Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 7
drie
ОглавлениеDie volgende dag, Vrydag, is die dag waarop Selene Abrahamson begrawe word. Ester Zorgenfliess word die oggend in haar bed in die Gemoedsrus Kamers wakker en weet aanvanklik nie waar sy is nie, nadat haar ma kortliks in ’n droom verskyn het, maar sonder om Ester se teenwoordigheid te erken.
Op hierdie dag kom Ester vir die eerste keer die vrou met die kind teë. Terwyl sy die oggend op een van die bankies onder die plataanbome langs die historiese kerk wag vir die begrafnisdiens om te begin, kom die ma en die kind op ’n bankie langs haar sit.
Die ma is oorgewig, sy dra ’n lang, helder, geblomde rok. Die kind is klein, haar liggaam duidelik onderontwikkel; moeilik om te sê hoe oud sy is. Sy het ’n effense boggel; haar kop is diep in die nek ingetrek.
Die kind staan by haar ma se knie. Haar wange is vuurrooi, hoewel dit nie warm is hierdie tyd van die oggend nie. Sy huil geluidloos. Sy bal haar vuiste. Sy byt aan haar klere. Sy probeer haar mou van haar aftrek met haar tande. Die ma probeer haar paai, praat sussend met haar. Sy waai haarself en die kind met ’n sakdoekie koel; kyk verontskuldigend in Ester se rigting. Die kind uiter geen verstaanbare woorde nie. Sy maak steungeluide, van magteloosheid, tussen die geluidlose trane deur. Die ma paai, probeer haar ’n koeldrankie te laat drink. Die kind stoot dit ergerlik van haar weg, haar gesig hoogrooi, vertrek van frustrasie.
Dan, skielik, sonder enige aanduiding, net vir ’n paar oomblikke, word die kind skielik rustig. Haar liggaam ontspan, daar kom oor haar gesig ’n vervlietende uitdrukking van algehele rus, sy rol haar oë boontoe sodat net die witte sigbaar is, sluit hulle ’n paar oomblikke, en iets soos ’n effense siddering gaan deur haar kinderliggaam.
Pas toe Ester ’n rukkie later in die kerk sit, besef sy dat sy in die verkeerde kerk is. Sy het sonder meer aangeneem dat Selene Abrahamson vanuit hierdie kerk begrawe sal word. Sy was afgelei; sy het nie daaraan gedink om te vra nie. Op dié manier loop Ester sowel die roudiens as die begrafnis van Selene Abrahamson mis.