Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 8

SARAH 1

Оглавление

Eers Lagos en nou hier. En Lagos was moeilik.

Nee, Lagos was hel. Plein, kommin hel.

Moembai voel min of meer net dieselfde. Dis net so chaoties, arm, raserig, vuil en vrek warm soos Wes-Afrika. Ek kon die rommel in die strate sien lê toe ons geland het. En nie bietjie gemors nie, báie. Net die mense lyk anders. En die man wat my nuwe, amper leë paspoort stempel, is ten minste vriendeliker as die beampte in Nigerië.

Ek was negentien ure in Lagos toe ek agterkom sy is al weke gele­de weg. Wéke. Net die skielike waarskuwing dat sy haar kredietkaart in Moembai gebruik het, het my van ’n uitgerekte soektog gered. Hoe sy in Indië gekom het, weet ek nie. Sy moet kontant betaal het vir haar kaartjies. Busse gehaal het. Geryloop, geswem en oor grense gesluip het. Dalk het sy selfs ’n nuwe paspoort in die hande gekry. Die vrou weet van weghardloop en verdwyn, dit gee ek toe.

Ek is gelukkig dat sy haar kredietkaart gebruik het. Vir maande lank het sy niks daarmee gekoop nie. Sy moet desperaat gewees het om dit uit haar beursie te haal. Sy is tog slimmer as dit.

Iets moet gebeur het, ’n krisis of ’n ding. Of dalk is haar kon­tant op. Die paar duisend dollar wat sy gehad het, kan nie vir ewig hou nie.

“Juffrou?”

Die stem skok my terug na die bedompige lughawe.

“Ja?”

“Wat maak jy in Moembai?” vra die middeljarige man agter die toonbank, seker vir die tweede keer.

Die sweetvlekke onder sy arms lyk soos kaarte van Afrika. Agter my wemel dit van warm, geïrriteerde toeriste, al is dit die middel van die nag. Daar hang ’n versmorende hitte oor die plek, amper soos ’n nat kombers. Dit maak mens lui, te moeg om te beweeg. En ek weet daar wag veel erger daar buite.

Ek trek die rooi T-hemp weg van my lyf in ’n poging om af te koel. Droog my handpalms aan my jeans af. My voete in die diksool-motorfietsstewels voel asof dit aan die brand is. Dis seker wat mens verdien as jy bietjie lengte probeer wen.

“Ek kom kuier. Vir ’n vriendin,” antwoord ek hom uiteindelik. Onthou selfs om te glimlag.

“Dit klink lekker. En hoe lank gaan jy hier bly, juffrou De Frei­tas?” Die beampte blaai tot hy my visum kry en bestudeer dit versig­tig.

Ek hou my asem op. Die paspoort is ’n goeie vervalsing, maar mens weet nooit. “Omtrent ’n week.”

Hy lig die groen boekie om beter te kan sien en kyk van my na die foto. Uiteindelik maak hy dit toe.

Ek sluk aan die droogheid in my keel. Ek het ’n Coke nodig. En ’n sigaret. Hoe gouer hoe beter.

Die man skuif die paspoort oor die vuilwit toonbank. Ek wil dit vat, maar sy hand bly daarop rus.

“Dis binnekort die fees van Lord Ganesh. As jy lank genoeg bly, sal jy dit alles kan beleef. Dis baie kleurvol.” Sy snor wip soos hy glimlag.

Ek wil vra wie Ganesh is, maar onthou vaagweg iets van ’n Hindoe-olifantgod. Ek glimlag weer. Wonder hoe mense dit die hele tyd doen.

“Wie weet, dalk is ek gelukkig. Totsiens.”

Hy knik ingenome en wuif vir die volgende passasier om vorentoe te kom, salig onbewus van die $30 000 en twee vals paspoorte in my bagasie.

Buite die lughawegebou is dit maklik om ’n taxi te kry. ’n Swart-en-geel motor rem skerp toe die bestuurder my raaksien waar ek staan en rook.

’n Gesette, ouerige man spring uit en draf na my toe. “Taxi?”

Ek oorweeg of sy boksie my rekenaarsak en tas sal kan vat. Lyk darem so. “Okay.”

Hy glimlag breed en buig effens. “Jy’s welkom.”

’n Soortgelyke taxi stop agter syne net toe die bestuurder my tas in die kattebak laai. ’n Veel jonger man kom aangedraf.

“Mevrou? Taxi.”

Ek skud my kop en beduie na die bestuurder, wat lyk asof hy gereed maak om te baklei. “Ek het reeds een, dankie,” sê ek beslis en trap die Stuyvesant dood.

Steeds kyk die jonger man na my.

“Nee,” sê ek harder. “Néé. Regtig. Als reg.”

Hy blaas onwillig die aftog.

Lagos het my ’n paar dinge geleer. Soos: jy moenie onseker klink in ’n vreemde land nie, veral nie as jy ’n vrou is nie. Sê ja en nee met oortuiging. En moenie ’n wit hemp dra as jy duisende kilometer ver gaan reis nie.

En nou het ek nog ’n les geleer: moenie langer probeer lyk in warm skoene nie. Wees nou maar vyf voet twee in ’n land waar die gemiddelde temperatuur altyd bo dertig mik. Daar is ’n rede hoekom amper almal hier plakkies dra.

Die bestuurder wil my rekenaarsak neem, maar ek skud my kop. Dit bly by my. Hy trek sy skouers gelate op en maak die taxi se deur oop. Ek klim in, dankbaar vir die lugversorging. Hy gaan sit agter die stuurwiel, kyk om en glimlag breed.

“Waarheen gaan ons? Enige plek. Sê net.”

Ek wil hom die hotel se naam gee, maar bedink my. Dalk kan hy help met wat ek nou die meeste in die hele wêreld begeer.

“Ek soek ’n Coke. ’n Yskoue Coke.”

Die laaste vloeistof wat ek gedrink het, was net voor ons geland het. Die beneukte lugwaardin het die lou blikkie iewers in die kombuis gaan opdiep ná ek drie keer gevra het. As sy kon, sou sy dit seker in my skoot omgekeer het.

Ek gee vir die bestuurder ’n rol roepeenote. Hy vat die geld sonder om te frons of te lag.

“Natuurlik. Die hitte is erg as mens dit nie gewoond is nie. En die moeson wil nie kom nie. Ek’s nou terug.”

Hy spring uit die motor. Gelukkig los hy die lugversorging aan. Ek bekommer my oor my toerusting al vandat ons geland het. Rekenaars hou nie van hitte nie. Ek moet liefs my besigheid hier vinnig afhandel.

Tien minute later is die bestuurder terug. Hy maak die kattebak oop en weer toe. Hy klim in en hou ’n blikkie Coke na my uit.

“Is dit wat jy gesoek het?”

Ek neem die koeldrank en maak dit oop. Drink. Dis koud genoeg. “Heerlik, dankie.” Ek gee nie eens om dat dit net een blikkie is nie. Dalk het hy vir homself ’n fooitjie gevat.

“En nou, waarheen?” vra hy weer.

“Die Taj Mahal Palace Hotel. Colaba.”

By die hotel betaal ek die taxibestuurder en klim uit. Hy beduie hy sal my tas bring.

Ek het net ingeboek toe die concierge nadergedraf kom. “Kan ons mevrou se bagasie neem?”

“Dis juffrou. En ek het net ’n tas en ’n sak. Ek sal regkom.”

Hy frons skerp en trek sy grys das ongemaklik reg. “En die ander goed?”

“Watter ander goed?”

Hy beduie na iets agter my. “Is dit nie mevrou … juffrou s’n nie?”

Ek kyk om. Dis ’n kis Coke.

Hoeveel koeldrank het die taxibestuurder gekoop? En hoeveel is die roepee werd? Ek het nooit gekyk nie, net die eerste beskikbare vlug hierheen geneem.

Ek gooi die rekenaarsak se band oor my skouer en maak asof ek nog heeltyd weet waarvan hy praat. “Natuurlik is dit myne. Ek het vergeet. Bring dit asseblief op, ja.”

Skrapnel

Подняться наверх