Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 20

DIE BELANGRIKHEID VAN INDIVIDUALITEIT

Оглавление

Die heel belangrikste is om te besef dat gepaste individuele voorbereiding nodig is om optimale gesondheid vir sowel ma as baba te verseker. Probeer vasstel in watter een of twee van die volgende groepe jy tuishoort en pas die betrokke voedings- en lewenstyladvies toe. Jy sal agterkom dat dit op ’n diep psigobiologiese vlak sin maak. Die uitwerking van ’n paar aanpassings behoort jou gou te oortuig dat jy jou swangerskap positief kan beïnvloed. Hierdie stelsel van holistiese medisyne het ’n lang en ryk geskiedenis. Aangesien dit op gesonde verstand berus, hou hierdie soort lewenstyl duidelik waarneembare voordele in.

Ek gee dwarsdeur hierdie Swangerskap- en geboorteboek wenke vir elke groep wat nuttig te pas sal kom tydens swangerskap, kraam en die vroeë stadium van ouerskap.

GROEP 1: ENTOESIASTIES, MAAR ANGSTIG

Is jy een van daardie komplekse vroue wie se gedagtes soos kwiksilwer is, met blitsige waarnemingsvermoë en ’n visioen van ’n miljoen dinge wat jy weet jy sou kon doen, as dit nie was dat jou energie in sulke kort, skerp sarsies vrygestel word nie? En jy weet dat jou kreatiewe sappe nie net sal vloei nie, maar iets waarlik wonderbaarliks sal voortbring, as jy jouself net kon dwing om ’n bietjie meer en beter te slaap. Jy is natuurlik ’n regte kommerkous wat jou oor alles en nog wat, van die kleinste tot die grootste probleem, kwel. Jou energievlakke val vinnig en jou wisselvallige eetgewoontes help nie juis om dit in stand te hou nie. Jy ly voortdurend aan onderliggende spanning, wat veroorsaak dat jy nogal baie gerusstelling nodig het. Die vooruitsig van swangerskap, geboorte en moederskap dra net verder by tot jou angstigheid, want jy wil jou uiterste bes doen – maar sal jy kan? Jy weet tandpyn is jou ondergang, hoofpyn ’n nagmerrie, en dat daardie opgeblaasde gevoel waaraan jy so dikwels ly uiters ongemaklik is. Hoe gaan jy ooit die kraampyne hanteer?

Eienskappe

Ander karaktertrekke: entoesiasties, opgewek, spraaksaam, besluiteloos, angstig, ongeduldig, buierig, verbeeldingryk, rusteloos, raak maklik opgewonde, leer en vergeet vinnig, hou nie van harde geluide nie, lief vir verandering.

Liggaamlike eienskappe: skraal liggaamsbou, tel stadig gewig op, loop lig en vinnig, koue hande en voete, hou nie van koue nie, beweeg vinnig, opwellings van energie, swak liggaamlike uithouvermoë, jou tong lyk soos ’n padkaart met baie lyntjies en krakies.

Eetpatrone en lewenstyl: ongereelde maaltye, intense honger wat gou gestil word, ’n suikertand, swak spysvertering, afkeer van mededingende sport wat uithouvermoë verg, swak slaappatrone, angsdrome.

Siektepatroon: droë vel en ekseem, opgeblaasdheid, diarree en hardlywigheid, winterhande en -voete, angstigheid, prikkelbaredermsindroom (PDS), hoë bloeddruk, artritis met krakende gewrigte, chroniese pyn, osteoporose.

Wenke vir voorbereiding op swangerskap

•Masseer elke aand voor jy gaan slaap die gedeelte tussen jou wenkbroue, oor jou slape en jou hart met warm sesamolie.

•Masseer jou hele buik een maal per week liggies met hierdie strelende olie en klim daarna in die bad. Dit sal jou help ontspan – iets wat jy nodig het.

•Skep ’n roetine in jou dag deur drie tot vyf klein maaltye aan tafel te eet.

•Moenie later as 22h00 gaan slaap nie en staan om 06h00 op, en reageer rustig op jou liggaamsfunksies.

•Skaal jou afsprake af en konsentreer op die taak voorhande. Dit sal jou help om teen jou eie tempo te funksioneer gedurende swangerskap, die geboorte en daarna.

•Doen daagliks ligte oefening. Kies iets wat jy instinktief geniet (mits dit veilig is), soos stap, dans, joga of tennis. Jou gesondheid sal daarby baat en die gevoel van welsyn sal jou selfvertroue oor die swangerskap en bevalling ’n hupstoot gee.

•As jy geneig is tot allergieë van die boonste lugweë soos sinusinfeksies en hooikoors, kan jy snags ’n bevogtiger met ’n paar druppels bloekomolie gebruik. Sorg net dat jy dit elke oggend behoorlik skoon- en droogmaak.

•Leer die gebalanseerde asemhalingstegnieke en die tongtoertjies wat onder Ontspanningsoefeninge beskryf word.

GROEP 2: VASBESLOTE, MAAR MET ’N BEHOEFTE AAN BEHEER

Wilskrag en doelgerigtheid is jou dryfkragte. Dit oortuig jou en andere soms dat niks jou kan onderkry nie en dat jy enige uitdaging die hoof kan bied. Jou stamina is gemiddeld, net soos jou liggaamsbou en -struktuur. Die wonderlikste van jou is dat jy weet hoe om vir uitdagings voor te berei en dat jy baie dapper is. Jy sal jou nie in swangerskap, kraam, geboorte en ouerskap begeef sonder behoorlike nadenke en ’n paar planne in jou mou nie. Jou behoefte aan beheer kan tot jou voordeel wees, maar ook tot jou nadeel. Swangerskap, kraam en moederskap vereis dat jy jou in ’n mate eenvoudig aan die proses moet oorgee en van oomblik tot oomblik moet aanpas om die meeste voordeel te put uit die geleenthede wat hulle voordoen. Jy sal dit moontlik moet leer doen. ’n Kraamomgewing waaroor jy meer beheer het, kan jou ervaring en gevolglik jou persepsie van hoe pynlik die proses was, grootliks verbeter.

Eienskappe

Ander karaktertrekke: vasbeslote, doeltreffend, ambisieus, presies, ordelik, krities, kwaai, koppig, ondernemend, intens, analities, sarkasties, goeie leier, duld nie dwaasheid nie.

Liggaamlike eienskappe: middelmatige beenstruktuur, geneig om vroeg grys of bles te word, sweet baie, loop met vasbeslote treë, matige krag en uithouvermoë, intense oë, gepunte rooi tong.

Eetpatroon en lewenstyl: maaltye moet betyds wees, geneig tot intense honger, groot eetlus, verkies koel kossoorte en drankies, hou nie van sterk gegeurde kos nie (hoewel jy ’n drang daarna kan hê), lief vir mededingende sport, altyd stiptelik.

Siektepatroon: spanning as gevolg van volgehoue harde werk, sooibrand, slegte spysvertering, aknee, veluitslag, halitose, maagsere, aambeie, warm gloede, ontsteekte rooi gewrigte.

Wenke vir voorbereiding op swangerskap

•Verslap die pas van jou intense aktiwiteit voor en gedurende swangerskap, word byna wat jy as ondoeltreffend sou afmaak. Jy sal ontdek dat die lewe ook ander fasette het, dat ontspanning heilsaam kan wees en dat jy besig is om ’n baie belangrike taak te verrig – om jou baba te laat groei!

•Bederf jouself met ’n weeklikse aromaterapie- of refleksologiesessie by ’n ervare terapeut. Dit sal jou help om te leer ontspan en te sit en “niksdoen” terwyl iemand anders iets vir jou doen. Jy sal ook agterkom dat beheer nie al is wat tel nie.

•Volg ’n gereelde, matig inspannende oefenprogram. Goeie oefening sluit swem, stap, strekoefeninge en joga in. Vermy mededingende sport, wat bykomende eise aan jou energie en jou liggaam se aangebore reguleringstelsel stel.

•Geniet so dikwels moontlik die kalmerende uitwerking van die natuur.

•’n Fonteintjie kan ook baie kalmerend wees vir intense vroue soos jy.

GROEP 3: ONTSPANNE, MAAR GENEIG TOT OORGERUSTHEID

As daar een groep vroue is wat ’n mens beny vir hul skynbaar natuurlike talent vir die lewe, swangerskap, kraam en moederskap, is dit dié een. Hulle is dikwels die Aardmoedertipe, maar dit is nie altyd met die eerste oogopslag duidelik nie. Hulle is wel ooglopend volkome ontspanne. Hulle is wonderlike vriende, aangesien hulle selde krities is en baie verdraagsaam is teenoor ander. As jy in hierdie groep tuishoort, het jy die bou van ’n atleet: sterk, met ’n groot beenstruktuur. Een van jou swakhede is jou voorliefde vir soetgoed, en jy mag dalk effens meer weeg as wat ideaal is. Jy is geseënd met ’n hoë pyndrempel en jy sweef deur die lewe.

Eienskappe

Ander karaktertrekke: vermoë om te ontspan, oorgerustheid, lojaliteit, jaloesie, normaalweg rustig, vriendelik, uitstekende geheue, onverstoorbaar, lieftallig, vergewensgesind, stadig en metodies, elegant, word stadig kwaad, kalmte.

Liggaamlike eienskappe: sterk liggaamsbou, tel maklik gewig op, stap ritmies, gladde glimmende vel, dik hare, groot blink oë, goeie uithouvermoë en stamina, hou nie van klamheid en koue nie, dik en groot tong.

Eetpatroon en lewenstyl: slaan maklik maaltye oor, trae spysvertering, stadige eter, emosionele eter, trae opstaner, slaap diep, hou van sport wat uithouvermoë verg, dikwels laat vir afsprake.

Siektepatroon: diabetes, allergieë, vetsug, depressie, mukuskongestie, sinus, brongitis, nat hoes, hoë cholesterol, los pynlike gewrigte.

Wenke om vir swangerskap voor te berei

•Oefen gereeld om jou natuurlike uithouvermoë ten beste te benut. Stap, draf, akwa-aërobiese oefeninge in die eerste twee trimesters en dans is goed vir jou. Jy kan tot ’n taamlik inspannende vlak opbou. Dit sal voorkom dat jy te ontspanne is en sorg dat jy in ’n uitstekende fisieke toestand is vir die geboorte.

•Pas tydbestuursvaardighede toe om jou te help in die bedrywige dae wat voorlê, maar moenie jou vermoë om sake in perspektief te sien, verloor nie.

•Skenk nou reeds spesiale aandag aan die algemene voedings- en ander spesifieke wenke (sien Voeding vir ’n gesonde swangerskap en baba).

•As jy oorgewig is, moet jy sorg dat jy die meeste oortollige kilogramme afskud voordat jy swanger raak om die swangerskap ’n gemakliker ervaring te help maak.

•As jy of jou nabye familie las het van allergieë, is dit raadsaam om reeds voordat jy swanger raak die ses algemeenste dieet-allergene – koring, koeimelk, soja, vis, eiers en grondboontjies – te vermy, asook enige ander waarvoor jy of jou maat spesifiek allergies is.

•Al is jy so lief om laat te slaap, moet jy teen 06h00 wakker word om te sorg dat jou stelsel gebalanseerd bly en jou liggaam se aangebore regulerende stelsels optimaal funksioneer.

•Reis is vir jou soos terapie en dit hou jou jonk en gelukkig. Reis gereeld!

•Pak ’n nuwe stokperdjie aan om jou energiek en op en wakker te hou.

•Stel jou horlosie ’n paar minute vroeg vir beter tydsbestuur.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх