Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 9

6

Оглавление

“Weet jy wie is Nico de Jongh?”

Carel kyk na André Smit. André is ’n groot man en sy dubbelken sit wyd onder sy kakebeen. Hy is in sy laat dertigs en sy swart hare, wat plek-plek grys word, is kort gesny, sy donkerbruin oë diep in hulle kasse. Hier waar hy agter sy lessenaar by Encore Musiek sit, beur die knope van sy hemp teen sy groot maag en skuif hy aanhoudend rond. Maak hy aanmekaar sy rug reguit soos een wat ongemaklik sit, ’n lyf wat swaar dra aan al die ekstra gewig.

“Nico de Jongh, die akteur?”

“Ja, hy was vir ’n ruk in Mooirivier. Al lank in die land. Doen so nou en dan teater ook,” sê André.

“Hoekom vra jy?”

“Hy het gebel. Hy het ’n klein produksiemaatskappy begin en wil musiekvideo’s maak. Gevra of ons vir hom werk sal gee. Ek het gewonder of ons nie ’n kans moet waag nie? Ons het begroot vir ’n video en het mos besluit ons gaan ’n video van ‘Soeker’ maak. Ek dink dit sal dalk goed wees om iemand nuut te gebruik. En omdat dit sy eerste is, kan ons dalk publisiteit kry. Elke bietjie help.”

“Het ons dan nog publisiteit nodig? Hoe gaan dit met die verkope?” vra Carel.

“Goed, ek is tevrede. Staan nou op so 51 000. Maar ons hoop vir nog baie meer. Ek dink hierdie is ’n album wat by 100 000 kan draai.”

“Is jy seker? Die mark is in sy moer in. En die mense copy asof hulle betaal word. Mamma koop ’n CD en maak copies vir die wêreld en sy maatjie. Ek wonder of hulle weet dis net so erg soos diefstal. Kla hulle gatte af oor die politici wat die land rot en kaal steel, maar dink dis OK om dit te doen. Weet jy dat iemand nou onlangs by ’n konsert vir my ’n copy gebring het om te teken? Nogals in ’n CD-kissie mét ’n foto van my in! Die cheek!”

“Tot iemand ’n manier uitvind om dit onmoontlik te maak om CD’s te copy en die ekonomie sy gat uit die toilet uit kry, gaan dit aanhou gebeur,” merk André op.

“Is daar nog ’n toekoms vir CD’s? Gaan alles nie digitaal gaan nie?”

“Dit sal seker die een of ander tyd, maar Suid-Afrika is nog agter. In Amerika is digital al meer as die helfte van die mark. Ek dink dit sal nog ’n rukkie duur voor dit by ons oorvat. Die meeste mense hou nog van ’n CD in die hand.”

“Hoe lyk my digitale verkope?”

“OK,” antwoord André. “Die meeste kopers is in die buiteland. Expats wat terugverlang. Wat in die aand by die huis kom en snot en trane huil as jy so mooi Afrikaans sing. So by the way, het Linda al weer iets laat weet van Australië?”

“Nee, sy hoor volgende week, maar dit lyk of die toer in Mei volgende jaar sal wees. Kan jy dink, dat ’n Afrikaanse sanger in Australië kan gaan toer en vir sewe dae elke aand ’n vol saal trek? Wie sou ooit kon dink?”

“Ek sê jou, ’n klomp verlangende Afrikaners wat droom van braaivleis, Klipdrift en rugby. Ek dink hulle is so uitgehonger dat hulle enigiets wat Afrikaans is, sal gaan luister. En o ja, so gepraat van banggat Afrikaners … Riana Kruger se agent, daai skelm Morné Naudé, het gebel.”

“Regse Riana?” vra Carel. “Sy was die ander aand by die party­tjie in die Waterfront. Nie met haar gepraat nie. Weet nou nog nie hoekom sy daar was nie. Dit was tog ’n Encore-partytjie.”

“Jong, sy het haarself ingewurm. Nes daai Viviers-vrou van Scoop. Maar in elk geval, het jy gelees wat het Riana nou weer kwytgeraak? Oor haar volk wat so uitgemoor word? En dat sy geweier het om ’n kleedkamer met Thandi Monsela te deel?”

“Ja, ek het gelees. Die vrou is nie lekker nie. Ek kan nie verstaan dat enige regdenkende mens se politiek so skeef kan wees nie.”

“Gaan lees bietjie haar Facebook-blad. Die meeste van haar aanhangers is net so fokken dom soos sy,” sê André.

“Wat wou Morné hê?”

“Riana wil hê jy moet ’n duet saam met haar doen op haar nuwe gospel-CD. Ek het sommer dadelik nee gesê. Sy is nie iemand met wie jy geassosieer wil word nie. Hou verby.”

Carel lig sy wenkbroue. “Dankie, ek sou self nee gesê het. Dis persone soos sy wat wit mense in die land ’n slegte naam gee. Maar terug by die video. Vertel meer van Nico de Jongh?”

“Hy het lank in Johannesburg gebly, maar het so ’n paar maande gelede Kaap toe getrek. Ek dink dis tough vir akteurs. As jy dink die kak ekonomie is sleg vir sangers, dan moet jou hart bloei vir daardie lot. Hoe moet hulle aan die lewe bly? So ’n movie hier en daar, dalk ’n bietjie TV-werk en ’n play wat ’n paar dae by ’n kunstefees speel as hulle gelukkig is. Ek weet nie hoe hulle aan die lewe bly nie.”

“Ja, moet moeilik wees,” sê Carel. “Gaan jy hom laat weet dat hy die video kan maak?”

“Ek dink ek en jy moet net eers met hom praat. Hoor watter idees hy het. Dis nog nie ’n uitgemaakte saak dat hy dit gaan doen nie, ek het net gedink dis dalk ’n lekker angle vir ’n storie. Ons kan vir Huisgenoot sê hulle kan ’n behind-the-scenes kom doen.”

“Dis reg, laat weet wanneer ek moet inkom.”

Noot vir dood

Подняться наверх