Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 4

Inleiding

Оглавление

Ons leef in ’n bevoorregte tyd wat swangerskap en geboorte betref. Vroue het verskeie keuses wat hulle kan help om die spesiale drome te verwesenlik wat hulle vir hierdie ongelooflike fase in hul lewe koester. Daarbenewens is dit lankal baie veiliger om swanger te raak en geboorte te skenk as in die ou dae.

Danksy mediese ontwikkelinge kan die meeste gesondheids- en swangerskapskomplikasies doeltreffend hanteer word. Met goeie swangerskapsorg hoef vroue selde bekommerd te wees oor hul eie of hul babas se welsyn. En indien daar wel probleme opduik, kan hulle gerus wees dat uitstekende sorg beskikbaar is.

Die emosies wat gewek word deur die dra van ’n baba en die skenk van geboorte geniet egter nie altyd dieselfde aandag nie. Dit is ’n spesiale tyd in die lewe van elke vrou en paartjie, ’n ervaring wat hulle bemagtig vir die uitdagende reis van ouerskap. ’n Vrou het veertig weke van swangerskap om meer uit te vind oor die opsies tot haar beskikking om die hoogtepunt van die kraam- en geboorteproses, baba se geboortedag, ’n wonderlike ervaring te maak. Daar is nie net een regte manier om ’n baba te kry nie; die beste swangerskap en geboorte word bepaal deur elke individuele vrou en baba se spesifieke behoeftes.

Dit was nooit tevore moontlik om optimale mediese veiligheid en terselfdertyd die enorme voordele van ’n meer natuurlike benadering te geniet nie. Hierdie Swangerskap- en geboorteboek is die sleutel tot die insig dat hierdie twee benaderings geïntegreer kan word om jou te help om jou spesiale droom te vervul. Dit sal jou die wysheid gee om die keuses te maak wat die beste vir jou is.

Dit is doodnatuurlik om angstig te voel – oor jou baba se veiligheid en gesondheid, die mediese ondersoeke, jou verlies aan privaatheid, hoe jy die kraam gaan hanteer, en hoe jy liggaamlik en emosioneel gaan voel ná die geboorte. Bemagtig jouself met kennis en steun op die wysheid van Moeder Natuur, in die gerusstellende wete dat die veiligheidsnet van gevorderde mediese sorg jou beskerm. Swangerskap is ’n opwindende deel van die lewe, ’n ongelooflike tyd waartydens jou gees en liggaam sal wys waartoe die mens alles in staat is. Elke vrou verdien om hierdie kosbare tyd te geniet en kan dit ook geniet.

Neem hierdie boek saam op jou swangerskapsreis – ek dra dit op aan al die vroue wat die toekoms van die wêreld in hul baarmoeders dra. Beleef elke nuwe emosie met vreugde en verwondering namate jou klein wonderwerkie in jou groei. Speel ’n aktiewe rol in jou swangerskap en die geboorte – dit is jou belewenis. Dit is nie ’n mediese toestand nie, maar ’n lewensfase. Vroue het die aangebore vermoë en talent om ’n baba te dra en geboorte te skenk.

Dit is my wens dat hierdie Swangerskap- en geboorteboek jou op elke tree van jou reis sal vergesel as ’n wyse en onkritiese vriendin.


Suster Lilian

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх