Читать книгу Koukonap - Johann Botha - Страница 6
3. Kruiwa
ОглавлениеSommige dinge was blykbaar maar net op ’n dag dáár. Gemmer byvoorbeeld, ’n uitgevrete mannetjieskat wat bedags op Dries se bed geslaap en snags met geesdrif die buurt ingevaar het. Daarvan het hees krete in die nanag en littekens aan sy snoet en ore getuig.
“Hy het seker weer baklei,” sê Dries.
“Inderdaad,” sê sy pa.
Waar sou Dapper die brak vandaan gekom het? Miskien ’n skutbrak oor wie Lenie haar ontferm het? Nie onmoontlik dat Ênie Malmok hom van die lokasie af gebring het nie. Uit die liefde van haar hart, want hoe nou anders, ’n seunskind moet mos ’n hond en ’n hond moet ’n baas hê.
Lood wou sy voet neersit, maar swig vredesonthalwe voor die pleidooie van sy eersgeborene en sy wederhelfte. Die noemnaam was sy skeptiese taksering van dié baster-rifrug met sy vogtige spanjoel-oë. “Al knyp hy ’n vyfpondnoot onder sy stert vas, is hy nog bokkerol werd.”
Maar die liefde vanself. Dries onthou hoe hy op sy rug met sy kop teen Dapper se pens lê en kyk het hoe wit stapelwolke stadig in die blou lug oor die huis se dak verbyskuif en agter die peperboom verdwyn.
Ook Ênie Malmok was ’n vanselfsprekende teenwoordigheid in die huishouding. Sy was van die Griekwa-geslag wat sterk op die Boesman-kant van hul voorsate trek. Die vriendelike elfiegesig het Dries bygebly, die ligte geelbruin vel, die neutbruin ogies wat die wêreld deur skrefies bo hoë wangbene betrag, die klein skulp-oortjies plat teen die kop, die gul agterstewe.
Kleintyd openbaar die werklikheid hom aan jou met klaarblyklike onmiddellikheid. Dinge is eenvoudig soos dit is, daar is niks anders nie. Eers later, soms baie later, volg vertolkings, afleidings en vrae – en dalk begrip. Soos die besef dat Lenie se huishulp ook weg van die Fouries bestaan het, ’n ma was met kinders van haar eie en ’n eie lewe in die lokasie oorkant die rivier.
Vir Dries was sy soms ’n maat, soms ’n ousus, soms ’n beskermengel, amper ’n tweede ma. Hy was al te groot, anders sou sy seker die voorreg gehad het om sy doek om te ruil en sy vuil boude af te vee. Dat sy dit later vir Karel en Theunie gedoen het, spreek vanself.
Dries onthou wel hoe sy uitgelate streke in die bad haar soms natgespat en uitbundig aan die lag gehad het; hoe sy hom toegevou het in die handdoek en warm afgedroog het; hoe hy skuins voor bedtyd skoongeskrop in sy gestreepte pajamas aan Lood en Lenie gelewer is vir inspeksie.
Oor naweke het Japie Tarentaal vir Lood in die tuin gehelp, of dalk was dit eers ná die voorval in die Grootvoor. As iemand hom vra waar hy sy blou oë vandaan kry, was sy antwoord paraat: “My grootjie was mos ’n Skotsman.”
Dit was Japie wat vir Dries gesê het: “Ek sien jou ma stoot kruiwa.”
Die gedagte is vir Dries so vreemd hy word sommer kwaad.
“Issie, vir wat sal sy dit doen.”
“Nee man, dit lyk of sy dra.”
Dries voel aan daar skuil iets agter Japie se woorde. Wat sal sy ma nou eintlik dra?
“Hoe meen jy?”
“Nee man, sommer niks. Maar dis mos ’n laksman daar in die boom? Kyk net hoe sit hy en fluit. Ons moes nou ketties gehad het. Eendag op ’n reëndag maak ek nog vir jou ’n kettie. Wat dink jy daarvan?”
Die kruiwa bly spook by Dries. Met wie kan hy daaroor praat? Sy pa is te eenkant. Jy praat nie sommer met hom oor goed nie. Hy sal miskien nie omgee nie, maar jy doen dit nie. Dries weet ook sommer sy pa sal nie daarvan hou dat Japie oor sy ma praat nie. En ’n mens klik nie.
Sy ma self? Die gedagte laat Dries ongemaklik voel.
“Jy gaan ’n klein boetie of ’n sussie kry,” sê Ênie. As hy verder vra, sê sy net: “Loop vra jou ma.”
Dries doen dit tog.
Lenie vertel van Liewe Jesus se liefde vir kindertjies en die ooievaars in Holland. Die prentjie wat Dries daarvan kry, is ’n soort sprinkaanvoël-Vader Krismis. Die vraag is, hoe kom die baba deur die skoorsteen? En wat het dit met die kruiwa te doen?
Lood sê op ’n dag: “Een van die dae sal ek mamma hospitaal toe vat om vir jou boetie te gaan haal. Sal jy bly wees?”
Dries is nie so seker nie. Wat hom betref, gaan dinge soos dit nou gaan goed genoeg.
“Of ’n sussie, natuurlik,” sê Lood.
Soos Lottie seker, sonder ’n peestermannetjie.
Dit was toe sy ma Karel verwag het. Teen die tyd dat sy Theunie gedra het, het Dries besluit hy weet hoekom sy stadig loop en van rugpyn kla. Dis omdat daar weer ’n babatjie in haar maag is. Hoe hy daar ingekom het en hoe hy weer daar moes uitkom, was ’n ander saak. ’n Paar keer was hy op die punt om Japie te vra, maar kom nie sover nie.
Op ’n dag sien hy Dapper en die bure se grys steekbaard-teef aan mekaar vassit. Dapper agter die teef met sy pote om haar blaaie. Elke nou en dan probeer hy loskom. Hy kyk half benoud om na Dries.
“Ag nee, sies Dapper, wat maak jy?” sê Dries.
Dit lyk kompleet of Dapper skaam kry. Dries staan nader, maar Japie keer hom.
“Los hulle,” sê Japie. “Hy sit saad in haar maag.”
“Hoekom?”
“Jy weet ook maar fokkol,” sê Japie.
Dries dink lank daaroor na. Hy kry ’n nare spesmaas. Dis tog nie iets wat sy pa en ma met mekaar sal doen nie, of is dit? Nee, jig. Dan het hulle dit seker ook al meer as een keer gedoen.