Читать книгу Noot vir dood - Ilza Roggeband - Страница 13

10

Оглавление

Sy lees die berig in Die Burger weer en weer.

Skare nodig vir Strydom se nuwe video …

In die berig skryf die joernalis dat mense wat belangstel ’n e-pos moet stuur om aansoek te doen. Daar is geen betaling vir die deelname nie, net ’n geleentheid om in een van die grootste Afrikaanse musiekvideo’s ooit te wees. Daar is ook een groot prys vir mense wat inskryf: Een gelukkige leser wen ’n ete saam met Carel by ’n eetplek in Bloubergstrand.

Ek het nie betaling nodig nie, dink sy. Dis nie eens vir my nodig om die groot prys te wen nie. Ek wil net een van die mense wees wat daar is wanneer die video gemaak word.

Dalk sien hy haar dan raak. Elke keer wanneer hy in die Kaap optree, is sy daar. Sy het selfs George toe gery vir ’n konsert. Vroeër die jaar was sy by al sy konserte by die KKNK. Durbanville, Stellenbosch, Bellville. Hermanus toe en terug gery vir ’n konsert.

Sy is altyd daar wanneer hy ná die konserte CD’s verkoop en handtekeninge uitdeel, maar sy was nog altyd te skaam om nader te gaan. Gehoop dat hy haar sal opmerk, haar sal nader wink tussen die massas en besef sy is die een.

Sy kry ’n skêr en knip die berig uit. Dit moet ook in een van haar plakboeke kom. Wanneer sy en Carel eendag oud is en hy nie meer optree nie, sal hulle deur die plakboeke blaai en sal hy weet wat elke oomblik in sy loopbaan gebeur het. Hy sal ook dan weet hoe lief sy vir hom is en nog altyd was, deur al die jare, al het hy haar vir so lank nooit eens raakgesien nie.

Noot vir dood

Подняться наверх