Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 24

BIED DIE BESTE VIR BABA

Оглавление

Net soos ons aanvaar dat dit ons reg is om kinders te kry en volgens ons persoonlike lewensuitkyk groot te maak, glo ek kom ons babas ook na hierdie planeet en ons huise met sekere verwagtinge. En net soos die getik van jou biologiese en emosionele horlosie jou waarskynlik laat besluit het dat die tyd aangebreek het om ’n baba te hê, volg babas ook die natuurwette. Ek stel my voor dat hulle die beste moontlike geboorte, nageboortesorg en kinderjare verwag.

Kinders moet hulle by die gesin en hul norme aanpas. Dit ly egter geen twyfel nie dat babas ’n behoefte het aan die beste moontlike geboorte-ervaring. Babas verwag van nature ’n natuurlike geboorte, en dit behoort verkieslik slegs anders te verloop indien die moeder of baba in werklike gevaar verkeer, in welke geval ingryping die beste opsie is. Babas is ook geprogrammeer om die heel beste voeding te verwag wat die natuur kan bied, en ek wed jou dit kom nie uit ’n blik nie!

Dit klink dalk na ’n sedepreek, maar dit maak my hartseer dat ons onsself so maklik om die bos lei en in die proses ons ongeskrewe kontrak met ons babas verbreek. Dit mag dalk lyk asof menslike ingryping swangerskap en geboorte makliker, doeltreffender en beter laat verloop as die natuur. Hierdie boek wil jou inlig oor al jou opsies, maar jou ook help om te besef dat Moeder Natuur werklik meestal die beste weet wat die eeue oue menslike aktiwiteit van ouerskap betref.

Wat ’n jammerte dat die moderne lewenstempo beswaarlik voorsiening maak vir liggaamlike, en nog minder vir emosionele voorbereiding vir ouerskap. Deesdae werk vroue dikwels tot aan die einde van hul swangerskap sodat hulle soveel moontlik tyd saam met hul pasgebore baba kan deurbring voordat hulle teruggaan werk toe. Dit beteken minder tyd gedurende swangerskap om na te dink en jouself emosioneel voor te berei. Dit is regtig jammer, aangesien die skep, koestering en grootmaak van kinders ’n geweldige invloed op ons lewe het. Vroue raak dikwels introspektief gedurende swangerskap, soms in so ’n mate dat hulle ’n afkeer van aanraking ontwikkel. Dit gaan gepaard met die berugte neiging tot verhoogde emosionaliteit.

Ons het onsself vervreem van die dieper prosesse van swangerskap. Moenie toegee aan die versoeking om tot aan die einde van jou swangerskap die berekende, doeltreffende beroepsvrou te wees nie. Jy is ’n vennoot in die skepping, en wat is ’n liggaamlike skepsel sonder ’n siel? Dit is gesond om te besin oor die sin van moederskap, die aard van koestering en die impak wat jy en jou baba op mekaar en op jul wêreld gaan hê. Ons is nie bloot eilande in ’n anonieme oseaan vir die duur van ons lewe, net om daarna te verskrompel en te sterf nie. Die samelewing probeer baie hard om ons van ’n emosionele ontdekkingstog te weerhou, maar ek wil jou aanmoedig om aan te hou delf, aangesien dit die menslike belewing verryk. Watter kosbaarder geskenk kan ons vir ons babas gee?

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх