Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 4
1. Xilofoon
ОглавлениеDie Fouries reis per trein van Ficksburg in die Oos-Vrystaat na Koukonap in die Noord-Kaap. Al die reëlings vir hul verhuising is afgehandel; hul trek is reeds met ’n meubelwa op pad. Dit laat hulle anderhalf dag met nie veel meer om te doen nie as om te kyk hoe die veld by hul kompartement se vensters verbyskuif en stadig maar seker verander.
Wat Lood betref, nie ten goede nie.
Teen die tyd dat hulle Kimberley agterlaat, is daar van die milde Oos-Vrystaatse landskap – sy koringlande en kersieboorde, vuurhoutjiepopuliere soos fakkels langs die paaie, goue sandsteenkranse en blou berge tot in die verskiet – geen sprake meer nie.
Die Noord-Kaap bestaan blykbaar uit doringbome, klipkoppies en vaal vlaktes met dwarrelwindjies en lugspieëlings.
“En nog doringbome,” sê Lood.
Van Belmont af ervaar hulle ’n hitte wat hulle nie ken nie. Die kompartement is ’n bakoond en die droë wind deur die oop vensters bring geen lafenis nie.
Lenie verset haar teen hul groeiende beklemming. “Vir my is die doringbome tog ook mooi. Kyk net al die verskillende silhoeëtte. En wat van die aalwyne daar teen die koppie? Is dit nie vir jou ook mooi nie, Lood? … Lood?”
“Baaaie mooi,” sê Lood. Wat sou hom besiel het om ’n verplasing na hierdie barre baster-Kalahari te aanvaar?
Van sulke bedenkings was klein Dries Fourie salig onbewus. Vir hom was die ganse reis een lang avontuur vol nuwe indrukke en ervarings.
Dit het al op Ficksburg begin, toe die treklorrie voor hul huis stilhou. ’n Groot gevaarte met twee stelle dubbelwiele agter! Sy heel eerste nag in ’n hotel, waar mens ná ete nie eens jou eie bord agtertoe hoef te neem nie! En die volgende oggend, terwyl die son vat-vat aan die Imperani se kranse, die lokomotief wat stadig ingestoom kom, die bolle wit rook wat uit sy skoorsteen borrel, die hele string trokke wat hy so sonder moeite agter hom aansleep.
Sy pa gesels met die kondukteur, wat sê: “Moet jou nie bekommer nie, meneer Fourie, ek gee vir julle ’n lekker kompartement. So bietjie weg van die lokomotief, dat die roet en stukkies as julle nie pla nie.”
“Nie daar agter naby die derdeklas-waens nie.”
Waar die perron ophou, wag daar ’n klein skare Basoeto’s met komberse en bondels bagasie ook op die kondukteur se instruksies.
“Nooit, meneer Fourie, net die beste vir julle! Die trok net voor die eetsalon.”
En hy steek iets wat Dries se pa in sy hand stop, stilletjies in sy broeksak.
So ’n kompartement verdien behoorlike inspeksie. Kapstokke en houtrakke en sitbanke van gladde groen leer. Banke wat kan afslaan om beddens te vorm. ’n Tafeltjie in die middel met ’n opslaanklap waaronder ’n blink metaal-wasbak met sy eie blink kraantjie verskuil is. Vensters met blindings én hortjies wat kan op- en afskuif. Foto’s van rooibokke en leeus in die Krugerwildtuin bokant die sitbanke teen die mure.
“Deps ek slaap bo vanaand,” sê Dries. En daardie aand kon hy nie wag dat die kelner hul rolle SAS-beddegoed met die donkerblou komberse en spierwit lakens daarbinne kom aflewer en Lenie syne op een van die boonste banke ooprol nie.
Intussen was daar ’n hele dag se ontdekkings om te maak. In die hoek van die gangetjie voor hul kompartement is daar ’n toilet ingedruk. Jy kan nie sommer net die deur oopstoot en ingaan nie. Op die deur is daar ’n gleufie waarin VAKANT op groen of BESET op rooi geskryf staan. As daar BESET staan, moet jy maar knyp, al voel dit vir jou jy piepie in jou broek.
Binne is amper nie plek om jou staan te kry teen die swaaibewegings van die trein en behoorlik te mik om nie die vloer nat te spat nie. Of jy sukkel om jou sit te kry met jou voete wat net-net nie aan die grond raak nie. As jy opstaan om die ketting te trek, vloei daar water teen die kante van die toiletbak af en onder sak daar ’n klap weg en vir ’n oomblik sien jy deur die gat die spoor se dwarslêers sjoep-sjoep-sjoep verbyglip.
Daar is allerhande reëls op ’n trein. Jy hardloop nie heen en weer in die gangetjie nie. Jy staan nie by vreemdes se kompartemente en ginnegaap nie. Jy hang nie by ’n oop venster uit nie. Jy vryf nie jou oog as daar ’n stukkie koolstof inwaai nie, jy spoel hom by die wasbak uit, al voel dit vreemd om jou oë in die water oop te hou en te knip. Jy klim nie op die handrelings by die oop bruggie waar die een trok aan die ander koppel nie en jy pas op dat jou toon nie vasgevang raak tussen die bewegende voetplate nie.
Een van die lekker dinge op ’n trein is die padkos. Lenie het toebroodjies, hardgekookte eiers en frikkadelle by die hotel se kombuis bestel en gesorg vir ’n perskerol, gekerfde biltong en ’n groot kardoes van Ficksburg se lekker rooi kersies. Padkos hou egter nie vir ewig nie. Lood het vir die vroegaandsessie plek in die eetsalon bespreek. Wanneer die kombuis gereed is, loop een van die kelners met sy netjiese onderbaadjie op en af in die gange en tik met ’n hamertjie ’n deuntjie op wat Lood ’n xilofoon noem.
Pieng-pieng-pong-piengeling-pieng-pong. ’n Vrolike deuntjie wat Dries altyd met hul reis na Koukonap sou assosieer.
In die eetsalon is die tafeltjies nes in die hotel met swaar silwereetgerei op gestyfde linne gedek en ’n mens moet kophou om die regte messe en vurke vir die regte disse te gebruik. Vir Dries maak als nie mooi sin nie. Hoekom so baie? Hoekom moet ’n vismes so stomp wees? Hoekom mag jy nie jou brood daarmee smeer nie, dit lyk dan soos ’n bottermes? Maar dis nog erger as dit! Jy mag selfs nie met ’n bottermes jou brood smeer nie! En hoekom moet mens jou vurk met sy rugkant na bo hou? Hoekom moet mens kos met jou dom hand na jou mond bring?
“Dis maar net goeie maniere,” sê Lenie.
“O,” sê Dries. Dit help nie veel nie, die ertjies bly hom baas. As jy hulle nie omtrent een vir een deurboor nie, bly hulle afrol van die vurk. Tensy jy dit vaspleister met pampoen.
“Ons het dié manier van eet maar by die Engelse geleer,” sê Lood. “Dit kon erger gewees het. Die Chinese eet met twee stokkies.” Hy beduie hoe die stokkies met een hand vasgeknyp word.
“Hulle eet seker nooit ertjies nie!”
“Met daardie stokkies se punte kan hulle tot ’n ryskorreltjie optel.”
Dries besluit hy sal dan maar liewer aansukkel met die Engelse manier. Maar dis anderdag se kwelling, want die Fouries bereik konsensus dat ’n mens maar jou vurk mag omdraai, mits jy met ’n toe mond kou.
“Dis hoe die Amerikaners dit doen,” sê Lood. “As hulle hul kos gesny het, skep hulle dit met die vurk in die regterhand.”
“Solank ’n mens onthou wat goeie maniere is,” sê Lenie.
“Ek weet,” sê Dries. “Jy lê nie met jou elmboë op die tafel nie.”
“Dis reg.”
“Want net varke lê en vreet,” sê Dries.
“Dis waar,” sê Lenie. “Maar vergeet nou maar van die varke.”
Slaap op die trein is ’n groot lekkerte. As jy jou na ’n bedrywige dag vroegaand op die boonste bank tuismaak, kan jy nog ’n ruk met jou ken op jou kussing lê en kyk hoe die wêreld verbydryf in die skemerte. Lank voor jou ma die hortjies digtrek, het die ke-klikke-klak, ke-klikke-klak van die trein se wiele op die spore jou aan die slaap gesus.
Miskien sal jy in die middel van die nag wakker word met lig wat strepies deur die hortjies skyn en die gedempte geluid van stemme daarbuite.
“Wat is dit nou?” vra Dries deur die slaap.
“Toe maar,” antwoord Lood saggies. “Ons staan ’n rukkie by die stasie. Slaap maar weer. Die trein sal nou weer ry.”
Dit is ook so. Jy voel amper nie die ligte ruk as die trein begin beweeg nie. Stadig tel die ke-klikke-klak weer spoed op, maar Dries is al weer diep in droomland.
Vir hom vlieg die dae verby. By haltes, waar mense op- of afklim en paraffiendromme, bale droë velle, roomkanne of sakke koring by die goederewa op- of afgelaai word, staan hy elke beweging op die balkonnetjie aan die einde van hul wa en waarneem.
Naderhand waag hy dit om met die trappie af te klim tot op die grond, want by kleiner haltes is daar nie altyd ’n perron nie. Hy buk om die blinkgetrapte spore van naby te bekyk. Volgens sy skatting is hy darem ’n kop hoër as die wiele.
“Haai jy! Wat maak jy daar?”
Dries trap agteruit soos hy skrik. Amper haak sy voet vas. Dis ’n oom in ’n flenter-oorpak wat langs die trein aangestap kom. Sy stewels knars op die gruis. Onder sy pet wys wit kroesies om sy ore dat hy nie meer vandag se kind is nie.
“Niks nie, oom. Ek kyk net.”
Die man beduie met die hamer in sy hand.
“Jy moet oppas daar by die wiele, hoor jy my? Sê nou die trein gee ’n ruk, waar is jy dan?”
Hy haal nie die sigaret uit sy mond as hy praat nie. Hy draai net sy kop effens skeef en trek sy oë op skrefies. By elke wiel buk hy en gee hom ’n raps met die hamer. Hy luister elke keer aandagtig. Party wiele kry ’n tweede raps voor hy tevrede knik.
Dries is oor sy skrik. “Hoekom doen oom dit?”
“Dis mos my werk. Ek is ’n wielklopper.” Hy trap sy stompie dood en voel in sy sakke tot hy êrens nog een kry om aan te steek. Hy trek diep en blaas die rook in twee vaalblou stroompies by sy neusgate uit. “Van treine se wiele kan jy my niks vertel nie.”
Dries kan heeldag aanhou vrae vra.
“Wat luister oom?”
“Kom luister jý bietjie, duusmannetjie.” Hy tik die wiel en kyk vir Dries. “Hoe klink dié een vir jou?”
“Dit klink so … piengkk!”
“Klink dit mooi?”
“Nogal baie mooi.”
“Dis hoe ’n gesonde wiel moet klink. So ’n sing-klank. As hy dof klink, moet jy weet dis ’n wiel met ’n kraak. Al kan jou oog dit nie sien nie, is daar fout. Hoor jy my?”
“Ja, oom. En dan?”
“Ai, maar die duusklong het baie vrae. Wat is jou naam, duuskêreltjie?”
“My naam is Dries.”
“En my naam is Appie. Dis kort vir Apolis, al sê party mense Apools. En is jy alleen op die trein, Driesmannetjie?”
“Nee, oom, ek is saam met my ma en my pa.”
“Nou jy sien, dis hoekom ou Appie die wiele toets, dat duusmense soos julle veilig kan ry op die trein. Want sê nou maar ’n wiel breek? Dag of nag, maak nie saak nie. Dan is dit met permissie gesê ’n helske smesj.”
Dis woorde wat Dries in sy hart gebêre het.
Sy ma wou weet wat hy met die toebroodjies wil doen. “Jy kan tog nie nog honger wees nie, Dries?”
“Nee, Ma, dis vir oom Appie. Hy is ’n wielklopper.”
“’n Wielklopper?”
“Om te keer dat daar nie ’n helske smesj kom as ons slaap nie.”