Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 11

BELANGRIKE VROULIKE HORMONE

Оглавление

Die endokriene stelsel is geweldig kompleks. Dit is nie nodig om alles oor hormone te weet nie, maar ’n vlugtige oorsig van dié wat die belangrikste rol in vroulike voortplanting speel, sal verhelderend wees. Die onderskeie hormone verkeer in ’n dinamiese balans en word beheer deur die pituïtêre klier, wat in die middel van die brein geleë is.

ESTROGEEN

•Die woord estrogeen is afgelei van die Griekse woorde oistros, wat ‘waansinnige begeerte’ en gennan, ‘om te vervaardig’ beteken.

•Estrogeen word deur die eierstokke en bynierskors afgeskei, en tydens swangerskap deur die plasenta.

•Dit veroorsaak die tipies vroulike seksuele kenmerke tydens puberteit.

•Dit is verantwoordelik vir sikliese veranderinge in die endometrium (binnewand van die baarmoeder) en die vagina.

•Dit onderhou nuwe lewe in die uterus.

•Dit is belangrik vir die metabolisme van kalsium.

•Dit kan hoofpyne, uitputting, prikkelbaarheid, teerheid van die borste en waterretensie veroorsaak.

PROGESTEROON

•Dit word deur die corpus luteum (die plek in die eierstok waar die maandelikse eiersel vrygestel word) en die bynierkliere vrygestel, en gedurende swangerskap deur die plasenta.

•Dit berei die endometrium voor vir die ontvangs van die bevrugte eier ná ovulasie.

•Dit is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die plasenta en word ook later deur die plasenta afgeskei.

•Progesteroon beïnvloed die ontwikkeling van die melkkliere.

FOLLIKELSTIMULERENDE HORMOON (FSH)

•Hierdie hormoon word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.

•Dit is verantwoordelik vir die rypwording van die eiersel.

LUTEÏNISERENDE HORMOON (LH)

•Dit word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.

•Dit stimuleer ovulasie.

•Dit is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die corpus luteum.

PROLAKTIEN

•Dit word deur die anterior pituïtêre klier vrygestel.

•Dit is medeverantwoordelik vir laktasie.

OKSITOSIEN

•Dit word deur die posterior pituïtêre klier vrygestel.

•Dit word tydens seks en die geboorteproses vrygestel en verseker suksesvolle laktasie.

•Dit laat die selle van gladde spiere in die voortplantingstelsel en die melkklierselle saamtrek.

MENSLIKE CHORIONIESE GONADOTROFIEN (HCG)

•Dié swangerskapshormoon word deur die onryp, ontwikkelende plasenta vrygestel sodra die bevrugte eiersel in die endometrium ingeplant word.

•Die vlakke in die moeder se urine en bloed kan swangerskap baie akkuraat bevestig.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх