Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 11
8
Оглавление“Wat dink jy?”
André snork deur sy neus. “Die arme actortjies. Om darem so te moet smeek vir werk. Foei tog. Jong, ek weet nie. Kom ons kyk waarmee hy vorendag kom. Dalk het hy ’n idee, dalk is dit so kak dat ons dit glad nie gebruik nie.”
Carel het simpatie met Nico. Hy besef hoe baie hulle lewens verskil. Al twee entertainers, maar hy wat Carel is, het ’n huis in Melkbosstrand wat uitkyk op die see en ’n splinternuwe Discovery waarmee hy rondry, genoeg geld in die bank om mee te speel. ’n Huis by Bulshoekdam naby Clanwilliam ook. ’n Boot. Geld is om die waarheid te sê die minste van sy probleme. Daarvoor het die goeie verkope van sy CD’s gesorg, en die konserte waar mense hom maklik R60 000 betaal om vir ’n uur te kom sing. Hy het in die jare sedert sy debuut ’n ryk man geword. Alles te danke aan Afrikaanse musiek. Alles te danke aan die regte plek en die regte tyd.
“Ek dink tog ons moet hom ’n kans gee. Hy het die werk nodig.”
“Ja, maar ons is nie ’n charity nie,” sê André. “Maar wie weet? Dalk kom die actortjie met ’n idee.”
Dit pla Carel dat André so neerhalend met Nico gepraat het. Dis nie asof hy wat André is met ’n silwerlepel in sy mond gebore is nie. Sy geld is ook maar nuwe geld, maar hy het duidelik vergeet hoe dit was om swaar te kry.
“Kan ons ’n bietjie besigheid praat?” vra Carel.
“Ja, sure. Wat wil jy weet?”
“Ek het lanklaas ’n staat gekry. Ek weet dit gaan goed met die CD’s se verkope, maar wil net weet hoeveel presies daar verkoop is.”
“Man, jy weet mos die system het onlangs gecrash. Ek sal weer by Fanie by finansies hoor. Maar moenie worry nie, alles gaan goed. Ons sal seker teen die einde van die maand weer vir jou geld oorbetaal.”
Carel wou nie kla nie. André was die man wat hom ’n kans gegee het en gesorg het dat sy CD’s op die rakke kom. Hy het hom nog altyd vertrou, maar dis asof daar die laaste tyd iets is wat knaag. Nie ’n sekerheid nie, net ’n aanvoeling dat alles nie reg is nie.
“OK, dis reg so. Dis net dat ek gewoond geraak het aan die state elke maand en nou nie seker is wat aangaan nie.”
André se gesig het ’n effense pienk skynsel gekry.
“Fok, Carel! Was ons nie nog altyd goed vir jou nie? Sê jy my jy vertrou ons nie?” vra hy net ’n bietjie te hard.
“Dis nie wat ek sê nie. Ek sal net graag weer elke maand ’n staat wil sien. Ek sal wag om van Fanie te hoor. Ek moet nou gaan. Ek ry netnou Stellenbosch toe vir ’n konsert. Moet nog gaan sound check.”
Toe Carel uitstap, gryp André sy selfoon. Hy gaan na die lys van telefoonnommers en druk die een wat hy die afgelope tyd so gereeld gebel het. Nog net een keer. Nog net hierdie een keer.