Читать книгу Skrapnel - Irma Venter - Страница 9

2

Оглавление

Die winkel waar Ranna haar kredietkaart gebruik het is lank, smal en volgepak tot bo. Pradeep & Sons, wat lyk asof dit iets van alles verkoop, is nie ver van my hotel af nie, maar dit het die taxi ’n half­uur geneem om hier te kom. Verkeersreëls beteken niks in hier­die plek nie. Wat ook al groter is, ry eerste. Of wie ook al die hardste op sy toeter lê. Groter klínk.

Die straat ruik asof iemand oorskiet-blomkool of vis in die son laat staan het. Hopelik het die winkel lugverkoeling.

Van buite af lyk dit soos al die ander winkels in die straat, behalwe dat daar geen mense binne is nie, wat seker beteken dis die perfekte tyd om in te loop. Maar ek huiwer steeds. Dalk moet ek alles net so los. Dalk moet wat gebeur net eenvoudig gebeur.

Maar ek kan nie. Daar is te veel op die spel. Te veel beloftes en te veel skuld. Te veel van hierdie ding in my bors wat aanhou inmeng met wat ’n baie eenvoudiger lewe moes wees. Ek wens ek kon dit reboot. Upgrade.

’n Klok lui toe ek die deur oopstoot. ’n Lang, maer man kom van agter uit die winkel te voorskyn en beduie ek moet inkom. Hy het ’n skewe trek om sy mond en besonder breë skouers, asof dit die enigste deel van sy lyf is wat oefening kry. Hy lyk bekend, asof hy in ’n fliek gespeel het, maar ek kan hom nie plaas nie.

“Waarmee kan ek help?” vra hy in perfekte Britse Engels. “Ons het pragtige sari’s. Handgeweefde pasjminas.”

Hy bekyk my geskeurde jeans en stewels. Sy oë steek vas by die ses ringe – een vir elke lid van my gesin – in my regteroor. Dis die enigste juwele wat ek dra behalwe my horlosie.

“Of miskien iets van silwer? Ek het nie platinum nie.”

Ek haal die swart-en-wit-foto uit wat ek lank gelede van ’n CCTV-sisteem getrek het. Dis nie ’n goeie een nie, maar dit sal doen.

“Miskien ’n ander dag.” Ek skuif die rekenaarsak na my ander skouer. “Ek soek hierdie vrou.”

Hy neem die foto by my.

“Sy’s ’n ou vriendin. Haar ma is baie siek. Ek weet sy was hier, haar kredietkaart sê so.”

Hy skud sy kop, maar nie voor ’n senuweeagtige trek om sy mondhoeke verskyn en weer verdwyn het nie. Oë wat te vinnig wegkyk en dan terugkom.

Jackpot. Dis een van die dinge wat die tronk my geleer het. Ek ken mense sleg, maar ek kan sien wanneer hulle lieg.

Die man trek sy gespierde skouers op, maar die gebaar is stram en gedwonge. “Ek weet nie wie sy is nie.”

“Dis regtig belangrik. Haar ma is baie siek.”

Hy skud sy kop weer. Vinnig. Té vinnig.

“Ek sê mos, ek ken haar nie. Jammer.”

Hy draai om en haal ’n grys serp van die rak agter hom. “Wat van een van hierdie? Vir jou oë. Mooi oë. Baie mooi vrou. Ek sal jou ’n goeie prys gee.”

“Miskien later.”

Ek neem ’n besigheidskaartjie van die pak wat op die toonbank lê en loop uit die koel winkel die warm oggendson in.

Colaba is besig. Drie toeristebusse laai mense regs van my af, die meeste van hulle oorgewig en met groot bruin hoede, kniebroeke en wit tekkies. Die oueres onder hulle praat hard met mekaar. Klink Amerikaans.

Bedelaars en baniaanbome met wortels so dik soos telefoonpale staan die strate vol. Die lug is dik, asof mens daardeur kan sny. Die taxibestuurder het gesê dit gaan later reën. Hopelik is hy reg. Enigiets sal beter wees as hierdie hitte. Ek verkies koue. Sneeu selfs.

Ek steek ’n sigaret aan en wink ’n taxi nader. Dis elfuur en tyd om te gaan slaap. Wanneer ek opstaan, moet ek kyk waar die eerste domino in hierdie speletjie geval het.

Ek word ’n paar uur later wakker in die middel van die hotelbed waarop nog vier van my kan pas. Ná ’n Coke en ’n koue stort maak ek ’n paar oproepe.

My ma-hulle is nog okay. Selfde met my woonstel. Die derde oproep is heelwat korter.

“Alles nog reg?” Die koel asem van die lugversorger laat trek my vel saam. Ek sit kaal op die gestyfde wit linne en vryf my hare droog terwyl ek luister.

“Nie ’n beweging nie.”

“Jy weet om versigtig te wees, nè?”

Die ou man antwoord nie.

“Oom Tiny?”

“Jammer,” stel hy my gou gerus. “Dis niks. Net twee laaities wat skoorsoek met die bure se hond.”

Ek sluk verlig. “Dankie.”

“Enige tyd.”

Die foon maak plek vir die rekenaar. Dis vinnig en maklik om op die Indiese telefoonstelsel rond te snuffel. Binne ’n halfuur het ek wat ek soek. Die Sylvester Stallone-kloon – dis hoekom hy so bekend gelyk het – het sekondes ná ek daar uit is ’n oproep gemaak. Die adres lyk soos dié van ’n blok woonstelle naby die winkel.

Ek gaan haal nog ’n Coke uit die hotelyskassie en steek ’n sigaret aan. Nou is die enigste vraag wanneer die beste tyd sal wees om te gaan klop.

Dis halfvyf. Hoekom nie sommer nou nie?

Dit neem vyf minute om aan te trek.

Ek kry dadelik warm. Al is ek nog net ’n paar uur in Moembai, weet ek die sweet gaan my aftap sodra ek by die hotel se deur uit is. Ek kyk buitentoe, die hemel in. Daar gebeur niks wat gaan help nie. Daar is nog geen teken van reën nie. Steeds hang die wolke roerloos, hoog oor die stad, asof hulle vir iets, of iemand, wag.

Ek draf die trappe twee-twee af, tot in die hotel se voorportaal. Buite staan die taxi’s in ’n ry. Die hotel se deurwag maak die voorste een se deur vir my oop en beduie vir die bestuurder waarheen ek op pad is. Hierdie keer neem dit langer as ’n halfuur om daar te kom.

Hier is te veel mense in hierdie plek, besluit ek. En te veel motors. Skielik verlang ek na Pretoria en sy donderstorms. Na my huis en my tuin en my rekenaars en my lugversorging. Na die relatiewe stilte en vrede voor hierdie hele drama begin het. Die beheer wat ek gehad het.

Die taxi laai my voor ’n teewinkel af. Die bestuurder, sy baard so lank soos my arm, beduie ek moet uitklim. Hy jaag die enjin ongeduldig aan.

Ek skud my kop. “Dis nie die plek nie.”

Die gryskopman knik sy kop beslis. “Ja.”

“Is jy seker?”

“Ja.”

“Hoeveel skuld ek jou?”

“Ja.”

Ek het so gedink: hy kan nie Engels praat nie. Ek skil ’n paar roepeenote van die rol in my hand, omtrent dieselfde as vir die vorige taxirit, en mompel sarkasties dankie, al sal hy ook nie weet wat dit beteken nie.

Die teewinkel is piepklein en besig. Ek haal diep asem en loop in. Ek haat klein spasies. Haat baie mense. Haat mense wat ek nie ken nie. Hulle reuk. Hulle lywe wat al die plek om my vat.

Binne is daar ’n handvol plaaslike klante wat met groot geduld om ’n groep Chinese toeriste en hul rooi sambrele beweeg. Dit help ook nie dat daar drie winkelassistente is nie. Dit maak die plek net voller.

Die gedruis van die stemme om my word harder en harder.

Kan nie.

Ek storm uit, tot op die sypaadjie, en gaan staan met my rug teen die winkelvenster. Skep verlig asem. Ek gee nie eens om vir die reën wat skielik halfhartig begin val nie. Ek kyk op na die wolke en probeer van die mense vergeet.

Hierdie kan nie moesonreën wees nie. Nie soos ek dinge verstaan het nie.

Vyf minute later staan ek steeds voor die teewinkel en wonder wat om te doen. Ek was reg oor die reën; dit het reeds opgedroog. Ek staan twee tree terug, tot op die rand van die sypaadjie, en kyk weer na die geboue voor my. Die bome. Die mense.

Langs die teewinkel is ’n elektronikawinkel en langs dit ’n pre­siese duplikaat, buiten die naam en ’n ander kleur voordeur. Onder die teewinkel se naambord verseker ’n handgeverfde teken my dat ek wel in Lamington Road is.

Dis die regte plek, maar hier is geen huise nie, net ’n lang ry winkels. Behalwe as …

Ek gee ’n tree terug, tot op die teer. Die druppels van die bome ­op die sypaadjie los groot, ronde vlekke op my T-hemp. ’n Ongeduldige toeter skel dat ek moet padgee. Ek spring drie tree regs. ’n Man op ’n motorfiets volgelaai met mandjies skud sy kop en glimlag dan onverwags.

Ek kyk weer op. Bokant die winkels, verby die digte bome, is daar drie verdiepings woonstelle, groen en swart van die besoedeling en muf. Dit moet die plek wees, maar hoe kom ’n mens daar?

’n Ent verder af met die sypaadjie kry ek waarna ek soek: ’n stegie weggesteek agter ’n geroeste, halfoop traliedeur. Dit lyk asof daar trappe aan die punt van die donker gang is. Ek gaan staan voor die hek. Kyk vlugtig rond. Ek het verwag om meer aandag te trek, maar ek is net nog een van ’n spul toeriste wat luidrugtig by die winkels in- en uitbeweeg.

Ek loop by die stegie in. Draf op met die trappe. Die vrot reuk van die tropiese stad en sy rommel is nog erger hier binne as op straat.

Op die eerste verdieping begin ek van links na regs soek. Dit neem my drie minute om te weet ek gaan nooit die plek kry nie. Hier is geen nommers op enige van die deure nie. Wat nou? Moet ek regtig iemand se hulp vra?

Die deur naaste aan my staan effens oop. Ek klop sag, dan harder. Niks of niemand roer binne die woonstel nie. Volgende een. Nog een. Dieselfde stilte heers orals. By die vierde woonstel maak ’n vrou in ’n groen sari uiteindelik oop. Sy wil die deur dadelik weer toeslaan, maar ek druk die foto tot in die opening voor sy dit kan doen.

“Ek soek na hierdie vrou,” beduie ek. “Asseblief. Dis dringend. Haar ma is baie siek.”

Die ou vrou met die lang grys vlegsel kyk van my na die foto. Sy is net so kort soos ek. Diep lagplooie lyk asof hulle al jare lank om haar oë lê. ’n Rooi kol versier haar voorkop.

“Jy lyk nes my kleindogter.”

Sy beduie met ’n wysvinger, dikgeknoop van artritis, na my rooi hare wat ek gewas en net so gelos het om droog te word, en dan die stewels wat tot by my knieë kom. Die gebleikte, geskeurde jeans.

“Ek wens sy wil beter aantrek.”

Ek sweer sy lag vir my. Ek hoes ongemaklik.

“Jammer,” bied ek aan, al weet ek nie hoekom nie. “Dis dringend,” sê ek weer. “Haar ma is siek.”

Die ou vrou staar na my asof sy wonder wat ek regtig hier soek. Ek weet nie wat om te sê nie, hoop maar die pleitende kyk in my oë is genoeg.

Uiteindelik beduie sy na die woonstel in die hoek, links van haar. “Dis hare, maar sy’s nie nou daar nie.”

Die verligting spoel deur my. Dankie tog.

Ek kyk na die woonstel in die hoek en weer na die ou vrou. Dit klink soos ’n geleentheid wat ek moet gebruik. “Is jy seker sy’s nie tuis nie?”

Die ou vrou rol haar oë. “Dis moeilik om haar te mis. Dit maak my nek seer net om na haar te kyk. En my kleindogter is mal oor haar, so sy’s meer daar as by haar eie huis. Ek sou geweet het as sy daar was.”

Ek knik my kop. Dis goeie nuus. Baie goeie nuus.

Die ou vrou verdwyn in haar woonstel, maar iets vertel my haar ore sal gespits bly. Sy was net ’n bietjie te agterdogtig teenoor my.

Wat is my opsies? Ek kan later terugkom, wanneer sy hier is, of ek kan by die woonstel – ín die woonstel – wag.

Ek loop soontoe. Met elke tree kyk ek oor my skouer. Die ou vrou se deur bly toe. My hand rus op die deur se blink koperhandvatsel, skoner as die ander. Dit beweeg maklik, geluidloos.

Die deur is nie gesluit nie. Hoekom nie? Is sy tuis? Het die ou vrou gejok?

Ek stoot die deur oop en loop stadig in. My stewels maak sagte skwiekgeluide op die wit teëlvloer.

“Ranna?”

Geen antwoord nie.

Ek loop tot in die middel van die vertrek, net om verbaas te gaan staan. Alex het gesê Ranna is nie huislik nie, maar hierdie is ondenkbaar.

Dis duidelik hoekom die deur nie gesluit is nie: die eenvoudige woonstel is leeg. Wel, amper leeg. ’n Dubbelbed staan in die een hoek, by die venster. Die beddegoed is skitterwit, net soos die vloer. Daar is niks teen die nuutgeverfde mure nie, en geen teken van die boeke waarvoor sy blykbaar so lief is nie. ’n T-hemp hang aan ’n stuk draad wat voor die venster gespan is. ’n Mikrogolf staan bo-op ’n klein yskas naby die badkamer, wat niks meer as ’n hokkie is nie. Die blou stort en toilet is skoongeskrop. ’n Tandepastabuis lê op die kant van die wasbak. Daar is nie ’n handsak, rugsak, paspoort of kamera in sig nie.

Die sug ontsnap voor ek dit kan keer. Dalk is hierdie net nog ’n Lagos. Dalk is sy lankal weg.

Weet sy ek soek haar? Of is die polisie op haar spoor? Dalk het hulle ook uitgevind van die kredietkaart met die nuwe naam wat ek verlede jaar vir haar gegee het. Dat sy dit gebruik het.

Ek inspekteer die tandepastabuis. Ek sou dit ook gelos het as ek sy was, dis amper leeg. Die badkamerkassie verraai ’n bietjie meer. Daar is ’n onoopgemaakte pakkie slaappille op die boonste rak en wat lyk na pynpille net onder dit. ’n Geel tandeborsel lê weggesteek agter ’n pak tampons. Ek sit die tandepasta langsaan neer en maak die deur toe.

Oop.

Die tandeborsel is nat.

Skielik besef ek die vertrek is nog koel, asof iemand nou net die lugverkoeling afgeskakel het.

Shit.

Ek wil omdraai, maar ’n stem stop my: “Staan doodstil.”

Die staal is koud in my nek, net om my te waarsku, en skuif dan weg. Ek weet dis steeds daar, net buite my bereik. Te ver om by te kom indien ek wou omswaai en dit wegstamp.

Ek het eenmaal ’n lem in die rug gekry. In die tronk. Dit was die naaste wat ek nog aan dood was. En dit was vreemd: die mes was ook koud teen my vel, nes hierdie wapen, maar warm toe dit ingegaan het. Dit was een van die lesse wat ek daardie dag geleer het. Dít, en die feit dat mense nie regtig weet hoe gewelddadig vroue kan raak nie.

Ek maak keel skoon om my stem terug te kry. “Ek soek nie moeilikheid nie.”

“Nou wat soek jy dan hier, Sarah? Iets vir jou hoofpyn?”

“Vir jou. Wat anders?”

“Hoekom?”

“Ek het jou hulp nodig.”

Weer die staal teen my nek, asof sy wil hê ek moet baklei, maar hierdie keer bly dit teen my vel. Onbeweeglik. Kil. Nes haar stem.

“Hoe diep in die moeilikheid is jy dat jy al die pad Indië toe gekom het?”

“Dis nie ek nie.” Ek skud my kop en voel hoe die pistool harder in my nek boor. “Dis Alex. Hy het verdwyn.”

Die pistool sak. Ek draai om.

Ranna lyk anders as wat ek haar onthou. Harder, die lyne van haar lyf sterker gedefinieer. Al die spiere in haar lyf wat sy gebruik om te beweeg – te hardloop – is meer uitgekerf as laas toe ek haar gesien het. Haar boarms, haar bobene onder die stywe jeans.

Meer nog, verlede jaar was sy desperaat om weg te kom. Om Alex se toekoms te red. Om seker te maak almal weet sý het Tom, haar stalker, doodgemaak en dat Alex geen aandeel daaraan gehad het nie. Die vrou wat nou voor my staan, is nie meer desperaat nie. Inteendeel, ek wonder of daar iets oor is van die mens vir wie Alex so lief was.

Is.

Die blou oë staar koud na my. Haar skouers is styf, gespanne, asof sy ’n ewigheid al watertrap net om bo te bly. Asof sy iets met moeite binne hou. Iets wat dreig om alles om haar te verteer, haarself inkluis.

Nee, wag. Dis nie spanning nie.

Ranna Abramson is kwaad. Baie kwaad. Die gemaklike, onweerstaanbare sensualiteit waarop ek so jaloers was, is afwesig. Weggepak.

Miskien was dit nutteloos om hiernatoe te kom.

Ek het nie veel van ’n keuse gehad nie, herinner ek myself.

“Gaan jy net daar staan of gaan jy my sê wat met Alex gebeur het?” vra sy uiteindelik, die pistool steeds op my gerig.

Ek laat sak my hande versigtig. “Hoe het jy geweet ek’s hier?”

Die Glock beweeg nie. “Amita.”

“En die man van die winkel dan? Ek dog hy het jou gebel en gewaarsku. Wie is Amita?”

“Die ou vrou. My buurvrou. Wie is die man van wie jy praat?”

“Pradeep & Sons.”

“Wie de hel …”

“Wag nou. Ons praat verby mekaar,” keer ek. “Die ou vrou – Amita – het gesê jy’s nie hier nie.”

“Dis wat ek haar gevra het om te sê as mense na my kom soek. Sy het my dadelik gebel.”

“Dis nice van haar.”

“Ek leer haar kleindogter foto’s neem.”

Ek sug amper van verligting. Dan is alles nie verlore nie. Iewers agter die dooie oë is darem nog iets oor van die vrou wat ander mense raaksien. Hulle vir ewig laat leef in kleur en swart-en-wit.

Ek wys na die pistool. “Bêre daardie ding. Dan kan ek dalk ont­span.”

Sy oorweeg my versoek, en laat uiteindelik die pistool sak. Haar vinger bly egter op die sneller. Meer nog, haar oë soek kort-kort na die deur agter haar, asof sy nog iemand verwag.

Die polisie?

“Ek het alleen gekom. Belowe.”

“Dis wat jy sê, maar jy’t nie ooghare vir my nie, reg van die begin af. Wie sê jy het nie die polisie saamgebring nie? Dan kan jy en Alex aankarring met wat ook al tussen julle aan die gang was.”

“Dis ’n jaar later. Dink jy nie hy het in elk geval aanbeweeg nie?”

Ek is spyt die oomblik toe ek dit gesê het. Dis nie die manier om haar terug te lok Suid-Afrika toe nie.

“Ek bedoel …”

“Moenie.” Haar skouers roer ongeërg, asof dit haar nie raak nie, maar ’n vlugtige, seer trek om haar mond verraai wat sy voel. Ek onthou dieselfde ding van die ou Ranna, die dag toe sy kom vra het vir ’n nuwe identiteit om mee te vlug. Die morsekode van emosies wat haar verklap, al probeer sy hoe hard om dit weg te steek.

“Okay,” gee ek toe. “Jy’s reg. Ek is nie mal oor jou nie.”

Sy beveilig die pistool en glip die wapen agter in haar jeans se band.

“Wat soek jy hier, Sarah? En moenie speletjies speel nie. Praat reguit. Jy’t vir Amita gesê my ma is siek, maar nou sê jy Alex het verdwyn. Wat gaan aan? Hoe het jy my opgespoor?”

“Dis nie jou ma nie, dis Alex. Ek het gedink mense sou meer gewillig wees om te help as ek van jou ma praat.”

“En hoe het jy geweet om Moembai toe te kom?”

“Jou kredietkaart. Iemand het iets by ’n winkel hier naby gekoop.” Dis duidelik nie Ranna wat by Pradeep & Sons was nie.

Ek is reg, die kredietkaart ís nuus vir haar. Sy draai om en loop yskas toe, voel daarin rond en haal ’n bruin beursie uit. Sy soek daardeur.

“Demmit. My kredietkaart is weg.”

Sy maak die beursie toe en gooi dit terug. Slaan die deur toe. Vee die dun lagie sweet van haar voorkop af.

“Dit moet Nikhil wees. Sy vriende is van die seuns in Pradeep & Sons.”

“Wie?”

“Amita se kleinseun. Hy en sy suster, Karishma, bly by haar. Nikhil is ’n bliksem. Hy hou niks van my nie. Sê ek sit allerhande snaakse goed in sy suster se kop.” Ranna lag, maar dis bitter. “Ek eet droë brood sodat niemand my kan kry nie, en dan steel die bliksem my kredietkaart. Ek kan dit nie glo nie.”

“Dis bad luck, ja. Ek’s bly, though, anders sou ek jou nooit opgespoor het nie. Jy was versigtig. Geen selfoonoproepe en geen rekeninge in jou naam nie. Geen payslips nie.” Ek dink vir ’n oomblik. “Hoe maak jy jou geld?” Ek wys na die woonstel. “Dis nie die Hilton nie, maar dis ’n dak oor jou kop.”

Dis duidelik sy wil nie daaroor praat nie. Haar skouers raak weer styf, haar kakebeen ’n strak lyn. Die lang swart krulle val oor haar gesig en bly daar.

“Okay, los dit.”

As sy nie wil sê nie, wil ek seker nie weet nie. En buitendien, dis nie hoekom ek hier is nie. Saam met wie sy slaap of wat sy verkoop om kos op die tafel te sit, het niks met my uit te waai nie.

Sy loop na die bed en lig die matras op. Steek haar hand in ’n holte onder die spons in, haal ’n klein rooi rugsak uit en begin ’n paar goed daarin gooi.

Sy kyk vir laas om haar rond en beduie ek moet by die deur uit. “Kom.”

“Waarheen?”

“Ek gaan my kredietkaart terugkry en dan gaan ons gesels.”

“Wat is fout met jou woonstel?”

“Ek kan nie terugkom hiernatoe nie. Jy weet waar hiér is. En as jy weet, beteken dit iemand anders weet dalk ook, en dis nie goed nie.”

“Jy vertrou my nie.”

“Nie vir ’n oomblik nie.”

Sy loop in die gang af en klop aan Amita se deur.

Ek gaan staan langs haar en probeer lyk asof ek daar hoort – asof ons ou vriende is – maar ’n prentjie steek in my kop vas. My pa is lief vir Laurel en Hardy, die onpaar komediante van die 1930’s; hy kyk nog gereeld na hulle op DVD. Ek kan nie help om te dink dat ons soos Laurel en Hardy lyk nie. Ranna is oor die ses voet lank en ek trek amper by haar skouers, selfs met my stewels aan.

Dis jammer ek kon nog nooit die kuns vervolmaak om op hoë hakke rond te trippel nie. Dalk sou my lewe baie anders gewees het as ek dit geleer het pleks van hoe rekenaars werk.

Ranna klop weer.

Uiteindelik gaan die deur oop. Amita se gesig sê wat ek nou net gedink het.

Ha-ha. Baie snaaks.

Dit pla Ranna min. “Hallo, Amita. Hoe gaan dit?”

“Goed.” Die ou vrou wys na my. “Sy’t jou gekry.” Sy klink effens verbaas, asof sy van die begin af geweet het ek is moeilikheid.

“Sy het,” antwoord Ranna. “Dankie vir die waarskuwing. Dit het baie gehelp.”

“Dis niks nie.” Die ou vrou vou haar hande oor haar groen sari, haar oë vraend.

“Amita, ek soek vir Nikhil.” Ranna glimlag vlugtig, maar dis yl en gedwonge. “Wanneer laas het jy hom gesien?”

“Hy was netnou nog hier. Hoekom soek jy hom?”

“Ek wil hom ’n guns vra.”

“Hy’s seker by Jagan se winkel.” Amita sug. “Maak nie saak hoeveel keer ek raas nie, hy gaan heeltyd soontoe. Ek wens hy wil universiteit toe gaan, of gaan werk. Iets met sy lewe maak. Hy’s so anders as Karishma.” Sy trek haar skouers vies op. “Wat moet hy vir jou doen?”

Ranna glimlag weer. “Ek gaan bietjie weg. Met vakansie, op na die berge toe. Saam met Petra.” Sy beduie met ’n duim in my rigting. “Ek wil hê hy moet my woonstel oppas, en ek weet Ka­rishma is besig.”

Amita skud haar kop. “Dit gaan jou baie geld kos. Hy doen niks verniet nie.”

“Dis okay, ek sal hom uitsorteer.” Ranna se oë word hard, maar steeds glimlag haar mond.

Ek voel amper lus om die ou vrou te waarsku, maar besluit daarteen.

As Amita weet Ranna se bedoelinge is nie eerbaar nie, wys sy dit nie. Sy knik beslis. “Ek wens jy wil. Wanneer jy hom kry, sê hy moet huis toe kom. Jagan is sleg vir hom.”

“Ek sal so maak.”

Ranna leun vorentoe en druk die ou vrou teen haar vas. Anders as met die glimlag bedoel sy dit. Ek waai halfhartig.

Net voor ons by die trappe afloop, draai Ranna terug na waar Amita ons steeds staan en dophou. “Sê totsiens vir Karishma.” Sy huiwer ’n oomblik, die emosie in haar woorde amper tasbaar. “Jammer ek verdwyn sonder om te groet.”

Skrapnel

Подняться наверх