Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 10

3

Оглавление

Op die sypaadjie, met mense wat links en regs om Ranna spat soos sy deur hulle storm, draai sy ongeduldig na my. Sy beduie ek moet vinnig maak.

“Jagan se selfoonwinkel is soontoe. Vyfhonderd meter.” Sy wys straatop.

Mans in wit geklee skuur verby my op die sypaadjie. Ek probeer myself kleiner maak.

Dis die ding van lank wees: mense hou hulle afstand. Ranna staan in haar eie vakuum. Stil. Broeiend. Onweerstaanbaar om dop te hou, nes die weer.

Ek kyk op. Die wolke is steeds daar, maar g’n reën wil val nie. Die sweet stroom teen my rug af en ek is verby geïrriteerd.

“Kom ons vat ’n taxi.”

Ranna trek aan haar blou linnehemp sodat die lui, warm wind tussen die materiaal en haar vel inwaai. Iewers het sy son ge­vang, haar maag is neutbruin. Sy vee ’n hand deur haar swart krulle, haar arm swaar met silwerarmbande, haak die Ray-Bans voor uit haar hemp en sit dit op. ’n Toeris, Japannees of Chinees, gaan staan. Staar na haar en neem ’n foto. Kyk dan na my. Hy beduie vir die vrou langs hom met ’n hand bo sy kop. Sy lyk minder beïndruk.

“Ons loop,” sê Ranna skerp toe hy weer sy kamera lig. “Dit sal vinniger wees.”

“En warmer.”

“Jy sal oorleef.” Sy waai ’n waarskuwende vinger vir die toeris en trek weg met lang treë.

“Ek sal jou kredietkaart stop,” bied ek aan.

Het sy gehoor wat ek oor Alex gesê het, dat hy vermis word? Het ek my misgis met haar? Met haar en Alex se verhouding? Soos hulle verlede jaar gepraat het, kon ek sweer hulle was die eerste mense op aarde om lief te raak vir mekaar.

“Ek wil my kaart terughê.”

“Hoekom?” Ek draf om by te hou. Gooi my rekenaarsak oor die ander skouer.

Twintig meter verder is dit duidelik sy gaan nie antwoord nie.

“En dan? Wat dan? Wat as ons die kredietkaart het?” hou ek aan. Hierdie vrou maak my die moer in.

“Dan gesels ons oor Alex.” Sy ontspan bietjie en verslap haar pas.

Dit klink darem beter.

Ons loop in stilte verder. Ek volg kort op Ranna se hakke. As ek haar hier verloor, kry ek haar nooit weer nie.

Ons stap deur skares mense en verby groepe taxi’s en vragmotors wat nêrens heen gaan nie. Die toeriste word minder, en verdwyn dan uiteindelik. Ek hou my asem op elke keer as ’n hoop rommel in sig kom. Daar is definitief meer as gemors binne die stapels papiere en plastiek. Dit ruik soos …

Ek sluk en sluk weer. Dis asof die reuk in my longe intrek. Ek hoes asof ek dit kan uitkry.

Ons draai links. Regs. Verby ’n seuntjie sonder arms. ’n Bloedjong vrou met ’n kind op die heup wil-wil vir Ranna stop, maar iets in die lang vrou se oë maak dat sy eerder omdraai en by iemand anders bedel. Ek loop vinnig verby en volg Ranna om ’n hoek.

Voor my swenk sy skielik regs. Ek wil volg, maar gaan staan dood­stil toe die swart kraaloë van ’n bees met lang grys horings voor my opdoem.

“Bliksem.”

Ranna gaan staan. Kyk om en lag. “Dis okay. Loop net om.”

“Hier’s ’n bul in die pad. In die middel van die stad, in die middel van die donnerse sypaadjie.”

Skielik is ek weer kwaad. Onredelik, woedend kwaad. Ek smag na die orde van 0’e en 1’e. Kodes en programme wat doen wat jy vra.

“Eintlik is dit ’n koei,” sê Ranna.

“Ek gee nie ’n hel om nie.”

“Dis hare.” Ranna wys na ’n maer vrou in ’n uitgewaste blou sari wat langs die koei sit. Haar lang grys hare hang tot laag op haar rug.

“Dis okay,” praat Ranna weer. “Diere is spesiaal hier. Jy sal om die koei moet beweeg, nie andersom nie.”

Hoekom kan die bees nie om mý stap nie?

Genoeg. Ek vee die sweet van my voorkop af en swaai die rekenaarsak tot op my stewels se punte. Haal my sigarette uit.

Ranna stoot haar sonbril tot op haar kop. “Wat maak jy? Loop net om. Daar’s ’n kafee oorkant Jagan se winkel. Jy kan daar rook.”

Ek steek die Stuyvesant aan en trek die rook diep in my longe in. Die koei gee ’n tree nader.

“Stop net daar as jy nie steak wil word nie.” Ek waai die sigaret in die bees se rigting.

Die ou vrou wat ons dophou, begin lag.

Ranna gooi haar hande in die lug. “Sarah. Wat …”

“Ek rook.” Die woede en frustrasie van die afgelope weke stoot onkeerbaar in my keel op. “Ek’s moeg. Hierdie stad ruik soos shit. Dis verby warm. Jy druk ’n pistool teen my kop en Alex is weg en jy gee niks om nie. En nou staan hier ’n beneukte bees in die middel van Moembai op ’n sypaadjie met meer mense as wat ek kan verdra en dis veertig grade in die donnerse skaduwee. Ek’s gatvol, so ek rook. Okay?”

Ek frommel die pakkie Stuyvesants in my linkerhand. “Hierdie is omtrent die enigste ding wat nog sin maak. Kyk,” wys ek, “asem in. Blaas uit. In. Uit. Net dit.”

Om ons kom mense tot stilstand. Hulle staar van my na Ranna en skielik voel ek weer soos Hardy. Of was Laurel die kort een? Ek kan nie onthou nie.

“Jy reis nie baie nie.”

Dit klink nie soos ’n vraag nie, so ek antwoord nie.

Ranna vou haar arms, min gepla oor die mense wat om ons saamdrom. Nie dat dit saak maak nie. Niemand hier sal Afrikaans verstaan nie.

“Jy’t nog nie geduld geleer met dit wat jy nie ken nie. En met dit wat jy nie kan verander nie.” Ranna sit haar hande op haar heupe. Ek kan sweer daar is ’n skadu van ’n glimlag om haar lippe. “Jy moet ontspan. Dinge geniet. Hierdie is die sagste mense wat jy ooit sal teëkom.”

“Nee, ek het nog nie baie gereis nie. Reis is nie maklik vir mense wat in die tronk was nie.”

“Jy was net nog nooit lus nie.” Nou lag sy openlik. “Ek’s seker jy’s nie juis mal oor die idee van klein vliegtuie en klein hotel­ka­mers nie.”

“Daar is min plekke wat ’n rekenaar nie kan bykom nie.” Ek wil nie vir haar sê sy is reg nie. Die Taj Mahal kos my ’n fortuin. Ek het die grootste kamer geneem wat die hotel beskikbaar gehad het.

“Hoeveel keer was jy al buite Suid-Afrika?”

“Tel Lesotho?”

“Nee.”

“Twee keer. Hierdie is die tweede keer.”

“Wat was die eerste keer?”

“Lagos. Agter jou aan.”

“Lagos?” Sy lig haar wenkbroue. “Okay, dan verstaan ek bietjie beter. Lagos is nie die beste advertensie vir reis nie.” Sy wys na ’n winkel agter haar. “Rook klaar. Ek koop solank water, voor ons dehidreer.”

Skrapnel

Подняться наверх