Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 13

’n Vlugtige blik op vrugbaarheid VOORBEHOEDMIDDELS EN SWANGERSKAP

Оглавление

Chemiese voorbehoedmiddels soos hormoontablette (die Pil) en inspuitings is oor die algemeen baie effektief. Mondelinge voorbehoedmiddels moet presies volgens voorskrif gebruik word. Jy mag met ander woorde nie ’n dag oorslaan nie. As jy die mini-pil (slegs progesteroon) gebruik, moet jy dit elke dag op dieselfde tyd drink. Indien jy antibiotika gebruik of aan ’n spysverteringsongesteldheid soos braking of diarree ly, kan dit gebeur dat mondelinge voorbehoedmiddels nie effektief opgeneem word nie en dat jy swanger raak. In sulke gevalle is dit belangrik om die res van die maand seks te vermy of ’n alternatiewe voorbehoedmiddel te gebruik, terwyl jy voortgaan om die Pil te drink. Dit geld nie indien jy ’n inspuiting gebruik nie.

Soms raak ’n vrou swanger ten spyte van die korrekte gebruik van ’n voorbehoedmiddel. Meestal hou dit skynbaar geen gevaar vir die swanger vrou of haar ontwikkelende baba in nie, hoewel geboorteafwykings volgens navorsing soms hieraan toegeskryf word. As jy geensins met ’n onbeplande swangerskap kan voortgaan nie, moet jy jou dokter raadpleeg sodat dit so vroeg moontlik in die eerste trimester beëindig kan word.

Voltooi ’n volle pakkie van die mondelinge hormonale voorbehoedpil voordat jy probeer swanger raak, ten einde die hormoonbalans so min moontlik te versteur. Daar word gewoonlik aanbeveel dat jy jou liggaam drie maande gun om aan te pas ná langdurige gebruik van ’n voorbehoedmiddel (hormonale en intra-uteriene apparate), hoewel baie vroue byna onmiddellik, of selfs terwyl hulle nog voorbehoedmiddels gebruik, sonder probleme swanger raak. Homeopatiese middels kan die endokriene stelsel help om gouer te stabiliseer en verhoog die waarskynlikheid van bevrugting indien jou menstruele siklus ongereeld is.

Hoe langer jy hormonale voorbehoedmiddels gebruik het, hoe langer duur dit gewoonlik om swanger te raak, maar dit bly ’n baie individuele saak. Talle faktore speel ’n rol in hoe lank dit neem om swanger te raak, maar as jy nie binne ses tot twaalf maande verwag nie, behoort jou ginekoloog ’n algemene ondersoek te doen. Dit is raadsaam om ’n algemene ondersoek te ondergaan wanneer jy ophou met voorbehoedmiddels, beplan om swanger te raak of sukkel om swanger te raak. As daar skynbaar niks met jou skort nie, moet jou maat ook ondersoek word. Volgens navorsing ondervind die man net so dikwels vrugbaarheidsprobleme as die vrou.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх