Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 6

2

Оглавление

“Eina.”

“Moenie so ’n sissie wees nie.” Dumi maak asof hy weer aan die kneusplek op my rug wil druk.

Ek draai weg van hom en die Opel en tree oor my koeëlvaste baadjie op die grond. Trek my hemp weer aan. Die lug koel vinnig af, nes die adrenalien.

“Sissie se moer,” raas ek. “Versigtig, man.”

Hy lag, keer met sy hande. “Okay. Jy’s reg. Kom ons vat jou hos­pitaal toe.”

“Ek het nie gevra om hospitaal toe te gaan nie. Dis net ’n blou­kol. Moet net nie op die ding briekdans nie.”

Dumi skud sy kop. “Ons moet gaan check vir inwendige bloe­ding. Dit gebeur meer as wat jy dink. En mens kan nie julle koeranttipes vertrou nie. Voor ons weet, skryf jy hoe ons drooggemaak het en jou net so huis toe gevat het.”

“Natuurlik. Jy weet mos hoe dit werk. Als is ’n storie.” Ek wil lag om te wys ek spot, maar dis te seer. Miskien het die koeël ’n rib of twee gekraak.

Dumi moet gesien het. Hy kom nader en druk my skouer, versigtig om nie aan my rug te raak nie. “Is jy seker jy’s okay, Alex?”

“Ja.”

“Jy was lucky.”

“Ek weet.” Ek kyk na die liggaam wat twintig meter verder onder ’n silwer plastiekkombers lê. “Het jy hom geken?”

“Sy naam was Jerry.” Dumi frons, kyk na sy skoene. “Ons het dieselfde dag in Pretoria klaargemaak met ons opleiding.”

“Ek’s jammer.”

Hy haal sy skouers op, asof dit nie saak maak nie, maar sy hande gee hom weg. Hulle klem om die R5. Dan ontspan hy weer. Laat sak sy skouers. Skuif die wapen terug tot agter sy rug. Haak sy duime in die blou gordel in.

“Jy’t okay gedoen vandag, Alex.”

“Ek’s net bly julle het hom gekry.” Iewers agter ons lê nog ’n silwer kombers.

“Ek ook. Maar weet jy wat? Môre is daar net weer iemand in sy plek. Nog iemand wat soos ’n mol grawe vir oorskietgoud in die tonnels onder ons voete. Bendes met AK’s en geen probleem om die mense te skiet wat oor hulle pad kom nie. En dit alles sodat iemand anders, iemand hier bo, in die geld kan rol.”

“Ek sal die storie skryf.”

“Sal nie veel help nie.”

“Mens kan nie ophou glo nie.”

“Wie probeer jy oortuig?”

Dumi leun vorentoe en haal iets uit my hempsak. Hy hou die Parker omhoog. Of eerder, die een stuk van die silwer-en-blou pen.

Ek kyk na die ink wat my linkersak vlek. Die pen moet aan stukke gebreek het toe ek grond toe geduik het.

Dumi lig sy wenkbroue. “En met hierdie famous teorie nou heeltemal opgeneuk, moet jy mooi dink wat jy aan my verkoop.” Hy bied my die stuk pen aan.

Ek vat dit by hom en lag suur. “Ja, okay.”

Hy wys dat ek hom moet volg. “Kom, ek vat jou hospitaal toe. Jy’s mos vandag my verantwoordelikheid.”

Ek tel die koeëlvaste baadjie op en maak die Opel se deur oop. “Ek’s bly ek is. Was. Jy skiet goed. Hulle sê jy het die ou in die geel hemp met een skoot gekry. Tussen die oë. En dit nogal met ’n dienspistool.”

“Dis niks. Dis my werk.”

“Is dit die eerste keer dat jy iemand doodskiet?”

“Is dit vir jou storie?” Sy hand huiwer op die deur, sy lyf reeds halfpad die motor in.

“Nee.”

“Ek glo jou.”

“Dis nie vir die koerant nie. Belowe.” Ek klim in.

Hy doen dieselfde. Skakel die motor aan. Trek die truspieël reg. “Vierde keer.”

Ek probeer geen emosie wys nie. Maak die sitplekgordel vas. “Hoe voel dit? Hoe voel jy?”

“Te veel. Te min.”

“Maak nie sin nie.”

Hy trek vinnig weg. “Presies.”

Skrapnel

Подняться наверх