Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 11

4

Оглавление

Die kafee oorkant Jagan se winkel is koel. Twee waaiers werk vol­spoed om die vierkantige hokkie vol koeldrank en kruideniersware af te koel. Die linoleumvloer en die toonbank is lankal nie meer wit nie, maar vir ’n verandering pla dit my nie. Al wat saak maak, is die tien grade verskil tussen hier binne en daar buite. En dat ek in die kafee mag rook.

Ons drink Coke terwyl ons vir Nikhil wag. Ranna het my na die selfoonwinkel gestuur om hom te soek, maar ek kon niemand sien wat aan haar beskrywing voldoen nie: korterig, rond, met ’n kuif wat in sy oë hang, jeans wat te laag sit en ’n houding wat sê elke vrou sal vir hom val. Die enigste mens in die winkel was ’n vriendelike ouer man met ’n baard. Hy wou weet of ek ’n selfoon wil hê om my ma te bel. Sodra ek by die huis is, gaan ek ’n paar swart stiletto’s koop.

Ranna drink uit die koeldrankblikkie in haar hand. “Vertel my van Alex. Wat het gebeur?”

Sy sit terug in die rooi plastiekstoel, die een in die hoek van waar sy die hele vertrek kan sien, en kyk na my met waaksame oë. Sy vertrou my steeds nie, en toegegee, ek sou ook nie. Ek was net te bly om van haar ontslae te raak verlede jaar. ’n Mens vergeet nie so gou nie.

“Alex het ’n reeks stories in Welkom gaan doen. Onwettige myners, Zama-Zamas. Sindikate wat goud uit ou mynskagte haal, so iets.”

“En toe?”

“Soos ek verstaan, het hy ’n kontak by Shafts gaan ontmoet – ’n bar met ’n slegte reputasie. Iemand het hom laat die aand gebel en gevra hulle moet daar ontmoet. Die kroegman sê dit het gelyk asof Alex vir iemand wag, maar niemand het opgedaag nie. Hy het blykbaar ’n bier gedrink en toe geloop. Niemand het hom weer daarna gesien nie.”

“Hoe weet jy dit? Was jy in Welkom?”

“Nee. Ek het die foonrekords nagegaan. Polisieverslae. Koe­rante. Al daai goed. Dit was vir lank ’n groot storie. Veral oor sy verhou- … verbintenis met jou.”

Ranna se wenkbroue word vraagtekens. “Ek verstaan nie. Hoekom is jy dan hier? Die polisie is tog betrokke, en hulle is baie beter met dié tipe ding as ek. Wat kan ek doen wat hulle nie kan doen nie?”

Ek voel die ongeduld na bo borrel. “Baie. Jy’s lief vir hom, Ranna, al sit jy hier soos ’n koue vis.”

“Was.”

“Was wat?”

“Was lief vir hom. Op die ou einde is hy net nog ’n man wat my als gekos het.”

“Ek glo jou nie.”

“Nes jy wil.”

Ek wens ek kan die ongeërgdheid uit haar skud, maar ek weet ek sal verloor. En dis nie hoe ek baklei nie.

“Kyk wat het jy verlede jaar vir hom gedoen, Ranna. Onthou jy nog? Jy het alles opgegee sodat hy kon aangaan met sy lewe. Sodat niemand sou weet hy was by toe Tom jou aangeval en jy hom doodgemaak het nie. Of dat Alex jou gehelp het om van die lyk ontslae te raak nie.”

Ek sit die Coke hard neer en druk die Stuyvesant dood. Byt op my tande voor ek kalmer sê: “Vir die cops is hy net nog iemand wat verdwyn het. Maar nie vir jou of vir my nie. En ek het nog nooit iemand so hardkoppig soos jy ontmoet nie. Jy sal nie opgee nie.”

Ek sluk die laaste van die louwarm koeldrank en steek nog ’n sigaret aan, onseker of sy enigsins genoeg belangstel om te antwoord.

Ranna weier om uitgelok te word. Sy kruis haar bene stadig, doelbewus, en bestudeer my dan soos iets wat sy deur die lens van haar kamera waarneem. So met afgetrokke belangstelling, asof sy wonder watter lig my die beste sal pas.

“Die koerant waar hy werk moes groot lawaai gemaak het. Hulle kyk goed na hulle mense,” sê sy uiteindelik.

“Hulle het, maar dis nou al ses weke later en daar is nog geen nuus nie. Al wat hy nou is, is ’n weeklikse voetnota op bladsy agtien. Sy arme ma. Sy wonderlike loopbaan. Sy lakenatletiek met jou. Blah-blah-blah.”

Uiteindelik. Ranna sit regop. Haar oë word sag, haar lyf hard. Lang vingers klem om die koeldrankblikkie.

Dan is dit asof sy doelbewus probeer ontspan. Ontknoop. Die emosie wat haar verraai het, afstroop.

“Ses weke is ’n lang tyd. Jy’t nie gesê dis só lank nie.”

“Ek soek al meer as ’n maand na jou.”

“Hoekom kan jý Alex nie opspoor nie? Ander mense kry om jou te help nie? Jy moet nog kontakte hê van jou tyd in die tronk.” Sy rol haar oë effens en probeer glimlag. “Van die werk wat jy steeds doen.”

Dis een vraag wat ek verwag het. Ek hoop ek kan goed genoeg jok.

“Ek ken nie mense wat deure kan oopskop nie, net ’n spul kommin witboordjiediewe. Jy laat dinge gebeur, face dit. En buitendien, jy’s klaar …” Skielik raak my woorde op.

Ranna vryf moeg oor haar voorkop en glimlag weer, warmer hierdie keer. “En ek’s in elk geval ’n krimineel, ek het reeds twee moorde gepleeg, so ek sal nie gewetensbesware hê om te doen wat nodig is nie?”

In my kop het dit beter geklink. “Ja, so iets,” gee ek onwillig toe.

“Moenie worry nie, ek weet dit. Ek het geleer, en vinnig geleer. Dis hoe mens oorleef.”

“Wat bedoel jy?”

Sy skud haar kop vlugtig. “Maak nie saak nie.” Sy speel met die strooitjie in die koeldrank voor haar. “So, in hierdie grênd plan van jou, wat moes ek doen?”

Ek hou nie van die verlede tyd in haar sin nie. “Die polisie het vir alle praktiese doeleindes aanbeweeg. Hulle is klaar oorwerk. Maar ek het ’n lead oor waar Alex is. As ons saamwerk, kan ons hom kry.”

“So, ek’s die spiere en jy die brein?” Haar wenkbroue lig sarkas­ties. “Ek weet nie juis of ek gevlei voel nie.”

“Whatever. Genade.”

Sy drink haar Coke klaar en kyk in die rigting van Jagan se winkel toe die deur meteens oopgaan. ’n Verliefde paartjie kom uit, hand om die lyf.

“Hoekom gee jy nie jou leidraad vir die polisie nie?”

“Ek het. Hulle was daar, maar daar is niks nie. Net ’n verlate gebou in Welkom, naby een van die ou goudmyne.”

“Hoe het jy op die plek afgekom?”

“Alex se laptop. Dis ’n app wat ek hom laat download het. ’n Mens kan sy rekenaar trace.”

“En?” sê Ranna ongeduldig. “Ek verstaan nie. Daar was dan niks nie, so watter leidraad het jy kamstig?”

“Ek het die laptop wéér getrace. Iemand hou baie van daardie rekenaar. Ek dink dis nog steeds dieselfde ouens. Hierdie keer lyk dit soos ’n ou staalfabriek in Sasolburg. Hulle is nou al ’n ruk lank daar. Ek wou nie weer die cops laat weet nie, want ek dink een van die polisiemanne wat die saak ondersoek, is deel van die sindikaat wat Alex ontvoer het. Dis al verduideliking wat ek het vir wat in Welkom gebeur het: iemand moes hulle gewaarsku het.”

“Dis baie effens. Hulle kon die rekenaar gehou en lankal van Alex ontslae geraak het.”

“Die rekenaar kan iewers anders heen lei. Ons ’n nuwe lead gee.”

Ranna kou aan haar onderlip. “Okay. Volgende vraag: Hoe kom ek in Suid-Afrika? Ek word seker nog steeds vir Tom se moord gesoek.”

“Ek het reeds vir jou ’n nuwe identiteit gereël. Alles: bankrekening, paspoort, ID. Selfs jou eie maatskappy. En die geld wat reeds in daai rekening is, kan jy hou. Al wat jy moet doen, is om ja te sê.”

“Ek het nie geld nodig nie,” sê sy verdedigend.

“Dan maak dit mos nie saak nie.”

Sy vryf onseker deur haar hare. Voel-voel aan die sonbril wat sy voor in haar hemp gebêre het. “Sarah, moenie … Ek was ernstig netnou. Wie sê Alex leef nog?”

Daar is meteens iets blinks en warms in haar oë wat die ysblou laat smelt. “Iemand het sy rekenaar, maar wie sê hulle het nie lankal van hom ontslae geraak nie? Hom iewers in ’n mynskag afgegooi nie? Sindikate soos dié ontvoer mense nie, hulle maak hulle dood.”

“Dalk hou hulle hom aan die lewe as ’n bargaining chip. Wie weet.”

“Miskien. Maar miskien moet jy daaraan begin dink dat dit nié die geval is nie.”

“Dis nie …” Ek sluk aan die skielike knop in my keel. Kyk af na my skoene. Ranna kan my nie só sien nie.

“Dan wil ek sy lyk sien,” sê ek uiteindelik. “Hom begrawe.”

Dis stil toe ons al twee wegkyk.

“Goed dan,” gee sy toe. “Ek kan seker ten minste daaroor dink.” Sy skuif rond op haar stoel.

“Dis nie goed genoeg nie,” hou ek vol. “Ja of nee.”

Sy sug moeg. “Okay. Goed. Ja. Ek sal jou gaan help soek. Ek het tog seker niks beters om te doen nie. En ek kan nie hier bly nie.” Sy vee vlugtig oor haar oë. “Wil jy nog ’n Coke hê?”

Ek knik. Sy staan op en gaan koop ’n tweede ronde koeldrank by die jong seun agter die toonbank.

Terwyl ons sit en drink, maak ek my rekenaar oop en begin soek na twee vlugkaartjies Suid-Afrika toe. Dis egter makliker gesê as gedaan. Al wat onmiddellik beskikbaar is, is een-een sitplekke op verskillende vlugte.

Ek soek twee plekke. Daar is geen manier dat Ranna nie saam met my vlieg nie.

Ek maak die webwerf toe. Ek sal later verder soek, wanneer ek rustiger is en nie oorkant ’n winkel sit en wag vir ’n kredietkaartdief om op te daag nie.

Skrapnel

Подняться наверх