Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 8

5

Оглавление

Dis seker verkeerd, dink Azania Paulse, maar sy is bly Tertia Viviers is dood. Sy is jammer vir haar ma en suster, maar die wêreld is ’n beter plek sonder mense soos Tertia.

As dit nie vir haar was nie, dink Azania, as dit net nie vir haar was nie …

Sy wil nie bitter wees nie, maar sy kan dit nie help nie. Tertia Viviers het gekrap waar dit nie gejeuk het nie. Azania se verlede gaan oopkrap en daaroor in die koerant geskryf sodat haar swaarkry openbaar kon word vir ander se vermaak. Vir die land vertel van Azania se lewe in die plakkerskamp, haar dronk ma, haar pa wat sy nooit geken het nie. Geskryf dat haar suiplap-ma bruin was, maar haar pa swart, en dat dit is hoekom Azania so ’n donker vel maar gladde hare het. Asof dit saak maak! Asof haar DNS iets met haar talent te doen het.

Tertia het met haar giftige pen mense mooi laat verstaan dat niks goeds ooit uit ’n plakkerskamp kan kom nie. Dat Azania se loopbaan dood was nog voor dit begin het. Wie wil tog nou iemand ’n kans gee of vir ’n konsert bespreek as sy dalk nie eens met ’n mes en vurk kan eet nie? Of dalk suip soos haar ma?

Natuurlik nie ’n woord geskryf oor haar Ouma Annie wat haar met liefde grootgemaak het nie. Ouma Annie wat die klere aan haar lyf sou gee om te sorg dat Azania iets van haar lewe maak. Uit die haglike omstandighede kom en haar stem gebruik om die stof van die plakkerskamp af te skud.

Toe Ouma Annie geld gespaar het sodat Azania ’n taxi na die Idols-oudisie kon neem, het Azania geweet dis genoeg geld vir ’n brood, dalk ’n halfliter melk, ’n paar rand om elektrisiteit mee te koop. Bloedgeld.

Sy het die vorige jaar matriek geskryf, maar werk was skaars. Haar ouma het geweier dat sy huise skoonmaak soos sy. Geld vir verder leer was daar nie. Wanneer sy aangeklop het vir werk, was die antwoorde altyd dieselfde: al die poste is gevul; ons het iemand nodig met meer as net ’n matrieksertifikaat; jammer, nie vandag nie.

Intussen het sy elke oomblik wat sy kon, gesing. Na die radio­tjie in hulle kombuis geluister en saamgesing. Woorde gememoriseer en neergeskryf. Gesing in die kerk en wanneer mense haar gevra het om by partytjies op te tree. Sonder begeleiding, want geld daarvoor was daar beslis nie. Sy het in haar hart geweet dat Ouma Annie reg was – as iets haar uit hierdie sinkhuis-hel gaan kry, gaan dit haar stem wees.

Azania kyk op haar horlosie. Dis amper twaalfuur. Sy moet wikkel as sy betyds by die kleuterskool wil wees. Rosa haat dit tog so om te wag.

Rosa. Die lig in haar lewe. Haar klein krulkopdogtertjie met die mooi oë wat haar geleer het wat liefde is. Vyf jaar oud, maar met soveel wysheid. ’n Skoon siel wat ’n vreugde is vir enigiemand wat met haar te doen kry.

Rosa. Azania sal alles doen om te keer dat sy die kinderjare het wat sy self gehad het. Sy kon nie verhoed dat Rosa ook sonder ’n pa grootword nie, maar sy sal sorg dat daar nooit stories is wat haar lewe sal verwoes nie.

Rosa, die kind wat sy tot die dood sal beskerm.

Noot vir dood

Подняться наверх