Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 15

3

Оглавление

“Miskien moet jy dit afsny. En jy sal dit moet kleur. Ek het jou paspoortfoto verander en jou blond gemaak.”

Ek kyk na Sarah in die badkamerspieël. “Vrouens kleur gereeld hulle hare. Ek sal wegkom met swart hare.”

“Jou foto was orals op toe jy weg is, die koerante, TV. Het jy nie die storie gevolg nie?”

“Nee. Dit was kwalik nuus in Lagos.”

“Wel, jy sal ’n blondine moet word voor jy in Suid-Afrika aan­kom.”

Sarah drink die laaste van haar Coke. Sy het drie ure geslaap ná sy vanoggend op haar rekenaar klaar was, en toe weer soos ’n rubberbal rondgespring nog voor ek klaar gestort het.

“Sny dit.” Sy trek haar oë skrefies soos ek al agtergekom het sy maak wanneer sy dink. “Blaas dit reguit. Kleur dit.”

“Reguit?”

“Jip.”

“Weet jy hoe lank dit vat? Wat van ’n pruik?”

Sy trek haar skouers op. “Kry dan een. ’n Goeie een.”

“Goed dan, ek sal. Wat nog?”

“Kry ’n rok en skoene, sommer hier naby die hotel.”

“Jy kan net sowel vir my sê om pienk en neongeel aan te trek.”

“Jy sal nie soveel uitstaan nie. Trust me. Ons vlieg besigheidsklas. Jy moet lyk asof jy daar hoort.” Sy kreukel haar neus asof sy iets onaangenaams ruik. “Daai mense dra nie jeans en T-hemde nie.”

Ek kan nie help om te lag nie. “Sê wie? Jy wat nog nooit regtig uit Suid-Afrika was nie?”

“Ek het mos oë,” brom sy. “En common sense. Koop ’n rok, skoene en ’n eenvoudige trouring. Lyk anders as altyd. Glimlag. En raak ontslae van die rugsak.” Sy stoot haar ken uit asof sy my uitdaag om van haar te verskil. “En ja, dis wat ek sê – en ek weet baie meer van bedrog as jy.”

Ek is nie lus om met haar te probeer onderhandel nie. En ek kan seker nie regtig nie. Sy is tronk toe vir kuberbedrog nog voor sy twintig was.

Ek draai na haar en neem die prentjie voor my in. “Wat van jou?”

Vandag het sy stywe swart jeans aan, weer die stewels en ’n los, laaggesnyde T-hemp so grys soos haar oë. Steeds dra sy geen juwele nie, net die silwerhorlosie om haar arm en ’n rits oorringe. En om eerlik te wees, sy het niks meer nodig nie. Sy is vier-en-twintig en het ’n gesig soos fyn, duur kristal. ’n Lui, diep stem wat enigiets kan verkoop. ’n Lyf wat lyk asof dit gemaak is vir ’n voorblad. Alles in proporsie. Perfek eweredig gespasieer. Het iemand nie een­keer gesê dis die geheim van skoonheid nie?

Ek is ses-en-dertig, en moeg vir my rugsak en my leë bed. En kwaad. Oor my rugsak en my leë bed.

Demmit.

Sarah is onbewus van my vertwyfeling. Sy betrag haarself in die spieël. Skud haar kop. “Moenie worry oor my nie. Ons sit nie langs mekaar op die vliegtuig nie. En ek’s nie die een wat vir die cops vlug nie.” Sy brom onderlangs: “My ouers het seker vir mý kaartjie betaal.”

“Onthou jy nog hoe dit voel? Die polisie. Die stres.”

Ek draai terug na die spieël, maar my oë bly op haar. Dis steeds moeilik om haar te lees. Sodra ek dink ek verstaan iets van dit wat haar dryf, is dit asof sy terugtrek tot in haar stugge, onaantasbare self. Dit voel asof sy baie hard daaraan werk om onbekend – ’n spook – te bly. ’n Gerug wat niemand later sal glo nie.

Sy steek haar hande in haar jeans se sakke. “Al wat ek onthou, is dat ek myself belowe het dat niemand my ooit weer gaan vang nie.”

“Dan doen jy goed sover. Hier staan ons in ’n kamer in ’n vyfsterhotel in Moembai.”

Sy lag wrang. “Daar is baie maniere om iemand te vang. Tralies is nie die enigste ding wat jou bind nie.”

“Wat bedoel jy?” Ek swaai om. Uiteindelik. Iets wat voel asof dit die onverdunde waarheid kan wees.

Maar sy draai weg, haar gesig onleesbaar. “Niks nie.” Sy wys na haar horlosie. “Jy moet gaan shop. Tyd is min.”

Toe ek die hotelkamer se deur met my voet oopstoot, my hande vol, is Sarah amper klaar gepak.

“Hoe laat is ons vlug?” Ek sit die winkelsakke op die bed neer. Stuur die nuwe swart tas tot langs die voetenent. Geniet die koel lug wat oor my spoel. Inkopies in Moembai bly ’n nagmerrie, maak nie saak hoe lank jy al hier bly nie.

“Ons vlieg oor so vyf ure, maar ons kan ry wanneer ons klaar is. Ek vertrou nie die verkeer nie. Ons was lucky om plek te kry. Ek wil dit nie verloor nie.”

“Jy’s haastig. Daar’s nie veel om te doen op die lughawe nie,” sê ek krapperig, moeg ná die gedrang in die winkels.

Sy vee vlugtig deur haar hare. “Ek kan nie wag om huis toe te gaan nie.”

“Wat gebeur by die huis?”

“Ons gaan jou dokumente kry, soos jy gevra het, en dan gaan ons Sasolburg toe. So gou as wat ons kan. Ek is bang die rekenaarsein verdwyn weer.” Sy pak ’n stapel T-hemde in die oop tas voor haar. Jeans. Kouse.

“Daar is nog iets om aan te dink.”

“Wat nou weer?” vra sy ergerlik.

“Ek gaan nie met leë hande vir Alex soek nie. Daai Zama-Zamas weet van skiet. Ons lewens is niks werd nie.”

“Wat bedoel … O.” Sy gooi ’n buis haarjel in die tas. “Jy kon vroeër gepraat het.”

“En jy kon beter gedink het. Verder gedink het. Wat moet ons doen? Daar inloop en hulle mooi vra om hom te laat gaan? Ek was netnou by die sakesentrum. Ek het al die berigte oor Alex se verdwyning gelees. Hierdie ouens slaan nie motorvensters uit en gryp handsakke nie. Hulle is geharde misdadigers.”

“Het jy gedink ek lieg vir jou?”

“Ek wou net seker maak ek verstaan die omvang van die situasie. En dis erger as wat ek gedink het. As ons nie mooi beplan nie, staan ons nie ’n kans nie. En jy’s reg, dalk ís die polisie by Alex se verdwyning betrokke.”

Sy sit haar hande op haar heupe, praat kwaad en vinnig. “Jy mors tyd. Heeltyd. Paspoorte. Wapens.”

“Ons kan nie vir Alex help as ons dood is nie.”

“Gee jy nog ooit om vir hom? Wees eerlik.”

Ek gaan sit op die punt van die bed, skielik tot die dood toe moeg. “Toe Alex my gekry het, was ek aan die hardloop, onthou jy dit nog? Tom het my soos ’n skim van land tot land gejaag. Alex het my lewe gered. My ’n oomblik van normaliteit gegee. Van bly wees. Balans. Ek skuld hom meer as wat jy besef. As dit nie vir hom was nie, was ek dood. Of nog erger – mal. Letterlik.”

“Help hom dan.”

“Dis mos wat ons doen. Maar jy moet jou kop skoonkry en begin dink. Beplan. Dis wat hierdie jaar my geleer het. Wat Alex en Tom my geleer het.”

Haar skouers trek stywer met elke woord wat ek sê. “Ek kan net nie glo …”

Ek wil geen verdere aannames uit hierdie vrou se mond hoor nie.

“Sarah, jy en Alex is vriende, hy het jou gehelp toe jy tronk toe is, maar moenie dink jy verstaan wat tussen my en hom gebeur het nie. Wat in ons bed en by ons tafel gebeur het nie. Wat hy vir my beteken het nie.”

Sy hou nie van my woorde nie. Ek het geweet sy sou nie. Sy wil nie weet nie. Nie van bed of tafel nie.

Sy draai weg, skuif die klere in haar tas rond sonder om op te kyk. “Hoekom wil jy dan nog ’n paspoort kry? Hoekom bly jy nie in Suid-Afrika as Alex so baie vir jou beteken nie?”

“Ek het jou al gesê: om Alex te kry is nie om een of ander to­werstaffie rond te swaai nie. Dit koop nie sy vergifnis nie, en nog minder kos. Ek kan nie sommer my CV orals begin uitdeel nie. Ek bly daai mens van wie die koerante praat – die reeksmoordenaar. Wil jý teruggaan tronk toe?”

“Nee.”

“Ek ook nie.”

“Om ’n nuwe paspoort te kry kos tyd.”

“Maak dan seker dit gebeur vinnig.”

Sy slaan haar tas toe en loop na die lessenaar. Sy maak haar skootrekenaar oop en gaan sit.

“Wat wil jy hê?” vra sy kortaf.

“Glock 33 Pocket Rocket. Dis klein en maklik om te dra, maar betroubaar. Ek moet myne hier los.”

“Okay.”

“Ekstra magasyne.”

“Goed.”

“Ses huursoldate.”

Die hande op die toetsbord stop. “Baie snaaks. Die hele sindikaat sit nie en pas hom op nie. Hulle het ook day jobs.”

“Jy’t nie ’n day job nie.”

Sy ignoreer my en tik voort.

Ek gooi die inhoud van die eerste inkopiesak op die bed uit. “Terwyl ons besig is, wie is die vrou wat my papiere doen?”

Sy huiwer ’n oomblik, sê dan teësinnig: “Adriana.”

“Adriana? Hoe vinnig het jy aan daardie naam gedink?”

Sy bly stil.

“Hoe lank ken jy haar al?” hou ek aan. Ek staan op, loop yskas toe en haal vir my ’n Coke uit. Wag by die lessenaar, net agter haar skouer. Staan nog nader toe sy steeds nie antwoord nie.

Sy skuif haar stoel na regs, weg van my. “Lank,” brom sy.

“Vertrou jy haar?”

“Met my lewe.”

“Ek wed jou jy sê dít nie baie nie.”

“Meer as wat jy kan.”

Die hou maak seer, maar sy is seker reg. “Touché.”

Ek loop tot by die bed en sit my nuwe tas oorkant hare neer. “Wat was nou weer die rede hoekom jy nie jou tronkvriende gevra het om Alex op te spoor nie?”

Ek begin die res van die pakkies oopmaak. Ek het duur goed gekoop. Dit was warm en bedompig en oorvol in die winkels, maar dit was lekker om iemand anders se geld uit te gee.

Sarah skud haar kop. Sy maak die rekenaar toe en begin haar stewels losmaak.

“Ons is al hierdeur. Hulle gee nie om nie. Hulle sou dit dalk vir geld gedoen het, maar hoeveel is genoeg? Tienduisend? Meer? Ek sou heeltyd moes wonder of hulle nie ’n beter deal by die Zama-Zamas sou soek nie. Daar is ’n groot verskil tussen hoe ver jy sal gaan vir geld en hoe ver jy sal gaan vir liefde.”

“Soos jy – wat al die pad Lagos en Moembai toe vlieg om my te kom haal.”

Sy sê niks, maar daar slaan rooi vlekke in haar nek uit. Is sy kwaad? Of uitgevang? Sy staan van die lessenaar af op, kaalvoet en selfs nog korter, en haal iets uit haar rekenaarsak.

“Hierso. Dis dalk goed as jy dit vuilvat en deurblaai.” Sy sit ’n paspoort langs my neer.

Ek maak die groen boekie halfvol visums oop en lees die naam op die laaste bladsy: Elizabeth Gouws. Nog ’n nuwe naam. Die hoeveelste is dit nou al?

“Wat het ek in Hongkong gedoen?”

“Jy besit ’n toerbesigheid. Jy reël eksklusiewe toere vir mense met baie geld.” Sy wys na die paspoort. “Jy reis baie.”

“Elizabeth,” proe ek die naam in my mond.

“Is dit okay?”

“Elizabeth was my ouma se naam. My ma se ma.”

“Is dit goed of sleg?”

Sy wag nie vir ’n antwoord nie, loop badkamer toe en draai die stortkrane oop. Maak die deur toe.

Ek staar na die blonde vrou op die paspoortfoto. “Dis ’n goeie naam,” sê ek, al weet ek Sarah kan my nie hoor nie.

My ouma het vir my ma gesê Hendrik Kroon is slegte nuus die dag toe sy hom ontmoet het. Hoe anders sou my lewe nie gewees het as my ma vir haar geluister het nie.

Skrapnel

Подняться наверх