Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 26

Voorbereiding vir die volgende baba

Оглавление

Net soos daar nie ’n ‘ideale ouderdom’ is om ’n baba te kry nie, is daar nie ’n ‘korrekte’ ouderdomsgaping tussen kinders nie. Met enige gaping van meer as vier jaar is dit byna asof jy twee enigste kinders grootmaak. Sodra jy die werk van die kleinbabastadium afgehandel het, begin jy weer voor. Twee babas wat nader aan mekaar as twee jaar is, is harde werk vir ’n ma, maar met ’n ondersteunende maat of goeie tuisondersteuningstelsel kan dit gedoen word. Jou individuele omstandighede sal natuurlik die situasie beïnvloed. As een van die babas enige probleme het (gesondheids- of gedrags-), kan dit die las vergroot indien die kinders naastenby ewe oud is.

Dit is normaal om angstig te wonder of jy genoeg liefde vir ’n tweede kind sal hê, terwyl jy daardie eerste kind so innig liefhet. Gaan jy die energie en emosionele vermoë hê om net so goed vir ’n tweede baba te sorg? Kinders vermenigvuldig ’n ouer se liefde, eerder as om dit te verdeel. Moet jou dus nie bekommer nie. Dit is gewoonweg makliker om twee kinders groot te maak as een, aangesien hulle mekaar vermaak en dinge met mekaar kan deel op ’n vlak waar jy andersins noodgedwonge sou moes instaan. Op die duur is hulle ook minder eensaam. Met meer as een kind leer hulle om te deel, konflik te hanteer en ander te respekteer.

Die eerste ses maande ná die geboorte van die tweede baba is gewoonlik taamlik bedrywig, maar daarna raak dinge makliker. Daar vind byna altyd ’n bietjie regressie plaas by die ouer kind, asook ’n mate van mededinging. As jy geduldig is, sorg dat die ouer kind betrokke is, nie druk plaas op die ouer kind om ‘groot’ te wees nie en besef dat dit anders gaan wees as die eerste keer toe jy jou onverdeelde aandag aan Baba kon skenk, sal jy ook hierdie stadium oorleef.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх