Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 12
9
Оглавление“Hallo, dis Sophia Lategan wat praat.” Sophia ignoreer die kantoorgeluide en rig haar gemakliker in agter die lessenaar.
“Hallo, Sophia. Dis André Smit van Encore Musiek hier.”
“Hallo, André, hoe gaan dit?”
“Baie goed, dankie. Man, die rede hoekom ek bel … Ons gaan ’n musiekvideo van Carel Strydom se liedjie ‘Soeker’ maak en het asseblief jou hulp nodig. Of eintlik Die Burger se hulp.”
Sophia sit regop.
“Hoe kan ons help?”
“Jy moet dit asseblief vir die oomblik baie stil hou, maar ons wil ’n video met die meeste ekstras ooit maak – jy weet, ekstra mense wat net op die agtergrond moet wees. Ons het nie die begroting om almal te betaal nie, maar ons glo ons gaan genoeg fans kan kry wat dit sal doen vir die liefde van die saak. Hier kom julle in. Jy kan nie dalk vir ons ’n artikel skryf en noem dat ons hierdie mense soek nie?”
“Is daar nog ’n angle wat ek kan gebruik?” vra Sophia.
“Ja, die regisseur van die video is Nico de Jongh. Die akteur. Hy woon deesdae in die Kaap en dis sy eerste video. Ek kan vir jou ’n onderhoud met hom reël.”
“Dit klink goed. Ek gaan net eers met my nuusredakteur moet gesels. Sal jou laat weet.”
“Dankie,” sê André. “Luister, terwyl ek nou met jou praat, het jy nie die artikel oor Tertia Viviers se moord gedoen nie?”
“Ja, ek het.”
“Het daar toe ooit iets van gekom? Het hulle al die skuldige gekry?”
“Nee, ek het gister weer met die polisie in Tableview gepraat. Dis nou al twee maande later, maar daar is nog niks nie. Haar selfoon kon nie opgespoor word nie en haar bankkaarte is nie weer gebruik nie. Hulle is nie seker of hulle ooit gaan uitvind wie haar vermoor het nie. Het jy haar geken?”
“Ja en nee,” antwoord André. “Ons het mekaar ontmoet en so nou en dan gepraat, maar ek sou nie sê ons was huisvriende nie.”
Sophia wonder waarheen die gesprek op pad is. Hoekom het André vir haar oor Tertia gevra? Nuuskierigheid? Sommer net om geselsies te maak?
“Is jy jammer sy is dood?” vra sy.
“Is enigiemand werklik jammer sy is dood? Maar in elk geval, ek moet nou gaan. Sal jy my laat weet wat sê jou base?”
“Ek maak so.”
Toe sy die foon neersit, wonder sy weer oor Tertia se dood. Sy het nie die vrou geken nie. Hulle het dalk vir dieselfde maatskappy gewerk, maar op verskillende verdiepings en by verskillende koerante.
Sy het egter geweet van Tertia se reputasie. Haar liefde vir drank, hoe sy mense in artikels aangehaal het met wie sy nooit eens gepraat het nie. Ook haar venyn en hoe sy uit haar pad gegaan het om loopbane te verwoes.
Sophia het nog altyd gedink daar is meer agter Tertia se moord as bloot die diefstal van ’n selfoon en beursie. Maar hoe bewys sy dit? Sy kan net werk met wat die polisie vir haar gee, en dit is byna niks nie. Hulle sê net hulle werk aan die saak.
Sy staan op en stap na haar nuusredakteur, Francine de Lange, se kantoor.
“Hallo, het jy gou ’n paar minute?” vra sy.
“Ja, het jy ’n storie?”
“Ek dink so. André Smit van Encore Musiek het gebel. Daar gaan ’n video van een van Carel Strydom se liedjies gemaak word en hulle wil honderde ekstras op die stel hê. Hulle het gehoop ons kan daaroor skryf en dan kry hulle só die mense om dit verniet te doen. Die regisseur is die akteur Nico de Jongh. Klink my dis sy eerste musiekvideo.”
“Cheapskates. Dink jy dis ’n storie?”
“Ja, ek dink so. Ek kan ’n onderhoud met Nico oor sy nuwe lewe in die Kaap doen. Ons kan dalk ook ’n leserskompetisie hê waar iemand ’n ete of iets saam met Carel wen. Ek dink mense sal inskryf. Daar is niemand in Afrikaanse musiek wat op die oomblik so groot soos hy is nie.”
“Die kompetisie is ’n goeie idee. Ek sal met die mense by promosies praat. OK, gaan voort. Laat my weet wanneer dit kan ingaan.”
Terug by haar lessenaar bel Sophia vir André.
“My nuusredakteur sê dis reg. By wie kan ek die inligting kry? En kan jy my Nico se nommer gee dat ek ’n onderhoud met hom kan reël?”
Die koffierestaurant in die Waterfront is stil vir ’n Dinsdagoggend. Sy herken hom dadelik.
“Hallo, Nico, ek is Sophia Lategan van Die Burger.”
“Hallo, Sophia. Sit asseblief. Kan ek vir jou iets bestel?”
“Koffie sal lekker wees, dankie.”
Hy wink ’n kelner nader en bestel vir haar koffie.
“So, wat kan ek jou vandag vertel?” vra hy, sy mediakrane wyd oopgedraai. Hy is nie baie lief vir joernaliste nie, maar is slim genoeg om te weet wanneer hy hulle vir eie gewin moet gebruik.
“Jy weet seker Die Burger gaan ’n artikel doen oor Carel se nuwe video en dat ons gaan help sodat julle die honderde mense kry wat julle soek. Ek hoor jy is die regisseur. Ek wil graag as deel van die artikel vertel wat jy deesdae doen en dat dit jou eerste musiekvideo is. Dit is die eerste, nè?”
“Ja, dit is. Ek is baie opgewonde. Ek wou nog altyd direct en hierdie is ’n gulde geleentheid om te begin. Ek ken natuurlik die televisiemedium baie goed, aangesien die meeste van my werk voor die kameras was,” antwoord Nico.
“So jy het geen ander ondervinding hierin nie?”
“Nee, ek het nie, maar soos ek sê, jare se werk voor die kameras het my baie geleer.”
“Wat is vir jou die grootste uitdaging?”
“Die omvang van die produksie is seker die grootste,” sê hy. “Gelukkig het ek ’n groep baie bekwame studente van die filmskool hier in Kaapstad gekry om my te help. Ek sal egter die hele tyd die leisels hou.”
Sophia kyk na Nico. Hy is selfvoldaan. So verskriklik seker van sy saak. ’n Mens sou sweer hy het pas gehoor hy is vir ’n Oscar as best director benoem.
“Is dit iets wat jy hoop jy meer van gaan doen?” vra sy.
“Ja, ek hoop ook om eendag ’n feature te maak. Jy weet, ’n vollengte-fliek.”
Natuurlik weet ek wat ’n feature is, dink Sophia. Hoekom is daar soveel mense in die vermaakbedryf wat dink joernaliste is dom poppies wat die werk doen vir hulle eie vermaak?
“Is daar al ’n draaiboek wat jy in gedagte het?”
“Nee, maar dit lyk vir my elke tweede mens het ’n draaiboek iewers in sy laai. Jy moet net soek tot jy die regte een kry. Lyk my Afrikaanse mense is uitgehonger vir flieks in hulle eie taal.”
“En wie gaan jy kry om in die fliek te speel? Sangers? Akteurs?”
“O aarde, nee, net nie sangers nie. Ek raak die moer in – skuus, ek moet seker nie in ’n onderhoud vloek nie – as sangers in flieks gebruik word. Wat weet hulle in elk geval? Net omdat jy CD’s verkoop, beteken dit nie jy kan act nie.”
“Maar daar was tog al soveel suksesse? Is die rede hoekom flieks met sangers in so ’n sukses was, nie dalk juis omdat mense hulle ken en ondersteun nie?”
Nico hou nie van die rigting wat die onderhoud inslaan nie.
“Ja, seker, maar wanneer ek ’n fliek maak, gaan dit met regte akteurs wees. Ek dink ons het nou al te lank aan die agterspeen gesuig. Sangers het die afgelope tien jaar of wat ’n klomp geld gemaak. Nie net met CD’s en konserte nie, maar ook met die flieks waarin hulle gespeel het. Dis tyd dat akteurs ’n beurt kry. Maar kom ons praat oor die video. Is daar nog iets wat jy wil weet?”
Terug by die kantoor sit Sophia lank en staar na haar rekenaarskerm voor sy die artikel begin skryf. Sy hou regtig nie van Nico de Jongh nie. Hy is te arrogant, te selfversekerd. Asof hy die een is wat die hele akteursbedryf gaan red. Daar is baie akteurs en aktrises vir wie sy die wêreld se respek het, maar hy is nie een van hulle nie.