Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 17

Die beste ouderdom om ’n baba te kry

Оглавление

Ek twyfel of daar iets soos die beste ouderdom is om met ’n gesin te begin. Verskillende ouderdomme en omstandighede hou voor- én nadele in, en dit bly ’n hoogs persoonlike besluit. Vroue wat sukkel om swanger te raak, beny ander die relatiewe luukse om in ’n posisie te wees om so ’n vraag te oorweeg. Ek hoop hierdie boek sal jou help om te besluit wat die beste vir jou is.

Vroue het nog altyd in hul laat dertiger- of veertigerjare babas gekry – gewoonlik ‘laatlammetjies’ – dikwels as ’n gevolg gebrekkige of ondoeltreffende voorbehoeding. Deesdae is dit dikwels ’n bewuste besluit om eers baie later met ’n gesin te begin. Daar is talle en uiteenlopende redes vir hierdie ontwikkeling:

•beduidende vordering op die gebied van voorbehoeding gedurende die laaste helfte van die twintigste eeu;

•meer loopbaanmoontlikhede vir vroue;

•mense dink nie meer ouer enkellopende vroue ‘sit op die rak’ nie;

•mense skei en trou weer, en wil kinders hê uit die nuwe huwelik;

•sommige vroue (en hul maats) wil hul jeug geniet sonder die las van ouerskap;

•baie wil meer finansiële en emosionele sekuriteit hê voordat hulle die verantwoordelikheid van ouerskap aanvaar;

•’n merkbare afname in vrugbaarheid onder sowel vroue as mans, en ’n toename in afwykings in menstruele siklusse;

•vroue wat verkies om nie te trou nie maar wat wel ’n kind wil hê, is geneig om dit in hul dertiger- en veertigerjare te doen, eerder as op ’n jonger ouderdom.

Om ná 35 ’n baba te hê, is nie soveel meer riskant as op ’n jonger ouderdom nie. Die risiko styg nie eensklaps nie, hoewel een of ander faktor van jaar tot jaar meer beduidend mag raak. Daar kan ook ’n mate van risiko van die kant van ’n ouer vader wees, hoewel dit uiters moeilik is om akkuraat na te vors.

Dit hou sekere voordele in om eers op ’n later ouderdom babas te kry, en dit kan die ma én die baba bevoordeel. Navorsing toon dat hoër opvoedingstandaarde en verbeterde sosio-ekonomiese status verbind word met gesonder swangerskappe en babas onder ouer moeders. Die moeder se goeie gesondheid en lewenstyl is baie belangriker as haar chronologiese ouderdom.

Genetiese afwykings is ’n algemene kwelling. Net soos die verouderende eiers meer miskrame kan veroorsaak, kan dit ook bydra tot die geleidelike verhoging in die risiko van genetiese afwykings onder babas van vroue bo 35. Die algemeenste afwyking is Down se sindroom. Terwyl die risiko van Down se sindroom op dertig sowat een uit 885 is, styg dit tot ongeveer een uit 365 vir ’n 35-jarige vrou, en een uit 110 op veertig. Hoewel dit uiters angswekkend kan wees vir mense wat deur die moontlikheid gekonfronteer word, kom dit neer op ’n risiko van minder as een persent. Die risiko is onmiskenbaar, maar nie oorweldigend nie, en hoewel dit toeneem met ouderdom, is die meeste vroue bo 35 se babas volkome normaal.

’n Mens se gesondheid verswak gewoonlik namate jy ouer word, en toestande soos diabetes en hoë bloeddruk tydens swangerskap kom meer dikwels onder vroue bo 35 voor (sien Komplikasies tydens swangerskap). Ander sirkulasieprobleme soos spatare en bloedklonte is ook effens meer waarskynlik (sien Klagtes en kwale tydens swangerskap). Babas van ouer moeders is dikwels kleiner weens sulke gesondheidsprobleme. Dit kan hul wegspring in die lewe effens bemoeilik, maar met goeie swangerskapsorg en indien die moeder haar deel doen om gesond te leef voor en tydens die swangerskap, kan hierdie probleme tot die minimum beperk en gewoonlik maklik behandel word.

Baie vroue wat verkies om eers later in hul lewe ma te word, is gesondheidsbewus en het baie jare lank gesonde eet- en oefenpatrone gevolg. Hulle verstaan die noodsaaklikheid van ’n gebalanseerde lewe, hoewel party uiters ambisieus is en te min rus en ontspan. Matigheid, eenvoud en wysheid is die sleutelelemente om jou kans op ’n gesonde swangerskap, geboorte en baba te verhoog. Hoewel jou liggaamlike krag en stamina moontlik effens afgeneem het teen 35 en daarna, hoef jy jou nie daaroor te kwel indien jy versigtig is en gesond lewe nie.

Effens ouer mense is emosioneel meer volwasse en beter in staat om die wisselvallighede van ouerskap te hanteer. Jul verhouding is teen dié tyd stewig gevestig op jare se vertroue en sorgsaamheid, en die kans is kleiner dat die onvermydelike spanning van die babastadium jul huweliksbootjie sal laat kantel. Die begeerte na ’n baba is gewoonlik baie sterk wanneer jy ouer is. Ma’s en pa’s wat die babastadium voorop stel, word minder ontstel deur die inbreuk wat dit op hul persoonlike ruimte en tyd maak. Hoewel julle gewoond is aan jul roetine en jul eie ruimte, is Baba gewoonlik ’n baie welkome toevoeging tot die gesin. ’n Mens het hope geduld nodig vir ’n baba, en ouer ouers is gewoonlik meer geduldig.

Ouer ouers het dikwels geen of aansienlik minder finansiële kwellinge, wat ’n baie belangrike stresfaktor uitskakel. Geldelike probleme kan allerlei onsekerhede en spanning veroorsaak, wat ouerskap nog meer ingewikkeld maak. Babas en kinders voel gou oormatige huislike spanning aan en dit kan hulle ongelukkig maak, wat tot ’n bose kringloop aanleiding kan gee. Dit kos nie soseer baie om ’n kind groot te maak nie, maar die lewenskoste kan ’n probleem wees as julle nog nie jul hulpbronne opgebou en gekonsolideer het nie. Dit geld veral indien julle nie veel ondersteuning van jul uitgebreide familie kry nie.

Ná die onafhanklikheid van die volwasse lewe kan dit ’n groot uitdaging vir ouer ouers wees om 24 uur op diens te wees en op ’n baba se dikwels onvoorspelbare patrone en behoeftes te moet reageer, veral as jy baie georden en doelwit-geöriënteerd is. Die speelsheid van jonger ouers kan ’n waardevolle ouerskapsvaardigheid wees wat die las help verlig, en ouer ma’s en pa’s kan ewe goed dié faset van hulself herontdek.

’n Baba later in jou lewe kan moontlik jou vriendskappe met jou tydgenote wat nie dan babas het nie, beïnvloed, hoewel daardie potensiële probleem vinnig aan die verdwyn is noudat al hoe meer vroue hierdie opsie verkies. Jy voel dalk jy het minder tyd oor om die lewe te geniet teen die tyd dat die kinders groot is, maar die meeste mense sê dat die verlengde jeugjare voordat hulle met ’n gesin begin het daardie behoefte bevredig het.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх