Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 19

16. White Christmas

Оглавление

Ênie Malmok se derde kleintjie, weer ’n seun, word Oukersaand gebore. Die trotse vader, Japie Tarentaal, bring die nuus. Die kleinding sal Krismis gedoop word.

Lenie maak ’n mandjie op van ’n paar goedjies wat nuttig mag wees. Van die seuns se ou babaklere wat sy veilig in motgif gebêre het, poeiermelk, mieliemeel, suiker, boeliebief, ’n paar pakkies lemon creams, ’n groot blik gouestroop en ’n Kerskaartjie met ’n illustrasie van die toneeltjie om die krip in Betlehem.

Hoe nou gemaak om die mandjie daar te kry? Breipaal is te ver om voet te slaan en dis in elk geval nie aangewese om dit vrou-alleen in die lokasie te waag nie. Lood is steeds karloos en uit beginsel onbeskikbaar vir dié uitstappie. Hy bied twee oplossings aan die hand. Wag tot Ênie weer kom werk, of gee die mandjie vir Japie Tarentaal om af te lewer.

Nie een van die twee voorstelle vind genade in Lenie se oë nie. Ondanks haar sagte hart het sy ’n streep Viljoen-koppigheid in haar. Waar dié twee eienskappe mekaar ondersteun, raak sy steeks. Die knaende oortuiging het haar beet dat dit onbybels sou wees om nie persoonlik haar geskenk te oorhandig nie.

“Hoekom nou?” vra Lood. “Hoekom nie toe watsenaam, die vorige een, opgedaag het nie?”

“Jy bedoel Foroklok.”

“Dis hom.”

“Maar hierdie is ’n Kersbaba, Lood. Laat dit jou nie dink aan tweeduisend jaar gelede nie?”

“Stadig, Leentjie. Dié klein hotnotjie is nie die Liewe Jesus nie.”

“Skaam jou, Lood.”

Lood skaam hom nie. Hy sien homself nie in die rol van een van die wyse manne uit die Ooste nie. Hy is egter wys genoeg om te weet wanneer om Lenie haar gang te laat gaan. So kom dit dat Dries sy ma op haar sending na Breipaal vergesel. Mank Manie is opgekommandeer om hulle met sy taxi te vat. Lenie sit hoflikheidshalwe voor. Dries sit agter by die mandjie.

Hulle ry op Tweede Kersdag met die enkelbrug oor die Vaal. Aan die oorkant trek ’n bakkie effens eenkant toe dat hulle kan verbykom. Dis die polisiebakkie. Sersant Izak du Preez sit agter die stuurwiel. Langs hom sit konstabel Dolf Bester. Oom Manie hou stil en draai sy ruit af.

“Môre, kêrels. Probleme?”

“Nee wat,” sê Du Preez. “Of laat ek sê, nog nie.”

Oom Manie lag. “Jy meen, as die voggies begin praat.”

“Einste.”

Hulle groet en ry verder. Die lokasie lê langs die Campbell-pad, uitgestrek op ’n oopte ’n ent van die rivier af. Dries kyk nuuskierig rond. Dis nou Breipaal. Vlae musiek uit radio’s en platespelers hang tergend in die lug of dawer onverwags uit ’n ander rigting. Groepies mense by huise, kinders op straat. Min Breipalers sal vandag op Koukonap moet werk, waar kantore en winkels toe is. Die eerste paar strate waardeur hulle ry, het name soos Dahlia en Begonia. Die paaie is gegruis en die huise lyk netjies. Dan tref dit Dries.

“Hier is omtrent nie bome nie.”

“Seker lankal afgekap vir brandhout,” sê oom Manie.

Die erwe is ook kleiner en die huise meer opmekaar as op Koukonap. Daar is hier en daar ’n woning met ’n paar struike, ’n stukkie grasperk of ’n bedding groente. Die grond lê meestal kaal en bak in die son. Die onderste deel is blykbaar die deftige deel van Breipaal, want hoe dieper hulle die lokasie inry, hoe knapper raak die erwe, hoe kaler raak die grond en hoe meer versukkeld raak die huisies.

Oom Manie ken dié geweste sleg. Hy soek Gousblomstraat, beland in Soutbosweg en gou is hulle tussen ’n plaat plakkershutte, aanmekaar getimmer van enige denkbare afvalmateriaal. Hoenders en boerbokke wei tussen die mankolieke skuilings en een van die buurt se brandmaer honde lyk vir Dries of hy met ’n bietjie pap in die pens Dapper se boetie kon gewees het.

Op ’n oop stuk grond is kinders besig om ’n tennisbal rond te skop. Vrouens uit die plakkershutte vergader met emmers en konkas by ’n waterkraan. Hul stemme dra oor die veld, van waar ’n ou man met ’n kruiwa vol doringtakke aangesukkel kom. Hy laat sak sy vrag en staan half gebukkend met een hand op sy kruis en wag dat die Oldsmobile verbykom.

Oom Manie het sy draai gekry en ry nou stadig terug na waar daar afgebakende strate is. Hy bestuur versigtig. Hy wil nie hier ’n hoender of ’n bok of ’n kind raak ry nie. Aangeleun teen een van die huise in Bloekomlaan is ’n afdak van sinkplaat en kreosootpale geprakseer. Daar sit mans op ’n paar houtbankies of staan en praat met glase of bierbottels in die hand. Jy hoor hul musiek en die lag en gesels al van ’n afstand. Wanneer die Olds nader kom, droog die gesprekke op. Iemand lig die platespeler se arm en onderbreek so Frankie Laine se wroeging oor die hartelose feeks Jezebel. Almal se oë volg die kar wat by hulle verbyry.

“Sjebien,” sê oom Manie. “Van dié klomp drink seker al van vroeg af.”

Die gesels en gelag hervat. Dries sien deur die agterruit dat ’n paar van die groep omdraai om die kar dop te hou. Die musiek tref ’n uitdagender noot met Bill Haley en sy Comets wat laat waai met die stamp-stamp van harde rock. Een van die bondel, ’n langeraat uitgevat in ’n helderrooi hemp, sy pet windmaker oor een oog gekantel, sien Dries deur die karruit loer en hy maak met sy vinger ’n dreigende pistool. Dries kan hom nie hoor nie, maar hy kan sien hoe hy “kabam!” sê en soos in ’n cowboy-fliek die rook van die loop se bek wegblaas. Dis seker die uitdrukking op Dries se gesig wat die man laat lag. Hy beduie iets vir die man langs hom. Nou lag albei.

Dit kom by Dries op dat die enigste blanke mense in die hele Breipaal op hierdie oomblik in die kar sit. Sy ma, oom Manie en hyself. Verder is almal by wie hulle verbyry, oud en jonk, man, vrou en kind, mense van kleur. Oom Manie se arms is ook behoorlik bruin, maar as hy sy hoed afhaal, soos nou in die kar, is sy voorkop ’n uitgewaste bleekwit.

Ênie se woning is nie ’n stal nie, maar as armoedigheid die kriterium is, kwalifiseer haar huisie. Dis een van ’n lang ry eenderse geboutjies van sementblokke en asbesdakke. Weerskante van die voordeur is ’n malva in ’n blik en voor die venster ’n paar sonneblomme. Die werfie is gevee en agter die huis staan daar, soos vroeër by die Fouries se huurhuis die geval was, ’n buite-kleinhuisie.

Hier in Gousblomstraat is daar ’n paar sulke kleinhuisies. Dit moet wees hoe ver die nagwa kom, want by die plakkershutjies verder aan is daar nie sulke geriewe nie. Dries weet sommer. Daardie mense moet maar êrens ’n plan maak, in ’n sloot of tussen die bossies op die meentgrond. Vir hulle sal Ênie se huis seker ’n paleis wees.

Wanneer die Olds voor nommer 117 stilhou, roer die gordyntjie voor een van die vensters. Iemand kom uit die huis te voorskyn. Met ’n effense beklemming sien Dries dis Jason. Hul uitval is lankal ou geskiedenis, maar sedertdien het hulle vir mekaar vreemdelinge geword. Jason het nooit weer saam met sy ma na die Fouries se huis gekom nie.

Oom Manie sê: “Nou, loop doen julle ding. Ek bly sit maar in die kar.”

Lenie klim uit. “Bring die mandjie,” sê sy vir Dries.

Jason het na binne geroep. Nou kom die res van die gesin te voorskyn. Heel voor Japie Tarentaal. As vader van twee Malmokkies laat hy hom die rol van gasheer geval. Saam met hom ’n skamerige klonkie van so heuphoogte. Dit moet Foroklok wees. Dan maak die matriarg haar verskyning, die eintlike baas van die plaas, Ênie Malmok. Sy staan op die trappie, baba Krismis in haar arms.

Dis ’n toneeltjie wat onverwags aan Dries se hart vat. Japie se breë glimlag vertoon sonder skroom ’n paar gapings tussen die tande. Ênie se liewe gesig gloei van trots. Krismis het vrede met die wêreld. Hy slaap vas. Jy sien skaars sy geplooide gesiggie by sy kombersie uitsteek. Tot Foroklok glimlag skaam en steek sy kop agter sy pa se bene weg.

Net Jason lyk nie oorweldig nie. Hy luister met ’n uitdrukkinglose gesig hoe Japie die mandjie geskenke oorlaai met lof, maar reageer dadelik toe sy ma hom aanspreek.

“Toe nou, Jason, waar’s jou maniere? Vat die mandjie daar by …” Dan aarsel sy ’n oomblik. “Daar by Driesgoed. En sê dankie.”

Sy hou Krismis met een hand teen haar bors vas. Met die ander vat sy Lenie se hand. “Welkom, mies Lenie. Ons kan dit rêrig goed gebruik.”

Lenie hou Ênie se hand styf vas. “Laat ek hom bietjie sien,” sê sy. “Dis mos ’n pragtige kleinding, Ênie.”

“En so soet,” sê Ênie. “Hy sê skaars kwêk as sy doek vuil is.”

“Hy lyk nes sy pa,” sê Japie. Hy tik op sy bors. “My oupa was mos ’n Skotsman.”

Dis so onvanpas op daardie oomblik dat die vrouens lag kry. “Toe, jy,” sê Ênie.

“Kyk maar net,” sê Japie. “Sy oge is rôjil bloe.”

Dries kom agter dat Japie so bietjie wieg as hy stilstaan.

“Ou Krismis,” sê Japie. “Kan jy nou meer. So op die Krismis.”

Ênie nooi hulle binne. “Ek sit die water op, mies Lenie.”

Dries is nie seker wat om van dié uitnodiging te maak nie. Kan mens sommer so by bruin mense kuier? Moet jy dan uit dieselfde koppies drink? Maar Lenie sê dankie asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is.

“Gaan sê net vir oom Manie hy moet bietjie wag.”

Oom Manie het sy venster afgedraai. Hy sit en rook en kyk na Breipaal se dinge op hierdie vakansiedag.

“Nie te lank nie,” sê hy. “Sê vir jou ma.”

Ênie se huisie het twee kamers. Die eerste is waar ’n mens inkom. Dan is daar ’n binnedeur na nog ’n kamer. Dit moet seker ’n slaapkamer wees, want die voorkamer is iets van alles, kombuis, sitkamer, eetkamer, babakamer. By die venster is daar ’n kraan teen die muur en ’n waskom op ’n tafeltjie. Dries kyk na die linoleum op die vloer en die prentjies teen die muur. Van hulle lyk bekend. Dis seker uit Die Huisgenoot of Sarie Marais geknip. Bêreplek is geprakseer van paraffienkiste met gordyntjies voor. Daar is ’n ketel op die primus wat saggies sis. Blou vlammetjies lek onder die ketel uit.

“Hy sal nou kook,” sê Ênie.

Daar sit sy ma ewe tuis op ’n kombuisstoel en langs haar, weggesink in ’n ou leunstoel, sit ’n klein vroutjie, krom van die ouderdom, ’n mussie op die wit kroesies, ’n kombersie oor die skouers, die gesiggie ene rimpels. Net haar loerende ogies wys sy is wakker. Dries herken die leunstoel. Dit het vroeër in die Fouries se huurhuis gestaan. Daar was nie plek daarvoor in Arnotstraat nie.

“Ouma Ester Tarentaal,” sê Ênie. “Japie se mammatjie.”

Die oumatjie mompel iets.

“Jy moet harder praat, mammagoed,” sê Ênie. “Ons kan jou nie hoor nie.”

Dit klink of die oudste sê: “Wat soek die duusmense hier?”

Ênie wys haar die mandjie vol geskenkies en verduidelik.

“Aginte,” sê oumatjie Ester. “Moet niks teken nie. Al sê hulle ook wat.”

“Nee, magoed. Dis my miesies dié,” sê Ênie.

“Hulle sal nog die huis onder jou gat uit teken,” sê die oumatjie tevrede. Haar ken sak op haar bors. Sy gee elke keer ’n ligte snorkie as sy asemhaal.

Jason vang Dries se oog en beduie met sy kop na buite. Voor die huis staan hulle mekaar en deurkyk. Nie een weet wat om te sê nie.

“Ry jy nog daai traaisiekel?”

Dit klink moedswillig. Dries antwoord kortaf. “Nee. Ek het ’n fiets gekry.”

“Heit,” sê Jason. “’n Baaisiekel vir die kleinbaas.”

“Kleinbaas se gat,” sê Dries.

Hulle kyk mekaar in die oë. Dries oorweeg sy volgende woorde. Hy sê dit met nadruk.

“My naam is Dries.”

“Ek weet dit hoeka.” Jason gee ’n suur glimlaggie. “Van toeka af.”

As nie een verder iets te sê het nie, is dit of hulle effens ontspan. Al doen hulle dit nie openlik nie, hou hulle mekaar versigtig dop, reg met ’n skerp antwoord. Het hulle sowaar vreemdelinge geword, wonder Dries. Dalk selfs vyande? Dit van ’n simpel gesprek, lank terug? Dan kan ’n mens se woorde mos groot skade aanrig.

Daar is ’n Engelse rympie wat sê: Sticks and stones can break my bones, but words can never hurt me. Dis net nie waar nie. Kan woorde regmaak ook? Dries wil iets sê, wat weet hy self nie, iets versoenends. Hy kry nie die regte woorde nie. Dis die man met die rooi hemp uit die sjebien wat die stilte onderbreek. Hy moes agter die Olds aan om die hoek gedrentel het. Hy skree oor die kar se dak.

“Jason my bra, wat is dit met jou? Wat soek die whiteys by julle?”

’n Verbyganger of twee vind dit interessant genoeg om vas te steek. Ook van die bure se kant is daar belangstelling. In Breipaal is daar skynbaar nie veel privaatheid nie. Dit voel vir Dries of daar van oral na hom gekyk word.

“Kom ons loop,” sê Jason.

Die probleem is, daar is nie juis êrens om heen te loop nie.

“Wie’s dit?” Dries maak of hy nie geskrik het nie.

“Adam Yzerbek.” Jason praat teësinnig.

“Wie’s hy nou eintlik?”

Jason aarsel. “Jy kan mos hoor,” sê hy. “Lekker gesuip.”

“Watse soort van whiteys is dit die?” vra Adam Yzerbek luidrugtig. “Weet hulle nie van separate but equal nie? Kan hulle mens nie eers met die holiday saam uitlos nie? Laat hulle voertsek! Hierie is die plek van die coloureds.”

Soos ’n lekeprediker wend hy hom tot sy groeiende gehoor. “Of wat sê ek, brothers en sisters? Wat van bietjie reverse apartheid hierso!”

Van die toeskouers brom instemmend. Ander lag. ’n Paar skud meewarig die kop. Iemand skree uitgelate: “Vat hom, Adam!” ’n Jong meisie en haar maatjie giggel en bedek dan hul mondjies met hul hande. Êrens uit die omtrek kom die heuningstem van Bing Crosby oor Breipaal se dor strate aangesweef.

I’m dreaming of a white Christmas

Just like the ones I used to know

Adam Yzerbek het afgebuk en praat nou op kort afstand met oom Manie deur die kar se venster. Oom Manie leun effens weg van die sterk asem so onder sy neus. Hy wil egter nie die indruk skep dat hy geïntimideer voel nie.

“White Christmas se hol!” sê Adam. “Dis Coloured Christmas hier by ons! Wat sit jy nog hier met jou dik bek, whitey?” Sy eie gepraat sweep hom verder op. “Vat jou mousterkar en vat die pad. Voertsek! Fok hier weg!”

Teen dié tyd is daar ’n kring toeskouers. Japie Tarentaal het nie verniet self ’n paar doppe agter die blad nie. “Los daai Yzerbek vir my!” skree hy van ver af. Lenie staan by Ênie voor die huis, besluiteloos oor wat haar te doen staan. So iets het sy nie voorsien nie.

Maar Mank Manie het niemand se hulp nodig nie. As hy nie taxi dryf of vrag ry met sy lorrie nie, is hy ’n mekenniek van faam, met dié beroep se gebreide hande en kragtige voorarms. Toe Adam Yzerbek nog so in sy gesig staan en skree, kry hy hom met sy duim en voorvinger in ’n knyptang-greep aan die onderlip beet. Adam se regvaardige woede verander in ’n geslobber. Hy gryp met sy hande aan die kar se vensterbank, maar kan sy kop nie roer nie.

Tot sover geniet oom Manie die omstanders se goeie gesindheid. Hy maak egter die fout om nie net sy dade te laat praat nie. “Hotnot,” sê hy in ’n stem wat dra, “vandag donder ek vir jou dat daar ’n nat kol sit.”

’n Gemor volg op sy woorde. “Regte bliksemse Boer!” sê iemand. Dis of die kring om die kar kleiner word. “Wie de hel dink hy is hy?” Japie druk tussen die mense deur en neem plek in met sy rug teen die Olds. Jy kan sien hy geniet elke oomblik. “Toe, kom nader,” nooi hy uit. “Ek moer die eerste varknek wat ek in die hande kry.”

Ênie skree van die voordeur af. “Skaam vir julle! Wat staan julle nog en ginnegaap? Voertsek hier weg! Dis my mense hierdie!”

Die situasie bedaar toe die polisiebakkie daar stilhou. Die twee manne van die SAP klim uit. Dries sien hulle dra albei ’n pistool in ’n bruin leerholster op die heup. “Toe, toe, toe,” sê sersant Du Preez gemoedelik. “Genoeg van die sports. Gaan nou maar huis toe. Gaan geniet nou maar die af dag verder sonder moleste.”

Konstabel Bester speel stut vir Koukonap se rugbyspan. Hy is ’n blok van ’n kêrel wat blykbaar nie tyd mors met formaliteite nie. Hy gryp Adam Yzerbek aan die kraag en pluk hom uit Manie se knelgreep dat die bloedspoeg met ’n boog spat. “Al weer jy, Yzerbek?” Klap! “Altyd moeilikheid maak?” Klap! Hy boender hom sonder seremonie agter in die vangwa en slaan die deur toe.

Dan doen die gereg die moeite om oom Manie se kant van die storie aan te hoor.

“Nou ja, reg so,” sê die sersant. “’n Nag in die tjoekie sal hom goed doen.”

“Gaan julle hom aankla?” vra oom Manie.

“Nee wat. Ons hou hom sommer in die polisieselle en laat hom môre loop.”

Dis ’n bedeesde Adam Yzerbek wat deur die vangwa se tralies loer wanneer die bakkie wegtrek. Dries oorweeg dit om met sy vinger ’n pistool te maak en “kabam” te sê, maar kry dit nie oor sy hart nie. Die kêrel lyk te verwese. Maar toe die bakkie om die draai gaan, kom ’n hees kreet deur die stofwolk na hulle aangesweef.

“Aag fok julle almal!”

Op pad terug huis toe sit Lenie agter in die Olds. Langs haar staan die leë mandjie. Sy kyk na buite sonder om te praat. Hulle ry in Vaal-Oranjelaan verby ’n uitgestrekte plat gebou op ’n groot oop stuk grond. Die hoofgebou het ’n saal met ’n staandak en twee vleuels wat saam ’n U vorm. Daar is ook ’n aantal losstaande kamers. Party is opslagkamers, asof die bouery nie by die behoefte bybly nie.

“En dit?” vra Dries ongelowig.

“Breipaal se skool.”

“Dis dan groter as ons skool!”

“Ja,” sê oom Manie. “Die mense is vrugbaar.”

Koukonap

Подняться наверх