Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 7

4

Оглавление

Nuus24.com; 11.46 vm.

2 Februarie 2012

Joernalis vermoor vir selfoon en beursie

Deur Sophia Lategan

Die joernalis Tertia Viviers (35) is gisteraand voor haar huis in Tableview vermoor. Cynthia Cupido, woordvoerder van die Tableview-polisiekantoor, het gesê slegs Viviers se beursie en selfoon word vermis.

“Haar lyk is vroeg vanoggend deur haar buurvrou gevind,” het Cupido in ’n verklaring gesê. “Dit is in hierdie stadium nie seker of die motief vir die moord slegs diefstal was nie en daar is nog geen verdagtes nie.”

Viviers was ná haar dramastudie aan die Universiteit Stellenbosch vir ’n wyle betrokke by kinderteater, waarna sy ’n paar weke in die sepie Mooirivier te sien was. Daar was toe gerugte dat sy gevra is om dié langs lopende sepie in Suid-Afrika te verlaat as gevolg van haar laatkommery en die feit dat sy nie altyd voorberei het nie.

“Ons is baie jammer om van Tertia se ontydige dood te hoor,” het Elsabé Louw, woordvoerder van Mooirivier, gesê. “Ons innige simpatie met haar naasbestaandes.”

Louw wou geen kommentaar lewer oor die tyd toe Viviers onder ’n wolk by Mooirivier weg is nie.

Simon van Wyk, redakteur van Scoop, die skinderblad waarvoor Viviers gewerk het, het gesê sy laat ’n groot leemte.

“Tertia was dalk nie die gewildste joernalis nie, maar sy het nie opgegee voor sy ’n storie gekry het nie,” het hy bygevoeg.

Viviers het kort nadat sy by Mooirivier weg is, by Scoop begin werk. Daar is gesê dat sy juis die werk gekry het omdat sy soveel mense in die vermaakbedryf geken het. Sy was verantwoordelik vir verskeie skinderstories wat die lewe vir bekendes moeilik gemaak het. Van die onlangse skandale wat sy uitgekrap het, was die verhouding tussen die getroude rugbyspeler Wian Klopper en die Springbokke se fisioterapeut, Telanie Schutte, en die feit dat die Afrikaanse sangeres Mari-Lou haar matrieksertifikaat vervals het.

Van die bekendes wat nie wou kommentaar lewer oor Viviers se dood nie, is die sanger Carel Strydom, die sangeres Anél Burger en die Mooirivier-spelers Nico de Jongh, Annemarie Nortier en Samuel Jacobs.

Begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie. Viviers, wat ongetroud was, word oorleef deur haar ma en suster.

Noot vir dood

Подняться наверх