Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 13
10. Doedelsak
ОглавлениеDie Viljoens is eerbare, gestrenge mense, in die oervorm dalk selfs bietjie humorloos, maar onder hulle is daar, soos seker in enige familie, ’n paar afwykings van die norm. So een is Boet Viljoen. Oom Boet vir die seuns.
Hy daag een laatmiddag onaangekondig by die voordeur op, koffertjie in die hand, ’n paar dae se stoppelbaard op die wange, van kop tot toon vaal van die stof. Sy broek het bakknieë en sy hemp toon tekens van vervloë maaltye. Sy baadjie kort ’n paar knope en ’n baie goeie droogskoonmaak.
Maar dis duidelik dat dié toevallighede hom nie juis pla nie, indien hy hoegenaamd daarvan bewus is dat hy dalk nie op sy heel beste vertoon nie. Hy laat val die koffertjie en betrek die seuns se ma in ’n hartlike, broederlike omhelsing. Voor sy kan koes, kry sy ’n klapsoen op die mond.
En hy praat soos ’n damwal wat breek.
“Liewe tyd, Lettie! Ná al die jare! Hoe goed is dit om jou te sien! Jy lyk nog net dieselfde! En is dit nou die drie seuns? Hel, maar hulle is groot knape! Ek dag nog hulle is babatjies! Wys jou net hoe mens kan kontak verloor met jou familie!”
As hy nader tree om die seuns te groet, retireer hulle so effens. Net ver genoeg om buite bereik te bly. Theunie se groot kykers wyk nie ’n oomblik van dié vreemde oom nie. Dapper, wat kom kyk het wat aangaan, se lyftaal is soortgelyk. Sy nekhare rys, maar hy blaf halfhartig, stert tussen die bene.
“Lenie,” sê die moeder van die huis.
“Hoe nou?” Boet bly ’n oomblik uit die veld geslaan stil.
“Dis my naam, Boet. Nie Lettie nie. Lénie.” Sy kyk hom verbasend skerp aan vir so ’n sagte mens. “Het jy jou varkies bymekaar, Boet?”
Hy antwoord nie. Soos ’n stout kind wat uitgevang is, skop-skop hy met ’n stowwerige skoen teen sy koffertjie en slaan heeltemal ’n ander koers in. Hoe gaan dit met … hm … jou man? Werk hy nog so hard? Het die kinders al … hm … hulle oupa ontmoet? Hy praat met onderbrekings, soos ’n radio wat nie heeltemal op stasie is nie.
Dan glip die regte frekwensie in plek. “Lenie, Lood, Dries, Karel, Theuns, Sarel, Fourie, Viljoen.” Hy glimlag tevrede. “Sien jy nou, ek wéét. Dis Lénie, Lenie!” Daar is soveel kinderlike trots in daardie glimlag dat sy haar argwaan onderdruk.
Dis dan hoe neef Boet sy intrek neem vir ’n besoek wat dalk langer voel as wat dit werklik duur. In elk geval te lank na Lood se smaak. Selfs ’n baie kort besoek sou vir hom te lank gevoel het. Hy het egter lankal teësinnig vrede gemaak met wat hy beskou as Lenie se knaende Viljoen-obsessie met familie.
Hy verduur die ongenooide kuiergas dus ter wille van sy vrou en Boet voel sy afkeer aan. Aan die ander kant is Boet trots op sy verbintenis met ’n belangrike man soos die dorp se posmeester. Hy reageer dus op een van twee maniere teenoor Lood – soos ’n hond wat flikflooi vir goedkeuring of koes vir ’n skop. Lood, wat nie juis oorloop van empatie vir sy medemens nie, maar darem ook geen gevoellose monster is nie, kan nie help om half geïrriteerd en half skuldig te voel as Boet so kruiperig raak in sy teenwoordigheid nie.
“My magtag, mens sal sweer ek wil hom te lyf gaan.”
“Hy is maar net sensitief, my man. Wees vriendelik met hom. Vra hom uit.”
“Dan raak hy orig. En ek stel regtig nie belang in sy stories nie!”
In sulke oomblikke voel Lenie dis beter om te swyg.
Sy het tog maar ’n sagte plekkie vir Boet. Haar oom Karools se enigste kind. Die arme ding. Moederloos grootgeword, want tant Martha, toe nie meer jonk nie, is tydens die bevalling oorlede. Die oubaas het seker sy bes gedoen, maar van die begin af was dit duidelik dat iets nie pluis is met klein Boet se bedrading nie. Sy onthou hoe die familie geskinder het toe hy die eerste keer wegloop van die huis. Hy was skaars twaalf.
Dit word toe die patroon van sy lewe: om te reis, van familielid tot familielid, van kennis tot kennis, tot sy verblyf te erg begin skaaf en hy deur nog ’n getreiterde gasheer die deur gewys word. Soms koop iemand vir hom ’n treinkaartjie tot by ’n volgende bestemming. Meeste van die tyd gooi hy duim. Van tyd tot tyd boek hy hom vrywillig in as gas van die Oranje Hospitaal, Bloemfontein.
Omdat Boet in sy hart nog soveel kind gebly het, vind hy gewoonlik gou genade in die jongspan se oë. Theunie kan Boet se stories nie weerstaan nie. En saam met hom kapituleer Dapper. As hy Boet sien, wikkel sy stert. Hy gaan lê by hom in sy kamer. Karel vind dat Boet net so opgewonde soos hy kan raak oor ’n potjie alies. Dries, wat met woede begin lees het, van Rooi Jan tot die Gevangene van Zenda, en ’n fase betree het waarin hy sy broers en hul portuurs as so bietjie onvolwasse sien, hou die langste uit en swig nooit heeltemal voor Boet se sjarme nie. Tog raak hy aan dié middeljarige seun geheg.
Lood neem dié dinge waar. Die kêrel is besig om so tuis te raak soos ’n koekoekkuiken in ’n vreemde nes, dink hy. Hy gedra hom kwansuis inkennig, maar wat na sy kant kom, gryp hy. Vir so ’n maer derm is sy eetlus skrikwekkend. Dit oortref selfs die seuns s’n! Nog iets waaroor hy wonder, is Boet se gewoonte om sy kos “so bietjie af te stap”. En daardie kuggie wat met hoesstroop gedokter word? Dit gee hom hond se gedagte.
’n Ironie wat Lood deeglik raaksien en eweneens vir homself hou, is dat oupa Sarel, aartstipe van ’n waardige oud-Boerekryger, se lewe op sy oudag ’n spieëlbeeld geword het van Boet se uitgebreide familiekuiers. Hy voorsien die dag dat albei gelyk by dieselfde adres hul opwagting gaan maak.
En hoewel hy nie verwag het dat dit so gou en juis by Arnotstraat sou gebeur nie, het die noodlot blykbaar ’n sin vir humor.
Op ’n dag lui die foon. Dis oupa Sarel. Hy praat met Lenie.
“Het julle vir my plek, my hartjie?”
“Natuurlik, Pappa, hoe kan Pappa nog vra? Wanneer het Pappa gedink …”
Lood hoor in die verbygaan die woord wanneer en vermoed waaroor dit gaan. Hy luister sardonies hoe sy vrou ’n bepaalde aspek vermy terwyl sy die reëlings vir sy skoonpa se kuier tref.
“Ja, toe,” sê hy toe sy aflui. “Wat sê hy toe hy hoor Boet kuier ook hier?”
“Aag, jy,” vermy sy ’n antwoord.
Daar is egter geen uitkoms nie. Die huis is net só groot. Lood en Lenie slaap in hul kamer. Karel en Theunie slaap in die seunskamer. Dries het pas besluit hy is groot genoeg om in die somer op die systoep te slaap. Dit laat die spaarkamer. Oupa Sarel sal met Boet moet deel.
Wanneer die oubaas die nuus verneem, sê hy net: “So.” Dit ontstel Lenie. Sy voel dit kan enigiets beteken. Die twee Viljoens groet mekaar egter soos dit familie betaam, hoewel nie ewe hartlik van beide kante nie. Oupa Sarel pak sy borsels, politoer en patente medisyne in die bedkassie, skuif sy kiaathoutkissie onder sy bed in en sprei sy jakkalsvelkarossie oor die voetenent.
In die dae wat volg, neem hy sy broerskind onder hande. Daar word soggens by die bed gekniel vir gebed en saans na die Oordenking geluister. Boet moet sy hande was voor ete en sy voete was voor hy in die bed klim. Hy moet tande borsel en sy toonnaels knip. Hy moet skoon onderklere aantrek. Hy moet sy bed opmaak. Hy moet help met die skottelgoed en werk in die groentetuin wat oupa Sarel onder die dam aanlê.
Die tye dat Boet sorgeloos die dorp kan indrentel en praatjies maak met wie ook al wil luister, raak gevolglik minder. Hy ontwikkel ’n refleks om skielik oor sy skouer te loer as hy stap. Daar is soms ’n gejaagde trek op sy gesig. Tog lyk hy beter as toe hy by Arnotstraat opgedaag het. Hy is nie meer so maer en verwaarloos nie. Danksy Lenie se vertroeteling vertoon hy goed gevoed en netjies geklee.
Dié gunstige indruk word versterk deur die bekendstelling wat hy met almal deel: “Aangenaam! Boet Viljoen. Ek is die posmeester se neef!” Dis wanneer hy begin gesels dat mense neig om dag te sê en aan te stap.
Dit kom oupa Sarel altans agter op sy eie wandelings deur die dorp, na die bank, die poskantoor, die apteek, die biblioteek. Hy gaan groet selfs die dominee, al is dié nie Gereformeerd nie.
As iemand hom pertinent vra, sê hy kortaf ja, Boet is sy broerskind. Hy lyk so onverbiddelik dat mense nie verder uitvra nie.
Hier en daar laat glip iemand egter iets. Stadigaan bou oupa Sarel ’n beeld op van Boet se modus operandi wanneer hy hom op so ’n vreemde dorp ingrawe. Kos en slaapplek is gewoonlik nie ’n probleem nie. Die Viljoens is immers ’n uitgebreide familie. Met verblyf gereël, soek hy gemoedelike geselskap. Hy vind blykbaar aanklank in die dorp se kroeg.
Geld het Boet bitter selde. Wat hy het, is ’n talent vir nabootsing en die tydsberekening van ’n hanswors. As sy geheue die slag inskop, is hy in staat om ’n vaste voorraad skurwe grappies met ’n dwase laggie oor te vertel. Dat hy skynbaar self nie heeltemal die ontknoping of die trefwoord verstaan nie, dra waarskynlik by tot die lagbuie wat sy repertoire tot gevolg het.
Maar sy ware wenner is ’n doedelsak-keurspel. Hy knyp sy neus toe, lig sy kop soos ’n kalkoen. Met sy vingers teen mekaar gevou, tik hy ritmies op sy strottehoof terwyl hy met deurdringende gekerm in ’n hoë klanksleutel die knaende geluide van ’n doedelsak naboots. Heel gou word deuntjies soos “My Bonnie Lies over the Ocean” uit volle bors saamgesing. As quid pro quo koop die manne vir hom die dop van sy keuse.
Een aand ná ete het Boet pas die voordeur agter hom toegetrek, of oupa Sarel reik na sy kierie. “Net ’n draai stap, liefie,” stel hy Lenie gerus. “Nee, niks verkeerd nie. Net so bietjie bene rek.”
Hy volg Boet op ’n afstand. Half verskuil op die Commercial Hotel se stoep staan hy na so ’n optrede en ’n paar encores en luister. Hy moet toegee, die skinderstories wat hy te hore gekom het, het substansie. Hierdie neef van hom het ’n bepaalde talent. Sy beloning ná die uitvoering word deur gelag en luide aansporing begelei.
“Gooi daar ’n dop vir ou doedels!”
“Wodka en Coke sal dit wees!”
“Hy’s nogal vrolik vir die posmeester se neef. Dié dink mos hy’s wie.”
Die rumoer bedaar as oupa Sarel met stroewe waardigheid die kroeg betree.
“O dôner. Hier kom kak,” sê een van die manne.
Boet staan asof daar ’n bliksemstraal deur die plafon neergeknal het. Oupa Sarel stap nader en vat hom ferm aan die elmboog. “Kom, Boet,” sê hy. “Tyd om te gaan.”
Hy wat pas die siel van die paartie was, se vuur is geblus. Hy groet nie. Hy kyk niemand in die oë nie. Sy skouers hang. Hy volg oupa Sarel so gedwee soos ’n donkie wat ’n swaar vrag dra. Maar by die deur steek hy skielik vas. Hy lig sy duim uitdagend en sê een woord.
“Tjorts!”
Dit breek die ys.
Terwyl hulle wegstap, dryf een of twee opmerkings op die nagluggie agter hulle aan.
“Arme versukkelde bliksem. Wou ook maar net bietjie sports maak.”
“Wie de hel was die ou suurpruim met die bokbaard?”