Читать книгу Vleiswond - Johann de Lange - Страница 19
KOMMUNIE II
ОглавлениеNá die aand se brood en wyn
– die nagmaal van die vlees –
voel my vingers oor jou lyf
die opgehewe letsels van jou vrees
en weet dat jy gekruisig is,
dat almal van jou praat
en jy in drome elke soen
onthou as Judas se verraad,
dat jy in die doopsweet van die nag
weet wat ander van jou dink,
dat een, dat hý
nie uit jou glas wou drink.
Ek hoor jou langs my vra:
Word sonde sigbaar as sarkoom?
Skuil u Gees nie skimmig wit
in die dun kondoom
van my gebed? Kan U my voel
deur die fyn membraan?
Ek hoor jou laatnag huil, en Een
wat sê: Dit is voldaan.
Is u bloed dan ook besmet?
Hoe word ons ooit van U genees?
Is dit hoe U ’n liggaam breek,
dié bros skyf van die gees?