Читать книгу Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes - Hilda Lategan - Страница 4
VOORWOORD
ОглавлениеDie diagnose van enige siektetoestand kan baie beklemmend wees, veral as daar in die proses ook aan jou eetgewoontes gekarring word! Om lekker te kan eet is ’n natuurlike behoefte en vir baie van ons deel van ’n daaglikse roetine.
Wanneer jy jou leefwyse moet verander en ook jou eetgewoontes aanpas ter wille van beter gesondheid en lewensgehalte, kan jy moedeloos raak as jy nie die kennis en vaardigheid het om sulke maaltye te berei nie, veral as jy nog altyd die idee gehad het dat gesonder kos vaal en smaakloos is.
Op versoek van Tafelberg-Uitgewers het ek die beste resepte uit my vorige twee kookboeke, Suid-Afrikaanse kookboek vir diabetes en insulienweerstandigheid Deel 1 en 2, geneem en nuwe inligting asook staatmakerresepte bygewerk. Die doel van die resepte in hierdie kookboek is om kos vir die hele gesin te berei wat nie net ’n laer glukemiese indeks (GI), minder vet en minder kilojoules het nie, maar ook gesond en maklik is om te maak.
Ondanks die titel van die boek is die geregte ook veilig en geskik vir die beheer van verhoogde bloedvette soos cholesterol en trigliseriede, verhoogde bloeddruk, jig, lae bloedsuiker, hardlywigheid en gesonde verslanking.
Danksy my daaglikse konsultasies met pasiënte is ek baie bewus van die neiging onder Suid-Afrikaners om vetterige wegneem- en gemorskos te eet as gevolg van hul beperkte tyd om maaltye te berei. Daarom is die meeste resepte in hierdie kookboek bedoel vir maklike en voedsame maaltye en versnaperings – vir tussen maaltye en laataand – wat met oorwegend bekende, beskikbare en bekostigbare bestanddele berei kan word.
Hierdie boek vervang nie ’n besoek aan ’n dieetkundige nie. Met ’n maaltydplan wat volgens jou persoonlike en unieke behoeftes uitgewerk is, kan jy die resepte en inligting in die boek soveel beter benut om jou bloedsuiker te beheer.
Dit is my wens dat die boek jou sal help om smaaklike en voedsame maaltye te geniet wat jou bloedsuiker- en bloedvetvlakke beheer en goeie gesondheid en ’n kwaliteitlewe bevorder.
Lekker eet!
Hilda Lategan RD (SA)