Читать книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor - Страница 28

BEREI JOU PEUTER VOOR OP DIE KOMS VAN DIE NUWE BABA

Оглавление

Dit is ’n goeie idee om die peuter op die koms van die nuwe baba te begin voorberei sodra jou swangerskap sigbaar raak. Hulle sal moontlik nie die konsep heeltemal snap nie, en nege maande is ’n lang tyd om vir die beloofde ‘speelmaatjie’ te wag. Aanvanklik sal hulle waarskynlik bloot aanvoel dat iets anders is en hulle sal moontlik nie verstaan dat daar ’n bababoetie of -sussie op pad is nie. Kyk saam na prente van babas, wys vir hulle diere en hul kleintjies, en blaai deur boeke met prente van ma’s en babas.

Laat jou peuter voel wanneer Baba begin skop, wys vir haar jou maag en vertel haar Baba is besig om te groei en sal oor ’n rukkie groot genoeg wees om uit te kom. Herhaal dit in die loop van die volgende paar maande. Dit sal ’n hele ruk duur voordat ’n peuter hierdie ingewikkelde gebeurtenis snap. Vertel teen die einde van jou swangerskap vir jou peuter dat jy ’n paar dae lank hospitaal toe gaan. Verduidelik wie haar gaan oppas. As dit Pa gaan wees, laat hulle nou alleen tyd saam deurbring sodat jou peuter daaraan gewoond kan raak. As julle vriende met ’n baba het, kan jy jou kind saamneem om te gaan kuier of ’n uur lank die baba op te pas. Gesels oor wat gaan gebeur wanneer Baba huis toe kom. Ouers maak dikwels die fout om vir peuters te vertel dat hulle ’n boetie of sussie gaan kry om mee te speel. Die teleurstelling is dan groot wanneer Baba tuis kom en net slaap, huil of lê.

Die koms van ’n nuwe boetie of sussie is een van die grootste stressors in die lewe van ’n kind. Probeer sorg dat daar geen ander groot aanpassings gedurende hierdie tyd is nie. Laat die baba vir jou peuter ’n geskenk saambring wanneer hy gebore word. Sodra julle tuis kom, kan iemand anders Baba vir ’n rukkie vashou terwyl jy op jou peuter konsentreer. Jou peuter mag aanvanklik ’n bietjie stil wees en kwaad voel omdat jy nie tuis was nie, maar wees geduldig. Probeer om jou ouer kind by Baba te betrek as hy die behoefte het. Jou peuter sal moontlik vra om Baba vas te hou of aan hom te raak. Moedig dit aan onder streng toesig. As hy aan die ander kant aanvanklik geen belangstelling toon nie, moenie daarop aandring nie. Hy het tyd nodig om alles in te neem.

Probeer om ononderbroke, spesiale tyd alleen saam met jou peuter deur te bring terwyl Baba slaap of deur iemand anders opgepas word. Dit sal help om jou ‘groot baba’ gerus te stel dat sy nog net so belangrik soos tevore is vir jou. Wees bedag op die moontlikheid van ’n mate van regressie of jaloesie teenoor die nuwe baba.

Die hele gesin moet aanpassings maak by ’n nuwe baba se koms. As hierdie tyd met hope geduld en gerusstelling benader word, sal julle dit almal goed hanteer.

Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Подняться наверх