Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 6
3
Оглавление“Het jy gehoor?”
Carel kom regop in sy bed, vee die hare uit sy oë. Die selfoon het hom gewek uit ’n diep slaap.
“Wie praat nou?” vra hy.
“Goeiste, slaap jy nog? Dis Linda.”
Carel herken sy agent se stem, kyk na sy selfoon se skerm en sien nou eers haar naam.
Hoe laat is dit? Hy kyk op sy horlosie. Halfagt.
“Hallo,” sê hy hees. “Skuus, ja, ek het nog geslaap. Het ek wat gehoor?”
“Tertia Viviers is gisteraand dood. Iemand het haar voor haar huis oorval, haar nek met ’n mes oopgesny. Sy het glo doodgebloei. Net haar beursie en haar selfoon is gesteel.”
Carel word koud.
“Hoe … hoe … weet jy?” vra hy deurmekaar.
“Dis groot nuus op die radio en Sophia Lategan van Die Burger het my netnou gebel om te hoor of ek enige kommentaar het. Sy wil natuurlik by jou ook weet of jy iets te sê het. Ek het vir haar gesê ek sal by jou hoor, maar ek glo nie jy sal nie.”
Carel swaai sy bene van die bed af. Sit geboë vooroor. Vee weer sy hare uit sy oë.
Hy is skielik wawyd wakker.
“Sy was gisteraand by die partytjie,” sê hy.
“Ek weet, ek het haar gesien. Natuurlik nie met haar gepraat nie. Niks vir die vrou te sê nie! Die cheek wat sy het om haarself altyd oral in te wurm. Maar foei tog, dis seker nie ’n manier om dood te gaan nie.”
“Nee, seker nie.” Carel se kop is ’n warboel. Hy het ook nie by die partytjie met Tertia gepraat nie, maar het geweet sy hou hom dop. Dit was asof sy die hele tyd net ’n paar sentimeter van hom af gestaan het. Alles geluister het wat hy gepraat het. Met haar swartomlynde oë en mond altyd op ’n plooi getrek asof sy iets slegs ruik. En altyd met ’n glas in die hand.
“Wil jy kommentaar lewer? Moet ek vir Sophia iets stuur?” vra Linda.
“Nee. Nee wag, dalk moet ek. Ek weet nie. Laat ek daaroor dink,” sê hy.
Daar is ’n stilte.
“Carel, dink jy sy het geweet?”
Hy weet dadelik waarvan sy praat.
“Nee, hoe kon sy?” Hy sug, laat sak sy kop in sy hand. “Maar met haar het mens nooit geweet nie. Bliksem, sy kon so krap en krap! Linda, daar is net vier van ons wat weet, nee, vyf, want Alma weet ook, en nie een van ons sal praat nie.”
“Maar ek en jy het gisteraand … ”
“Ek weet ons het vinnig daaroor gepraat, maar hoe sou sy kon hoor?”
“Ek weet nie. Ek wonder maar net. En as sy dalk die inligting gehad het, hoeveel ander mense het daarvan geweet?”
“Kom ons hoop niemand nie. Ek gaan nou stort. Ek bel jou later.”
“OK, bye. Praat later.”
Carel staan op en gaan badkamer toe. Kyk vir homself in die spieël. Tertia Viviers is dood. Die doring in sy vlees is met ’n skerp lem uitgesny.
Jy is ’n slapgat, Carel Strydom. Jy moes al lankal eerlik gewees het. Die wêreld en sy vrou vertel het van jou groot geheim. Hoe erg kan dit nou wees? Maar is die feit dat hy dit al so lank wegsteek, nie deel van die probleem nie? Gaan mense hom nie juis kruisig omdat hy so lank vir hulle gelieg het nie?
Hy sal seker vir Alma ook van Tertia moet laat weet. Alma O’Kennedy, een van die min mense in sy lewe wat hy werklik vertrou. Sy assistent die afgelope vyf jaar, wat oral saam met hom reis en sorg dat sy lewe glad loop. Liewe Alma wat nie ’n vlieg sal skade doen nie, maar soos ’n leeuwyfie sal baklei om hom te beskerm.
Hy en Tertia het mekaar die eerste keer ses jaar terug ontmoet. Sy eerste CD is pas bekendgestel en mense het van hom begin praat as die nuwe hoop vir Afrikaanse musiek. Dit was by die KKNK en hy het van die een verhoog na die ander gegaan en sonder betaling gesing. Encore Musiek, die musiekmaatskappy met wie hy kort tevore ’n kontrak geteken het, het gesorg vir plakkate, maar dit was hy wat dit tot die vroeë oggendure teen die lamppale vasgesit het.
Die foto op die plakkaat is geneem by ’n goedkoop ateljee in Kaapstad, maar daar was nie geld vir ’n stilis en iemand om te sorg dat sy neus en voorkop nie te veel blink nie. Sy vaalblonde hare het geraak-raak aan sy kraag. Die langerige kuif was tot teenaan sy wenkbroue. Die ligblou hemp op die foto is een wat hy by Mr Price gekoop het, die jeans ’n paar Levi’s wat al jare in sy kas was.
Hy het alleen gereis. Met die bokse CD’s en sy kitaar agter in sy bakkie en ’n geldkissie vir die kontant. Mense het geluister terwyl hulle die een bier ná die ander gedrink het en aan die einde van die fees was hy, asook die musiekmaatskappy, ’n paar rand ryker. Sy eerste groot treë na sukses is in die Klein Karoo gegee.
Hy was meestal alleen en saans het hy na die koshuiskamer gegaan wat hy gehuur het vir die tyd by die fees. Soggens het hy tougestaan by die badkamers en gehoop daar is nog warm water oor.
Dit was net daardie een aand. Daardie een onbesonne aand wat hy besluit het om te gaan kyk hoe die naglewe by ’n fees lyk.
Volgens almal was Al Capone die plek om te kuier. Die watergat waar mense nog ’n laaste bier of dop of die een of ander gif in klein glasies gedrink het.
Carel het vinnig besef as jy op ’n verhoog is, is jy vir die meeste vroue soos ’n magneet. Sit ’n mikrofoon in jou hand en die vroue gooi hulleself vir jou.
Hy het geweet, gewéét hy moenie drink nie. Maar een bier sal tog nie skade aanrig nie? Hy het immers iets gehad om te vier. Goeie verkope, ’n goeie fees. Een bier het twee geword. Iemand het vir hom nog ’n drankie gekoop, ’n vrou het twee shooters aangedra. Ná daardie eerste twee biere het hy nie een keer vir sy eie drank betaal nie. Later het dit jolig gegaan. Hy het begin ontspan, grappies gemaak en met vreemde mense gesels. Hy het ’n persoonlikheid gekry wat hy nie sonder drank gehad het nie.
Saam met die aandag van vroue kom daar ander moeilikheid. Mans hou nie daarvan as hulle meisies ’n ou aanstaar nie. Ook nie as hulle vir hom drank aandra nie. Carel het die aandag geniet, maar ’n groot man met piesangtrosse vir hande het besluit hy het genoeg gehad. Hy het tot voor Carel gestap, hom in die oë gekyk en gesê: “Jy dink jy’s die kat se gat, nè? Moffie-sangertjie wat seker koor op skool gesing het. Kyk nog een keer na my girl en ek bliksem vir jou.”
Carel het probeer verduidelik, maar dit het nie gehelp nie.
“Ek belowe ek stel nie in jou girl belang nie.”
“Wat?! Sê jy my girl is lelik? Wat is fout met haar? Jy het nog net tien CD’s verkoop en jy dink klaar jy is God’s gift to women. Arrogante klein bliksem!” het die man hom toegesnou.
Carel het besef hy gaan nie wen nie en het omgedraai en weggestap.
“Ek watch vir jou!” het die man nog agternageskreeu, maar Carel het gemaak of hy nie hoor nie.
By ’n stiller plek in die ou huis wat as kuierplek omskep is, het hy teen ’n muur gaan staan.
“Jy gaan moet gewoond raak daaraan,” het ’n vrou vir hom gesê.
“Waaraan?”
“Die aandag.”
Carel het na die vrou gekyk. Sy was seker in haar laat twintigs, nie te lelik nie. ’n Paar jaar ouer as hy, maar met oë wat nie wyk nie en ’n borsmaat wat sy nie skaam was om te wys nie.
“Ek dink nie ek sal ooit gewoond raak daaraan nie,” het hy geantwoord.
“My naam is Tertia Viviers,” het sy gesê en haar hand uitgesteek.
“Hallo, ek is … ”
“Ek weet wie jy is. Ek het vanoggend na jou geluister by die Huisgenoot-verhoog. Jy is goed.”
“Dankie. Ek het hard gewerk … ”
“Natuurlik het jy. Mens kan dit hoor. So, vertel my, wat is jou storie?”
Die vrou se blonde hare het los op haar skouers gehang. Haar grimering was met ’n swaar hand aangewend en die donker potloodstrepe het dik onder haar oë gelê. Dit het gelyk of haar klere een nommer te klein is.
Hy het later besef dit was die alkohol wat sy mond so los gemaak het.
“Ek kom van Saldanha. Daar grootgeword en skoolgegaan. Daar was nie geld vir verder leer nie. Ek sing nog altyd. Gehoop iemand sien my eendag raak. En iemand het. Ek het by ’n kuierplek gesing toe André van Encore Musiek my raakgesien het. Hy het my ’n kontrak aangebied en hier is ek nou.”
“Weskusklong? Met soutwater in jou are?”
“Ja, seker.”
“Gaan jy ’n shooter saam met my drink?” het Tertia gevra.
Sy lyf was warm, die smaak van sukses nog ’n nuwigheid.
“Ja, hoekom nie?”
Hy kon die volgende oggend nie onthou hoeveel hy gedrink het nie. Daar was om die waarheid te sê dele van die aand waarvan hy niks geweet het nie. Toe hy baie vroeg in haar bed by haar gastehuis wakker word, was hy dankbaar dat sy nog slaap. Hy het versigtig opgestaan, sy klere aangetrek en uitgesluip.
Die warm son van die Klein Karoo het al gewys dat hy dié dag met mening gaan brand.
Hy is na sy koshuiskamer en ná ’n koue stort is hy weer in die bakkie na die feesterrein. Daar was drie optredes op sy program. Hy het broos gevoel. Dit het gevoel of iemand sy brein aanhoudend met ’n klein messie steek.
Jou dom fool! het hy met homself geraas. Hy het hom dan voorgeneem om sy lewe lank so ver moontlik van drank af weg te bly. Hy het mos gesien wat dit aan mense kan doen, hoe dit gesinne kan verwoes. Dit nog altyd reggekry om matig te drink. ’n Bier of twee of ’n glas wyn saam met ete. Maar gisteraand … Gisteraand was dit asof hy ’n ander mens was. Is dit wat ’n bietjie aandag aan jou doen?
Hy het Steers toe gegaan en ’n hamburger en Coke gekoop. Bewerig die geld uit sy beursie gehaal. Sy eerste optrede was elfuur en hy het gehoop die mense kom nie agter dat hy ’n babelas uit die hel het nie.
Tertia was daar toe hy by die verhoog aankom. Hy het geskrik toe hy haar sien, nie geweet wat hy gaan sê nie. Nog groter geskrik toe hy sien sy het ’n mediakaart om haar nek. Welgedaan, Carel Strydom, jou dom poephol, jou one-night stand is ’n joernalis. Nie ’n los stukkie op ’n fees nie, maar ’n joernalis.
“Hallo, sluiper,” het sy gesê.
“Hallo. Ek, uh, wou jou nie pla nie. Jy het nog vas geslaap.”
“Ek sou nie omgegee het as jy my wakker gemaak het nie.”
Carel het nie geweet wat om te antwoord nie. Nee, hy hét geweet: Dit was ’n fout. Dit moes nooit gebeur het nie. Dit sou nie gebeur het as hy nugter was nie. Maar hy het nie die moed gehad om dit te sê nie.
“Ek het nog baie dinge gehad om te doen, jammer.”
“Dis OK,” het sy geglimlag. “Wat maak jy vir lunch? Sal ons iets gaan eet?”
“Ek kan ongelukkig nie. Ek het nog twee ander optredes vandag. Dit gaan maar rof.”
“Hoe laat maak jy klaar? Ek kan jou dalk dan iewers kry?”
“Ek dink nie so nie. Ek sien later die mense van Encore Musiek,” het hy skaamteloos gelieg.
“Wat van later vanaand?”
Carel het besef sy gaan nie bes gee nie. Weer homself uitgeskel. Hy het vinnig probeer dink. Hy wou haar nie weer sien nie. In die skerp sonlig het sy baie ouer gelyk as die aand tevore. Die plooie om haar oë en mond het diep gelê, haar hare was onversorg en hy kon sweer hy het drank op haar asem geruik.
“Luister, uh … ” het hy gemompel en besef hy het haar naam vergeet.
“Tertia. Tertia Viviers.” Sy was nie meer so vriendelik soos vroeër nie.
“Luister, Tertia, gisteraand … ”
“Ja, OK, moenie probeer verskoning maak nie. Ek was maar net afleiding. Nog ’n fees, nog ’n pomp.”
Hy het gegril vir haar kruheid.
“Maar weet nou maar, Carel Strydom,” het sy verder gesis, “gisteraand gaan nog lank by jou spook. Jy dink dalk ek is ’n los slet wat in enige man se bed spring, maar ek is nie. Jy sal nog jou fout agterkom.”
Sy het omgedraai en weggestap. Die klankman het by hom kom staan.
“Hoekom lyk Tertia of iemand haar drank gesteel het?”
“Ken jy haar?” het Carel gevra.
“Almal ken haar. Jy wil nie in haar slegte boekies wees nie. Sy is trouble met ’n capital T. Is jy reg om op te gaan?”
Carel het sy kitaar gekry, sy babelas skielik vergete. Tertia Viviers was ’n groter probleem as die shooters wat nog in sy kop geskiet het.
Dit het goed gegaan met die optrede. Die mense het geklap en ná die tyd het hy 46 CD’s verkoop. Dit was die tweede laaste dag van die fees en as dit so aangaan, sou hy nie genoeg CD’s gehad het om te verkoop nie.
Terwyl hy besig was om op te pak, het ’n vrou na hom toe gestap.
“Hallo, my naam is Linda Cronjé. Het jy al ’n agent?”
Hy het haar so in haar vroeë veertigs geskat. Sy het ’n denimromp gedra wat tot net bo haar knieë kom. ’n Moulose wit hemp en plat sandale aan haar voete. Haar bruin hare was kort gesny en hy kon sien sy is ’n vrou wat gereeld oefen. Carel het met waardering na haar bruingebrande bene en helderrooi toonnaels gekyk. Sy was ’n mooi vrou.
Hy het natuurlik geweet wie sy is. Van die grootste name in musiek was by haar. Sy speel nie met up-and-coming sangertjies nie. Sy kies haar mense met die hand.
“Nee, ek het nie. Ek het maar twee maande gelede die kontrak by Encore geteken,” het hy geantwoord.
“Ek weet. Ek weet alles. Het jy tyd vir koffie? Dit lyk of jy dit nodig het.”
“Ja, koffie sal lekker wees.”
Hulle het sy kitaar en die res van die CD’s in sy bakkie gaan bêre en is na ’n restaurant waar hulle wonderbaarlik ’n stil hoekie gekry het.
“Hoekom stel jy in my belang?” het Carel met die deur in die huis geval.
“Jy het dit,” het Linda gesê. “Deur die jare het ek dit nog net ’n paar keer raakgesien en jy het dit. Die stem, die look, die talent. Jy gaan dit nog ver bring.”
“Wat moet nou gebeur?”
Linda het vir hom verduidelik hoe die musiekbedryf werk. Hoeveel mense jy nodig het om jou rug dop te hou. Hoe venynig dit kan raak. Die wedywering tussen maatskappye. Die stryd om jou musiek op radiostasies te kry. Hoe mense jou om elke hoek en draai gaan probeer verneuk. Dat jy iemand nodig het om vir jou kontrakte op te stel, dat iemand jou beeld in die media gaan moet beheer …
“Ek dink ons het klaar ’n probleem,” het Carel gesê.
Linda het gelag.
“Jou nie lank geneem nie, het dit? Wat het gebeur?”
“Ek het gisteraand vir Tertia … ”
“Viviers?”
“Ja.”
“Jy het gisteraand vir Tertia gewat?”
Hy was skielik skaam.
“Ek was nog elke aand alleen in my koshuiskamer. Gisteraand het ek uitgegaan en haar by Al Capone ontmoet.” Hy kon voel hoe hy bloos. “Ek het vanoggend in haar bed wakker geword. Dit was ’n fout, ek weet dit, maar … Ek weet drank is nie ’n verskoning nie … ”
Hy het soos ’n stout skoolseun gevoel.
Linda het vooroor gebuk en sy hand gevat.
“Jy het jou eerste, baie moeilike les geleer. Vroue gaan hulleself vir jou op ’n skinkbord aanbied. Jy gaan aandag kry wat jy nie gedink het moontlik is nie. Iets gebeur wanneer ’n man op ’n verhoog stap. Dit doen iets aan hulle. Jy gaan móét versigtig wees. As jy ’n sukses van jou loopbaan wil maak, sal jy hard moet werk, maar jy sal ook pal moet besef mense hou jou dop. Sukses is ’n vreemde ding. Sodra jy dit kry, gaan daar mense wees wat alles sal doen om dit van jou weg te neem.”
“Sien jy nog kans om my te help?”
“Ja, natuurlik. Ek sal met André by Encore praat. Ons werk nog altyd goed saam. Eers moet ons die potensiële Tertia-probleem oplos. Het sy gesê sy gaan iets skryf?”
“Nee, sy het nie. Ek het eers vanoggend besef sy is ’n joernalis.”
“Van nou af doen ek al jou mediaskakeling. Jy praat nie met ’n joernalis voor jy met my gepraat het nie. Waar is jou selfoon? Neem my nommer. Dis nou die belangrikste nommer in jou lewe.”
Carel het beter gevoel ná sy gesprek met Linda. Hy het vir André by Encore gebel en van hulle gesprek vertel.
“Jy is in goeie hande,” het André gesê. “En jy moet jou sterre dank dat sy jou raakgesien het. Sy steur haar nie gewoonlik aan nuwe talent nie.”
Carel het sy ander twee optredes gedoen. Albei kere was Tertia daar. Sy het nie met hom gepraat nie, maar hy het die hele tyd haar oë op hom gevoel. Hy het ná die tyd CD’s verkoop en gestaan vir ’n paar foto’s. Teen seweuur die aand was hy klaar. Toe hy by sy bakkie kom, het Tertia daar gestaan.
“En toe? Het jy al van plan verander?” het sy gevra.
“Tertia, dit gaan nie gebeur nie. As dit enigsins help, ek is jammer. Ek is jammer oor gisteraand en ek is jammer as ek jou dalk aanleiding gegee het.”
“Aanleiding? Aanleiding? My fok, ons het seks gehad!” het sy geskreeu.
Hy het om hom gekyk, bang iemand hoor haar.
“Ek weet, ek is jammer. Verstaan asseblief. Ek is regtig jammer.”
“Jammer se gat! Jy weet nog net nie wat ek vir jou in jou loopbaan kan beteken nie!”
“Ek moet nou gaan. Ek is regtig jammer.”
Hy het in sy bakkie geklim en weggery. By die koshuis het hy dadelik vir Linda gebel.
“Tertia was by die ander twee optredes en het nou by my bakkie gewag.”
“Daai vrou is ongelooflik. Haar vel is so dik soos ’n renoster s’n. Wat het sy gesê?”
“Sy het gesê ek besef nie wat sy vir my in my loopbaan kan beteken nie.”
Linda het gelag.
“Nee wat, daaroor moet jy jou nie bekommer nie. Sy het ’n baie slegte reputasie en hoe sy nog ’n werk het, gaan my verstand te bowe. Mense neem gewoonlik haar stories met ’n knippie sout, maar dit beteken nie dat jy nie versigtig moet wees nie. Kom ons kyk eers of sy iets gaan skryf. Ons hanteer dit van daar.”
Carel het die aand op sy koshuiskateltjie lê en lees. Al negeuur sy lig afgeskakel.
Die volgende twee dae het dit goed gegaan. Daar was elke keer meer mense en teen die Saterdagoggend was al die CD’s wat hy saamgebring het, verkoop. Mense het gevra waar hulle hom vir ’n konsert kan bespreek en hy was verlig dat hy vir hulle Linda se nommer kon gee.
En elke keer was Tertia daar. Nie met hom gepraat nie, net naby genoeg dat hy kon agterkom sy is daar.