Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 16

13. Kwitansie

Оглавление

Twee stokers loseer by tant Kitta Louw. Sterk geboude kêrels met gespierde arms en harde hande. Dis wat die skopgraaf met die lang steel jou besorg as jy die lokomotief se vuurkas met steenkool gevoer moet hou. Hulle leer vir treindrywer.

Na ’n naweek op kursus in Kimberley spog albei met ’n tatoe. Basil van Wyk s’n wys soms ’n bietjie been onder sy kortmouhemp, maar as hy in sy frokkie op die voetplaat staan en stook, roer ’n wulpse verleidster haar borste deur die sweet en roet op sy biseps. Swys Grobler se onvoorsiene keuse was ’n skedel met vlerke bo die leuse Tempus fugit. Sy uitleg van die f-woord wissel.

Dries leer hulle ken deur tant Kitta se seun Pieta, saam met wie hy van kleintyd op skool is. Die leesgogga het die seuns min of meer dieselfde tyd gebyt. Pieta se oorlede pa het ’n belangstelling in die land se geskiedenis gehad. Stadigaan begin hulle proe aan sy klein versameling vertellings uit die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie van 1914. Nader aan hul onmiddellike verbeeldingswêreld is Cor Dirks se eerste Uile-boeke.

Die stokers is manne van die daad en nie groot lesers nie. Hulle sal liewer vry, rugby speel en bier drink. Of so sê Swys, op ’n manier wat jou laat wonder of hy spog of spot. Tog word lees ’n raakpunt met die seuns, wat ontdek dat Basil klassieke comics versamel. Dit sluit van Superman, Batman, Wonder Woman en Captain America tot by Mickey Mouse, Donald Duck en Dagwood en Blondie in. Selfs cowboy-comics oor Roy Rogers en oerwoud-comics oor Tarzan die Aapman.

Die seuns sien dadelik die voordele van ’n uitruilskema in. Swys het ’n hele paar van Braam le Roux se boeke oor die Swart Luiperd en die swerwer-speurder Obed de Swardt. En van cowboys gepraat …

“Julle het seker daardie fliek Shane gesien? Met Alan Ladd?”

“Ja, jis, dit was ’n lekker fliek.”

“Daardie stalletjies op Kimberley se markplein. Mense verkoop die grootste stront. Laas sien ek by een ’n boek met die naam Shane. Die fliek se storie, in Afrikaans.”

“Sowaar! Het jy hom gekoop?”

“Nee.”

Dries swyg verbyster. Hy doen later navraag by die dorpsbiblioteek. Dis sy kennismaking met die Libri-reeks, boeke van oor die wêreld in Afrikaans vertaal. Shane is geskryf deur ’n Amerikaner met die naam Jack Schaefer.

Op die rakke is ook boeke soos Daniel Defoe se Robinson Crusoe, Die swart tulp van Alexandre Dumas en Lewis Wallace se Ben-Hur. Na Die avonture van Tom Sawyer deur Mark Twain is Topsy Smith se Trompie-boeke en Theunis Krogh se Keurboslaan-reeks nie meer heeltemal dieselfde nie, maar Karl Kielblock se historiese romans, soos Jasper le Feuvre en Guillam Woudberg, bly gunstelinge. Ook sy speurverhale oor sersant Frans Lindenhof.

Geld is nie te volop vir beginners op die voetplaat nie, en die twee jong mans het tussen die twee van hulle nog nie ’n motor in sig nie. Intussen pendel hulle met hul dikwielfietse van die dorp na die lokomotiefloods. Dunwielfietse aard nie op ’n dorp sonder teerpaaie nie. Eintlik ’n luukse, die fietse. Mens kan in minder as ’n halfuur tot by die loods stap. As jy wikkel, sal dit jou waarskynlik nie eens twintig minute vat nie. Dis wel bult-op, maar ná werk is dit weer bult-af. Maar dis darem lekker met die fiets. Jy kan ook af tye bietjie rondry en gaan kuier.

Hul skofte verskil, maar oorvleuel soms vir herstelwerk of algemene instandhouding. Die trein vertrek ses dae van die week om kwart oor sewe die oggend, maar ’n stoker moet reeds van die vroeë oggendure by die loods wees.

“Om seker te maak daar is genoeg stoom in die boiler,” verduidelik Swys.

Daar vind klaarblyklik by die loods geheimenisse plaas wat die seuns se nuuskierigheid tempteer. Basil sê reguit hy sien nie kans om ’n paar laaities by die loods in te smokkel nie. Hulle sal net in die pad wees. Dis buitendien teen Spoorwegregulasies. “Die Railways is fokken streng oor sulke goed.”

Daarna spits hulle hul berekende pleidooie op die meer toeskietlike Swys toe. Hy swig, maar stel twee voorwaardes. Die eerste, hy wil eers die treindrywer, oom Nols Human, daaroor pols. Hy glo darem nie dit sal ’n probleem wees nie. Hy hou mos toesig. Die tweede, hul ouers moet instem.

Dries sien swarigheid. Sy ma kan nog gaan, maar sy pa het ’n manier om jou reg in die oë te kyk. Dan kom die vrae. Hierdie kêrel, die stoker? Watsenaam, Swys? Van waar ken jy hom? Dis mos nie julle portuur nie? Wat wil julle daardie tyd van die nag daar loop doen? Moeilik om te verduidelik, want sy pa het blykbaar nie ’n aanvoeling vir avonture nie.

Pieta praat met sý ma. Gee kans, sê sy. Die middag roep sy Swys eenkant toe. Hulle hoor nie wat sy sê nie, maar wel hier en daar Swys se antwoorde. “Natuurlik, tant Kitta … Moet jou nie bekommer nie … Gots, tant Kitta, hoe ken jy my? Ek weet mos dis jong kinders …”

Na dié onderonsie lyk hy taamlik dikbek. “Donnerse oumense,” sê hy nors. “Maak van alles ’n kwessie.” Die seuns hou asem op. Maar die reëlings gaan voort. Dries sal Vrydagaand by Pieta oornag sodat hulle vroeg die oggend in die pad kan val. Hy moet nou net die saak met sy ouers uitklaar.

Dries besluit om komplikasies te vermy. Dis ’n beginsel waarmee hy al hoe beter vertroud raak. Sê niks, dan is daar niks. As hy mooi daaroor nadink, is dit nie eens ’n oortreding van die Negende Gebod nie. Stilbly is mos nie positief lieg nie. Tegnies is dit nie eens ’n witleuen nie. Dis eintlik presies niks nie.

Vieruur die oggend is dit nog donker. Dis somer, maar die uur voor die son opkom, daal die temperatuur. Dis nie koud nie, net ’n bietjie rillerig. Dit gaan ’n warm dag word. Die seuns stap vinnig. Hul voetstappe klink hard in die stilte. Die dorp lyk vreemd in hierdie vroeë uur. Dis of die donker huise vir iets wag. Hier en daar gooi straatlampe flou tregters lig op die pad. Dan flikker die gloeilampe en verdoof. Iemand by die kragstasie het besluit die nag gaan verby. Stadigaan neem bome langs die strate vorm aan. Daar is al hier en daar ’n venster wat lig agter toegetrekte gordyne vertoon.

Hulle het al ’n entjie lank ’n nare snuf in die neus, maar nou verg dit hul volle aandag. Dis ’n stank wat jou laat duisel. Om die draai haal hulle twee moedige donkies in wat ’n waentjie trek. Op die bankie hou ’n man geklee in ’n verbleikte munisipale oorpak die leisels. Hy moedig die donkies sonder nadruk met ’n klik van die tong en vertoon van sy kort swepie aan. Langs die waentjie stap twee mans in soortgelyke oorpakke.

Hulle groet. “Môre, my basies.”

Die waentjie is vol emmers gelaai. Die emmers is sonder deksels. Van die inhoud het so bietjie op die bodem van die waentjie gemors.

“Die kakwa,” sê Pieta vies. Hulle mik haastig aan die oorkant van die straat verby en draf ’n entjie om die waentjie en sy aura agter te laat.

Naby die stasie vertak die treinspoor. Die parallelle ysterbane van die syspoor blink in die vroeë lig en verdwyn om ’n draai tussen die swarthaak en soetdorings. Pieta haal met seremonie ’n pennie uit sy sak. Daar is ’n seilskip op die stertkant en ’n vrou se gesig op die kopkant.

“Die koningin van Engeland.”

“Ek weet. Sy’s mos Elizabeth, eintlik ons koningin ook.”

“Ha! Wat weet sy van ons? Ek wed jou sy kan nie ’n woord Afrikaans praat nie.”

“Daar staan darem Suid-Afrika by die seilskip. Langs South Africa.”

“Dalk leer sy darem.”

Pieta sit die pennie met die kopkant na bo op een van die spore. Dan loop hulle verder, al langs die spoorlyn weg van die dorp. Hulle kyk wie hom die langste ent op een van die bane kan balanseer. Na die oostekant raak ’n ligrooi skynsel deur die donker takke van die doringbome sigbaar.

Die trein na Belmont was toe nog ’n belangrike skakel tussen Koukonap en die res van die wêreld. Deesdae groei die kakiebos tussen die dwarslêers op die spoorlyn. Vir Dries sou daardie besoek aan die halfdonker loods in die veld en die groot swart stoomlokomotief egter gehul bly in ’n atmosfeer van opwindende, onweerstaanbare geheimsinnigheid.

“Dié staatmaker kom nog uit die tyd van die ou Kaapse Spoorweë,” het Swys met trots vertel. “Hulle ou Karoo-klas. Hy’s net so bietjie opgefieks en geherklassifiseer. Tipe 5A, konfigurasie 2-6-2. Dit vertel jou van die asse en die wiele. Een as voor, dit gee jou twee wiele. Een wiel aan elke kant, natuurlik. Jy kan sien dis kleiner wiele.”

“Hoekom is dit?” vra Pieta.

“Hulle is daar vir stabiliteit.”

“En die grotes hier in die middel?” Pieta, wat bietjie van ’n buksie is, se kop is net-net hoër as dié knewels.

“Ses wiele op drie asse. Kyk hoe is die wiele met dryfarms gekoppel. Sien julle?”

Dis soos ’n inlywing in ’n geheime kennisveld waartoe geen ander seuns toegang het nie. Die twee bevoorregte knape knik aandagtig.

“Dis die wiele wat die trekwerk doen. Agter hulle dan weer een as met twee kleiner wiele, om hom stewig op die spoor te hou. Gee jou altesame twee plus ses plus nog twee wiele.”

Hulle stap in stadige bewondering om die ou ysterknewel, in die seuns se oë die toonbeeld van ontsagwekkende, brute krag.

“Oppas net. Versigtig daar, Moloi.” Een van sy handlangers is besig om die wiele en asse met ’n sterk straal stoom skoon te spuit.

Moloi draai die spuit met ’n glimlag versigtig eenkant toe. “Kom maar verby, kleinbasies.”

Swys begelei hulle deur die wonderlike werkings van stoomaandrywing. Hulle klim saam met hom in die kajuit, waar hy stange en wieletjies en blink koperpype openbaar, die drukmeter, die veiligheidsklep, tot die stoomfluit se trekarm. “Maar ons gaan hom nie nou trek nie, oom Nols slaap dalk nog!”

Binne die lokomotief se neus is die stoomketel. Die boiler, noem Swys dit. Die hitte in die vuurkas verhit die water in die ketel. Dit maak stoom en stoom word afgevoer na die silinders en die silinders dryf die wiele. Plek-plek raak Swys nogal tegnies. Hy vertel van die pype wat hitte deur die ketel gelei en van die vloei van oorskietstoom na die rookkas voor in die neus van die lokomotief.

“Dit versterk die trek van lug oor die kole.”

Al raak dit vir die seuns effe Grieks, knik hulle begrypend. Swys kom agter hy moet bietjie stadiger. “Dit werk soos ’n kaggel se skoorsteen. Dis hoekom ou Makadas ook ’n skoorsteen het.”

Met een van die stange teen die paneel skuif hy twee swaar ysterdeurtjies oop. Die seuns knip hul oë en deins onwillekeurig ’n treetjie agteruit. Dis of die hitte wat uit die vuurkas kom, in staat is om die vel van hul gesigte te stroop. Swys lag. “Jy raak daaraan gewoond. Kom ons kyk bietjie of julle die skopgraaf kan hanteer.”

Hy hou gemoedelik toesig oor hul pogings om ’n paar skeppe steenkool uit die koletrok te lig en in die gloeiende, bewende, geelwit hitte van die vuurkas te voer. “Ditsem,” prys hy. “Daarmee sal hy sommer hol dat hy bars.”

Hulle bekyk en betas sowat alles wat te bekyk en te betas is in en om die loods, die lokomotief self, die koletrok, die groot watertenk op sy staalstellasie, die slakhoop, soos Swys die uitgebrande steenkool noem wat nog ’n handlanger, Silas, blykbaar vrag vir vrag met ’n kruiwa in die veld laat verrys.

“Versigtig tog vir lewende kole, my outa,” maan Swys, klaarblyklik vir die soveelste keer. “Ons wil nie hier ’n veldbrand aan die gang sit nie.”

“Nee, ek maak seker, baas Swys,” antwoord Silas geduldig.

Die seuns aanvaar dat daar ook in die wêreld van stoomvervoer ’n vaste hiërargie bestaan: handlanger, stoker, treindrywer, stasiemeester. Verder as dit is hoër matesis. Wanneer oom Nols Human teen sesuur se kant by die loods aankom, tref hy twee diep gelukkige, van kop tot tone met steenkoolstof besmeerde seuns aan.

“Genade, Pieta,” lag hy. “Tant Kitta kry sweerlik ’n oorval as sy daardie hemp sien.” Hy groet Dries met ’n hand so hard soos yster. “Jou pa gister by die poskantoor gesien.” Hy glimlag vriendelik, maar sy woorde val soos lood in Dries se gemoed. “Hom gesê ons sal mooi na jou kyk.”

Wat die suiwer hoogtepunt van hul besoek moes wees – die triomfantlike fluit van die lokomotief en die rit in die kajuit saam met oom Nols en Swys van die loods tot by die stasie om die trokke te gaan haak vir die daaglikse tog na Belmont – raak vir Dries ’n rit van bekommernis eerder as vreugde.

Nadat hulle dankie gesê en gegroet en vir oulaas die lokomotief bewonder het, mik elke seun na sy eie huis toe. “Kom ons gaan kry net eers die pennie,” sê Pieta. “Ou Liesbet is seker poegaai getrap.”

Die pennie het dalk effens op die spoor geskuif, want die netjiese profiel van die koningin is deels ongeskonde en deels verwronge. Die seuns kyk met agting na die omvormde metaal. Die gewig wat dít kan doen, moet enorm wees.

“Kyk net hoe lyk haar wang en oor,” sê Pieta. “Skoon skeef.”

Dries het sy geesdrif vir die eksperiment verloor. Die geskende gelaat van Elizabeth II Regina herinner hom opeens aan Naomi Davel se gesiggie die dag toe die lorriewiel op haar geval het. Hy hou weer haar lyfie met ’n magtelose gevoel van innige spyt in sy arms.

Lood Fourie se instrument van bestraffing was bekend as Die Plak, ’n strook dik gebreide leer aan ’n houthandvatsel. Veel van ’n marteling het dit waarskynlik nie veroorsaak nie, maar dit het ’n oortuigende plofgeluid op die oortreder se sitvlak gemaak. Die norm was drie tot ses “van die beste”, afhangende van die graad van die oortreding. Die sielkunde gesetel in die oordeelswoorde het daarby ’n verdoemende rol gespeel: “Nou maar reg, gaan wag solank vir my in die buitekamer.”

Nadat hy Pieta gegroet het, rek Dries die pad huis toe so lank as moontlik. Hy het tyd nodig om te dink. Watter soort verwelkoming wag op hom? Hoe moet hy die saak aanroer? Dalk maak of niks gebeur het nie en wag dat sy pa of ma die eerste skuif maak? As jy mooi daaroor dink, wat het hy nou eintlik gedoen, wat het nou eintlik gebeur?

Die gevolg is dat hy sy ma se vraag of hy sy kuier by Pieta geniet het, verwelkom.

“Ons het saam met Swys by die lokomotiefloods ’n draai gemaak.” Hy wag vir die reaksie.

“Dit was seker interessant.” Sy ma klink rustig, asof dit ’n alledaagse uitstappie was. Sy pa kyk net na hom en sê nie ’n woord nie.

“Dis hoekom my klere so vuil is. Jammer, Ma.”

“Toe maar, Ênie sal dit wel skoonkry.”

Geen verwyt nie, geen sprake van Die Plak nie. Dries wil so half die gevoel kry dat hy besig is om met iets weg te kom. Dan besef hy dat hy ’n berisping sou verkies het. Die fout was nie om die loods te besoek nie. Dit was tog eintlik niks. Die oortreding was teenoor homself. Hy gaan na sy pa toe.

“Ek moes Pa vertel het van ons planne.”

“So leer mens.”

Dries voel hy kry amper trane in sy oë, so lief het hy sy pa op daardie oomblik. Hy neem hom voor om nooit weer lafhartig te wees nie.

’n Paar maande later koop Swys vir homself ’n tweedehandse motorfiets. “’n Regte klein piskriek,” noem hy dit, maar hy is duidelik trots op sy nuwe vervoermiddel. Hy bied sy trapfiets vir Dries te koop aan. “Tyd dat jy jou eie fiets kry,” por hy hom aan. “Praat bietjie met jou pa.”

Dries skilder die fiets se deugde in gloeiende taal. “Dis ’n groen dikwiel, ’n Raleigh. Dis een van die beste make. Hy het ’n lig en ’n klokkie en ’n pomp. Swys sê hy’t nuwe tjoeps en bande.”

Lood luister geamuseerd na sy seun. Dit ís seker tyd dat hy ’n fiets kry.

“Kan jy darem al fietsry?”

“Nie baie goed nie,” sê Dries verleë. “Ek staan maar op die trap, dan kan ek balanseer. Maar ek sal gou leer as ek my eie fiets het.” Amper voer hy sy eerlikheid te ver. “Mens wil nie met iemand anders se fiets val nie.”

“Jy kan mos nie ’n fiets kry om mee te val nie?” terg sy pa. Dan gee hy skiet. “Wat wil hy hê vir die ding?”

“Drie pond, Pa.”

Lood wil die fiets inspekteer. Een middag na werk bring Dries die fiets huis toe. Hy waag nog nie om sy been oor die saal te gooi nie. Die fiets is nog nie syne nie. Lood skryf ’n kwitansie uit vir twee pond sewentien sjielings en ses pennies en tel die geld in Dries se hand uit.

“Sê vir hom dis al wat jy het, en laat hom die kwitansie teken.”

“Ja, Pa. Dankie, Pa.” Maar hy voel mismoedig. Die afslagprys kan hy nog verstaan, al wil hy nie eintlik nie. Swys kan ja sê of hy kan nee sê. Daardie kwitansie druk egter op sy gemoed.

Dis mos Swys. Dis mos nie ’n vreemdeling nie. Hoe kan hy so ’n stuk papier voor Swys neersit en vra dat hy teken? Dit voel nie reg nie. Sy pa se wetsgeleerde woorde klink vir hom onbeskof, amper beledigend.

Hiermee verklaar ek Francois Grobler dat ek die wettige opbetaalde eienaar is van Raleigh fiets reeksnommer RX7963 wat ek aan Dries Fourie verkoop vir die volle koopsom van £2/17/6 (twee pond sewentien sjielings en ses pennies), welke bedrag ek in kontant ontvang het op …

Swys kyk inderdaad met verwyt na Dries. “Watse kak is dié? Is dit nou hoe vriende maak? Lyk my jy vertrou my nie?”

Die woorde huiwer op Dries se lippe – “Dis nie ek nie, dis my pa” – voor hy hom bedink. Dit sou lafhartig wees. Wie wil die fiets hê? Hy, Dries Fourie. Sy pa skiet die geld voor, op sekere voorwaardes. As jy daardie voorwaardes aanvaar, is die verantwoordelikheid joune.

“Ek vertrou jou, Swys. Dit maak maar net die ding amptelik.”

“Die geld is hoeka te min.”

As jy nie ’n antwoord het nie, bly stil.

Die kontant lê ewe swygsaam op die tafel tussen hulle.

“Wat de hel,” sê Swys. Hy tel die geld op en teken die kwitansie, wat hy vies na Dries toe gooi. Dit fladder grond toe. Dries tel dit op, vou dit toe en steek dit versigtig in sy hempsak. In sy verbeelding het hy gesien hoe hy sy eerste transaksie met ’n stewige handdruk beklink. Swys lyk egter nie in die luim vir bladskud nie.

“Nou maar reg,” sê Dries na ’n rukkie.

Die fiets staan op tant Kitta se agterstoep vir hom en wag. Ja, alles is daar, die lig, die pomp, die klokkie.

Op pad huis toe waag hy dit wel om sy been oor die saal te gooi. Dan verloor hy sy balans. Die fiets maak ’n paar wilde esse oor die pad voor hy neerslaan. Maar dit maak nie saak nie. Dit sal regkom. Hy het sy man gestaan.

Koukonap

Подняться наверх