Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 18

Jul verhouding

Оглавление

Almal weet babas red nie huwelike nie, en tog vestig paartjies met tanende verhoudings verstommend dikwels hul hoop op ’n baba om hul huislike geluk te herstel. Dit kan wonderlik wees om saam oor jul kind se hebbelikheidjies en persoonlikheidseienskappe te glimlag in die wete dat julle as pa en ma die enigste mense is wat hom of haar werklik verstaan en so intens liefhet. ’n Kind kan egter nié ’n diep kloof tussen julle genees nie.

Miskien koester ons onrealistiese verwagtinge van die huwelik of liefdes-verhoudings, maar net soos ons die eienskappe wat ons vir ons loopbane nodig het, slyp en oefen, behoort ons dieselfde te doen vir hierdie tydrowende en uiters belangrike aspek van ons lewe. Ek glo dat die volgende aspekte onontbeerlik is vir elke verhouding:

•respek vir mekaar se individualiteit;

•tyd wat daarin belê word om jou maat goed te laat voel;

•gereelde kommunikasie sonder sarkasme;

•die vermoë om te vergewe en vergifnis te vra.

Deur tyd te maak om saam dinge te doen, skep julle ’n vrugbare teelaarde vir die koestering en beoefening van hierdie vaardighede. En wanneer die wittebrood-stadium van jul verhouding onvermydelik verbygaan, onthou dat dit natuurlik is, en dat ’n sterk, sorgsame vriendskap die verhouding op die duur sal voed.

Wees eerlik met jouself voordat jy jou op die pad na ouerskap begewe:

KYK DIE WERKLIKHEID IN DIE OË

•Kan jy en jou maat jul probleme oorkom?

•Baklei julle voortdurend op ’n destruktiewe manier?

•Respekteer julle mekaar?

•Deel julle ’n verskeidenheid soortgelyke belangstellings en vriendskappe?

•Ondersteun julle mekaar in jul persoonlike ambisies?

•Gun julle mekaar die ruimte om as individu te ontwikkel?

Moenie die fout begaan om swanger te raak as jy eenvoudig voel dat die kloof tussen julle al hoe wyer gaap nie. As julle eers ’n baba het, skep dit die gevoel dat julle vir ewig aan mekaar gebind is. Van hoeveel vriendskaplike egskeidings het jy al gehoor, waar die kinders se belange voor die ouers s’n gestel word? En boonop is daar dan die kwessie van toegang en finansies om albei maats se lewe verder te kompliseer, en om verder sout in die wonde te vryf. Dink aan jou kind se skoolgeleenthede, gradeplegtigheid en huwelik. Hoeveel hartseer en ongemaklikheid gaan dit nie alles vir die hele familie inhou nie?

Ek is ten gunste daarvan dat huwelike gered moet word en wil jou aanmoedig om in ’n positiewe, sorgsame gees aan jul verhouding te werk. Maar moenie die druk onderskat wat babas en kinders op ’n reeds wankelrige verhouding kan plaas nie.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх