Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 13
nege
ОглавлениеDie eerste aand in die Steynhuis val ’n groepie van vier mans en ’n geselskappie van vyf vroue Ester op. Ross Bekker, ’n skilder uit die stad, praat mettertyd uitgebreid oor sy werk en Fonny maak Ester daarop attent dat hy stoned to the eyeballs is. (Uit haar eie sou Ester dit miskien nie gemerk het nie. Haar skerpte van visie aan die afneem?)
Die Steynhuis is ’n historiese dorpshuis, vernoem na president Steyn, wat tydens die Anglo-Boereoorlog ’n paar weke hier tuisgegaan het voordat hy by generaal Christiaan de Wet aangesluit het op hulle uitmergelende tog – wat later as die dryfjag op De Wet bekend sou staan. Die huis is in die onderdorp, in ’n buurt van ou huise, oop erwe, naby ’n skrootwerf, en dit is omskep in ’n alternatiewe eet- en drinkplek waar uitgenooide kunstenaars soms optree.
Ester het saam met Fonny Alexander gekom om na Jan de Dood te luister, en van al die gaste is dit veral ’n lang, seningrige man met kort, stekelrige hare wat haar opval (hy dra ’n swart T-hemp en werkersboots en ’n fancy groen broek met blinkdraad in). Sy naam is Jakes Jones, sê Fonny toe Ester haar vra, en die man met die kortgeskeerde hare en bril se naam is Salmon Senekal. Sy ken nie die ander twee mans in hulle geselskap nie.
Fonny is soos die vorige dag in swart geklee en heeltemal in haarself gekeer. Dit merk Ester heel gou. Jonah Voorsanger, Bennie Potgieter, Braams du Buisson en ’n vrou met hewig gekartelde hare (Dorothea van Dorp, sê Fonny) maak mettertyd hulle verskyning. Ester is dankbaar dat hulle by ’n tafel aan die teenoorgestelde kant van die groot sentrale vertrek gaan sit – met Jonah Voorsanger verkeer ’n mens nie gesellig saam nie. Met Jonah swaai ’n mens aan bobbejaantoue en kroonkandelare. Jy dans op warm kole tot jy morsdood neerslaan. Wat is Jonah Voorsanger as hy nie groter as lewensgroot is nie? Ken Ester nog iemand wat so onverdraagsaam en normatief is? Sy en Jonah het nooit goeie vriende geword nie. Die Wonderkind sit gedwee langs hom en eet; sy groot, sagte lyf skud af en toe soos hy lag. Hy dra vanaand ’n kanovaartpet asof hy deesdae by al sy talle ondernemings ook nog met vernuf riviere bevaar. (Alles waarskynlik droë lope. Die eertydse snelstromende riviere.)
Uit die sentrale vertrek – mure diep karmosynrooi geverf en houtafwerkings smaltblou – lei ’n agterste vertrek waar die gaste reeds uitbundig aan die dans is en as dit van hulle afhang, dit steeds meer uitgelate sal doen.
Ester sien dat sy nie vanaand met Fonny ’n betekenisvolle gesprek gaan voer nie. Eers hou sy Fonny stip onderlangs dop vir sigbare tekens van beletseling. Maar behalwe dat Fonny nie spraaksaam is nie, onversteurbaar met haar eie gedagtes besig is en in haar swart sjaal soos in ’n kokon gewikkel is, is daar uiterlik aan haar niks te merk nie. Niks val Ester op nie, behalwe die romerige glans van Fonny se vel (teebruin), haar wenkbroue soos stadspoorte, die aangrypende weerloosheid van haar nek (haar hare is opgesteek) en die koel, mineralogiese glans van haar swaar hare.
(Fonny en Selene Abrahamson was niggies – haar ma was Selene se pa se suster. Fonny se pa is óf jonk dood, óf hy het verdwyn – daar is een of ander storie aan sy dood verbonde waaroor Ester nie seker is nie.)
Die geselskappie vroue (ook deur Ester noukeurig in die oog gehou) lyk of hulle veel plesier aan die aand en aan mekaar se geselskap het. ’n Vrou met kort, donkerrooi hare en lang ledemate (Truth Pascha – historikus, sê Fonny); ’n vrou met swaar, skouerlengte blonde hare wat soos Kathleen Turner lyk (Johanna Jakobsen, iets in ’n mediese veld); ’n vrou met ’n breë gesig en kunstig gekartelde hare (Maria Wildenboer, Freudiaanse terapeut); ’n vrou met ’n bob en ’n bril (’n skrywer, maar Fonny kan haar naam nie onthou nie), en ’n vrou met ’n spits, gespanne gesig en rooibruin hare (sy woon op die dorp, maar Fonny ken haar nie).
Later die aand kom die skilder Ross Bekker en sy metgesel by ’n tafel naby hulle sit. Die jong metgesel lyk soos ’n 1950-Coca-Cola-advertensie. ’n Groep mense skaar hulle spoedig om die skilder. Hulle vra hom na sy werk uit. Hy beantwoord alle vrae met ’n mengsel van onverskillige sjarme en klaarblyklike ongeduld. Fonny merk teenoor Ester op dat die skilder stoned to the eyeballs is. Die skilder verduidelik dat hy met die tema van herdenking werk. Ester luister onbeskaamd na die man met die geblaaste kop. Hy wil die intensiteit van die beeld ontbind deur die ruimte wat hy skep tussen die toeskouer en die kunswerk, sê hy. Hy wil idees opstel en hulle dan onteien. Sy beelde moet fenomenologies sowel as metafories werk, hy wil homself besig hou met die aard van beeldgebruik, met wat ’n beeld is. Hy wil beelde gebruik en demistifiseer. Die reeks gestreepte skilderye wat hy onlangs ten toon gestel het, het miskien té selfverwysend geword, sê hy. Hy wil sy abstrakte werk op ’n manier nieabstrak maak om sy eie intensies te ondermyn. Hy wil aan sy werk ’n hallusinatoriese polsslag gee. Die reeks grys skilderye het hy grys gemaak tot op ’n punt waar hulle heeltemal onsigbaar word, uitgedoof raak – uitsterf. Terwyl Ross Bekker praat, wieg sy metgesel – waarskynlik minnaar – liggies heen en weer op die stoel.
Mense in die groep hou aan vrae stel. Die skilder antwoord deurgaans met dieselfde nonchalance, asof hy nie by ’n gesprek oor sy werk betrek wil word nie. Hy praat weer oor die herdenkingsmotief in sy werk – sommige werk is minder en sommige meer direk kommemoratief – opgedra aan sy gestorwe vader, aan gestorwe vriende. Hy werk binne ’n bepaalde troop, sê die skilder (sy minnaar wieg swygend op die stoel). Die vergaderde groep om die tafel luister aandagtig, verruk. Hy probeer ’n korpus werk saamstel wat sy spirituele neigings – of begeertes – akkommodeer. ’n Lastige woord, sê hy – spirituele begeertes. (Hy lag ’n oomblik sag, kyk af. Lag in sy mou, dink Ester.) Hy wil die herdenkingsbeelde gebruik en vórentoe beweeg; hy wil die idee van sentiment, van rou, die geestelike dimensie gebruik en ágterlaat. In een van sy mees onlangse werke, sê hy, het hy ’n mausoleum probeer skep waarin hy werk met idees en beelde van skeuring en mutasie. Hy sou nooit die moontlikheid van volkome vernietiging wou onderskat nie. Wat nie gesê word nie, sê hy, is net so belangrik as wat gesê word. Maar in sy werk wil hy ook die visualiteit, die optikaliteit, die plesiér aanspreek. Op dié manier wei Ross Bekker uit oor sy werk, terwyl hy oor al die gretige aanhoorders se koppe heen op ’n onbepaalde punt in die verskiet staar.
Die jong metgesel se wange is blosend, ’n diep blos asof hy koors het. Sy mond is vol en rooi. Hy het ’n sfeer van vroulike misterie om hom. Hy dra ’n geruite hemp. Hy is sexy en in sy eie gedagtewêreld versink. Hy kyk nooit direk na die skilder of enigiemand anders nie. Sy blik bly, soos dié van Ross Bekker, iewers op ’n onbepaalde afstand gefokus. Hy sit woordeloos en passief op sy stoel, ten spyte daarvan dat die skilder soms na hom draai. Hy is tevrede en selfgenoegsaam – vol van ’n geheime wete van oorvloed. Hy is passief en voldaan – asof tyd vir hom geen hindernis is nie; asof hy nie soos ander mense aan die weë van tyd en verval, onrus en verveling onderwerp is nie.
Dis alles dieselfde, sê die skilder, die blomme en die klippe en die vliegtuie wat hy skilder.
Nee, dit is nie, daag een van sy aanhoorders hom uit.
Dis alles verf, sê die skilder.
Later beweeg Ross Bekker en sy metgesel na ’n ander tafel. Jan de Dood het nog nie sy opwagting gemaak nie. Ester gaan buite asem skep. Sy ruik ’n naderende klamte in die lug wat nie voorheen daar was nie. Om die maan het die newel verdiep tot ’n stralekrans van pers en rooi. Onder haar voete is sy bewus van die aarde se ligte welwing.
Na twaalf het Jan de Dood nog nie sy verskyning gemaak nie. Die gaste is daardeur geensins gedemp nie. Kort daarna besluit Ester en Fonny om te gaan. ’n Digte, koue mis het ondertussen onverwags oor die dorp opgekom. Die sigbaarheid is vinnig besig om minder te word. Ester en Fonny stap in die rigting van die bodorp. Die mis sluit hulle van die buitewêreld en van mekaar af. Dit verdof die klank van hulle voetstappe op die gruis. Dit word spoedig so dig dat voorwerpe langs die pad nog net in die beperkte lig van die straatlamp sigbaar is.
Ester vra Fonny vir die eerste keer uit na haar werk. Fonny sê sy skilder nie meer nie. Ester wonder eers of sy reg gehoor het. Sy wil weet waarom nie. Fonny sê dit is nie meer vir haar belangrik nie. Ester laat dit voorlopig daar. Sy wil nie verder daaroor praat voor sy Fonny nie na die voorval uitgevra het nie. Bo in die dorp neem hulle van mekaar afskeid. Ester gaan na die Gemoedsrus Kamers links van die historiese kerk, Fonny na Antie Rose se huis regs van die kerk, verby die ou begraafplaas. Vanaf hierdie punt begin Ester se voorneme vorm aanneem. Van hier af word sy bestendig en doelgerig.