Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 15

VRUGBAARHEID, OUDERDOM EN GESONDHEID

Оглавление

Aangesien ’n vrou se vrugbaarheid van ongeveer 35 af merkbaar afneem, kan dit ’n bydraende faktor wees tot langdurige probleme om swanger te raak. Dit gebeur egter nie oornag nie, en in ’n era waar paartjies verkies om later met ’n gesin te begin behoort dit nie ’n oorheersende bekommernis te wees nie. Lees meer oor die invloed van ouderdom op vrugbaarheid in Die beste ouderdom om ’n baba te hê.

Siste en fibroïede aan ’n vrou se voortplantingsorgane (eierstokke, Fallopiusbuise of baarmoeder) kan soms vrugbaarheid belemmer, maar dit is dikwels nie ’n faktor nie. Baie vroue ontdek vir die eerste keer dat hulle siste of fibroïede het tydens hul vroeë sonarondersoek. Hulle het dikwels geen las daarvan gehad nie, behalwe moontlik ongemak tydens menstruasie. Lees meer hieroor in Die swanger vrou se gesondheid.

Toestande soos endometriose word ook met bevrugtingsprobleme geassosieer. Endometriose is ’n toestand waar die wand van die baarmoeder baie meer as normaal verdik, terwyl soortgelyke weefsel buite die baarmoeder groei, byvoorbeeld in die maagholte, aan die Fallopiusbuise en selfs in die longe. Blootstelling aan sintetiese estrogene (byvoorbeeld in voorbehoedmiddels en uit verskeie omgewingsbronne) mag moontlik endometriose veroorsaak. Daar is ook dikwels ’n familiegeskiedenis van hierdie toestand. Vroue met ’n perfeksionistiese geaardheid, wat besonder bewus is van tydsbestuur en gedrewe is om te presteer, loop ’n hoër risiko as ander.

Endometriose veroorsaak intense pyn, veral gedurende menstruasie. Die behandeling behels gewoonlik ’n kombinasie van medikasie en chirurgie om die weefsel te verwyder. Dit help dikwels om doelbewus te ontspan en minder gejaagd te probeer lewe, hoewel professionele terapie soms nodig is om dit te bereik.

Baie vroue met vrugbaarheidsprobleme vind baat by homeopatiese middels. Die weefselsoutmiddel Calc sulph bied ’n moontlike oplossing indien die dop van die vroulike eier nie sterk genoeg is nie. Hierdie toestand word nie maklik gediagnoseer nie, maar is een oorsaak waarom ova disintegreer voordat hulle bevrug kan word. Dit mag heel moontlik die moeite werd wees om ’n homeopaat te raadpleeg voordat jy duur vrugbaarheidsbehandeling ondergaan.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх