Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 25

EIENSKAPPE OM AAN TE KWEEK VIR SUKSESVOLLE OUERSKAP

Оглавление

Ongeag waarom jy besluit het om ’n baba te hê, kom die realiteite van ouerskap dikwels nogal as ’n skok. Watter eienskappe moet jy aankweek om ’n suksesvolle ouer te wees?

Voorgeboorteklasse lig ouers selde in oor die allerbelangrike rol van die vermoë om te ontspan (onder enige en alle omstandighede). Voornemende ouers behoort ’n blaaskans te neem van die adrenalieninspuiting van die moderne volwasse lewe. As jy ’n stadiger pas handhaaf gedurende die swangerskap en jou kind se eerste lewensjare, sal jy waarskynlik kan sê: ‘Ek het daardie tyd geniet.’ Hoe selde sê ouers dit!

Raak bewus van jou innerlike kind. Mans vaar gewoonlik beter hiermee as vroue. Herontdek die towerkrag van die lewe soos gesien deur die oë van ’n kind, en moenie te maklik in die slaggat trap om ’n kind se perspektief te vergeet nie.

Moenie te gejaagd wees nie. Jou baba sal minder stres registreer, en jy ook.

Die meeste ouers ondervind geen tekort aan eindelose liefde vir hul kleingoed nie, hoewel hulle nie altyd van hulle – of van wat hulle doen – hou nie! Dit is doodnormaal. Weerhou jou egter daarvan om jou kinders se liggaamlike behoeftes bo hul emosionele behoeftes te stel.

Jy het dalk oorvloedige liefde, maar geduld is ’n ander saak. Dit help soms om te onthou dat kinders ’n ander perspektief op die lewe het as volwassenes. Hul prioriteite verskil hemelsbreed van joune. Die idee is nie om te kyk wie se gees eerste geknak gaan word nie, maar om maniere te vind om in vrede saam te leef.

Veral met ’n eerste kind is ons voortdurend deel van ’n eksperiment – alles wat met ons gebeur, gebeur vir die eerste keer, selfs al is dit jou 25-jarige wat raad vra oor die liefde. Wees geduldig met jouself, maar sorg dat jou optrede nooit jou baba of kind benadeel nie.

Ek glo ’n klein bietjie ondoeltreffendheid is noodsaaklik vir goeie ouerskap. Jou kind is nie ’n taak wat doeltreffend afgehandel moet word, soos ’n stuk werk nie. Baie van ons kry eers later in ons lewe kinders en is daaraan gewoond om ons loopbane en huishoudings met voorspelbare bekwaamheid te organiseer. Ons probeer dan dit op ons ouerskapstyl oordra. Moenie! Dit gaan nie werk nie.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх