Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 12

5

Оглавление

Tien minute later stap ’n gesette man in jeans, ’n helderrooi pet en ’n Amerikaanse bofbalhemp by Jagan se winkel in. Ranna staan onmiddellik ­op.

“Wat is die plan?”

Sy kyk gemaak verbaas na my. “Moet ons ’n plan hê?”

“Gaan jy net instap en vir jou kredietkaart vra?”

Ranna sit haar sonbril op. “Hoekom nie?”

“Dis nie ’n plan nie.”

Sy glimlag en tel haar rugsak op. “Jy kan bly as jy wil.”

“Vergeet dit.” Ek gaan haar nie alleen los tot ons voor Alex staan nie.

Ons draf oor die pad, vleg deur die fietse, motorfietse en taxi’s wat nooit minder word nie. Ek rek my treë om by Ranna te bly, wat steeds beweeg asof iets haar jaag.

Toe sy die winkel se glasdeur oopmaak, verstar die twee mans agter die toonbank. Dis die vriendelike baardman van vroeër en langs hom die man in die Yankee-hemp. So dis dan Nikhil. Van naderby lyk hy soos ’n pimp, die tipe wat mens altyd op Amerikaanse TV sien.

“Quinne!” roep hy toe hy Ranna sien. Hy doen sy bes om vriendelik te klink, maar sy stem is dun. Versigtig. ’n Vinnige regter­hand – ’n goue ring aan elke vinger – vee ’n hoop simkaarte van die toonbank tot op die vloer.

Dit neem my ’n oomblik om te onthou dat Ranna se naam na Quinne verander het ná Tom se dood. Ek is nog die een wat dit verander het.

Sy maak die winkel se deur agter ons toe en skuif ’n krat selfoonlaaiers tot voor die deur. Nog een. Sy draai terug na die mans.

“Nikhil,” groet sy uiteindelik.

Ek skuif eenkant toe. Hoekom voel dit skielik asof Ranna wel ’n plan het?

Nikhil kom orent, maar gaan sit dan weer. Sy oë bly op Ranna. Skiet dan na iewers regs van hom, onder die toonbank in.

Bad news. Alles. Bad, bad news. Ek voel die sweet teen my slape uitslaan.

Nikhil glimlag flou. “Wat kan ek vir jou doen? Is dit Karishma? Is sy okay?”

Langs hom skuif die ouer man – Jagan? – ongemaklik rond. Hy voel-voel aan sy baard.

“Almal is okay. Ek’s hier om met jou te praat.”

“Met my?”

Die ouer man skud sy kop dat sy baard bewe. “Ek wil nie moeilikheid hê nie.”

“Dan is daardie simkaarte seker nie gesteel nie.”

Jagan se gesig stol. Sy hande gly onder die toonbank in, daar waar Nikhil nou net gekyk het.

Ranna keer vinnig: “Stop net daar.” Die Glock verskyn in haar hand.

Ek swaai om en maak seker die winkeldeur is toe, al voel ek eerder lus om dit oop te maak en weg te hol. Ranna het definitief ’n paar dinge geleer sedert ek haar laas gesien het. Daar is geen huiwering in haar hande en geen wroeging op haar gesig nie. Dit lyk asof dit niks sal vat om die sneller te trek nie.

Ranna wys vir Jagan om sy hande agter die toonbank uit te haal. “Lig hulle. Vinnig.”

Hy beweeg nie.

Vier treë en haar heupe is teen die smal toonbank. “Kom nou, Jagan. Moenie moeilik wees nie.” Dit klink asof sy tee bestel. Sy kyk na Nikhil. “En hou sommer jou hande ook waar ek hulle kan sien.”

“Almal gaan onthou hier het ’n lang wit vrou ingeloop. Jy sal nie wegkom nie. Hoeveel mense is daar in Moembai wat soos jy lyk? Pragtig. Kwaad.” Nikhil se oë gly openlik oor haar lyf, asof hy ’n geldwaarde op haar probeer sit. “Met daai lyf? Ons kan flieks maak. Ryk word.” Hy kyk verby haar na my. “Jou maatjie is ook glad nie sleg nie. Inteendeel …”

Ranna beweeg voor hy verder kan praat. Die pistool tref hom teen die wang, hard genoeg dat sy kop eenkant toe ruk. Links van haar kom Jagan orent, ’n rewolwer halfmas in sy linkerhand.

“Ranna!” waarsku ek skerp.

Sy swaai die Glock tot die loop teen Jagan se voorkop druk, haar regterhand om Nikhil se keel gevou.

“My kredietkaart. Dis al wat ek wil hê,” sê sy kalm.

Nikhil roggel iets. Jagan skud sy kop heen en weer, op en af. Laat sak die rewolwer. “Waarvan praat jy?”

“Jou pêl hier het my kredietkaart gesteel.” Sy verstewig haar greep­ en die geroggel raak erger. “Waar is dit, Nikhil?”

“Ranna …” probeer ek keer.

Haar vingers klem harder, dwing sy kop agteroor. Nikhil se hande baklei met haar.

“Ranna,” sê ek weer. Ek gaan nie terug tronk toe nie, en beslis nie vir moord nie. “Hy kan jou nie antwoord as hy dood is nie.”

Sy maak haar hand oop. Nikhil syg op die stoel neer, val dan vooroor op die toonbank. Hy hyg na asem. Vee bloed van sy gesig af. Ranna het sy neus ook bygekom.

“Jou teef,” hyg hy.

Haar regterhand mik weer vir sy keel, die pistool steeds op Jagan gerig. “Jou ouma het so baie moeite gedoen om jou maniere te leer, en kyk nou net.” Sy klap hom teen die kop. “My kredietkaart. Nou.”

“Daar agter,” brom Nikhil. Hy beduie na ’n vertrek weggesteek agter ’n blou-en-wit kralegordyn. “Ek sal dit gaan haal.”

“Jy bly net hier.” Ranna kyk na my. “Sal jy gaan soek?” Weer terug na Nikhil. “Waar is dit?”

“In ’n metaaltrommel. Agter die sigarette.”

Ek wip op die toonbank langs Ranna, swaai my bene oor en spring af. Hoe vinniger ons hier wegkom, hoe beter.

Dis chaos agter in die winkel. Stapels sigaretbokse en selfone staan tot teen die dak gepak.

Ha-bleddie-ha, Nikhil. Baie snaaks.

Ek verloor ook my geduld met die mannetjie. Steek my kop deur die kralegordyn. “Wurg hom weer. Al wat hier is, is fone en sigarette. Waar moet ek soek?”

Ranna gryp hom aan die skouer.

“Wag, wag, wag. Die Dunhills, die Dunhills.”

Ek draai terug. Dunhills. Goed. Links van my. Die stapel sigaretbokse val sonder moeite. ’n Groen trommel staan in die hoek agter dit. Dis gesluit.

Die frustrasie en ongeduld klim in my keel op. Ek is nou rêrig moeg vir hierdie seun.

Ek gooi die trommel op die grond neer en trap daarop met my linkerstewel. Weer en weer. ’n Sweetdruppel val op die staal toe die silwer slot uiteindelik oopspring. Binne-in is twee pakke kredietkaarte en paspoorte. Ek buk af en soek deur die kaarte tot ek die silwer een kry wat ek soveel maande gelede vir Ranna laat maak het. QS Daniels.

Ek druk my kop weer deur die kralegordyn. “Het dit.”

Ranna knik. “Goed.”

Ek spring terug oor die toonbank.

Jagan kyk na Nikhil asof hy gif is. “Ons doen nie kredietkaarte nie.”

Nikhil snork. “Jý doen nie kredietkaarte nie.”

Ranna klap hom weer teen die kop. “Praat mooi met ouer mense.” En toe hy haar aangluur: “Jy verdien nie dat jou ouma so oor jou worry nie.”

Sy vat die kredietkaart by my en sit dit in haar jeans se agtersak sonder om haar oë van die mans af te haal.

“Jy het jou kaart, fokof nou,” snou Nikhil. “En vat jou chihuahua saam.”

My irritasie kook oor. “Hey, mannetjie, ek sal jou …”

“Wag nou, wag nou,” paai Ranna. Sy sit haar hand op my skouer en dwing my deur toe. “Maak jy eerder seker niemand pla ons nie.”

Die pistool skuif na haar regterhand. Sy soek blind met haar linkerhand na iets in die kant van haar rugsak. Sy haal nog ’n kredietkaart, ’n goue een, uit, haar oë vasgenael op die mans voor haar. “Ons is nog nie klaar nie.”

“Wat?” Nikhil kyk van haar na die Glock. “Moenie nou …”

“Bly stil,” sug Ranna. Sy sit die kaart op die toonbank neer. Skuif die pistool terug na haar linkerhand. “Jy gaan hierdie een gebruik.” Sy kyk na my en vra in Afrikaans: “Hoe lank voor ons hier wegkom?”

“Oormôre.”

“Viëtnam toe?”

Wat? Dan merk ek hoe Nikhil sy ore spits. Viëtnam klink die­selfde in Engels en Afrikaans. Ranna wil hom dit laat hoor, laat onthou.

So, dit was nog heeltyd haar plan. Uiteindelik weet ek ook wat aangaan. En dit beteken sy neem my ernstig op oor Alex.

“Ja,” speel ek saam. “Halong Bay.”

Sy kyk terug na Nikhil. “Oor drie dae gaan jy iets groots met hierdie kredietkaart koop. Geskenke.” Sy skuif die kaart met die naam R Abramson tot voor hom.

Dis haar ou kredietkaart. Nikhil kan nie weet wat dit beteken nie. Arme sot. As die polisie wakker is, gaan hulle hom opspoor net ná hy dit gebruik het. Ranna is besig om ’n vals spoor te lê sodat ons makliker in Suid-Afrika kan insluip.

Nikhil draai die kaart om en om in sy hande. “Hoekom?” Sy stem is agterdogtig. “Wie s’n is dit? Wie is Abramson?”

“Maak nie saak nie. Jy gaan vir Karishma ’n kamera koop, en vir Amita ’n nuwe sitkamerstel. En as daar iets oor is, kan jy vir jou koop net wat jou hart begeer.”

“Hoekom?”

“Want ek wil vir hulle dankie sê. Jy weet hoeveel keer ek daar geëet het.”

Ek kyk ongeduldig op my horlosie. Dis tyd om aan te beweeg.

“Ons moet gaan. Kom,” moedig ek Ranna aan.

Sy knik en begin stadig agteruit loop. Ek skuif die kratte voor die deur weg.

Ranna beduie met die pistool na Nikhil. “Oor drie dae, hoor jy? Anders vertel ek vir jou ouma en die polisie waarmee jy en jou vriende besig is. Drie dae.”

Die glasdeur klap agter haar toe. Ons loop vinnig, skuins oor die straat. Ranna gaan staan en wink ’n taxi nader. Dankie tog. Ek het begin dink ons gaan orals heen loop.

“Dink jy hy gaan na jou luister? Oor die drie dae.”

“Ons het seker so twee dae. Amita is ’n formidabele vrou. Nikhil is versigtig vir haar.”

’n Taxi stop met skreeuende bande. Dalk is taxi die verkeerde woord. Dis eintlik ’n driewielmotorfiets met ’n sitbank agter die be­stuurder, toegespan met ’n swart seil.

Ranna klim in en beduie ek moet volg. Ons sit styf teenmekaar in die klein spasie. R16 miljoen rand in beleggings en ek kan nie ’n taxi met lugversorging of ’n groter agtersitplek kry nie.

“Gaan ons regtig eers oormôre waai?” vra sy.

“Ek dog jy’s nie eintlik haastig nie.”

“Sarah.”

“Ja, goed. Ek het in die kafee gecheck. Al die onmiddellike vlugte is vol. Ek moes seker vooruit geboek het, maar ek het nie gedink ek sou jou so vinnig in die hande kry nie.”

“En om op die lughawe te wag gaan aandag trek.”

“Jip.” Ek hou my rekenaarsak op my skoot vas. Sweet loop soos water teen my rug af.

“Probeer jy ’n direkte vlug boek?”

“Die vrou wat jou papiere gedoen het is goed, maar ons moet mooi oor daai een dink.”

“Ek dog jy doen al die paspoorte,” sê Ranna verbaas.

“Nee. Ek help, en ek kan baie mét dit doen, maar ek maak dit nie self nie. Paspoort, ID, bestuurderslisensie – dis ’n ander skill. Die beste is as mens blanks van Binnelandse Sake of die regering se printers kry. Daarvoor het jy kontakte nodig. Dit werk selfs beter as jy tyd het, soos om met vervalste papiere vir die primêre goed soos paspoorte aansoek te doen. Dan is dit absoluut legit. Jy weet, soos om ’n geboortesertifikaat te gebruik om ’n ID en dan ’n paspoort te kry. Die laat registrasie van geboortes in Suid-Afrika het moerse loopholes geskep.”

My keel begin skielik krap. Ek hoes, maar dit help niks. Ranna slaan my op die rug.

“Okay. Stop.”

Sy vat haar hand weg. “Mens raak mettertyd gewoond daar­aan. Dis die lug.” Sy wys na die besige verkeer om ons. “Dis vuil.”

“Regtig?” Ek hoes weer.

Uiteindelik kan ek praat. “Ek wil twee vlugte doen. Deur ’n plek waar ons nie visums nodig het nie. En ons betaal kontant. Jou nuwe paspoort sê jy was in Hongkong. Dis dalk veiliger om van daar af Suid-Afrika toe te gaan, veral noudat jy die polisie hierheen gaan lok.”

“Niemand sal soveel oor my bodder nie.”

“Dis wat jy dink.”

Sy maak die rugsak by haar voete oop. Haal ’n bottel water uit en drink dit halfpad leeg. “Wat bedoel jy?”

“Dit was groot nuus toe jy verdwyn het, meer as wat jy dalk besef. Suid-Afrika het lank laas ’n vroulike reeksmoordenaar gehad.”

Die waterbottel vries in die lug. “Reeksmoordenaar?”

“Dis wat Interpol jou genoem het, al het hulle net bewyse vir Tom se dood.” Ek wonder hoe eerlik ek moet wees. “En die media. Hulle noem jou die Black Widow.”

Sy lig haar wenkbroue verbaas.

“Huisgenoot. Rapport. Son.”

“Dis nie baie oorspronklik nie.” Sy frons skerp. “Ek kan dit nie glo nie.”

“Die koerante en tydskrifte het gerun met die storie. Peter, Gerald, Tom, Billy – almal dood. Mans wat ek seker is jy nie eers ken nie, het biegstories oor jou vertel. Adjudant-offisier Boel de Jonghe het die cop geword wat jou amper gevang het.”

“En jy wil hê ek moet teruggaan?”

Die skuld proe bitter in my keel, ’n emosie wat my onkant be­trap. Dis tog nie asof ek en Ranna vriende is nie.

“Huh-uh,” antwoord ek tog. “Ek het jou al gesê: ek weet nie wie anders om te vra nie. Niemand anders gee genoeg om vir Alex om dit te doen nie. En ons praat van ’n sindikaat hier, nie een ou nie. Die odds is nie juis goed nie. Buitendien, Alex se ma … Sy is vas oortuig jy’s die enigste een wat kan help. Dalk sou ek nie eers hier gewees het as sy nie gevra het nie.”

“Tannie Sophia? Dis die eerste keer dat jy dit noem.”

“Ek het nie gedink dis nodig om jou af te pers nie.”

Sy lag kortaf.

Ek sug. “Tannie Sophia like jou. Sy sê as jy Alex se pa op sy plek kon sit, kan jy enigiets doen. Sy praat nou nog oor die dag toe jy Francois Derksen platgeslaan het.”

“Is sy okay?”

“Sy is, behalwe vir hierdie gemors. Alex is al wat sy het. Jy be­hoort dit te verstaan. Jy en jou ma was lank alleen ná jou pa se dood.”

Ranna kyk weg, knik dan halfhartig. Sy maak haar rugsak oop en bêre die water. “Jou instink was reg, jy hoef nie vir tannie Sophia as troefkaart te gebruik nie. Om jou te hoor vra vir hulp is amper genoeg. En Alex … nou ja.” Sy vee oor haar voorkop en haal dan diep asem. “Ek hoop hierdie vrou se papiere is goed. Regtig goed.”

“Sy’s die beste wat daar is. Ek gebruik haar gereeld.”

“Dan soek ek nog ’n stel dokumente sodra ons in Suid-Afrika is. Voor ons enigiets anders doen.”

“Hoekom?”

“Vir ingeval ek vinnig moet wegkom. En as iemand al die geld uit my bestaande rekeninge kan loskry en na die ander filter, sal ek bly wees. Die situasie is ernstiger as wat ek gedink het.”

“Dit gaan tyd mors. Aandag trek.”

“Dis ses weke later, Sarah. Ses dêm weke in die hande van ’n goudsindikaat! ’n Uur of twee gaan nie ’n verskil maak nie. En as ons in Joburg land, is ons in elk geval naby jou kontak. Ons kan vinnig wees.”

Sy dink ’n oomblik na. “Buitendien, Alex is in die moeilikheid, maar dit beteken nie hy het my vergewe ná ek verlede jaar uit Suid-Afrika weg is nie. Om hom te help beteken nie ons twee sal bloot aangaan waar ons laas opgehou het nie. Alex is kwaad vir my, en jy weet dit. Hy los dinge op. Ek …” Sy lag bitter. “Ek hardloop weg.”

Sy skuif die rugsak by haar voete rond, staar daarna. “Sodra ons hom het, moet ek verdwyn. En nie met dieselfde paspoort as waarmee ek in die land ingekom het nie.”

Ek bly stil. Hoe kan ek instem om dit te doen?

“Jy weet ek is reg,” hou sy aan. “Dis nie … Alex is steeds …”

Sy draai haar kop weg, kyk na die verkeer langs ons. “Ek sal enig­iets doen om hom te help, maar ek moet myself ook help. Anders is ek net weer daardie vrou wat wegkruip in Dar es Salaam. Die een in my pa se studeerkamer.”

“Dis tyd wat ons …”

“Ek wil nie voorwaardes stel nie, Sarah, maar ek gaan nie toegesluit word vir die res van my lewe nie.”

“Goed dan,” gee ek onwillig toe. “Ons maak so. Maar daarna gaan ons direk na Alex toe – hoe vinniger, hoe beter.”

Ek sit my sonbril op voor sy iets kan sien wat my dalk verraai.

Sy mag nie weet dat sy nooit die kans sal hê om daai nuwe paspoort te gebruik nie.

Skrapnel

Подняться наверх