Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 14
2
ОглавлениеEk word wakker.
Ek lê vir ’n oomblik stil in die halfskemer kamer. Soek na my asem. Ewewig. Enigiets bekends. Iets om aan vas te hou. Ek knip-knip my oë tot ek die buitelyne van die TV uitmaak. Die gordyn. Wag tot ek die sagte dreuning van die lugversorger hoor. Die wit lakens wat ritsel wanneer ek my voete roer.
Die droom was helder, asof dit gister gebeur het. Té helder.
Wanneer sal ek vergeet? Is dit moontlik om te vergeet dat jy jou pa geskiet het?
Ek kyk van die breë hotelbed na die ligkring waar Sarah steeds voor haar rekenaar sit. Sy rook. Die kamer ruik na sigarette en die spul stompies wat in die asbak langs haar lê. Sy het net na ete begin werk en nog nie opgehou nie.
Ek gaap, draai om en trek die duvet oor my skouers. Ril. Die lugversorging is op agtien grade gestel. Dis belaglik dat ek koud kry in Moembai.
Daar is ’n paar lesse wat ek gou geleer het: Sarah hou nie van hitte of baie mense nie. Eintlik hou sy nie van mense nie. En klein spasies. Ons moes die trappe klim tot by haar kamer op die boonste vloer.
Dalk is die klein spasies oor sy in die tronk was. Ek weet nie van die mense-ding nie, ek vermoed dis net haar persoonlikheid. Dis asof sy heeltyd ongemaklik is met hulle. Asof sy nie weet wat om met hulle te maak nie.
Afgesien van hierdie afleidings weet ek regtig nie veel van haar nie. Ek is bewus van haar en Alex se geskiedenis, ja. Van haar tyd in die tronk vir bedrog, maar dis omtrent dit. Sy bly stug en geslote. Die meeste mense sou al iets van hulle terughoudendheid verloor het ná die geskree en geraas in Jagan se winkel, hulle versigtigheid uitgetrek het, maar nie sy nie. Sy het net kwaad geword, en kwaad is nie ’n emosie nie. Ek sal weet. Dis soos grond: jy gebruik dit om ander, egter goed te begrawe. Haat. Jaloesie. Liefde.
Liefde.
Ek draai terug en kyk weer na die lessenaar. Sarah se vingers vlieg oor die toetsbord. Die getik is onophoudelik, amper ritmies. Sy het steeds haar stukkende jeans aan, by ’n nuwe, amper moulose T-hemp met ’n graffiti-aanmerking daarop. Die kort rooi hare is effens langer as wat ek onthou en maak fyn krulle om haar ore. Elfieore. Elfiehande.
Wat het tussen haar en Alex gebeur terwyl ek weg was?
Boem. Daar is die gedagte uiteindelik – die een wat ek probeer keer al vandat ek haar in die woonstel betrap het: Sarah en Alex. Alex en Sarah.
Sy is pragtig. ’n Ryk, rateltaai vrou met ’n sagte hart vir Alex. En sy loop soos vrouens weet om te loop om te maak dat mans kyk, maar sy is nie bewus daarvan nie. Sy weet nie sy is mooi nie. Of sy gee nie ’n hel om nie.
En ek? Wat is ek? Interessant? Ek het al amper elke boek gelees wat bestaan. En ek is moeg. En oud.
Ouer.
Sou Alex haar kon weerstaan?
En hoekom sou hy dit moes doen? Ék is die een wat weggegaan het.
Ek draai weer op my sy, weg van haar. Dis onnodig om nou daaroor te dink. Ons moet Alex kry, as hy nog lewe, en dan sal ek weer die pad vat. Dis die toekoms soos dit nou daar uitsien, en dit help niks om myself met bespiegelings te pynig nie. Ook nie trappe van vergelyking nie.
Dink eerder aan die sindikaat. Hoe om Alex uit te kry, as hy nog lewe. Daai ouens is professionele misdadigers. Hulle moor vir niks. Ek kan nie glo hy het gaan staan en betrokke raak by sulke mense nie. Hoekom daar gaan moeilikheid soek? Het hy net die storie gevolg, of het hy roekeloos geword ná wat gebeur het? Ná ons?
Stop dit. Hou op met dink.
Ek onderdruk ’n gaap en kyk na my horlosie. Halftwee. 2 September.
Skielik weet ek hoekom ek die droom gehad het. Hoekom ek weer onthou het. Dis my ma se verjaarsdag. Net soos daardie dag toe ek my pa geskiet het.
Ek oorweeg my opsies. Kan ek daarmee wegkom om my ma se verjaarsdag te vergeet? Dis die enigste tyd van die jaar wat jy haar bel, neul ’n stem in my kop. Jy het al lankal opgehou met Nuwejaar en Hanukkah en elke ander dag wat iets vir haar beteken.
Goed dan, gee ek in. Ek doen ’n paar somme in my kop. Dis nou drieuur in New York. Ek staan op, tel my foon op en loop na die badkamer. Sarah hoef nie hierdie oproep te hoor nie.
“Ek moet iemand bel,” sê ek in die verbyloop.
“Is die foon aan die ander kant veilig?” keer sy vinnig.
“Dink so.”
“Hoe seker is jy?”
“Ek het dit al gedoen. Ek weet hoe.”
Sy skud haar kop. Die sigaret huiwer voor haar vol lippe. “Jy weet hulle trace jou ma se oproepe, nè?”
“Hoe weet …” Natuurlik. Sarah dryf handel in inligting. Dis hoe sy haar geld verdien.
“Moenie worry nie. Ek weet wat ek doen,” sê ek en maak die deur agter my toe.
Hierdie een-keer-’n-jaar-oproep is moeilik genoeg soos dit is. Ek het nie nodig om nog met iemand daaroor te onderhandel nie.
Ek soek die nommer op en skakel. Die foon lui en lui.
Ek kyk weer op my horlosie. Fay Frost, my ma se vriendin wat in die woonstel bo haar bly, behoort tuis te wees. En my ma ook. Sy het seker vanoggend winkels toe geloop om iets moois te soek vir die winter wat naderkom. Dan huis toe waar sy vir Moshe, my stiefpa, sal wag om van die werk af te kom. Op Dinsdae speel sy tennis as haar heup nie te veel pla nie. Dis wat ek onthou van jare gelede, en hopelik is dit nog die geval.
Steeds lui Fay se foon. Sy is al oor die tagtig en haar knieë is nie meer wat dit was nie. Ek weet om geduldig te wag tot sy optel.
Uiteindelik antwoord sy. Die aksent is nes ek dit onthou: Brooklyn. Amper soos in die flieks. Fay het opgetrou – Manhattan toe. Gelukkig opgetrou, sê sy, en nie vir die geld nie.
“Mevrou Frost?”
“Ja?”
“Dis Isabel. Karla se Isabel.”
“Ek het gewonder wanneer jy gaan bel.”
Dis seker die sewende, agtste keer dat ek my ma by haar foon bel. Die vorige kere was dat Tom my nie kon opspoor nie, en nou is dit om die polisie te ontwyk.
Ek weet nie hoe my ma die situasie vir haar verduidelik het nie en ek wil ook nie weet nie. Al wat belangrik is, is dat ons Fay kan vertrou. Tyd het ons dit geleer.
“Hoe gaan dit, mevrou Frost? Pla die rumatiek nog?”
“Hoe sal dit dan ophou? Ek raak net ouer.”
“Ek’s jammer om dit te hoor.”
“Ag, dis maar hoe dit gaan.” Sy hoes aamborstig, en haal dan diep asem. “Maar ons gaan nie oor sulke morbiede goed praat nie. Sê eerder vir my, waar is jy hierdie jaar?”
Dit het al ’n speletjie tussen ons geword. Sy wou nog altyd reis, maar het nooit tyd gemaak om dit te doen nie.
“Bangkok,” lieg ek ’n stad, soos elke jaar.
“Skyn die son?”
Ek kyk na die helder ligte in die badkamer. Die venster wat nie kan oopmaak nie. “Ja. En die water is heerlik warm.”
“Ai tog.” Sy sug tevrede. “Ten minste kry een van ons kans om die wêreld te sien.” Sy hoes weer, erger dié keer. “Ek roep gou jou ma.”
Ek luister hoe sy die foon neersit en skuifelend wegloop.
Tien minute later kom haar stem weer oor die lyn. “Hier is sy. Jou moet jou mooi oppas, Isabel. En kom kuier tog. Jou ma verlang.”
“Ek maak so.”
“Jy sê dit elke jaar.”
Ek weet nie hoe om te antwoord nie. Fay is reg. Maar selfs as ek nou skielik wóú kom kuier, sal ek nie kan nie. As ek my ma uiteindelik vergewe omdat ons gebly het toe ons lankal moes geloop het, kan ek nie sommer net by haar voordeur opdaag nie. Nie met die polisie op my spoor nie. Reeksmoordenaar is ’n groot woord.
Ek wonder skielik of my ma weet wat aangaan. Sou die polisie met haar gaan praat het? Daar na my gaan soek het?
“Is jy nog daar, Isabel?”
“Ek wil baie graag kom kuier, Fay,” sê ek uiteindelik. “Ek sal probeer om ’n plan te maak.”
Die ou vrou lag asof sy my nie glo nie. “Goed dan. Ek hoop ek sien jou eendag, dan weet ek ten minste hoe jy nou lyk. Jou ma wys my heeltyd die foto’s, maar hulle is almal van toe jy nog klein was. Pas jouself op.”
Foto’s? Ek dog sy is met niks uit haar ou lewe New York toe?
Dan kom haar stem oor die lyn.
“Isa.”
Dit vang my onverwags, haar stem klink broos en oud. “Verjaar Ma lekker?
Sy lag. Dit klink beter.
“Ek verjaar mos eers môre.”
“Hier,” ek kyk weer op my horlosie, “verjaar Ma al lankal. En in Suid-Afrika amper.”
“Waar is jy?” Haar stem is skielik besorg, haar asem min, soos altyd as sy bekommerd is.
“Bangkok,” jok ek weer.
“Nou ja toe.”
Ek wil-wil lag. Dis wat sy altyd gesê het toe ek klein was en sy geweet het ek lieg, maar my nie kon uitvang nie.
“Hoe oud is Ma vanjaar?”
“Nog steeds nege-en-twintig.”
“Ek onthou nege-en-twintig. Dit was ’n goeie jaar. Ek was baie gelukkig,” terg ek haar.
Sy lag nie.
“En? Is jy steeds gelukkig?” Sy bly ’n oomblik stil. “Waar ook al jy regtig is.”
“So gelukkig as wat ek kan wees.”
“Dis nie ’n antwoord nie.”
“Seker nie.”
Sy maak keel skoon. Sluk dat ek kan hoor.
“Hier was twee polisiemanne gewees. Hulle soek na jou.”
“Het hulle gesê hoekom?”
“Nie regtig nie.” Sy snuif lig en vinnig. Huil sy? “Hulle wou weet waar jy is. Wanneer laas ek met jou gepraat het. Moshe was baie ontsteld.”
“Wat het Ma gesê?”
“Dat ek nie weet nie. Dat ek lank laas van jou gehoor het. En dis die waarheid.” Haar stem is skielik bitter.
Vir ’n oomblik is dit ongemaklik stil, dan praat sy weer: “Is jy seker jy’s okay, Isabel? Is daar iets wat ek … kan ons jou help? Moshe sal. Jy weet hy sal. Het jy iets nodig?”
“Ek’s okay, Ma. Dis sommer net ’n misverstand wat ek uit die weg moet ruim.”
“Moord is nie ’n misverstand nie.”
Die polisie het duidelik meer gedoen as om net te vra waar ek is.
“Glo my of nie, Ma, dis regtig net ’n misverstand.”
“Ek het al baie gewonder hoe jou lewe sou wees as ek sterker was. As jy nie die sneller getrek het nie.”
Die woorde kom vinnig. Sag. Dis die eerste keer dat sy oor my pa se dood praat ná sy daardie aand vir my gesê het om stil te bly, sy sal die praatwerk doen.
Die polisie het verbasend min gevra toe hulle opgedaag het. Hulle het ons vir skok behandel en onder mekaar gefluister dat my pa se dood na selfmoord lyk. Dit was amper asof daar verligting in die vertrek was. Asof hulle ook geweet het dat hy ’n slegte man was. Asof die wurgmerke om my ma se keel dit vir hulle gesê het.
“Dit help nie om te wonder oor wat kon gewees het nie, Ma. ’n Mens doen wat nodig is om te oorleef.”
“Ja, maar …”
“Dis ou koeie. Dood en begrawe.”
Sy bly weer stil. Praat dan so sag, ek kan amper nie hoor nie. “Ek verlang, Isa. Jy moet kom kuier.”
Dis die eerste keer in die veertien jaar wat ek van die huis af weg is dat sy vra. Dis asof ons al twee verstaan dat ek moes wegkom van haar om haar te vergewe. Asof ek haar beter kan sien as dit van ver af is. Asof ek haar dalk weer – dalk uiteindelik – in fokus kan kry.
Wanneer het dit ’n verskoning geword om weg te hardloop?
“Is Ma okay? Fay het ook geraas oor ek so lank laas daar was.”
“Ek raak oud. Moshe raak oud. Ons wil jou graag weer sien voor ons doodgaan.”
“Dis darem nie só erg nie.”
“Ek word vier-en-sestig, Ranna. Jou ouma is dood op sestig.”
Toe ek nie antwoord nie, vra sy pleitend: “Kan ons nie maar hierdie ding agter ons los nie?”
Miskien is sy reg. Miskien is dit tyd om alles wat tussen ons gebeur het weg te pak. Om heeltyd so kwaad te wees kan jou opvreet en uitspoeg.
Maar vergewe en gaan kuier is twee verskillende dinge. Dit sal moeilik wees om New York toe te gaan. Die Amerikaanse polisie is op en wakker.
Tensy …
“Ons kan mekaar in Suid-Afrika kry,” stel ek voor.
Sy bly stil, asof sy haar ore nie kan glo nie. Ek wonder ook hoekom ek daardie woorde uitgeblaker het.
“Ek kan nie nou Amerika toe kom nie,” probeer ek verduidelik. “Die polisie daar … die lughawens … dis te erg.”
“Isa? Wat gaan aan?”
Ek sluk aan die knop in my keel. My oë brand. “Dis alles okay, Ma. Hoekom kry ons mekaar nie oor ’n paar dae in Kaapstad nie?”
Ek staar na die datum op my horlosie. Maak somme. Hoe lank gaan dit vat om uit te vind Alex is … Ek weier om aan die woord te dink.
“Wat van volgende naweek? Sondag. Sommer in die Kaap iewers.”
“Volgende naweek?”
“Is dit te gou? Julle kan mos maklik hiernatoe kom.”
“Nee, dis net … Is jy ernstig?”
“Oor die Kaap?”
“Ek bedoel oor mekaar daar kry.”
“Ek is. En tannie Lena bly mos in Paternoster. Ma kan sommer vir haar ook gaan kuier.”
Sy begin huil.
Dis nie iets wat ek nou wil hoor nie. Dit klink bekend, en tog ook nie. Dis ’n bly-huil. Nie soos toe ek daar weg is nie. Of soos met my pa nie.
“Dit sal ’n goeie verjaarsdaggeskenk wees om jou te sien,” sê sy sag. “En ek het my suster lank laas gesien.”
“Hey,” probeer ek terg, “dis nie elke dag dat mens nege-en-twintig word nie.”