Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 21

ALKOHOL, DWELMS EN ROOK

Оглавление

Deur die jare het baie vroue al teenoor my hul kommer gelug oor die uitwerking van hierdie gewoontes op hul pas verwekte babas. Teen die tyd dat jou swangerskap bevestig word, het vier tot agt uiters belangrike weke van die baba se ontwikkeling reeds verloop. Hierdie gewoontes kan potensieel verwoesting aanrig in daardie tyd.

Alkohol en dwelms

Die enigste bekende veilige perk vir alkohol en ander dwelms gedurende swangerskap is nul. Jou liggaam se reaksie op alkohol hang van jou individuele samestelling af. Volgens beskikbare navorsing sal ’n glasie wyn af en toe waarskynlik nie skade aanrig nie. Vergryping, selfs net by uitsondering, kan egter net so nadelig wees vir Baba as ’n gereelde strawwe drinkery. Spiritualieë moet vermy word. Strawwe alkoholinname gedurende swangerskap hou verband met ’n hele sindroom van probleme, waaronder gebrekkige breinontwikkeling. Al is uiters matige gebruik nie juis rede tot kommer nie, kom spyt altyd te laat. Indien daar ’n neiging tot alkohol- of ’n ander afhanklikheidsprobleem by enigeen van die twee families is, moet jy dit liefs heeltemal vermy om afhanklikheid by die ontwikkelende baba te voorkom.

Baie vroue is bekommerd omdat hulle alkohol gebruik het voor hulle geweet het hulle is swanger. Vermy dit verkieslik heeltemal of beperk jou inname grootliks as jy swangerskap beplan, ingeval bevrugting plaasvind, maar soms gebeur die onvoorsiene. Ek kan nie ’n absolute versekering kan gee in hierdie verband nie, maar dit is onwaarskynlik dat jy jou daaroor hoef te kwel as alkohol nie vir jou of die pa ’n probleem was nie en jy jou nie te buite gegaan het in die eerste paar weke nie.

Dwelmgebruik en -misbruik kan afhanklikheid by die baba kan veroorsaak. As dit ’n eenmalige ondervinding was, het jou baba tyd in die baarmoeder om die natuur se helende en suiwerende invloed te ervaar. Ongelukkig is daar geen waarborg dat geen skade aangerig is nie. Die vroeë sonar sal gewoonlik aandui of Baba na wense ontwikkel.

Rook

Rook tydens swangerskap hou uiteenlopende nadele in. Rokers se vrugbaarheid word ook benadeel. Die bloedvate wat na die plasenta lei, is meer geneig tot afwykings, wat beteken dat die plasenta gewoonlik dunner en broser is. Dit is die baba se lewensinstandhoudingstelsel wat ’n rol speel in die voorsiening van suurstof en voedingstowwe, asook die verwydering van afvalstowwe. Rokers het twee maal meer miskrame en stilgeboortes, moontlik vanweë die swak toestand van die plasenta of afwykings by die ontwikkelende baba, wat lei tot miskraam.

Hulle sê minder as tien sigarette per dag is nie te riskant vir ’n ontwikkelende baba nie, maar die wrede werklikheid is dat hierdie babas meer geneig is tot respiratoriese probleme, wiegiedood en allergieë ná geboorte, ongeag hoeveel sigarette die ma gerook het, maar hoe minder hoe beter. Ek weet dit is moeilik om op te hou rook, maar jy sal jou baba ’n lewenslange guns bewys en ek wil jou aanmoedig om te probeer. Dit is glad nie riskant om eensklaps op te hou nie, en dit is werklik die beste manier om te verseker dat Baba van so vroeg moontlik af binne die gunstigste omgewing ontwikkel.

Dit is oor die algemeen nie makliker om stadig minder te rook nie, hoewel sommige mense wat sukkel om eensklaps op te hou, vind dat dit help om aanvanklik net drie of vier trekke van ’n sigaret te vat voordat hulle dit dooddruk en weggooi, aangesien die nikotiendrang effens afneem ná ’n paar trekke.

Verwagtende vaders en nabye familie en vriende behoort kennis te neem dat hierdie inligting ook op hulle betrekking het, aangesien passiewe rook ewe skadelik is.

Angstigheid lei dikwels tot rook gedurende swangerskap. Die homeopatiese middel Sister Lilian Emotion-tablette sal jou help om die situasie positief en veilig te benader. Indien die swangerskap en geboorte jou angstig maak, lees meer oor die kraamproses en opsies vir pynverligting. As dit hoofsaaklik ’n gewoonte is, kan jy probeer besig bly met kreatiewe aktiwiteite en tipiese situasies vermy waar jy outomaties ’n sigaret sou aansteek.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх