA1c is ’n merker van hoe doeltreffend jou bloedglukose die voorafgaande drie maande beheer is.

Die bloedglukosekonsentrasie kan ook te laag daal (laer as 3,5 mmol/liter) indien te veel insulien gespuit word of medikasie nie volgens voorskrif gebruik word nie, as die voorgeskrewe maaltydplan nie gevolg word nie, maaltye oorgeslaan word, onbeplande fisieke aktiwiteit meer energie vereis as waarvoor in die maaltydplan voorsiening gemaak is, of alkohol gedrink word sonder ’n versnapering of maaltyd daarna. Die simptome van ’n lae bloedglukosekonsentrasie of hipoglukemie sluit in:

•Honger, moegheid

•Bewerigheid, duiseligheid, bleekheid, hartkloppings

•Versteurde sig, afname in konsentrasie, kloppende hoofpyn

•Naarheid, sweterigheid

•Gemoedskommelinge (geïrriteerdheid, verwardheid, aggressie)

•Koma

Verskillende soorte diabetes

Die volgende word onderskei:

•Tipe 1-diabetes

•Tipe 2-diabetes

•Swangerskap-diabetes

•Ingekorte glukosetoleransie

Tipe 1-diabetes

Tipe 1-diabetes kom minder algemeen as tipe 2-diabetes voor. Tipe 1-diabetes ontstaan as gevolg van ’n absolute tekort aan insulien weens skade aan die eilandjies van Langerhans in die pankreas waar insulien geproduseer word. Hierdie toestand is onomkeerbaar en tipe 1-diabete is baiekeer nie oorgewig nie. Insulieninspuitings, saam met ’n gebalanseerde dieet, is ’n belangrike deel van die behandeling. Ongekontroleerde hoë bloedglukose kan op lang termyn bydra tot skade aan die bloedvate, met die gevolglike voorkoms van hartvatsiektes, nierskade, nierversaking, diabetiese retinopatie (oogskade), neuropatie (aantasting van die senuwee-eindpunte) en amputasie van die laer ledemate weens swak bloedtoevoer en gangreen. By kinders met swak gekontroleerde tipe 1-diabetes kom ketoasidose (’n toestand wat die gevolg is van energieproduksie uit vet pleks van glukose), groeivertraging en vertraagde puberteit ook voor.

Tipe 2-diabetes

Tipe 2-diabetes is die algemeenste vorm van diabetes en daar is ’n genetiese verband, wat beteken dat die siektetoestand in families voorkom.

Die simptome en diagnose van tipe 2-diabetes word dikwels vir tot sewe jaar misgekyk hoewel die wanfunksionering van die betaselle reeds teenwoordig is. Lank voordat ’n persoon dus daarvan bewus is, kan chroniese verhoogde bloedglukose reeds bydra tot skade aan die bloedvate, met die gevolglike voorkoms van hartvatsiektes, beroerte, nierskade, nierversaking, diabetiese retinopatie (oogskade), neuropatie (aantasting van die senuwee-eindpunte) en amputasie van die laer ledemate weens swak bloedtoevoer en gangreen in later jare.

Tipe 2-diabetes hou dikwels verband met vetsug en ’n onaktiewe leefstyl, hoewel eersgenoemde nie altyd by ouer pasiënte teenwoordig is nie. Die ontstaan van tipe 2-diabetes is dikwels die metaboliese gevolg van te veel vet in die buik, spierweefsel en lewer. Hierdie vervetting, in kombinasie met hoë bloedglukose, dra by tot betaselwanfunksie, verhoogde bloeddruk, ’n tipiese bloedvetprofiel (lae HDL, verhoogde trigliseriedvlakke, verhoogde LDL) en insulienweerstandigheid. HDL, oftewel hoëdigtheidslipoproteïen, is die “goeie” cholesteroldraer en help met die skoonmaak van die are. LDL, die laedigtheidslipoproteïen, is die “slegte” cholesteroldraer wat die aarwande laat aanpak.

Met insulienweerstandigheid word die insulienproduserende betaselle van die pankreas oorgestimuleer om te veel insulien af te skei in ’n poging om die bloedglukose binne normale perke te kry. Ten spyte van die verhoogde sirkulerende insulien kom dit voor asof die liggaamselle ’n weerstand ontwikkel teen die normale werking van insulien.

Emosionele en fisieke stres kan ook ’n bydraende faktor van tipe 2-diabetes wees. Die liggaam word aan verhoogde fisieke stres blootgestel wanneer lang werkure tot erge uitputting lei. Indien maaltye in hierdie tyd oorgeslaan word, kan dit bydra tot die weerhouding van voedingstowwe vir die instandhouding van die liggaamsweefsel en moontlik ook inflammasie veroorsaak.

Verslanking, ’n gesonde leefwyse, gesonde eetgewoontes en gereelde oefening word as belangrike aspekte van die behandeling van tipe 2-diabetes beskou. Medikasie word dikwels bygevoeg ooreenkomstig die persoon se bloedwaardes. Na gelang van die aard van die betaselwanfunksie begin mense met tipe 2-diabetes deesdae baie vroeër met insulienterapie om agteruitgang op lang termyn weens die toestand te vertraag.

Waar tipe 2-diabetes vroeër as die siekte van “ouer mense” beskou is, word die toestand toenemend by kinders waargeneem en word aanbeveel dat sulke kinders na ’n spesialis verwys word.

Swangerskap-diabetes

Swangerskap-diabetes ontstaan as gevolg van hormoonveranderings tydens swangerskap. Hoewel die toestand ná die baba se geboorte gewoonlik spontaan verbeter, bestaan die moontlikheid dat vroue met swangerskap-diabetes mettertyd tipe 2-diabetes sal ontwikkel. Dit is belangrik om bloedglukose tydens swangerskap te beheer met ’n gebalanseerde maaltydplan en ook ná die baba se geboorte steeds gesonde eetgewoontes te handhaaf.

Ingekorte glukosetoleransie of prediabetes

Mense met ’n ingekorte glukosetoleransie het verhoogde bloedglukosewaardes, maar nie sodanig dat dit as diabetes gediagnoseer kan word nie. Hierdie siektetoestand staan ook as prediabetes bekend. Die behandeling van die toestand sluit in gesonde eetgewoontes, gereelde oefening en langtermyn-gewigsbeheer. Ingekorte glukosetoleransie kan verbeter, konstant bly, of in tipe 2-diabetes ontwikkel.

Sensitiwiteit vir suiker

Tydens konsultasies kom ek dikwels mense met allergieë teë by wie suiker of sukrose en verfynde koolhidrate ongemak veroorsaak. Hierdie ongemak kan wissel van skielike moegheid, hoofpyn, migraine, buikongemak, buikopsetting en winderigheid tot los stoelgange.

In die geval van ware sukrose-intoleransie is daar ’n tekort aan die ensiem sukrase, wat sukrose in glukose en fruktose moet afbreek. Die simptome van hierdie siektetoestand is onder meer diarree en opgeblaasdheid, wat veroorsaak word deur gisting en gasproduksie in die maagdermkanaal. Hierdie sensitiwiteit vir suiker hou nie verband met diabetes nie, maar lyers vind wel baat by ’n suikervrye dieet.

Wat word beskou as goed gekontroleerde diabetes?

Soos voorheen genoem, kan bloedglukosevlakke wat oor ’n lang tydperk skommel of hoog bly, die vate beskadig wat bloed aan die hart, niere, oë en senuwee-eindpunte voorsien.

Hoewel die vastende bloedglukosewaardes belangrik is, word toenemend gekyk na die bloedglukosewaardes twee uur ná ’n maaltyd.

SEMDSA gee in hul 2012-riglyne die volgende ideale vingerprikwaardes vir bloedglukose:

Jonger diabete sonder komplikasiesMeerderheiddiabeteOuer diabete met komplikasies
Vastend4,0-7,0 mmol/l4,0-7,0 mmol/l5,0-8,0 mmol/l
Twee uur ná ete4,4-7,8 mmol/l5,0-10,0 mmol/l< 12,0 mmol/l

’n Gedeelte van die rooibloedsel bekend as hemoglobien word beïnvloed deur die hoeveelheid glukose wat in die bloedstroom teenwoordig is. Dit is raadsaam om gereeld die HbA1c-toets te laat doen. Soos reeds genoem, is die HbA1c ’n merker wat aandui hoe doeltreffend jou bloedglukosebeheer die voorafgaande drie maande was. Dit behoort elke ses maande herhaal te word. Dit is die ideaal om die HbA1c so laag moontlik te hou sonder om hipoglukemie te veroorsaak.

SEMDSA* gee die volgende riglyne vir HbA1c-waardes:

Jonger diabete sonder komplikasiesMeerderheid diabeteOuer diabete met komplikasies
< 6,5%< 7,0%< 7,5-8%

Goue reëls vir die beheer van diabetes

•Berus daarin dat diabetes by jou gediagnoseer is.

•Verstaan wat diabetes is en wat die behandeling daarvan behels.

•Gebruik jou medikasie soos voorgeskryf en gesels met die lede van jou diabetiese versorgingspan as jy onseker voel.

•Verstaan en ken die beginsels van goeie voeding en pas dit elke dag toe.

•Hou jou bloedglukose in bedwang deur:

–’n gebalanseerde dieet volgens jou behoeftes te volg, of

–’n gebalanseerde dieet te volg, insulieninspuitings en/of diabetiese pille te gebruik soos voorgeskryf, en

–tesame met jou behandeling ook gereeld oefening te doen.

•Hou noukeurig rekord van jou bloedglukoselesings, veral indien dit baie wissel.

•Wees eerlik as jy oortree met die verkeerde eetgoed en nie die medikasie korrek gebruik nie.

•Hou jou liggaamsgewig binne 10% van die ideale gewig vir jou lengte of handhaaf ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) – ’n aanduiding van gesonde gewig – van onder 25 kg/m2.

•Versorg jou voete gereeld. Meld dadelik indien seertjies of skaafplekke nie wil genees nie en laat ’n verantwoordelike persoon jou toonnaels knip.

•Laat jou bloeddruk gereeld die lede van toets as jy las van hoë bloeddruk het.

•Wees so aktief moontlik.

•Besoek gereeld die lede van jou versorgingspan, onder wie jou geneesheer, dieetkundige, oogkundige en voetkundige.

Gesonde eetgewoontes

Voedsel vorm ’n belangrike deel van enige mens – ook die persoon met diabetes – se lewe en dit behoort steeds genotvol te wees. Die voedsel wat ons eet behoort ook goeie voedingswaarde te hê. Wanneer diabetes by jou gediagnoseer word, word jy gedwing om jou eetgewoontes te hersien en aan te pas, wat voordele vir die instandhouding van jou liggaam sal inhou.

Riglyne vir goeie voeding

Die Suid-Afrikaanse voedselgebaseerde dieetriglyne is in 2012 hersien en gedurende 2013 gepubliseer. Hierdie riglyne is eenvoudig om na te volg en sluit die volgende in:

•Eet daagliks ’n verskeidenheid voedselsoorte en versprei dit in eweredige maaltye oor die dag.

•Maak styselryke voedsel deel van die meeste van jou maaltye. Eet meer lae-GI-voedsel.

•Eet elke dag minstens vyf porsies vrugte en groente.

•Eet gereeld gaar droë bone, erte, lensies en soja.

•Neem elke dag laevetmelk, -maas, -jogurt of maaskaas in. Jy kan daagliks – volgens jou voedselbegroting – vis, hoender, maer rooivleis of eiers eet.

•Gebruik vet spaarsaam. Kies plantolies eerder as harde vette en kies meer dikwels mono- en poli-onversadigde vette.

•Kweek die gewoonte aan om daagliks genoeg skoon, veilige water te drink.

•Gebruik sout en soutbevattende voedsel spaarsaam.

•Gebruik alkohol oordeelkundig en in oorleg met jou geneesheer en dieetkundige.

•Gebruik suiker en suikerbevattende voedsel en drank spaarsaam en in oorleg met jou dokter en dieetkundige.

•Wees meer aktief en hou jou liggaamsgewig in toom.

Die gebruik van voedselruillyste

Om die keuse van geskikte voedsel vir gebalanseerde maaltye te vergemaklik en bloedsuiker doeltreffend te beheer, word die gebruik van voedselruillyste aanbeveel. Daar is ses ruillyste en op elkeen verskyn voedselitems van spesifieke hoeveelhede. Al hierdie items – in bepaalde porsiegroottes – verskaf naastenby dieselfde hoeveelheid energie, vet, koolhidrate en proteïen en kan dus in jou maaltydplan afgewissel word. Die items op elke lys het ’n spesifieke funksie en geen enkele voedselgroep kan in al die voedingsbehoeftes voorsien nie. Voedselitems uit al ses ruillyste is dus nodig om aan ’n mens se voedingsbehoeftes te voldoen. Die lyste is ’n goeie hulpmiddel wanneer jy jou insuliendosis volgens die berekening van die hoeveelheid koolhidrate in jou maaltyd wil aanpas. Die glukemiese indeks (GI) kan verder baie doeltreffend saam met hierdie lyste gebruik word.

Die koolhidraat- (CHO-), proteïen-, vet- en energie-inhoud van die voedselitems in elke ruillys word soos volg uiteengesit:

VoedselruillysCHO(g)Proteïen(g)Vet(g)Energie(kJ)
Melk1 volroommelk1 laevetmelk1 vetvrye melk12121288985-640525340
Proteïen1 mediumvet-proteïen1 laevet-proteïen1 plantproteïen--8774531310230230
Stysel152-275
1 vry groente1 medium groenteMinimaal7Minimaal2--Minimaal150
1 vrugte15--250
1 vet--5190

Koolhidrate en diabetes

Koolhidrate word in die gebalanseerde dieet ingesluit as verskillende suikerbevattende kosse en suikerprodukte, soos konfyt, en styselryke voedsel, soos brood, graan, peulgewasse, groente, vrugte en melk. Koolhidrate word deur die liggaam verteer tot enkelsuikermolekules soos glukose, fruktose en laktose (melksuiker). Die deel wat nie verteer word nie, staan bekend as vesel. Vesel bevorder peristalse (dermbewegings) en werk hardlywigheid teë. Indien geen koolhidrate ingeneem word nie, word proteïen (eintlik ’n boustof) en vet as bron van energie gebruik. Koolhidrate verseker dus dat die proteïen in jou dieet hoofsaaklik vir die herstel en instandhouding van die liggaam gebruik word.

Koolhidrate is nie alleen ’n belangrike bron van energie nie, maar in die vorm van glukose is dit ook die enigste energiebron van die brein. Daarom is dit belangrik dat diabete koolhidraatryke voedsel by elke maaltyd insluit.

Wanneer proteïen en vet saam met koolhidrate ingeneem word, word die verteringstyd van die voedselkombinasie verleng en derhalwe word die vrystelling van glukose in die bloedstroom vertraag.

Ten einde goeie bloedglukosebeheer te verseker, is dit belangrik om te weet dat verskillende koolhidraatryke voedselsoorte vanweë hul variërende glukemiese indeks nie dieselfde uitwerking op die bloedglukose het nie.

Wat is die glukemiese indeks (GI)?

Die glukemiese indeks van koolhidraatryke voedselsoorte is ’n berekende waarde en gee ’n aanduiding van hoe vinnig en in watter mate die bloedglukose deur die inname van ’n spesifieke voedselsoort beïnvloed word.

Koolhidraatryke voedsel wat stadig verteer en geabsorbeer word, het ’n lae GI en dra by tot ’n meer geleidelike vrystelling van glukose in die bloedstroom, wat ’n verminderde insulienreaksie en beter bloedglukosebeheer tot gevolg het. Omdat dit ’n geleidelike proses is, word die spysverteringskanaal nie so vinnig geledig nie, wat dan die hongersensasie vertraag.

Koolhidraatryke voedsel wat vinnig verteer en geabsorbeer word, het ’n hoë GI en veroorsaak ’n vinnige toename van glukose in die bloedstroom, wat ’n verhoogde insulienreaksie en/of insulienbehoefte vanweë die vinnige styging in die bloedglukosevlak meebring. Die spysverteringskanaal word redelik vinnig geledig, wat lei tot ’n vroeë hongersensasie. Indien hierdie groter hoeveelheid glukose in die bloed nie doeltreffend in die liggaamselle in energie omgeskakel word nie, bly die sirkulerende bloedglukose hoog vanweë die afwesigheid van insulien of, soos in die geval van insulienweerstandigheid, word hierdie glukose as vet in die liggaam gebêre.

Koolhidraatryke voedsel word ingedeel in items met ’n lae GI (55 of minder), intermediêre GI (56 tot 70) en hoë GI (meer as 70). Uit ’n praktiese oogpunt word koolhidraatryke voedsel met ’n GI van tot 62 as items met ’n aanvaarbaar “lae GI” beskou, met die aanname dat dit in kombinasie met die res van die voedsel in die maaltyd stadiger verteer en geabsorbeer sal word.

Benewens beter bloedglukosebeheer hou ’n lae-GI-dieet ook voordele in ten opsigte van die beskerming teen die ontwikkeling van vetsug, kolon-, prostaat-, ovariële en borskanker.

Faktore wat die GI van voedsel beïnvloed

Die volgende faktore het ’n uitwerking op die vertering en absorpsie van koolhidrate, asook die bloedglukosevlak:

Die gaarmaak en gelatinering van stysel

Die gaarmaak van stysel veroorsaak die uitswelling en gelatinering van die styselgranules (korrels) in die teenwoordigheid van water en hitte. Hierdie gegelatineerde stysel dra by tot vinniger of makliker vertering deur die ensieme in die spysverteringskanaal en kan ’n hoër GI tot gevolg hê.

Die afkoeling en retrogradering van stysel

Styselagtige voedsels wat met klam hitte gaargemaak word, soos aartappels en mieliepap, verteer ná afkoeling moeiliker as gevolg van die retrogradering van die stysel. Hierdie stysel bied weerstand teen vinnige vertering en dra dus by tot ’n laer GI.

Veseltipe en veselinhoud

Wateroplosbare vesel (soos in gaar droë bone, lensies, kekerertjies en soja) verlaag die GI omdat dit maaglediging vertraag, terwyl die wateronoplosbare vesel (soos spysverteringsemels) slegs in groot hoeveelhede die GI verlaag.

Suikers

Nie alle soorte suiker word teen dieselfde tempo geabsorbeer nie. Glukose word baie vinnig geabsorbeer en het ’n hoë GI (100), terwyl fruktose (vrugtesuiker) stadig geabsorbeer word en gevolglik ’n lae GI (23) het. Sukrose (rietsuiker) is ’n mengsel van glukose en fruktose en het ’n intermediêre GI (65). Die byvoeging van hierdie suikers by stysels met ’n hoër GI kan daartoe bydra dat die GI van die gereg verlaag word. (Interessantheidshalwe is die GI van koringmeel 70.)

Organiese sure en gefermenteerde voedsel

Organiese sure soos suurlemoensap en asyn, asook gefermenteerde voedsels soos tradisionele suurpap, verlaag die GI. Deur byvoorbeeld ’n suur slaaisous en/of asyn oor slaai te gooi verlaag jy nie net die GI van die gereg nie, maar ook dié van die hele maaltyd.

Waar pas suiker in die dieet van die diabeet in?

Rietsuiker (sukrose) het ’n intermediêre GI, wat beteken dat die diabeet suiker nie geheel en al hoef te vermy nie omdat ’n klein hoeveelheid die bloedsuiker nie drasties sal laat toeneem nie. “Minder suiker” kan egter baie misleidend wees. Uit ’n meer wetenskaplike oogpunt word gereken dat nie meer as 10% van die totale koolhidrate in jou dieet van suiker en suikerprodukte behoort te kom nie.

’n Meer praktiese riglyn is dat jy nie meer as 10 ml suiker per maaltyd behoort te gebruik nie, dat dit deel moet wees van ’n gemengde maaltyd en saam met vesel ingeneem moet word. Hou egter in gedagte dat elke teelepel suiker bydra tot jou totale koolhidraat- en kilojoule-inname van die dag, maar verder geen bydrae tot die inname van voedingstowwe – soos vesel, minerale en vitamiene – lewer nie.

Wenke om jou suikerinname te verminder

•Leer om algaande minder suiker te gebruik en sodoende jou lus vir soetigheid te verloor.

•Lees die etikette van produkte. Voedselwetgewing bepaal dat die bestanddele van ’n produk in dalende volgorde op die lys van bestanddele verskyn. Wanneer ’n bestanddeel, soos suiker, aan die einde van die lys verskyn, beteken dit waarskynlik dat daar ’n onbeduidende hoeveelheid daarvan in die produk is.

•Vermy suiker in drankies soos tee, koffie en koeldranke.

•Vermy vrugte wat in suikerstroop ingemaak is. Kies eerder ingemaakte vrugte in vrugtesap of kunsmatig versoete ingemaakte vrugte.

•Skoon, veilige water behoort jou eerste keuse te wees om jou dors te les. Jy kan ook sodawater en kunsmatig versoete koeldrank drink.

•Gebruik laekilojoule-jellie.

•Geniet ’n skraapseltjie konfyt of heuning op volkoring- of rogbrood. Daar is verskeie soorte konfyt op die mark wat kunsmatig versoet of met fruktose of minder suiker versoet is. Hou in alle gevalle die porsiegrootte klein en bêre hierdie soort konfyt in die yskas nadat dit oopgemaak is, om sodoende die raklewe te verleng. Lees ook my opmerking oor fruktose.

•Kies resepte met die minste suiker, fruktose of heuning. In sommige resepte kan suiker vervang word deur vars vrugte, droëvrugte, vrugtepuree, vrugtesap en groente soos wortels, beet en pampoen.

•Let op die suikerinhoud van jogurt en kies laevet- of vetvrye kunsmatig versoete jogurt.

•Vervang suiker in geregte in beperkte hoeveelhede deur kunsmatige versoeter of suikerplaasvervangers.

Kunsmatige versoeters en suikerplaasvervangers

Kunsmatige versoeters

Soms hoor ’n mens hoe gevaarlik die langdurige gebruik van sekere kunsmatige versoeters is. Van hierdie bevindings berus op enkele gevalle en is dikwels nie behoorlik opgevolg met verdere navorsing nie. Die gevolge van oorgewig word oor die algemeen as ’n groter gesondheidsrisiko beskou as die moontlike nadelige gevolge van kunsmatige versoeters. Dit is egter belangrik om die gebruik van hierdie produkte tot die minimum te beperk.

In my praktyk gebruik ons die riglyn van nie meer nie as agt tot tien pilletjies kunsmatige versoeter (gelykstaande aan agt tot tien teelepels suiker) per dag. Hitte (soos die kookwater vir kitskoffie) verminder die soetheid van die versoeterpilletjies. Toets self die soetheid van jou tee of koffie deur die versoeter eers by te voeg wanneer jou drankie ’n drinkbare temperatuur bereik het. Kunsmatig versoete koeldrank word ook beperk tot nie meer as 500 ml per dag nie.

Sommige kunsmatige versoeters bestaan uit ’n kombinasie van versoeters terwyl ander ’n vuller soos laktose of dekstrose bevat wat wel kilojoules verskaf en ’n uitwerking op die bloedglukosevlakke kan hê. Lees die produkte se etikette vir die nodige inligting. Die verskillende handelsname, inhoud van die produkte en kombinasie van versoeters verander van tyd tot tyd en nuwe navorsing daaroor sal in die “leeftyd” van hierdie kookboek ontstaan. Waar moontlik dui ek die hoeveelheid suiker aan sodat die verhouding van ’n versoeter maklik bereken kan word.

Nievoedsame of kunsmatige versoeters sluit in asesulfaam-K, aspartaam, sukralose, sakkarien en siklamaat. Hierdie versoeters bevat geen energie (kilojoules) nie en is selfs in klein hoeveelhede baie soet. In die pilvorm verloor hulle dikwels smaak met verhitting en hulle kan in sommige gevalle ’n bitter smaak in gebakte en gekookte geregte veroorsaak. Sukralose is een van die versoeters wat wel in enige vorm hittestabiel is.

Vloeibare versoeters en van die nuwer soorte poeierversoeters word aanbeveel vir bakwerk omdat dit nie ’n smaakverandering met verhitting meebring nie.

Die veiligheid van sakkarien en siklamaat tydens swangerskap is nog nie bewys nie en dit behoort verkieslik deur swanger vroue vermy te word.

Stevia is ’n natuurlike versoeter wat van die blare van die steviaplant gemaak word. Dit verskaf, soos die kunsmatige versoeters, geen energie (kilojoules) nie en word tans bemark in pil-, poeier- en vloeistofvorm.

Versoeters wat energie (kilojoules) verskaf

Suikeralkohole soos laktitol, maltitol, mannitol, sorbitol en xilitol word moeiliker verteer en stadiger in die bloedstroom opgeneem as suiker en het gevolglik ’n laer GI. In oormaat kan suikeralkohole soms buikongemak en diarree veroorsaak en dit moet liefs vermy word deur mense wat las het van prikkelbare dermsindroom.

’n Beperkte inname, van 20 g per dag, word aanbeveel. Geregte wat xilitol bevat, mag nie aan honde gevoer word nie.

Fruktose

Fruktose kom natuurlik in vrugte en heuning voor, maar is ook in poeiervorm en as hoëfruktose-mieliestroop (high-fructose corn syrup of HFCS) beskikbaar. Fruktose is effens soeter as rietsuiker (6 ml fruktose = 10 ml suiker), maar verskaf per milliliter of gram net soveel kilojoules soos rietsuiker. Fruktose word stadig uit die spysverteringskanaal in die bloedstroom opgeneem, word in die lewer gemetaboliseer en het ’n lae GI. Navorsing in die verlede het daarop gedui dat fruktose moontlik verband hou met die voorkoms van retinopatie (oogskade) by diabete. Meer onlangse studies dui ook daarop dat die oormatige gebruik van bygevoegde fruktose en veral hoëfruktose-mieliestroop kan bydra tot verhoogde bloedvette (cholesterol, LDL-cholesterol en trigliseriede), dat dit verhoogde bloedstolling kan meebring en weens die kilojoulewaarde daarvan kan bydra tot vetsug. Net soos ’n diabeet rietsuiker en kunsmatige versoeters in beheerde hoeveelhede, volgens sy of haar persoonlike omstandighede, in die dieet kan insluit, word ’n beperkte gebruik van fruktose (hoogstens 20 g of 25 ml poeier per dag) aanbeveel as hulpmiddel in voedselbereiding. Hierdie beperkte hoeveelheid laat nie die gebruik van teelepels vol fruktose in drankies en pap toe nie. As verantwoordelike dieetkundige moet ek waarsku teen die oormatige gebruik van fruktosepoeier en veral hoëfruktose-mieliestroop, wat dikwels in kommersiële produkte soos gegeurde water, sportdrankies, konfyt en koeldrankstroop gebruik word. Die inname van natuurlike fruktose, soos gevind in vrugte, is hiervan uitgesluit.

Oligosakkariede

Oligosakkariede word nie verteer nie en word as ’n vesel beskou. Dit fermenteer in die kolon en vorm kortketting-vetsure. Wanneer ’n oormaat ingeneem word, kan dit lei tot buikongemak, waaronder winderigheid, maagkrampe en diarree. Mense wat las het van ’n prikkelbare derm en spastiese kolon word afgeraai om dit te gebruik. Oligosakkariede, wat inulien en FOS (frukto-oligosakkariede) insluit, is ook bekend as prebiotika (voedsel vir die dermvriendelike probiotika) en word toenemend in voedselbereiding gebruik.

Heuning

Heuning is ’n natuurlike produk, is byna twee keer soeter as suiker en dra by tot die sagtheid en klamheid van gebak. Kommersiële heuning bevat dikwels glukosestroop, wat die GI daarvan verhoog. Maak seker dat die heuning wat jy gebruik, suiwer ongeprosesseerde rou heuning is. Heuning behoort in dieselfde beperkte hoeveelhede as suiker ingeneem te word.

Die vervanging van suiker in ’n resep

Lees die inligting wat op die houer van die versoeter verskaf word. Daar sal ook aangedui word of die spesifieke versoeter hittebestand is en of dit geskik is vir bak en kook. Hoeveel van die versoeter gebruik moet word om die ekwivalent in suiker te vervang, word gewoonlik in milliliter of gram aangedui.

Waar moontlik toon ek by die resepte in hierdie boek by die spesifieke versoeter aan hoeveel suiker dit verteenwoordig, sodat jy volgens omstandighede en voorkeur dit deur ’n ander versoeter kan vervang.

Die vetinhoud van jou dieet

Te veel liggaamsvet en die oormatige gebruik van vet in die dieet kan insulienweerstandigheid aanwakker omdat dit insulienaktiwiteit onderdruk en ’n styging in die bloedglukose kan meebring.

Hiperlipemie

Diabete het ’n verhoogde risiko vir die vernouing van are en om hartvatsiektes te ontwikkel weens ’n verhoging in die bloedvetwaardes ten opsigte van totale cholesterol, trigliseriede en LDL-cholesterol (wat die aarwand laat aanpak). Hierdie toestand staan bekend as hiperlipemie. ’n Vetinname van 20% tot 30% (en in sommige gevalle tot 35%) van die totale energie van die dieet word as wenslik beskou. Die liggaam het essensiële vetsure nodig omdat dit nie deur die liggaam self vervaardig kan word nie. Vette is ook belangrike draers van vetoplosbare vitamien A, D, E en K. Navorsing dui daarop dat die hoë mono-onversadigde vetsuurinhoud van olyfolie, canola-olie, neutolie, carotino-olie (palmvrugolie), avokado en avokado-olie voordelig is vir diabete, veral in die behandeling van verhoogde trigliseriede. Ondanks teenstrydige aansprake wat van tyd tot tyd die rondte doen, toon betroubare navorsingstudies steeds dat die inname van versadigde vette en transvetsure beperk moet word en dat dit vervang behoort te word deur mono- en poli-onversadigde vette. Gesels gerus met jou dieetkundige hieroor wanneer jou maaltydplan saamgestel word.

Wenke om jou vetinname te verminder

Maak die volgende deel van jou leefstyl:

•Kies klein porsies maer rooivleis, pluimvee of vis. Verwyder die vel van pluimvee en sny die sigbare vet van vleis af. Stoom, stowe of rooster voedsel met min olie by ’n laer hitte. Wanneer jy roerbraai, voeg ’n paar druppels kookwater by soos nodig om die gereg met minder olie gaar te maak.

•Oondrooster vleis in ’n oondpan op ’n rakkie om die vet en vleissap op te vang.

•Maak ’n laevet-vleissous van die vleissap in die oondpan deur ysblokkies in die oondpan te gooi om die vet te laat stol. Skep die gestolde vet saam met die ysblokkies af.

•Gebruik die minimum vet of olie wanneer voedsel berei word en vermy dit heeltemal waar moontlik.

•Gebruik ’n spuitbottel met olie of verf die pan liggies met olie om die aanbranding van die kos te voorkom, of gebruik kookgereedskap met ’n kleefwerende afwerking.

•Gebruik sagte botter of margarien spaarsaam en vermy dit waar moontlik.

•Smeer eerder laevet-maaskaas, ’n laevet-doopsous, blatjang, tamatiesous of laeolie-mayonnaise in plaas van margarien op ’n sny brood.

•Gebruik “lite” of laeolie-slaaisouse, suurlemoensap, balsemiekasyn en ’n paar druppels olyfolie in plaas van ryk, vetterige slaaisouse.

•Vervang room in geregte deur ongegeurde laevetjogurt, laevet- ingedampte melk of sagte tofoe (sojawrongel)

•Vervang roomkaas in geregte deur ricotta- of gladde, vetvrye maaskaas.

•Vervang ’n gesmelte kaasbolaag deur gerasperde kaas wat met droë broodkrummels gemeng is, of strooi ’n bietjie sesamsaad saam met die kaas oor.

•Vervang ryk skilfer- of broskorsdeeg deur filodeeg. Verf die filodeegvelle liggies met melk of bespuit dit met kleefwerende kossproei.

•Gebruik laevetmelk, -jogurt, -kaas en -roomys.

•Lees die etikette van voedselprodukte om jou te vergewis van al die vette daarin – ook dié wat “versteek” is.

•Beperk jou inname van transvetsure, wat ontstaan wanneer olie vir diepbraai verhit word. Harde margarien bevat ook transvetsure, wat dikwels as gedeeltelik gehidrogeneerde vet op voedseletikette aangedui word.

Hoë bloeddruk

Hoë bloeddruk (hipertensie) kan in baie gevalle verlaag word deur jou soutinname te beperk en deur te verslank indien jy oorgewig is. Probeer om jou totale daaglikse soutinname te beperk tot hoogstens 5 ml (1 teelepel).

Hou ook die volgende in gedagte:

•Gebruik die minimum sout tydens voedselbereiding.

•Moenie sout aan tafel gebruik nie.

•Vermy gesoute, geprosesseerde voedsel soos worsies, polonie, ham, gerookte en gepekelde vis en vleis, droëwors en biltong.

•Beperk jou inname van voedsel soos klaargaar pizzas, pasteie, skyfies, gesoute neute en soutbeskuitjies.

•Beperk jou inname van souse en piekels met ’n hoë soutinhoud.

•Beperk jou inname van harde kaassoorte.

•Gebruik kruie en speserye om voedsel te geur en te vergoed vir die lae soutinhoud daarvan.

•Wees versigtig met geurversterkers soos MNG (MSG = monosodium glutamate), wat ook as “geelsout” bekend staan. Kyk ook uit vir woorde soos sodium (natrium) en salted op voedseletikette.

•Vervang die sout wat jy tydens die maaltyd oor jou kos sou strooi, deur ’n paar druppels suurlemoensap.

Die gebruik van alkohol

Al wys navorsing daarop dat die fitochemikalieë in veral rooiwyn voordelig vir die gesondheid is ten opsigte van die voorkoming van onder meer hartvatsiektes, beroerte, diabetes en Alzheimersiekte, moet die nadelige uitwerking van die oormatige gebruik van alkohol nie onderskat word nie. Alkohol word dikwels gedrink “om stres te verlig”. Alhoewel alkohol aanvanklik ’n kalmerende of verdowende uitwerking het, is dit in werklikheid ’n depressant en beskadig dit die senuweeselle. Oormatige alkoholgebruik verhoog boonop die las op die lewer, aangesien dit die lewer is wat alkohol – ’n gifstof vir die liggaam – moet afbreek.

Alkohol verskaf gekonsentreerde leë kilojoules, word vinnig gemetaboliseer en as vet gebêre, en dit is dus nie bevorderlik vir diegene wat graag wil verslank nie. Les altyd eers jou dors met ’n glas water sodat jy jou alkoholiese drankie stadig kan geniet.

Diabete moet daarvan bewus wees dat alkohol die vervaardiging van glukose (uit glikogeen) in die liggaam onderdruk. As jy dus op ’n leë maag alkohol inneem, kan dit tot hipoglukemie (lae bloedsuiker) en in uiterste gevalle tot ’n koma lei. Alkohol versterk ook die uitwerking van sekere orale diabetiese middels. Neem altyd ’n droë beskuitjie, vrugtesap, melk of ’n maaltyd saam met die alkoholiese drankie in. Weens die hoë suikerinhoud daarvan is dit wenslik om nie soetwyn, soet sjerrie, vermoet of likeur te drink nie. Wees ook versigtig met die koeldrank wat jy by jou alkoholiese drankie voeg.

Die aanbeveling is dat alkoholinname beperk word tot ’n maksimum van twee sopies per dag vir mans en een sopie per dag vir vroue. Onlangse navorsing dui daarop dat vroue weens die gevaar van borskanker nie elke dag alkohol behoort te drink nie.

’n Sopie word beskou as:

•25 ml spiritualieë soos whisky, brandewyn, rietspiritus en vodka

•60 ml droë sjerrie, vermoet of port

•120 ml droë rooi- of witwyn

•200 ml laekilojoule-bier

Spyskaart- en maaltydbeplanning

Nes alle ander mense word mense met diabetes se voedingsbehoeftes deur verskeie faktore beïnvloed, soos:

•Geslag – manlik of vroulik.

•Lewensfase – swanger of borsvoedende vroue en kinders wat nog groei, het meer voedingstowwe nodig.

•Ouderdom – bejaardes het kleiner voedingsbehoeftes as kinders.

•Vlak van aktiwiteit – aktiewe werkende mense, gereelde deelnemers aan sport en kinders wat baie speel, het groter voedingsbehoeftes as onaktiewe en passiewe mense.

•Verhouding van liggaamsgewig tot lengte – of die persoon ondergewig of oorgewig is en gewig wil aansit of wil verslank.

•Bloedglukose, medikasie – bloedglukosewaardes en medikasie soos insulien en diabetiese pille kan die verspreiding van maaltye gedurende die dag en die keuse van voedselsoorte bepaal.

•Finansiële omstandighede – goedkoper plaasvervangers vir sekere voedselsoorte moet dalk gekies word.

•Persoonlike omstandighede – ’n gesin, die grootte van die gesin of beperkte kook- en verkoelingsgeriewe kan maaltydbeplanning beïnvloed.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat dit feitlik onmoontlik is om in ’n boek van hierdie omvang maaltydplanne, spyskaarte en porsiegroottes te verskaf wat in alle omstandighede in almal se behoeftes sal voorsien. Selfs al gebruik jy hierdie kookboek is dit steeds belangrik om ’n geregistreerde dieetkundige te raadpleeg oor ’n geskikte maaltydplan en porsiegroottes vir jou en/of jou gesin. Met ’n goeie maaltydplan tot jou beskikking kan jy resepte uit die boek kies en maaltye (en die gevolge daarvan) ’n aangename ervaring maak.

Riglyne om jou maaltydplan en spyskaarte aan te pas

Lees hierdie gedeelte saam met die inligting oor gesonde eetgewoontes en die riglyne vir goeie voeding.

Om jou bloedsuiker doeltreffend te beheer beteken “gereelde maaltye” dat jy drie naastenby ewe groot maaltye – bestaande uit ’n verskeidenheid voedselsoorte – oor die dag versprei en soos nodig ’n versnapering tussen ontbyt en middagete, weer tussen middagete en aandete, en dan weer voor slaaptyd (waar van toepassing) inpas.

Dit kan soms nodig wees om ’n stewiger ontbyt te eet om jou deur ’n baie bedrywige oggend te help en later in die dag minder voedsel in te neem omdat jou vlak van aktiwiteit dan afneem en jou energiebehoeftes dus minder is. In so ’n geval sal die energiewaarde van jou ontbyt moontlik nader aan 40% tot 50% van jou totale daaglikse inname uitmaak.

Voldoende vloeistowwe moet ingeneem word in die vorm van water, rooibostee, groentee, gewone tee en minder dikwels koffie. Gebruik ’n beperkte hoeveelheid kunsmatig versoete koeldrank (nie meer as 500 ml per dag nie), en probeer altyd om jou dors eers met water te les. Vrugtesap moet verkieslik met water verdun word en ook in beperkte hoeveelhede ingeneem word omdat die koolhidrate van die sap vinnig geabsorbeer word en dus ’n vinnige styging in die bloedglukose tot gevolg kan hê. Vermy vrugtesap indien jou bloedglukose nie goed beheer word nie.

Maak vir kinders vrugte-ysies deur onversoete vrugtesap om die helfte met water te verdun (dan vries dit ook harder) en in geskikte lolliehouers te vries, of pak die 200 ml-kartonnetjies sap (soos Ceres) in die vrieskas en sny die boonste naat van die kartonnetjie met bevrore sap oop voor opdiening. Dit is interessant hoeveel langer ’n kind met so ’n ysie besig bly terwyl die sap andersins in ’n oogwenk weggesluk word!

Van die vinnigwerkende soorte insulien wat voor elke maaltyd ingespuit word, is binne minute in die bloedstroom beskikbaar, maar die halflewe daarvan (of die tydperk wat dit aktief is in die bloedstroom) is ook korter, wat beteken dat dit nie meer so doeltreffend is wanneer die tussenvoeding geniet word nie. In so ’n geval is dit onnodig om ’n versnapering tussen maaltye te eet. ’n Vloeistof soos ’n koppie tee of dieetkoeldrank word as voldoende beskou en dit dra by tot ’n laer energie-inname, wat voordelig is in die geval van gesonde verslanking. Mense wat hierdie soort insulien gebruik, is ook geneig om minder honger tussen maaltye te wees en vind ’n tussenvoeding onnodig.

Wanneer langwerkende insulien voor slaaptyd ingespuit word, is dit belangrik om ’n laataand-versnapering te geniet om lae bloedglukose in die nanag te voorkom. As jy gereeld soggens met hoë bloedglukose wakker word, is dit belangrik om jou bloedglukoselesing te neem in die nanag, dit wil sê drie tot vyf uur nadat jy die laataand-insulien ingespuit het, omdat die liggaam in so ’n geval sy eie glukose uit die gebergde glikogeen maak om lae bloedglukose af te weer. Let ook op die hoeveelheid vet en die soort styselgereg wat jy saans eet, omdat dit ook kan bydra tot hoë bloedglukose voor ontbyt. Praat met jou dieetkundige en dokter indien hierdie probleem voortduur sodat julle saam ’n oplossing kan vind.

Die waarde van ’n siklusspyskaart in ’n besige lewe

’n Algemene klagte is dat daar nie “tyd” is om behoorlike maaltye te berei nie. Kitskos en vetterige geregte word dikwels as ’n vinnige uitweg gekies.

Ek werk ook heeltyds in my beroep as dieetkundige en het daarom begrip vir die dilemma van kosmaak aan die einde van ’n lang werkdag. Die beste manier om hierdie probleem op te los is om te gaan sit en jou gesin se spyskaarte volgens julle unieke behoeftes en omstandighede vir ’n bepaalde tydperk, van een week tot vier weke of een kalendermaand, te beplan. Wanneer jy weet wat julle gaan eet, is die volgende stap om die inkopielys saam te stel sodat al die kruideniersware en vars produkte byderhand is wanneer jy die maaltyd wil berei.

Daar is baie maniere waarop jy jou gesin se maaltye kan beplan. Die voorbeeld van ’n sewedag-siklusspyskaart wat hierop volg, is een van die maniere waarop jy te werk kan gaan. As jy eers die basiese siklusspyskaart beplan het, kan jy vir elke spyskaartdag nog drie of vier variasies uitwerk.

Begin deur die bladsy-uitleg op jou rekenaarskerm na die landskapformaat te verander en skep dan ’n tabel met sewe kolomme en sewe reëls vir die siklusspyskaart.

VOORBEELD VAN ’N SIKLUSSPYSKAART VIR 7 DAE

Dag 1Dag 2Dag 3Dag 4Dag 5Dag 6Dag 7
OntbytMuesliJogurtVrugte→SaadbroodEierTamatie→PapMelkVrugte→BruinbroodVisKomkommer→OntbytgraanMelkVrugte→ProvitasKaas of eierVrugte→PapMelkVrugte
Tussenin
Ligte eteProvitasKaasKomkommerKersie-tamaties→PastaKoue vleisVrugte→SaadbroodRooivleisSlaai→ProvitasMaaskaasVrugte→Pastaslaai met boneSlaaiblareVrugte→AartappelVisSlaai of groente→RogbroodKoue hoenderGroenslaai
Tussenin
HoofeteRooivleisBruinrysGroen groente→VisAartappelBeet of wortels→HoenderGort of rysGemengde groente→Sop (winter)Quiche of pastagereg(somer)Groenslaai→RooivleisPatat of aartappelGroen groente→HoenderRysGroen of geel groente→Vrye keuse
Laataand

•Kies die groente en vrugte volgens die seisoen en beskikbaarheid.

•Beplan die tussenin- en laataand-versnaperings volgens jou persoonlike maaltydplan.

•Provitas kan deur enige ander laevet-volkoringkraakbeskuitjies vervang word.

•Souse, smere en drinkgoed word nie aangedui nie.

VOORBEELD:

VARIASIES VIR DAG 3 IN DIE SIKLUSSPYSKAART

Dag 3Variasie 1Variasie 2Variasie 3
OntbytGekoote papMelkVrugteHawermoutpapLaevetmelkLemoenskyfiesMieliepap met hawersemelsLaevetmelkGestoofde pruimedanteMaltabellapapLaevetmelkVars appel
Ligte eteSaadbroodRooivleisSlaaiSaadbroodHamskyweMosterdBlaarslaaiRoosterbroodjie met geurige maalvleisTamatieskyfiesPitabroodjieMaalvleiskoekieBlaarslaaiTamatieskyfies
HoofeteHoenderGort of rysGemengde groenteAppelkooshoenderGort of stampkoringBroccoli, blomkool, wortels en murgpampoentjiesHoenderroerbraaiBruinrysGroente in roerbraaiHoenderkerrieBruinrysGroenbone of ertjiesBeetslaai

Inkopielys

’n Inkopielys vergemaklik voedselaankope, verminder die kans op onnodige aankope en verseker dat die regte bestanddele vir elke dag se spyskaart beskikbaar is. Plak ’n afskrif van die inkopielys aan die binnekant van die koskas of spensdeur sodat die voorraad afgemerk of aangeteken kan word soos nodig. Onderstaande inkopielys is bloot ’n riglyn en kan aangepas word volgens omstandighede.

BESTANDDELE

Stysel

Kitsontbytgraan

All-Bran-vlokkies

Bokomo Fibre Plus

Kellogg’s All-Bran Hi-Fibre

ProNutro Weet-Bix (volkoring)

Meel vir ontbytpap

Hawermout – gerol

Hawersemels (oatbran)

Maltabella – grof

Mieliemeel – grof

Graan of styselgeregte

Bakpoeier

Kakaopoeier

Kitsgis, droë

Koeksoda

Kremetart

Meel – koekmeel, Sasko- semelryke bruis-, soja- en volkoring-

Mielieblom

Pasta of noedels

Pêrelgort

Rys – basmati-, bruin-, mielie- en wit-

Stampkoring

Vlapoeier

Brood, kraakbeskuitjies

Bakers Digestive

Wholewheat Biscuits

Brood – bruin-, rog-, saad- en volkoring-

Crackermates Lites

Provita

Ryskoekies

Ryvita

Suiwelgroep

Ingedampte melk, laevet-

Jogurt – laevet-, vetvry, ongegeur of gegeur

Kaas – harde, laevet- (mozzarella, edam, parmesaan, In Shape en Lichten Blanc)

Kaaswiggies – laevet-

Karringmelk

Maaskaas – laevet-, vetvry

Melk – laevet-, vetvry, vars of in karton

Melkpoeier – vetvry

Ricotta

Smeerkaas, laevet-

Geurmiddels

Sout

Peper – wit-, swart-, fyn, heel korrels

Kruie

Kappertjiesaad

Kruisement

Marjoram

Neutmuskaat

Origanum

Paprika

Pietersielie

Roosmaryn

Speserye

Borrie

Garam masala

Gemengde fyn speserye

Gemmer, fyn

Kaneel, fyn

Karwysaad

Kerriepoeier – matig, sterk

Komynsaad

Mosterd – -saad, -poeier

Naeltjies – heel, fyn

Ander

Gelatien

Diabetiese sjokolade

Donkersjokolade

Vanieljegeursel

Amandelgeursel

BESTANDDELE

Proteïen

Eiers

Rooivleis

Beesvleis

Koue vleis (ham, gaar beesvleis)

Lamsvleis, maer

Maalvleis, maer

Piekniekham (Enterprise)

Spekvleis, maer,

verminderdevet-

Varkvleis

Wildsvleis

Pluimvee

Hoender

Kalkoen

Volstruis

Vis – vars, bevrore, gerook

Forel

Kaapse witvis

Koningklip

Makriel

Salm

Stokvis

Tongvis

Tuna

Garnale

Ingemaakte vissoorte

Makriel

Salm

Sardiens

Sardyne

Tuna

Peulgewasse

Rou, gaar

Boontjies in tamatiesous

Botterbone, ingemaak

Droë bone – klein wit,

botter-, suiker-

Kekerertjies

Lensies – bruin, rooi, split

Getekstureerde

sojaproteïene – sojamaalvleis,

sojablokkies

Vette

Grondboontjiebotter

Klapper, gedroog

Laeolie- (“lite”) slaaisous

Margarien – sagte, “lite”

Neute – amandels,

grondbone, kasjoe-, pekan-

Olie – olyf-, canola-, sonneblom-

Olywe

Sade – lyn-, papawer-, sesam-, sonneblom-

Souse en smere

Marmite, Bovril

Heuning – rou, suiwer

Konfyt

Asyn

Blatjang

Tamatiesous

Sojasous

Soppoeier

Vleisaftrekselblokkies of -poeier – bees-, hoender-, groente-

Worcestersous

Drankies

Ensure-poeier

Koffie

Tee: groen-, rooibos-, gewoon

Rooiwyn

Versoeters

Kunsmatige versoeters

Fruktose

Sukralose (bv. Canderel

Yellow)

Suiker – bruin-, wit-

Xilitol

BESTANDDELE

Groente en vrugte

Vars groente

Aartappel

Avokado

Beet

Blaarslaai

Blomkool

Botterskorsie

Brandrissie

Broccoli

Eiervrug

Ertjiepeule (mangetout)

Ertjies

Geelwortels

Gemmer, vars

Grasuie

Groenboontjies

Knoffel

Komkommer

Kopkool

Kruisement

Lemoenpampoentjies

Murgpampoentjies

Patat

Pietersielie

Prei

Rooikool

Sampioene

Seldery

Soetrissie – groen, geel, rooi

Spinasie

Tamaties – standaard-, kersie-, rosa-, roma-

Uie

Bevrore groente

Ertjies

Gemengde groente

Uie

Bevrore groente

Ertjies

Gemengde groente

Groenboontjies

Ingemaak

Agurkies

Aspersies

Gemengde groente

Geroomde suikermielies

Pikantrissies

Pitmielies

Sampioenstukkies

Tamatie-en-uiesmoor

Tamaties in sap, heel ingemaak

Tamatiepuree, tamatiepasta

Vars vrugte

Aarbeie

Appelkose

Appels

Bessievrugte

Mango

Papaja

Pere

Perskes

Piesangs

Pynappel

Sitrusvrugte – lemoen, nartjie, pomelo

Suurlemoen en -sap

Ingemaak

Appels (tertappels)

Appelkose in vrugtesap

Appelsous

Peer in vrugtesap

Perske in vrugtesap

Vrugtesap

Appelsap

Lemoensap

Droëvrugte

Appelkose

Appelringe

Dadels

Glanskersies

Korente

Pruimedante

Rosyne

Sultanas

Gemengde droëvrugte

Uiteet, wegneemetes en ingepakte maaltye

Uiteet en wegneemetes

•Kies waar moontlik geregte wat min vet bevat, soos geroosterde of gestoomde maer vleis of vis. Indien die vel nie vooraf verwyder word nie, kan die geroosterde hoender wat in restaurante bedien word baie vetterig wees. Die marinade en bedruipsouse wat vir geroosterde hoender gebruik word, kan ook baie vet en suiker bevat. Wees dus versigtig met die keuse van geroosterde hoender.

•Bredies en potjiekos moet met die minimum vet en maer vleis of vellose hoender berei word. Groente, veral aartappels en patats, is geneig om die vet in die bredie te absorbeer. Skep dus versigtig as jy bredies of potjiekostipe geregte weg van die huis af eet.

•Beperk die gebruik van souse oor vleis, vis en hoender – dit kan hope versteekte vet en suiker bevat.

•Kies gestoomde of gekookte vars groente of slaai wat uit rou, vars groente of vrugte bestaan.

•Eet eenvoudig gekookte rys, pasta, aartappel in die skil of volkoringbrood in plaas van vetterige tjips, diepgebraaide uieringe, poffertjies of vetkoek.

•Hou matigheid voor oë wanneer alkoholiese drankies ingeneem word. Lees ook die afdeling oor die gebruik van alkohol.

•Besluit of dit nodig is om van die nagereg te eet of bestel eerder vars onversoete vrugteslaai volgens die riglyne van jou maaltydplan.

Ingepakte maaltye, kospakkies en pieknieks

•Dit is wenslik om ’n geskikte voedselhouer en ’n koelhouer vir hierdie doel aan te skaf. Daar is deesdae ook nuttige geïsoleerde flessies beskikbaar waarin warm of koue vloeistowwe en sop gehou kan word. Probeer waar moontlik om voedsel te verkoel, veral in die warm somermaande.

•Om voedselvergiftiging te voorkom, kies voedselsoorte wat goed sal hou wanneer die temperatuur nie behoorlik beheer kan word nie.

•Probeer om by die dieetvoorskrifte vir die spesifieke maaltyd te hou. Kies voedselitems uit volgende vir jou kospakkie of piekniek:

ProteïenStyselGroenteVrugte
BeesvleisskyfiesAartappel – gekook, slaaiAspersiesAarbeie
Biltong sonder vetBrood en broodrolletjies – rog-, bruin-, saad-, volkoring-BlaarslaaiAppelliefies
Bone, lensies – gaarBruinrysBeetstukkiesAppelkose
EierPannekoekBoontjiespruiteAppels
Grondboontjie- botterPastaGroentesopBosbessies (cranberries)
HamPlaatkoekiesGroentesosatiesDadels
HoendervleisPitabroodjiesKomkommer – stokkies, skyfiesKersies
HoemoesPretzelsKoolslaaiKiwivrugte
Maalvleis – frikkadelle, geurige maalvleisSkonsMurgpampoentjies – stokkies, stukkiesLemoene
Makriel of snoek –gedroog of gerookTortillas vir wrapsSeldery – stokkiesMango
Neute, grondboneSpringmielies met min of geen olieSoetrissieNartjies
Salm, tuna – ingemaak of gerookVolkoring-kraakbeskuitjies soos Provitas, Ryvitas, Crackermates LitesTamatie – gesny of klein tamatiesNektariens
Suiwelprodukte – kaas: laevet-, hard, maaskaas, ricottakaas; laevet- of vetvrye melk; laevet- of vetvrye jogurtVrugtebrodeUie, uieslaaiPapaja
Tert en quicheVrugtemuffinsWortel – stokkies of skyfiesPerskes
Visvingers of -bolletjiesVrugteskywePiesangs
Pomelo
Pruimedante
Pynappel
Rosyne, sultanas, korente
Spanspek
Vrugteslaai
Vye
Waatlemoen

Kinder- en tienerpartytjies

Die kind met diabetes hoef nie die pret van ’n partytjie ontsê te word nie.

Oorweeg die volgende wanneer jy die partytjie beplan:

•Dink kreatief en doen moeite met die tema en dekor. Kies geskikte vrolike tafeldoeke en kleurryke houertjies vir die eetgoed. Versterk die partytjie-atmosfeer met ballonne en geskikte musiek indien die tema dit vereis.

•Dink aan maniere om die kinders besig te hou, want dit gaan immers oor die gesellige samesyn van ’n groep kinders wat mekaar nie noodwendig goed ken nie.

•Wyk af van die gebruiklike suikerbelaaide eetgoed soos koek, koekies, lekkergoed en koeldrank, wat in elk geval vir geen kind voordelig is nie. Dink aan ’n geleentheid waar suiker nie so ’n prominente plek inneem nie, soos ’n piekniek – gooi die piekniekkomberse en geruite tafeldoek oop en pak vir elke kind ’n kospakkie in ’n vrolike houer. Tower later nog lekkernye en verrassings, soos idees vir speletjies, balle of klein geskenkies, uit die piekniekmandjie op.

•’n Ligte middagete met klein pizzas, worsbroodjies, hamburgers, groente- en vrugtestokkies, gevulde pannekoeke of wraps, oop toebroodjies met kleurryke vulsels en bolae, en wafels met roomys kan ook goed werk.

•Die ouer kinders kan ’n selfdoenpartytjie hou waar elkeen sy of haar eie pizza saamstel en bak of self die hamburger maak en die pannekoek vul.

•Sorg vir groot bakke met springmielies op die tafel en kies van die laeolietipe aartappelskyfies.

•Wanneer suikerbevattende koeldrank bedien word, is dit belangrik om jou kind se glas met suikervrye koeldrank te merk. Indien jy nie koeldrank in hul oorspronklike kenmerkende houers bedien nie, is dit raadsaam om die suikerbevattende en suikervrye koeldranke in verskillende kleure te kies en dit so aan die kinders te verduidelik.

•Vir baie mense is ’n verjaardagpartytjie sinoniem met ’n groot koek met brandende kersies wat doodgeblaas word. Oorweeg een van die koeke of vrugtebrode in hierdie boek as basis. Jy kan ook van die tradisionele verjaardagkoek afwyk deur ’n tweeliterhouer met ’n geskikte roomys, byvoorbeeld Country Fresh Lite-sorbet, of souttert of kaaskoek te kies. Versier dit met linte, verjaardagkersies en blomme of klein speelgoed.

•Bak van die muffins in hierdie kookboek in kleiner kolwyntjiepanne. Versier dit met ’n bietjie gesmelte donkersjokolade of appelkooskonfyt en geroosterde klapper. Vir die kinders wat nie diabetes het nie, kan die kolwyntjies met ’n bietjie botterversiersel en koekstrooisel versier word.

•Maak jelliebootjies deur aangemaakte jellie in uitgeholde lemoenhelftes te stol en die lemoenhelftes met gestolde jellie dan deur te sny om twee wiggies te vorm. Maak papiervlaggies met peuselstokkies en druk dit in die jelliebootjie in.

•Wanneer jou kind na ’n maat se partytjie genooi word, is dit raadsaam om vooraf die gasvrou oor jou kind se dieet in te lig en aan te bied om geskikte eetgoed saam te stuur.

Wenke vir stappers en rugsakreisigers

Gesonde buitelugaktiwiteite hou meer voordele as nadele vir die persoon met diabetes in.

•Die tipe roete, duur van die roete, gewig wat jy moet saamdra en geriewe vir voedselbereiding sal uiteraard die keuse van voedselitems beïnvloed.

•Gebruik jou voorgeskrewe maaltydplan as ’n riglyn wanneer jy die voedselvoorraad vir die staptog beplan. Gewoonlik kan jy werk volgens jou gewone dieetvoorskrif en maaltydplan plus 25% tot 30% ekstra (omtrent gelykstaande aan jou gewone ontbyt of ’n ligte middagete) in die vorm van snoeperye.

•Omdat jy heel moontlik fisiek meer aktief sal wees as op ’n gewone dag, bestaan die risiko dat jy hipoglukemies kan raak. Dra altyd glukosesuiglekkers (soos Sparkles of Super C), ’n pakkie rosyne, ’n pakkie rosyne-en-neute of droëvrugte-en-sade en/of ’n pakkie koeldrankpoeier (bv. Game of Clifton) as snoepgoed saam. Suikerbevattende jelliepoeier werk ook goed, maar behoort met ’n paar slukkies water gebruik te word.

•Pak die volgende in:

Ontbyt

Styselgeregte:

•Weet-Bix of Oat-Bix met 10 ml hawersemels (oat bran) om die GI te verlaag, All-Bran, Futurelife Smart Food, volkoring-ProNutro, suikervrye muesli, of ’n mengsel van ontbytgrane om ’n soort “muesli” te verkry.

•Oatso Easy – ongegeur of met rosyne, voeg hawersemels by om die GI te verlaag.

Melkprodukte:

•Verpak melkpoeier in 60 ml-porsies per 250 ml water soos benodig deur die dag en meng dit voor gebruik. Melkpoeier kan ook by die ontbytgraan gevoeg word en met water gemeng word net voor opdiening.

•Laevet- ingedampte melk, langlewemelk en laevetjogurt kan ses tot agt uur lank in koel toestande goed bly.

•Suikervryevlasous in 250 ml-pakkies (bv. UltraMel Lite) kan melk vervang.

Tussenin-snoepgoed

Styselgeregte:

•Droë beskuitjies soos Provita, Crackermates Lites, ryskoekies, Ryvita en semelryke gesondheidsmuffins.

•Kitssoppoeier (bv. Cup-a-Soup), veral in koue weerstoestande en wanneer jy baie sweet.

•Daar is ’n verskeidenheid energiestafies of “ontbytstafies” op die mark.

Kyk na die suiker- en vetinhoud van die stafies. ’n Stafie behoort te vergelyk met ’n toebroodjie van twee snye brood met ’n proteïenvulsel en dus hoogstens sowat 1 000 kilojoules, 20-30 g koolhidrate, 7-10 g proteïen en 5-10 g vet te bevat.

Vrugte:

•Vars en droëvrugte. Vrugtesnippers en droëvrugte soos droë perskes, appelkose, appelringe, pruimedante, rosyne en sultanas kan gemeng word met neute, grondbone en/of sade.

•Vrugtestafies wat sowat 350 kilojoules of 15-25 g koolhidrate voorsien.

Proteïen:

•Kaaswiggies, gekerfde biltong, neute.

Ligte en hoofmaaltye

Styselgeregte:

Die meeste van hierdie styselgeregte word uit ’n praktiese oogpunt voorgestel, maar het ’n hoër GI, wat gouer ’n styging in die bloedglukose veroorsaak. Tesame met verhoogde fisieke aktiwiteit kan dit egter voordelig wees.

•Kits- of tweeminuut-noedels, gegeurde kitspastageregte wat met kookwater gemeng word, gewone pasta soos spaghetti, kitsgaar rys, kitskapokaartappels (bv. Smash), kitsmieliepap, ingemaakte geroomde suikermielies, spaghetti in tamatiesous, bone in tamatiesous en ingemaakte aartappels.

Proteïengeregte:

•Bevrore vleis (in koerantpapier verpak) vir die eerste dag, vakuumverpakte vleis vir die volgende dag, gerookte gesoute vleis of snoek, ingemaakte vleis, sojamaalvleis of -blokkies, sojaprodukte soos Knorrox of Imana wat gegeur en kookgereed is.

•Biltong, hardgekookte eiers wat in die dop bewaar word (eet dit binne twee tot drie dae).

•Tuna en salm in foelieverpakking (dit lyk soos die pakkies met soppoeier), ingemaakte vis in ’n klein verpakking vir eenmalige opdiening (bv. tuna, sardiens in olie of tamatiesous).

•Kitskaassous, kitsbruinsous (Royco, Knorr).

Groente en vrugte:

•Blikkies groente, ingemaakte of vakuumverpakte slaaie.

Onthou!

•’n Waterbottel met skoon water en watersuiweringstablette.

•’n Skêr en/of knipmes om pakkies mee oop te sny.

•’n Bliksnyer en botteloopmaker.

•’n Sak of houer vir alle afval soos blikkies, bottels en dies meer.

•Jy mag net jou voetspore agterlaat!

Siekdae

Jou bloedglukose kan styg as jy siek is en/of ’n infeksie het. Daarom is dit belangrik om steeds jou voorgeskrewe insulien en/of diabetiese pille te neem. Al het jy ’n swak aptyt, moet jy steeds koolhidrate inneem. Indien jy naar is of braak, help dit soms om stadig aan yskoue gemmerlimonade of Lucozade te teug. Namate jy beter voel, kan jy droë kraakbeskuitjies, gerasperde appel, yskoue papaja of groente- of vleisaftreksel geniet. Probeer om minstens elke uur iets ligs te eet of drink. Braking en diarree kan tot dehidrasie en ongekontroleerde diabetes lei. Raadpleeg jou dokter vroegtydig, maar beslis as jou siektesimptome langer as 24 uur voortduur of as jou bloedglukose hoër as 15 mmol/liter bly.

Geskikte koolhidrate op siekdae

•Yskoue appel- of druiwesap.

•Yskoue limonade of gemmerlimonade.

•Suikerbevattende jellie, aangemaak en gestol.

•Yskoue papaja, gerasperde appel, gestoofde appel of ingemaakte peer.

•Gekookte rys of pasta sonder enige sous.

•Roosterbrood – droog, later met Marmite of Bovril.

•Droë kraakbeskuitjies, soos Provitas of waterbeskuitjies.

•Eenvoudige soetkoekies soos Mariebeskuitjies.

•Flou swart of rooibostee met heuning en/of ’n suurlemoenskyfie.

•Sop met roosterbrood – sif die sop aanvanklik.

•Laevet-vrugtejogurt, -vlasous of -melk wanneer jy beter voel.

Sport, oefening en diabetes

Gereelde oefening is vir enige mens ’n belangrike deel van ’n gebalanseerde leefstyl. Kies ’n fisieke aktiwiteit waarvan jy hou, wat jy kan bekostig en gereeld (vyf keer per week vir 30 minute) kan beoefen. Om flink te stap, te swem, fiets te ry, in die gimnasium te oefen of aërobiese klasse by te woon bied almal goeie oefening vir jou liggaam.

By tipe 2-diabetes kan insulienweerstandigheid en bloedglukosebeheer in sommige gevalle sodanig verbeter word deur oefening dat die gebruik van medikasie verminder of selfs gestaak kan word. Daar is ook bewys dat gereelde oefening die bloeddruk en trigliseriede kan verlaag.

By tipe 1-diabetes is gereelde oefening ook belangrik, maar dit is slegs wenslik indien jy reeds goeie bloedglukosebeheer het. Mense met tipe 1- (insulienafhanklike) diabetes moenie oefen as die bloedglukosewaardes bo 15 mmol/liter is nie omdat oefening hierdie waardes nog verder kan opstoot as gevolg van die vrystelling van glukose deur die lewer. Die produksie van ketone kan ook aangehelp word indien daar nie voldoende glukose in die liggaamselle vrygestel word waar energie geproduseer word nie. Wanneer die bloedglukosevlakke te laag is, behoort koolhidrate met ’n hoë GI voor, tydens en ná die oefening geneem te word.

Raadpleeg ’n geregistreerde dieetkundige om vir jou ’n geskikte maaltydplan saam te stel.

Swangerskap en diabetes

Dit is belangrik dat jou diabetes goed beheer word voordat jy swanger raak. Die veranderinge in jou hormoonvlakke gedurende jou swangerskap kan ook ’n verandering in jou voedings- en insulienbehoeftes meebring. Raadpleeg gereeld jou dieetkundige sodat jou dieet betyds aangepas kan word in die belang van jou gesondheid en dié van jou baba. Dit is in hierdie tydperk nóg belangriker om gereeld te eet en veral ontbyt en ’n laataand-versnapering te geniet. Uithongering en maaltye wat oorgeslaan word, verhoog die risiko vir ketoasidose, wat jou en jou baba se lewe in gevaar kan stel. Gebruik kunsmatige versoeters tydens jou swangerskap spaarsaam en vermy versoeters wat sakkarien of siklamaat bevat omdat die veiligheid daarvan tydens swangerskap nie bewys is nie.

Kinders en tieners

Die algemene riglyne oor gebalanseerde voeding vir die groei en ontwikkeling van kinders en tieners sonder diabetes geld ook vir dié wat diabetes het.

Besoek die dieetkundige minstens jaarliks sodat die dieetvoorskrif en maaltydplan betyds aangepas kan word om in jou kind se veranderende behoeftes te voorsien. Neem jou kind ook minstens een keer per jaar vir ’n mediese evaluering.

Dit is belangrik dat jou kind weet dat ’n diabetiese maaltydplan ’n gebalanseerde eetpatroon is wat baie voordele vir ’n gesonde liggaam inhou. Laat die hele gesin by hierdie eetpatroon inskakel en probeer om etenstye ’n genotvolle geleentheid te maak.

Doen ook moeite met die versnaperings en hou verrassings in die vrieskas of koekblik. Ouer kinders kan geleer word hoe om self geregte en versnaperings te berei. Die resepte in hierdie kookboek behoort maklik deur kinders van tien jaar en ouer berei te kan word. Kinders wat aangemoedig word om self geregte en versnaperings te berei, word terselfdertyd ook geleer om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die beheer van hul diabetes.

Kan ek dit bêre?

By elke resep in hierdie kookboek word aangedui vir hoe lank ’n gereg naastenby gebêre kan word en of dit verkoel of gevries kan word. Die doel van hierdie inligting is om jou te help om altyd ’n ete of versnapering vir noodgevalle beskikbaar te hê en om jou maaltye vooruit te kan beplan wanneer dit dol gaan.

Die afmeet van bestanddele en gebruik van huishoudelike en metrieke mate

Indien die bestanddele akkuraat afgemeet word, behoort jy nie probleme te hê met die bereiding van die geregte nie. Akkurate meetkoppies, meetlepels en kombuisskale is in die handel beskikbaar. ’n Medisynelepel en bababottel werk baie goed as jy klein hoeveelhede soos ’n bietjie asyn of olie wil afmeet. Deesdae is menghouers met volumemerke oral te koop. Die deksel sluit dig en jy skud eenvoudig die mengsel (in plaas daarvan om dit te klits), wat ook beteken dat jy minder vuil skottelgoed het.

Die volgende omskakelingstabel kan ook nuttig gebruik word:

Metrieke mateHuishoudelike mateMetrieke mateHuishoudelike mate
1,25 ml2,5 ml5 ml10 ml12,5 ml15 ml1/4 teelepel1/2 teelepel1 teelepel2 teelepels1 dessertlepel3 teelepels15 ml60 ml80 ml125 ml190 ml250 ml1 eetlepel1/4 koppie1/3 koppie1/2 koppie3/4 koppie1 koppie

Afkortings

ADSAAssociation for Dietetics in South Africa
°Cgrade Celsius (metrieke eenheid vir temperatuur)
CHOkoolhidraat
cholcholesterol
ggram (eenheid vir gewig)
GIglukemiese indeks
HDLhoëdigtheidslipoproteïen (die “goeie” cholesteroldraer, maak die are skoon)
kgkilogram (metrieke eenheid vir gewig)
kJkilojoule (metrieke energie-eenheid)
LDLlaedigtheidslipoproteïen (die “slegte” cholesteroldraer, laat die are aanpak)
medmedium
mgmilligram (metrieke eenheid vir gewig)
mlmilliliter (metrieke eenheid vir volume)
mmmillimeter (metrieke eenheid vir afstand)
MOVSmono-onversadigde vetsuur
POVSpoli-onversadigde vetsuur
SEMDSASociety for Endocrinology, Metabolism and Diabetes in South Africa
VVVersadigde vette
Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes

Подняться наверх