Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 11
sewe
ОглавлениеTussen Ester Zorgenfliess se besoek aan die begraafplaas die oggend en haar besoek aan die Steynhuis die aand, beweeg sy die hele dag deur die dorp. Van die begraafplaas (waar sy Bennie Potgieter agterlaat), stap sy verby die poskantoor; verby die stadhuis met kloktoring, en kanonne uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog; links in Steynstraat af tot onder in die dorp, waar die Saterdagoggend-drukte die merkbaarste is; en weer terug met Reitzstraat, verby die begrafnisondernemers op die hoek (waar Selene Abrahamson opgebaar gelê het), tot in Kerkstraat, waar die mense nog steeds by die openbare telefone in rye wag om te bel, of in groepies rondsit en -staan, en uitgelate lag en gesels. Sy drink ’n tweede keer tee in die Dorpskafee; sy drink later koffie op die stoep van die Grand Hotel; sy eet ’n toebroodjie in ’n kafee met geruite tafeldoekies.
Sy hou haar oë oop vir nog mans met waentjies, soos die verbete meneer Van Gogh wat die vorige dag met opgerolde doeke by haar verby is. Op pad iewers heen. Maar in die omgewing van die historiese kerk is sy veral op die uitkyk, aandagtig, vir die ma en die kind, met die vuurrooi wange, wat sy gister hier teëgekom het.
Om eenuur is die drukte ineens verby. Die dorp loop leeg. Die lang strate word stil. Noudat daar minder menslike afleiding is, hou Ester die wisselende lig en lug met groter aandag dop. Sy kyk hoe die wolke voortdurend verander. Aanvanklik is hulle laag op die horison, sag, met geen harde rande, geen skerp skaduwees of skielike oorgange nie. Die wolke is eers so delikaat dat hulle nouliks van die blou van die lug onderskeibaar is. Later pak hulle saam, vorm dikker stapels, met ’n bruinerigheid in die soliede binneste dele – ’n beduidenis van rooi en geel, ’n warm grys. Gaan dit reën?
Sy loop deur die lang, stil dorpstrate. Sy dink: Op Bennie Potgieter kan jy reken om ’n ontsaglike boek te skryf; op Jonah Voorsanger kan jy reken om herhaaldelik en hiperbolies te oordryf. Die Piet-my-vrou roep: Weet-weet-weeoo. Die tuinduif roep: Koe-roe-koe. Die tortels roep: Koekoer-doek. Die hemel raak wyer en oper. Die wolkstapels beweeg weg, in ’n oostelike rigting.
Sy dink: Lig bepaal die vastigheid of onvastigheid van vorms. Dit bepaal die intensiteit van kleur en die diepte van skaduwees. Die een lig is hemels – dit lig vreugde en genieting uit; ’n ander lig is vlak, geel, héls.
Sy kyk op na die wolke, na die ganse hemel van einder tot einder; sy kyk af na die grond voor haar voete. Die grond het hier ’n ander kleur; die gras groei pollerig. Die insekte is skigtiger. Die oorheersende kleure is okers, sandgele en blonde pienke. In die omgewing buite die dorp is daar oorlogsgrafte; sy ken nie die geskiedenis van die omliggende gevegsterreine nie.
Laatmiddag word dit skielik koel. Die hemel verbleek, raak goudkleurig nader aan die horison. Die lig en donker kontraste in die bome word groter. ’n Rukkie later gaan die son met gepaste glans en glorie onder – sy het niks minders verwag nie: klein, intense, skerp, dramatiese kwashaaltjies van purper, goud, karmosyn en vermiljoen.
Die aand bad sy, trek die enigste mooi rok aan wat sy saamgebring het, sit lipstiffie aan, en maak haar gereed om met Fonny Alexander na die Steynhuis te gaan, om daar na Jan de Dood en sy Bende te gaan luister.