Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 16
twaalf
ОглавлениеFonny Alexander kom Sondagaand met haar bakkie na Ester en van daar stap hulle op Ester se versoek na die Steynhuis omdat dit ’n allermooiste aand is, met die klimmende (groeiende, uitdyende) maan, aanvanklik skugter en later flagrant, en die kriekgesang wat geleidelik in drif en oorgawe toeneem, en die onmeetlike (ongekende) wye hemel (ongeken vir Ester wat vergeet het hoe groot die hemel hier kan oopmaak – in teenstelling met die stad). Fonny is weer in swart geklee met haar hare in bande en beperkings vas (’n weduwee) en vreemde skaduwees oor haar gesig afgelei, nie spraaksamig nie soos die vorige aand. (Ester verbaas dat Fonny ingestem het om weer met haar saam te gaan.) Geen newel vanaand om die swellende maan nie en geen klamheid in die lug te bespeur nie, en nie meer as ’n hand vol brokkelrige, onvlieserige wolkies in die lug nie, en nie die geringste teken vanaand meer van die digte mis wat die dorp gisteraand bedek het nie. Ester het weer die vorige nag van haar ma gedroom en sy wonder: word hier ’n motief ingelui? Haar oë is branderig en haar hart skommel vreemd onbestendig in haar borskas.
Sy en Fonnie stap vinnig. Fonny se profiel is afgewend, die swart sjaal weer styf (beskermend) om haar skouers gedraai, haar kop effens vorentoe gebuig. Eers sit hulle binne, by ’n tafeltjie in die hoek onder ’n skildery van minnaars (’n hewig ekspressiewe werk). Later sal hulle op die stoep gaan sit wanneer dit te druk raak binne. Dit is die laaste keer dat Fonny Ester na die Steynhuis vergesel.
Die man met blosende vel wat oor Kwaadwilligheid skryf, is weer vanaand hier. Maria Mulder en geselskap (lang vrou met leerbaadjie en nors vrou met groot ken) is weer hier. Die kunshandelaar (handelsprins) Simon Vouet en sy uitgebreide geselskap is weer hier. (Simon Vouet met fletsblou oë en ’n Buck Rogers-kakebeen; lank, blond, energiek en elegant; sy good looks nét besig om te begin verweer.) Die rap poet wat nooit eet nie, is hier. Die exiled dramaturg is weer hier, asook Melvin April, skrywer van magistrale historiese romans. Almal waarskynlik om Jan de Dood te sien optree; almal die vorige keer deur Fonny vir Ester geïdentifiseer. Jakes Jones, met blinkdraadbroek en werkersboots, stekelrige hare en klein mondjie, is weer hier, soos die vorige aand in die geselskap van die jonger man met die krullerige, donker hare, die man met die bloubaard, en die man met kortgeskeerde hare en ’n bril, wat kortaf in Fonny se rigting knik toe hy haar sien.
Later die aand (Jan de Dood het nog nie sy verskyning gemaak nie) gaan Fonny en Ester op die stoep sit waar dit koeler en minder rumoerig is. (Die kriekgesang net nog nie heeltemal deur die musiek verdring nie.) Teen tienuur daag Jonah Voorsanger en geselskap op – Bennie Potgieter, Braams du Buisson en die vrou met kuite en welig golwende hare, Dorothea van Dorp. Hulle sit by die tafel langs Ester en Fonny. Op dié manier kan Ester hoor wat hulle sê, sonder om direk deel van hulle geselskap te wees, en sy kan Jonah Voorsanger ongesiens dophou.
Sy dink: Jonah Voorsanger het geen geheime nie en ook geen droomlewe nie (al sou hy voorgee dat hy het) omdat hy obsessief alles uitspreek wat hy dink. Jonah Voorsanger leef homself volledig verbaal uit omdat hy dwangmatig alle psigiese gewaarwordinge in taal omsit, omdat hy onstuitbaar op alle idees uitbrei, en omdat hy ’n vrees het vir oop ruimtes – waaronder ook stiltes val. Op dié manier spreek hy sy innerlike lewe voortdurend uit teenoor die wêreld en of hy derhalwe behoefte aan vertrouelinge het, is nie duidelik nie. In die mate wat enigiemand wel sy vertroueling is, is Bennie Potgieter dit. Hy en Braams is in elk geval van Jonah se menige aanhangers dié met die meeste stamina. So het sy Jonah altyd gelees, en sy het geen rede om te dink dat dit nou anders is nie.
Jonah het dit vanaand oor Ross Bekker (wat Ester nie vanaand hier opgemerk het nie – nie Ross óf die sexy jongeling nie). Ross Bekker is ’n fool – hy is ’n abysmal fool wat die ignorant Sid waarskynlik die ewige lewe belowe het, sê Jonah, en Sid het al die inferior beloftes saam met die inferior mixes gesnort. Jonah steek ’n sigaret aan en neem ’n sluk wyn. Ester hoor die krieke in die oop veld langs hulle.
Herdenkingskuns, sê Jonah, spaar hom die term! Grootheidswaan – dit is Ross Bekker se fout. Gebrek aan oordeel. Ross Bekker het kontak met die werklikheid verloor! Wat baat al Ross Bekker se fancy footwork en openbare verkondigings van obskure intensies hom? Wat baat sy kuns daarby en wat het die arme Sid daarby gebaat? Waar dink Ross Bekker hang hy uit?! In ’n ideale Platoniese universum waar mense nie agter sy bloed en sy guts en sy geld is nie?! Abysmal bugger! Damn fool! Ignoramus! (Jonah maak sy sigaret energiek dood in die asbak.)
Nie die Wonderkind óf Braams sê iets nie. (Sê hulle ooit iets in Jonah se geselskap – of verkeer hulle altyd net in ’n toestand van sikofantiese vervoering, wonder Ester.) In die naghemel is die maan geleidelik besig om die ganse ruim as domein te eis. Maar Jonah Voorsanger is nog nie uitgepraat oor Ross Bekker nie. Ross Bekker snort elke dag inferior mixes, sê hy, en dan het hy fantasieë van onsterflikheid. Dan maak hy ’n skildery wat hy vir ’n fortuin verkoop. Maar Ross Bekker is eintlik ’n verlore siel, sê Jonah, ’n siel in limbo, ’n siel in wit windsels, ’n nietige wurm. Hy moet William Blake lees! Hy is vir ewig gedoem sonder dat hy dit besef. Hy begryp nie sy eie erbarmlike staat nie. Hy begryp ook nie waaroor sy werk gaan nie. Herdenkingskuns! Hy dink sy werk is goed vir al die verkeerde redes. Hy praat meesal vergesogte stront. En hy praat dit skaamteloos in die openbaar, van openbare platforms af. (Die Wonderkind lag geluidloos, mompel iets in sy baard, in sy ken, in sy bors. Hy dra vanaand ’n groot, swart T-hemp met ’n klein logo in die middel: less is more. In die nag het hy variasies op ’n tema van Baudrillard gedroom, terwyl dit eintlik Bataille moet wees wat die sleutel tot sy preokkupasies vorm. Hy skud sy kop, lag sag.)
Jonah sit sy betoog voort. Gooi sy lang hare oor sy skouers. Skink nog wyn. Die maan klim steeds meer hooghartig in die naghemel. Ross Bekker is ’n opportunis, sê hy. Hy is eintlik wesenlik ongeletterd. Grondig ongeletterd. Daar is geen salf aan hom te smeer nie. Hy het meer sukses as waarvoor hy bedraad is – vroeg of laat kom daar ’n kortsluiting by hom. Hy is nie bedoel om van openbare platforms te proklameer nie. Hy is besig om sy eie jargon te begin glo. Hy dra dit voor soos ’n litanie. Hy moet besef wat hy sê is kak. Hy moet besef hy is basies ’n good time boy en ’n fool, en dit van dáár neem.
“Wie is Sid?” vra Ester onderlangs vir Fonny.
“Sid was sy lover,” sê Fonny. “Hy is gisteraand hier doodgeskiet.”
Ester begryp nie onmiddellik nie. “Die jong man wat gisteraand saam met hom hier was?! Geskiet?! Wie het dit gedoen?!”
“Hier agter die Steynhuis,” sê Fonny. “Drie mans skynbaar, wat in ’n motor weggejaag het.”
“Wanneer het jy gehoor?” vra Ester.
“Bennie het my vanoggend kom sê,” sê Fonny. “Almal weet al.”
Ester kyk om haar rond. Hier klink dit vanaand ewe gesellig en rumoerig as gisteraand. Geen gedempte atmosfeer en vlae wat halfmas hang nie.
“Wat het Ross Bekker gedoen?” vra Ester.
“Hy het geskree,” sê Fonny. “Maar nie soos ’n mens nie.”
“Was Jonah-hulle nog hier?” vra Ester.
Fonny knik. “Hy is in die rug geskiet,” sê Fonny. “Hy het op sy maag gelê. Hulle het Ross met moeite van hom afgekry.”
“O, my Here,” sê Ester. “Hoekom het hulle hom geskiet?” vra sy.
“Drugs,” sê Fonny. “Kan enigiets wees. Ross Bekker maak baie geld. Sy werk verkoop deesdae goed. Hulle was albei heavy in die drugs. Seker maar wheeling en dealing wat verkeerd geloop het. Afpersing. Jonah dink hulle was nie versigtig genoeg nie – Ross en Sid.”
Dit skok Ester. Sy vind dit moeilik om te glo.
Maar Ross Bekker is reeds daargelaat. Nou het Jonah Voorsanger dit oor meneer Woodgate, die gewese minnaar van Selene.
Woodgate! roep Jonah. Selene moes die kind geaborteer het en die damned fool geskiet het! Sy het hom geháát! Sy het hom verág! Sy moes dit gedóén het! Sy wóú dit doen! Sy het nie die guts gehad om dit deur te voer nie! Here! Nou is sy dood en die infernal bugger leef nog! Dit pynig hom, sê Jonah, die gedagte pynig hom – dit maak hom dood. Hy neem ’n reusesluk uit sy glas.
Selene Abrahamson dood, sê hy. Die gedagte pynig hom onbeskryflik, sê hy en steek ’n sigaret aan. Hy gooi sy lang hare agtertoe oor sy rug. Dit sal hom vir die res van sy lewe pynig, sê hy. Hy neem weer ’n sluk uit sy glas.
Woodgate, sê hy weer, en gooi sy hare minagtend oor sy skouer. Hy is so Éngels. Hy is so beláglik. Hy is so hoogdráwend. Hy is so gewígtig. Hy het so min verbéélding. Hy is so vervélig. Selene het hom geháát. Sy het hom verág. Hy is so sáái. Hy is so passé. Hy is so onbeskryflik onnósel. So oníngelig. So pséúdo. So ’n phoney. So gevéíns. Sy moes hom doodgemaak het. Sy wóú. Sy het te veel scruples gehad. Sy was te squeamish. Sy het te lank geaarsel. Dis net iets wat jy dóén. Sy kon dit nie doen nie. Dit sou beter vir hom gewees het as sy hom doodgemaak het. Hy behoort homself dood te maak. Hy behoort die sense te hê om dit te besef. Dit het niks met eer te doen nie. Dit het met goeie oordeel te doen. Hy het nie daardie oordeel nie. God! Sy moes geleef het. Een van die mooiste vroue van die afgelope dekades. Sy het ’n talent soos Emily Dickinson gehad. En wat het daarvan geword? Dit pynig hom sonder ophou om daaraan te dink, sê Jonah, en gooi sy hare oor sy skouer. Kruis sy bene. Steek nog ’n sigaret aan. Drink.
Nie lank daarna nie besluit Jonah en geselskap om binne te gaan sit. (Nie genoeg opwinding of afleiding buite nie, dink Ester.) Jonah staan op, te rusteloos om lank op een plek te bly. Ester sien hoe hy net effens hinkepink, die een voet sleep, só dat dit nouliks opvallend is. Jonah Voorsanger en Dorothea van Dorp dans binne op die maat van een of ander groep se ekstatiese gesang – die groep moet intussen van iewers hulle verskyning gemaak het, want Jan de Dood en sy Bende het bepaald nog nie opgedaag nie. Ester begin dink sy gaan nie die geluk hê om hulle tydens hierdie besoek mee te maak nie.
Nog later dus, ná Jonah se uitgebreide betoë, toe sy en Fonny weer alleen by hulle tafel sit, vra Ester Fonny versigtig uit na Selene. (Iewers moet sy haar gesprek met Fonny begin.) Fonny sê dat sy Selene se ongelukkigheid gesien het, maar in die laaste maande voor haar dood het hulle nie meer kontak gehad nie. Sy kon sien Selene is in ’n doodloopstraat. Dit het haar groot leed verskaf, maar sy kon Selene nie bereik nie. Hulle lewe, sê Fonny, het verskillende rigtings ingeslaan. Hulle het mekaar altyd liefgehad, soos susters, maar hulle was nie meer vir mekaar ’n steun nie. Sy sê dit onbewoë.
Ken sy die geskiedenis van Artemisia Gentileschi? vra Fonny ineens vir Ester. (Uit die bloute.) Nie die besonderhede nie, sê Ester. Artemisia het in die hof getuig, sê Fonny, dat sy na haar verkragting gemerk het dat haar bloed rooier was as vantevore. By háár was dit ook so, sê Fonny – na die aanval was daar bloed op haar hande en op haar gesig, en dit was rooier as wat sy haar bloed vantevore onthou het. So ’n helder vermiljoen. Dit was rooi soos die bloed van martelare. (Ester skrik van Fonny se woorde.)
Sy dink, nou gaan Fonny begin praat. Maar dit is al wat Fonny sê. Toe Ester haar vra wat presies met die aanval gebeur het, is Fonny ontwykend, onwillig om verder te praat. Later, sê sy, sy sal later vertel. Ester dink, daar is iets wat anders is aan Fonny. Iets wat sy nie kan plaas nie. ’n Gevoel om Fonny wat sy haar nie van vroeër herinner nie. Haar uitstraling is anders as wat Ester dit onthou.
Nie lank daarna nie – toe Jan de Dood na elf nog nie sy verskyning gemaak het nie – besluit Ester en Fonny om huis toe te gaan. (Ester dink, Fonny is eintlik teen haar sin hier. Sy moes haar nie gevra het om saam te kom nie.)
Op pad huis toe, in die helder lig van die maan wat nou sonder twyfel en triomfantelik oor die hemelruim heers, vra Ester vir Fonny wat presies met die skilder Artemisia Gentileschi gebeur het.
“Artemisia se pa het hierdie man gehad wat hom in sy studio gehelp het, wat haar op ’n dag verkrag het,” sê Fonny. “Hy het gesê hy gaan met haar trou, en daarna het sy aangehou om met hom sexual relations te hê. Hy het ’n vrou gehad, maar Artemisia het dit nie geweet nie. Toe is daar later ’n hofsaak. Toe het sy haar vrywillig onderwerp aan marteling deur die duimskroef – om te bewys dat sy onskuldig is. Sy was vyftien jaar oud toe dit gebeur het. Haar lewe en reputasie was min of meer geruïneer van daardie punt af, al het sy later in haar lewe baie erkenning as kunstenaar gekry – besonder baie vir ’n vroulike skilder van daardie tyd,” sê Fonny.
Die rumoer uit die rigting van die Steynhuis is steeds hoorbaar. In die bodorp, waarheen hulle op pad is, slaan die historiese kerk se klok een slag.
“Sy was haar lewe lank bitter oor wat met haar gebeur het,” sê Fonny.
Sy trek die swart sjaal stywer om haar skouers. Ester wonder in watter mate Fonny met die sewentiende-eeuse skilder identifiseer.
“Wat beteken hierdie vrou se geskiedenis vir jou?” vra Ester.
Fonny draai in die loop haar gesig na Ester. Ester weet nie of Fonny haar al sedert haar aankoms so direk aangekyk het nie.
“Waarom sou dit vir my iets beteken?” vra sy (met verwondering). Ester dink, dit is die eerste keer dat Fonny haar antwoord sonder dat haar aandag elders is. “Sy was altyd een van my gunstelingskilders,” sê Fonny.
Hulle stap weer ’n rukkie in stilte voor Fonny skielik sê: “Ek wil jou graag die plek wys waar ek gaan bly.”
“Wanneer wil jy hê ons moet gaan?” vra Ester.
“Môre,” sê Fonny.
“Het jy van jou werk daar?” vra Ester, “ek wil dit graag sien.”
“Ek het niks meer om te wys nie,” sê Fonny. “Ek het al my werk verbrand.”