Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 14

11. Lappop

Оглавление

Oupa Sarel het hulle die storie van Uilspieël se klipsop vertel – die vabond het net die klip voorsien. Terwyl oupa Sarel uitwei oor al die bestanddele, van sopbeen tot groente, wat Uilspieël met sy slimpraatjies by die mense afgerokkel het, klink dit al hoe meer soos ma Lenie se boontjiesop – sonder die klip.

Lenie Fourie het geglo ’n sop moet ’n maaltyd wees. Daar moet murgbene in wees, stukkies sagte stowevleis, aartappels, uie, rape, tamaties, preie, seldery en speserye en ja, les bes, héélwat bone, want dis eintlik mos boontjiesop. So ’n bord sop met ’n dik sny vars brood waarin die botter wegsmelt – vir ’n honger maag was dit ’n groot bederf.

Sonder dat hulle dit besef het, het Lenie se sop vir die Fourie-seuns die begrip sop omskryf. Toe die gesin ’n slag die Kersete in die hotel nuttig, was die yl vloeistof wat as sop voorgesit is, ’n openbaring.

“Dis seker regte klipsop, nè?” vra Theunie.

“Niemand kan sop maak soos Ma nie,” meen Karel.

“Ag toe,” sê Lenie.

Vir Dries was daar net een soort sop wat naby sy ma se sop kon kom. Dit was Loekie se ma se ertjiesop. Dit was ook ’n sop met vleis aan die lyf, hoewel natuurlik nie so stewig soos ma Lenie se sop nie. Dit was ’n gladde, egalige ertjiegroen waarin alle bestanddele versmelt het. Daar was ’n titseltjie knoffel en peper in die nasmaak. En die brood daarmee saam, soos by die Fouries, was nog warm uit Hadid se kafee.

So ’n beker sop het hy en Loekie in die skadu van die skuur se suidemuur sit en eet nadat die vliegtuig oorgekom het.

Dit was nog nie etenstyd nie, dit was sommer vir die bederf. Die ander kinders was nie so gesteld op die ertjiesop soos hy en Loekie nie. Deel van die lekkerte was hul vaste onderonsie daaroor met Loekie se ma. As hulle agterkom daar word in die Davels se kombuis sop gemaak, was dit as’t ware hul plig om ’n voorsmakie te gaan bedel.

Die ritueel het vereis dat Ragel Davel moet sê nee a, vrate sal moet wag, die sop is nog nie klaar nie. Dan is die regte antwoord, kan nie wees nie, dit ruik dan so lekker. Maar teen daardie tyd het sy reeds twee bekers van die rak gehaal en kom die soplepel twee keer vol geurige groen sop uit die soppot te voorskyn.

“Proe bietjie vir my of dit al reg is,” sal sy sê. Jy kan die glimlag in haar stem hoor.

Twee van haar kinders, Hugo en Tilda, trek na haar mense, die Calitze, die gesigte skraal en intens, die hare reguit en donker. Loekie en Naomi is Davels uitgeknip. Albei het wipneuse en blougroen oë. Loekie se ligte hare is borselkop, maar die son speel vrolik met Naomi se blonde krulle.

Hugo hou hom nie opsetlik eenkant nie, maar sy belangstellings het al so bietjie verby draadkarre in die rigting van die rugbybus en die netbalmeisies se bene begin skuif. Dries en Loekie is nou die werf se voorbokke. Tilda en Karel bedryf ’n wapenstilstand. Karel kan meisies kwansuis nie verdra nie, maar Tilda is Tilda. Sy vat nie twak nie.

Die jongste Fourietjie, Theunie, neem die wêreld met stil besadiging waar. Hy kyk met soveel aandag dat dit lyk of hy dwarsdeur dinge wil kyk. Tans neem hy van Karel-hulle se doen en late kennis, met ’n fokus wat Naomi en die lappop met die blou rokkie uitsluit.

“Wat kan dié Theunie tog so staar?” vra Lood Fourie op ’n keer. “Wat gaan in sy kop aan?”

“Hy stel maar net belang,” verdedig Lenie. “Hy verwerk goed vir homself.”

“Hy is seker maar ’n introvert,” besluit Lood. Die kliniese term stel hom gerus.

In oupa Sarel het Theunie ’n kampvegter. “Hou maar dop,” sê hy eendag vir Lenie. “Hy gaan nog eendag predikant word.”

Sy noem dit vir Lood. Gode behoed, is sy onuitgesproke reaksie. Maar wat hy hardop sê, is: “Ek dink hy aard na die Viljoens.”

Lenie kyk hom effens agterdogtig aan, maar bewaar die swye. Sy is genoeg van ’n argetipiese moeder om haar kroos instinktief te beskerm, desnoods teen haar eie man. Daarbenewens is sy die kwesbaarste mens denkbaar, wat moeilik kwaad in haar medemens raaksien.

Die seuns is nie ontvanklik genoeg om al haar liefde op uit te stort nie. Hulle kan tog so ongemaklik reageer op drukkies en soentjies en soet woordjies. Meisies is daar heel anders. Baie meer fyntjies en lieftallig.

So enetjie is Naomi Davel, wat soms vir haar kom kuier. Sy dink aan haar as ’n klein sonskynkind. Tevrede met haar eie geselskap, al kan sy ook heerlik babbel as jy haar kans gee. En daardie laggie! Dit borrel sommer uit soos ’n kanarie se gekwetter.

Hoe oud sou Naomi toe gewees het, het Dries agterna gewonder. Seuns van so tien, elf stel nie juis belang in die ontwikkelingsfases van die deursnee-kleuter nie. Hoe oud is ’n dogtertjie as haar kop skaars by jou heup kom en sy soos ’n kiewietjie oor die werf draf? Twee jaar oud? Nie heeltemal drie nie?

Hy en Loekie het dit daardie dag reggekry om tot in die skuur se dakbalke te klim. Die staandak is sonder plafon, sodat die balke bêreplek skep vir herwinde materiaal soos geute, vloerplanke, waterpype, ’n paar ou deure en vensterrame. Dit bied dus interessante klouterplek, al bak die son die sinkdak bloedig warm en omskep die bedompige ruimte onder die nok in ’n bakoond.

Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Hulle het in die skuur rondgedrentel, toevallig opgekyk en besef daar wink ’n avontuur wat nie langer behoort te wag nie. Die drabalke was taamlik ver van mekaar, maar verbeel jou jou greep aan die dwarslatte en trapplek op die dwarsbalke … Die gebrek aan ’n leer was dalk lastig, maar eenkant in die hoek het ’n groot lorriewiel teen die muur aangeleun gestaan.

Om dit nader te rol tot onder ’n dwarsbalk, was aangewese. Die styfgepompte band oor sy swaar ystervelling was nie heeltemal so maklik om te hanteer nie. Jy moes hom regop hou, want sodra hy wil-wil kantel, kom jy agter hoe swaar hy eintlik is. As hy sou val, kan jy maar los. Opgetel sal hulle hom nie sommer kry nie. Dalk was dit verbeelding, maar na hul gevoel was die wiel se swaartepunt na die naaf se boepenskant, wat hulle ter wille van die opklimslag na voor gedraai het.

Loekie, kleiner maar ratser, klim eerste op terwyl Dries die wiel stabiliseer. Op sy tone op die buiteband kry Loekie se vingers net-net vatplek om die dwarsbalk. Hy trap met sy kaalvoete teen die muur en hys hom op tot hy een been oor die balk kry. Na ’n paar mislukte vangpogings kry hy die dik tou beet wat Dries na hom gooi. Hy maak dit aan die balk vas sodat dit met ’n paar knope in reg oor die wiel hang. Nou kan hulle makliker op- en afklouter.

Die gewerskaf lok toeskouers. Aan Karel word uitdruklike vermanings en voorskrifte gegee oor hoe om dié Everest te benader. Hy bly stil en kry dit moeiteloos onder die knie. Loekie trek, tot Tilda se verbittering, die streep by meisies. Sy verkwalik egter vir Karel, wat haar, volgens haar siening, net daar verloën om soos ’n blou-aap tussen die balke te kerjakker.

As hulle weer kyk, staan sy op die buiteband en reik na een van die knope in die tou. Daar bly sy hang. Haar arms is nog net nie sterk genoeg om haar op te trek nie. Dit raak ’n klein krisis, want as sy haar met haar bene probeer terugwerk op die buiteband, wikkel die wiel net genoeg om Dries en Loekie, hulpeloos buite bereik op die balke, bekommerd te maak. Daar is geen ander genade nie.

“Sussie,” paai Loekie. “Jy sal moet laat los.”

“Ek gaan seerkry.”

“Dis nie so hoog nie. Hou net jou bene slap, dan rol jy as jy val.”

Tilda wil nie laat los nie. Naderhand moet sy. So ’n vreeslike val is dit darem nie. Haar trots kry egter ’n knou as sy met ’n hik op haar sitvlak beland. Niemand waag dit om te lag nie. Sy is duidelik briesend. Met ’n hatige kyk na bo staan sy op, stof haar af en stap met ’n stywe rug by die skuur se sydeur uit.

Hulle waag dit nog nie om te lag nie. In die onnatuurlike stilte hoor hulle ’n dowwe dreuning wat al nader kom. Dit word bietjie sagter en dan weer harder en klink naderhand reg bo die skuur se dak. Tilda vergeet haar verontregting blykbaar lank genoeg om van buite te roep: “Haai, kom kyk, julle! Dis ’n vliegtuig! Kyk hoe laag is hy!”

Hoewel daar buite die dorp ’n oop stuk veld met ’n windkous was, was vliegtuie in dié geweste bra skaars. Soms was ’n straler soos ’n spikkeltjie hoog teen die uitspansel op te merk, danksy die yl sleepspoor van die straalmotore in die ysige koue daarbo. Maar ’n vliegtuig in die lug vlak bokant die dorp, dit was iets om te sien.

Die seuns skarrel tussen die balke deur en glip met ’n paar grype aan die tou en ’n trap teen die lorriewiel tot op die grond. Hulle is betyds om die vliegtuig ’n paar draaie bo die huise se dakke te sien maak voordat dit agter die kerktoring verby in die rigting van die vliegveld koers kry.

Hugo staan ook en kyk. “Dit lyk soos ’n Cessna,” sê hy vernaam.

Hulle bespiegel oor wie die vlieënier kan wees. “Dalk Jack Hadid van die garage,” meen Hugo. “Hy is ryk genoeg.”

“Dalk iemand van Kimberley.”

“Jissie,” sê Loekie. “Ek sal graag in so ene wil ry.”

“Jy raak dan karsiek,” neem Tilda wraak. “Toe ons Kimberley toe was …”

“Aag sjarrap!” Loekie klink vies. “Simpel meisiekind,” sê hy aan Dries. “Dit was iets wat ek geëet het.”

“Die kar het gestink,” sê Tilda tevrede.

“Dokter Jackson het gesê dis voedselvergiftiging.”

“Die héle kar,” sê Tilda.

Dit lyk of Loekie wil antwoord, maar hom wyslik bedink. “Kom ons loop liewer,” sê hy vir Dries. Hy sal dit nie erken nie, maar Tilda se getreiter het hom weer so bietjie aardig op die maag laat voel.

Hulle drentel verby die huis. Naby die kombuis kry hulle ’n geur wat Loekie se aardigheid op die plek genees. Ragel Davel kyk op toe hulle oor die kombuis se onderdeur loer.

“Ja, en toe?”

Hulle glimlag net. Loekie sê betekenisvol: “Maak Ma dalk sop?”

“Ja-a,” speel Ragel saam. “Maar vrate sal moet wag. Dis nog nie reg nie.”

Dries voel tuis genoeg om saam te speel: “Dit ruik darem baie lekker!”

“Nou ja … Sal julle vir my proe?”

Dis duidelik dat sy ook die ritueeltjie begryp.

Met hul bekers ertjiesop stap hulle na die skuur, waar hulle op ’n dwarslêer met hul rûe teen die buitemuur gaan sit. Vergete is die vliegtuig, die balke en die lorriewiel. Op hierdie oomblik eis die smaak van dié sop hul aandag. Dis nie iets om af te wurg nie. Gee hom bietjie kans om af te koel. Geniet hom proe-proe. Eet solank die brood.

Van die huis se kant hoor hulle Ragel met Karel en Tilda praat. Dalk wou hulle ook sop bedel. Dan roep sy oor die werf: “Het julle miskien vir Naomi gesien?”

“Is sy nie dalk by my ma nie?” wonder Dries.

Blykbaar nie.

“Waar is Theunie?” Dis Dries se volgende gedagte.

Niemand kan sê nie.

Teen dié tyd stel hy en Loekie nie meer in hul sop belang nie. Hulle wonder oor ’n ding wat maar liewer nie moet wees nie. Dries sit sy beker neer en stap, sonder om te praat, haastig langs die muur af. Loekie volg hom. Om die hoek, by die garage se sydeur, staan Theunie. Hy staan maar net daar, maar Dries sien daar is fout met sy boetie. Hy buk by hom.

“Wat is dit, Theunie? Vertel my.”

So beteuterd het hy sy broertjie nog nie gesien nie.

“Dis alles reg, ou Theunie. Vertel my net.”

So kyk ’n vasgekeerde hond wat ’n loesing verwag.

“Naomi wil nie praat nie,” sê Theunie.

Jare later het Dries homself nog verwyt dat hy sy broertjie nie op daardie oomblik teen hom vasgedruk en vertroos het nie. Ou Theunie wat verlore staan en snik. Maar daar was ander dinge om te doen.

Dis vir Loekie onmoontlik om daardie lorriewiel opgelig te kry, maar nou doen hy dit sonder aarseling. Terwyl hy dit in die lug hou, kyk hy met strak bedoeling na Dries.

Dries oorkom ’n vlaag van instinktiewe afkeer. Hy buk onder die wiel in en versigtig, bang om haar verder seer te maak, reik hy met sy hande na Naomi se lyfie. Sy is nog warm, asof sy maar net lê en slaap het. Maar seer kan hy haar nie meer maak nie. Al die seer wat sy in haar kort lewetjie kon ervaar, was verby. As hy haar optel, laat Loekie die wiel met ’n knal op die sement terugval.

Hy wil nie kyk nie, maar kan dit nie vermy nie. Dis Naomi wat hy vashou, maar ook nie meer Naomi nie. Die fraai gesiggie is skeefgedruk. Die slag het bloed by haar mond, haar neusie, haar oortjie uitforseer. Soos sy op haar sy gelê het, het die bloed aan haar wang begin stol en in haar hare begin koek.

Loekie wil Naomi by hom neem, maar dis Ragel Davel wat haar kind amper met geweld by hulle gryp. Sy skree op hulle sonder dat sy self weet wat sy sê. In haar verwarring weet sy nie wat om te doen, waarheen om te gaan nie. Haar man is nie tuis nie. Hy is op die pad met een van die lorries. Hoe nou gemaak. Sy hardloop by die voorhekkie uit in die straat af na die Fouries se erf.

Lenie hoor haar aankom. Sy sien deur die venster wat Ragel teen haar bors vasdruk. Sy hoor haar skreeu. Die hele straat hoor dit.

“My God! My Here! O my liewe God! Kyk my kind, my kind, my kind, my Naomi-kind!”

Lenie haas haar in die paadjie af na haar buurvrou. Die smartlike krete raak ál flouer. Dis asof sy nie meer krag het om verder te protesteer nie.

“Kyk net, Lenie,” sê Ragel treurig. “Kyk net hoe lyk sy.”

In haar arms lê haar gebroke kind, slap soos ’n lappop met ’n blou rokkie.

Koukonap

Подняться наверх