Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 10

7

Оглавление

Nico de Jongh staan voor die OTM. Druk sy kaart in. Hy weet voor sy heilige siel daar is nie baie geld in sy rekening nie. As hy net R100 se petrol kan ingooi. Dalk nog R100 om elektrisiteit te koop. ’n Paar minute lugtyd vir sy selfoon. Saterdag doen hy ’n MC job waar hy hopelik kontant betaal sal word. R2 000. Fok. Dat hy opgewonde kan raak oor R2 000. Asof dit ’n salaris is. Asof dit die loon is wat iemand soos hy moet verdien.

Hy druk sy geheime kode in. Vra die masjien om R300 uit te spoeg. Wag vir die drie blou note wat hy vinnig in sy beursie sit.

Hy kyk na die strokie wat uitkom en sien hy het R175,34 oor in sy rekening. Die balans van al sy jare se harde werk is R175,34. Sepiester, bekende gesig wat in winkelsentrums voorgekeer word om te staan vir nog ’n foto en om nog ’n handtekening uit te deel. Honderd-fokken-vyf-en-sewentig-rand-en-vier-en-dertig-sent. Dis wat hy op sy naam het. Dit en ’n kar wat al lankal nuwe bande en ’n diens nodig het.

Hy stap na sy kar toe en kyk weer na die adres. Hy moet dit nie vandag opneuk nie. Hy het die werk nodig. As hierdie video ’n sukses is, sal daar dalk nog kom. Dalk kan hy op 38 met ’n nuwe lewe begin. Hy is klaar met acting! ’n Sukkelbestaan waar jy moet bakhand staan vir enige ou los werkie, tog te dankbaar as iemand jou raaksien en dink jy is goed genoeg.

Hy ry op met Adderleystraat, mik Tamboerskloof toe. André het verduidelik hoe om by die kantore uit te kom, maar hy is nog onseker wanneer hy in die Kaap bestuur. Hy sukkel om parkering te kry en is moerig toe ’n karwag nader stap.

“Will look after the car, boss.”

“You don’t have to. I’m sure it will still be here when I come back.”

Hy wil sleg voel, maar hel tog, hy is so gatvol vir die ewige gebedel. Jy kan deesdae nie by ’n verkeerslig stop sonder dat iemand iets aan jou probeer verkoop of ’n snot-en-trane-bordjie voor jou neus druk nie. Hy is self moeg gesukkel – hy het nie nog mense nodig om vir hom te wys hoe húlle sukkel nie.

Die ontvangsdame kyk op toe hy instap.

“Hallo,” sê sy en hy sien hoe sy haar beste glimlag uithaal en haar skouers net ’n klein bietjie verder agtertoe stoot. Ai, die poppies wat so swik voor bekendheid.

Hy draai die krane oop. ’n Mens weet nooit hoe belangrik sy in die hiërargie van Encore Musiek is nie. Gee sy mooiste glimlag, laat sak sy stem ’n aks.

“Hallo, ek is hier om vir André te sien. Ons het ’n afspraak.”

“Hy het gesê, ja. Wag net ’n oomblik.”

Sy staan op en Nico sien hoe sy haar heupies swaai. Hy kyk haar agterna. Nie te sleg nie. Hy ken nog nie so baie mense in Kaapstad nie en ’n stukkie vriendelike afleiding is dalk net wat hy nodig het.

Hy kyk haar in die oë toe sy teruggestap kom. Sy bloos effens.

“André is besig met ’n telefoonoproep. Hy is nou by jou.”

“Dankie. Sê my, is jy ’n Kapenaar?”

“Ja, gebore en getoë. Was hier in Jan van Riebeeck op skool. Hoekom vra jy?”

“Ek is nou al so uitgehonger vir ’n bord gekookte kos. Kan jy nie dalk ’n plek aanbeveel nie?”

“Ja, daar is ’n paar wat tradisionele kos het, maar hoekom sal jy na ’n restaurant toe gaan as jy lekker boerekos by iemand se huis kan eet?”

Hy speel dom. “Wat bedoel jy?”

“Ek doen dit nie gewoonlik nie, maar ek weet mos darem wie jy is. Kom eet by my. Ek maak die lekkerste hoenderpastei in die Kaap.”

Hook, line and sinker, dink Nico.

“Ek het nie geskimp nie en ’n mooi meisie soos jy het seker ’n kêrel. Sal hy nie kla nie?”

Sy giggel.

“Ek het nie ’n kêrel nie. Het jy nog nie gehoor hoe moeilik dit is om ’n boyfriend in die Kaap te kry nie?”

“Ek sou dink iemand soos jy sou al lankal van die mark af gewees het,” antwoord hy gemaak verbaas.

Sy giggel weer.

“My naam is Natasha. Natasha Bloem.”

“Hallo, Natasha Bloem. Bly te kenne.”

Weer die giggel.

“Wag, ek kyk gou of André klaar is.”

Sy draai weer om en swaai haar heupies vir sy vermaak. Kom terug en sê hy kan maar deurgaan.

“Hallo, Nico, dankie dat jy ingekom het,” groet André.

“Dis ’n plesier. Dankie vir jou tyd.”

“Ek is nuuskierig om te hoor wat jy beplan. Het jy al na die CD geluister? Na Carel se vorige video’s op YouTube gekyk?”

Natuurlik het ek, jou vet idioot, dink Nico. Hy kyk na André waar hy agter sy lessenaar sit. Hy is minstens twintig kilogram oorgewig en daar is ’n ligte lagie sweet op sy voorkop.

“Ja, ek het. Ek dink dis Carel se beste album. Ek is regtig beïndruk met die produksie en die lirieke,” sê hy met sy geoefende glimlag. Dis ten minste een ding wat hy in al sy jare voor die kamera en op die verhoog geleer het – hy kan opreg glimlag terwyl sy hart swart is.

“Ek is bly jy dink so. Het jy al idees? Carel behoort netnou hier te wees – hy is net gou by ’n radiostasie vir ’n onderhoud. Almal wil ’n stukkie van hom hê.”

Nico gee weer sy vals glimlag. Fokken sangers.

“Seker, ja. Dit moet lekker wees om so suksesvol te wees. Ons akteurs is nie altyd so gelukkig nie.”

“Ja, ek en Carel het nou die dag daaroor gepraat. Dit moet moeilik vir julle wees. Is daar nog steeds so min werk?”

Nee, poephol, my Merc staan hier voor jou kantoor omdat hierdie fokken Hollywood is.

“Dit gaan maar rof. Werk is skaars. Dis hoekom ek begin kyk het na ander dinge om brood op die tafel te sit.”

“Jammer ek is laat.”

Nico kyk op toe Carel instap. Die sanger lyk of hy so pas uit ’n advertensie vir naskeermiddel gestap het. Gebleikte jeans, wit hemp, die alewige kuif wat skuins oor sy oë hang. Hy kom nader om Nico se hand te skud.

“Hallo, Carel Strydom.”

“Nico de Jongh.”

“Ek hoor jy het ’n paar idees?”

“Ja, dis vir my ’n nuwe ding, maar ek hoop dit draai reg uit.” Hy wil nie klink of hy smeek nie, maar as hierdie ding nie werk nie …

“Ons het self ’n paar idees. Sal ons sit? Natasha! Kan ons koffie kry?” roep André.

Sy moes seker om die draai gestaan en luister het, want binne ’n sekonde is sy in die kantoor.

“Natuurlik. Koffie vir almal?”

“Ja, dankie.” Nico gee weer sy million-dollar smile. Natasha giggel en trippel by die kantoor uit.

“Sy is ’n groot fan,” sê André. “Soos jy seker al agtergekom het. Kyk Mooirivier al van sy op skool is. Maar nou ja, kom ons praat. Wat het jy in gedagte?”

Nico voel uit sy gemaksone, maar dis maak of breek.

“Ek het gedink ons moet uitry Langebaan toe … ”

Hy kry nie eens sy eerste sin klaar nie.

“Nee, Langebaan is al te veel gedoen,” sê André. “Ons soek iets nuuts, iets wat nog nie gedoen is nie.”

Nico kyk na André. Fok. So selfversekerd. Mister Money Bags. Kan hiet en gebied net soos hy wil. Grootmeneer wat altyd kry wat hy wil hê.

Vinnig dink, Nico, vinnig dink.

“Ek sien beslis iets in die natuur. Wat van ’n koringveld by Malmesbury?”

“Nee, ook al te veel gedoen,” sê André.

Fokfokfok.

Carel lag. “André is ’n moeilike customer. Jy sal nog leer.”

“Ek kom so agter,” antwoord Nico. “Goed, vertel my dan eers wat het julle in gedagte.”

“Ons het gewonder of ons nie ’n video moet maak met die meeste mense wat ons kan kry nie,” sê Carel. “Jy weet, the more the merrier.”

“Meeste mense?” vra Nico.

“Ja, ’n massiewe produksie met honderde mense. Die liedjie is immers ‘Soeker’. Jy weet, dat Carel die ou is wat so tussen die honderde mense die een soek wat hy wil hê,” laat hoor André.

Nico se kop sing. Hoe meer mense in die produksie, hoe meer geld, hoe meer kameras, hoe meer assistente. Meer, meer, meer wat hy nie kan bekostig nie. Hy het so gehoop dis ’n klein produksie wat hy sommer met twee of drie mense kan doen. Fok! Hy weet nog nie eens waar hy die geld sou kry om ’n klein produksie te doen nie, wat nog te sê ’n produksie met duisend ekstras.

“Waar het jy gedink moet dit geskiet word?”

André kyk by die venster uit. “Ek het gedink ’n groot rugby­veld. Ons sal iewers ’n skool kry wat vir ons hulle veld sal leen.”

“Het julle al ’n begroting?” vra Nico hoopvol.

“Nee, nie eintlik nie. Ons het ’n vae idee wat ons bereid is om te betaal, maar jy sal ’n paar somme moet gaan maak en uitvind hoeveel dit gaan kos.”

“Ek is seker André sal vir jou ’n deposito kan betaal as dit nodig is,” sê Carel.

Nico kyk na hom. Dalk is die ou nie so ’n poephol as wat hy gedink het nie.

“Dit sal help. Soos julle seker weet, is my beroep nie die lonendste wat daar is nie.” Nico kan dadelik sy gat skop omdat hy dit gesê het. Hulle moet asseblief nie dink dat hy ’n armsalige sukkelaar is nie.

“Ek verstaan, want ek was ook daar,” sê Carel.

“Ons was seker almal daar,” sê André. “Nou goed, gaan jy ’n bietjie huiswerk doen en terugkom na ons toe? Ons is haastig, so dit moet asseblief binne die volgende dag of twee wees. Het jy darem ’n rekenaar? Sal jy vir ons iets kan mail?”

Nico se kop word warm toe André dit vra, maar hy bly kalm. Kyk na André en besef dat hy ’n boelie is. Dat hy daarvan hou om mense te verneder.

“Ja, ek het ’n rekenaar. Ek stuur vir julle die voorstel deur. En dankie weer vir die geleentheid.”

Hy haat dit dat hy so nederig moet wees. So smekend voor hierdie buffel. Asseblief, baas, ’n bietjie werk tog, baas.

Met die uitstap nader hy Natasha se lessenaar. Sy staan op en hou ’n stukkie papier na hom toe uit.

“My nommers. Bel my as jy lus is vir hoenderpastei.”

Nico weet goed daar is baie meer op die spyskaart as hoenderpastei …

Noot vir dood

Подняться наверх