Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 14

tien

Оглавление

Sondagoggend drink Ester tee in die Dorpskafee. Daarna stap sy deur die verlate strate van die dorp. Om elfuur vermy sy die kerkgangers, maar draai tog effens in die omgewing van die historiese kerk in die hoop om weer die ma en die kind te sien wat die oggend van Selene Abrahamson se begrafnis hier op een van die bankies kom sit het. Laatoggend ry sy ’n entjie die dorp uit in die rigting van die oorlogsgrafte. Die middag slaap sy. Waarom sal sy nie van die geleentheid gebruik maak om uit te rus terwyl sy hier is nie? In die loop van die dag dink sy dikwels aan haar man en kind. Sy en die kind kan mekaar op die oomblik nie bereik nie, want die kind is op besoek by haar vader in ’n ander stad. Voor haar vertrek het Ester na die klere in die kind se kas gekyk – haar teenwoordigheid nog merkbaar daarin. Haar kamer ruik na vanielje. Sy is nouliks meer ’n kind. Sy is ’n meisie van agtien – ’n volwassene. Haar verhouding met Ester het vir die kind ander konsekwensies gehad as dié met haar (verlore) vader. Die vader was verlore en is weer teruggevind. Iets Bybels daaraan. Behalwe dat dit die kind se voorreg is om verlore te raak en weer teruggevind te word – nie die ouer s’n nie. Die kind het maande lank herhaaldelik snags van die vader gedroom. Eindelose variasies op die tema van die vader se dood, verminking, verlies, verraad. Die vader grynslag soos ’n dooie. In haar slaap roep die kind uit.

Die aand voor Ester se vertrek hierheen het die kind haar gebel. Sy het vertel van haar vader. Sy is by hom op besoek omdat hy weer terug is in die land van die lewendes. Hy was lank nie bereikbaar nie. Die kind het vertel dat sy steeds nagmerries het, selfs nou, by hom, by die vader. Die vader luister snags na haar asemhaling. Hy slaap lig. (Maande lank waaksaam leer slaap.) Sodra hy hoor haar asemhaling word swaarder (vertel die kind), troos hy haar al. Maar die nagmerrie volg nietemin. (Dit is onstuitbaar. Die onbewuste angste beur steeds na bowe.) Die kind roep uit. Sy het gedroom haar surrogaatvader is dood. (Die angstigheid om die vader se welsyn, om sy lewe, nog nie afgelê nie.) In die droom sê die kind herhaaldelik: Dit breek my hart! Oor en oor sê die kind in die droom: Dit breek my hart. ’n Volgende nag word haar asemhaling weer swaarder. Die vader troos haar al! Sy roep! Nou vervul hy ná al die verlore maande sy rol as vader – die vader wat waak oor die kind se asemhaling as sy slaap. Die vertroostende vader. Die kind droom daar is siek kinders wie se laaste wens dit is dat daar lyke aan hulle gegee word om met swart verf te bedek. Dit is nie duidelik in die droom of dit vir hulle plesier is nie. Die dooies word ritueel beskilder deur die terminale siek kinders. Al die maande, al die jare selfs, moes die kind haar kwel oor die vader se oorlewing. In die maande wat hy verlore was vir die wêreld en vir homself, wat sy nie geweet het of hy dood is of lewe nie, moes die kind deur die hel gaan. Om sy onthalwe moes sy die hel van vertwyfeling trotseer.

Buller se plan

Подняться наверх