Читать книгу Buller se plan - Ingrid Winterbach - Страница 9
vyf
ОглавлениеSaterdagoggend sit vier mans in ’n rooi motor in die onderdorp naby die Steynhuis. Hulle rook ’n sigaretjie. Hulle het reeds die vorige dag in die dorp aangekom. Die ander vra vir Daan Theron waar hy daaraan gekom het en Daan sê hy is nie seker nie. Stefan Mendelsohn sê wat de hel nou en hulle kyk elkeen by ’n ander venster uit. Jakes Jones sien die skrootwerf op sy linkerhand. Salmon Senekal (wat die motor bestuur) sien die oop stuk erf op sy regterhand. Daan sien die parkeerterrein langs die Steynhuis en Stefan kyk na die lae heuwels agter die woonhuise. Hulle is elkeen besluiteloos op ’n ander manier. Daan sê weer hy is nie seker waar hy dit gehoor het nie. (Hy sê dit dromerig; nie onbehaaglik nie.) Hy het dit miskien by iemand gehoor wat dit by Bennie Potgieter gehoor het. Hy is nie seker nie. Dis tipies iets vir Bennie Potgieter om te versin, sê Stefan Mendelsohn. (Hy sê dit sonder medelye.) Jakes Jones lag. Salmon Senekal sê niks. Nou het hy nie ’n fokken clue nie, sê Daan, steeds dromerig. In daai geval, sê Salmon, gaan drink ons iets; hy kyk in die truspieëltjie, trek weg, maak ’n U-draai en ry stadig terug middedorp toe.
Hulle het almal gekom om na Jan de Dood te luister. Jakes het gekom met ’n halwe voorneme om dié keer na die oorlogsgrafte buite die dorp te gaan kyk, want een van sy voorouers lê moontlik in die omgewing begrawe. Salmon het ’n band met die dorp omdat hy ’n deel van sy vroeë kinderdae hier deurgebring het. Stefan Mendelsohn kom saam om rond te snuif, die scene uit te check, om te vat wat hy kan kry: ’n karakter, ’n cue, ’n deurslaggewende beeld. Daan kan die idee van die talking head (soos hy dit noem) nie uit sy kop kry nie. Hy wil die ander ompraat om met hom saam te gaan. Maar hy het nie ’n idee waar dit is nie, hy het net gehoor dis hier in die dorp of in die onmiddellike omgewing.
Saterdagoggend drink Ester Zorgenfliess tee in die Dorpskafee. Boeta is reeds terug stad toe. Hulle pa’s was broers – Boeta se pa was die jongste van die nege kinders. Hulle oupa en sy drie broers het voor die Anglo-Boereoorlog saam uit die Kaap in die eertydse Transvaal aangekom en hulle op die dorp Lydsaamheid gevestig. Sy en Boeta deel ’n geskiedenis wat ver teruggaan. Dit gaan terug tot by die jong kinders wat warm na hulle grafte op toulere gedra is, terwyl die lemoene en nartjies swamagtig onder die bome verpoeier op die agtergelate plase. Dit gaan terug tot by hulle Oompie Karel aan die einde van die vertroude wêreld. Iewers in daardie oneindige ruimte wat hulle eers die Bosveld noem.
Vanaf die Dorpskafee stap Ester na die begraafplaas in die ou deel van die dorp aan die voet van die klipperige reeks koppies. Mooi is dit vanoggend hier. Stil, behalwe die gekoer van duiwe. Nadat sy ’n ent gestap het, gaan sy op een van die bankies sit, langs ’n groot sipres wat loodreg soos ’n suil na die hemel groei.