Читать книгу Vleiswond - Johann de Lange - Страница 9

KRUISVAART

Оглавление

vir Ingram & Rias

Een blakende midsomerdag

in die bus na die Vatikaan:

gesonde somerhuide, blink-

geboende skouerknoppe,

arms glansend kaal en rond,

bruin voete in oop sandale,

sweet ’n bidsnoer tussen tepels:

die reis van duiwe en rose

een middag na die Vatikaan.

Buite blaak die latynse lug

’n verbleikte erdebord,

en suile wat al eeue staan

bewe onvas in die hitte.

Reisigers inkanteer toe-oog

die fel hooglied

van die lyf in die sinagoge

van smal stegies

op pad na die ver Vatikaan.

In die bus oorkant jou

sit ’n jong romein wydsbeen;

julle voer die woordelose

gesprek, wissel gedagtes

soos verstyfde marmer.

By jou voete in ’n ou reissak:

jou Nikon en ’n klein Christus

toegedraai in blink sellofaan.

Immer onderweg na die ver Vatikaan.

Vleiswond

Подняться наверх