Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 10
7
ОглавлениеDinge kan soms absoluut gelyktydig in ’n mens se lewe gebeur. Nooit het Berna dit so sterk besef as met die ontvangs van die twee tydings gelyk nie. Eers bel Julia. En huil.
“Ek wil jou graag troos, Julia, maar ek weet nie waaroor jy huil nie,” paai Berna. Daar is weer die absoluut onsinnige ingewing dat dit oor Ronald kan gaan. Ronald wat dood is.
“Hoe kan ek nou oor die foon vir jou sê?” Julia huil harder. “Daar waar jy is, kan almal mos nog inluister na wat ’n mens praat.”
“Dit is nie so nie, Julia. Die dorp het ’n outomatiese sentrale. Jy kan regtig maar praat.”
“Ek het net gedink om te vra as jy dalk stad toe kom, moet jy hier aankom.”
“Maar ek sal julle mos nie oorslaan nie, Julia. Hoewel, ek was nie van plan om gou te kom nie. Ek het my hande baie vol hier met die nuwe werk. Maar sê my, is dit ’n saak van dood en lewe?”
“Daar is meer dinge op aarde as dood of lewe.” Dis die eerste diepsinnige ding wat Berna nog ooit vir Julia hoor sê het. “Of ja, sê maar dit is.”
“Is wat?”
“’n Saak van dood of lewe.”
“Kan ek met Ron praat?”
Maar Julia het of nie gehoor nie, of sy ignoreer die versoek, want sy sit die gehoorbuis neer sonder om te groet. Dit is nou ’n mooi grap, besluit Berna. So ’n oproep is genoeg om ’n mens die bloue harnas in te jaag. En hier by die winkel kan sy beslis nie nou weg nie. Wat aan ’t gebeur is, is byna soos die oopskiet van ’n volryp saad. Noudat al die boekwerk in orde is en dinge kan begin loop, is daar ineens geen keer nie. Berna bevind haar midde-in ’n florerende saak waarvan sy die absolute spil is. Ja, want Lammie geniet dit deesdae meer om pop te speel. Die tweeling is soos hanslammers op haar hakke.
“Herinner hulle jou aan jou kleindogter?” het Berna haar een aand, na haar besoek aan Johan Jonker, onverwags gevra.
Lammie het nie gevra hoe sy weet nie en na ’n tydjie net peinsend gesê: “Ek het ’n foto’tjie van haar in my Bybel. Wil jy sien?”
“Natuurlik. En jou ander kinders, tannie Lammie? Jy het in die begin vir my gesê jy het ander kinders gehad.”
“Ja, maar ek het hulle nie meer nie, want hulle ken my nie meer nie. As hulle hier kom, gaan hulle by Roux op die plaas kuier; by hulle broer, ja, maar nie by hulle ma nie.”
Daar was soveel bitterheid onder die oppervlakte, dat Berna die ondervraging wyslik gestaak en in plaas daarvan die foto van die kleinkind bestudeer het. “Bambie le Roux,” staan agterop geskryf, en die blonde meisietjie lyk te onskuldig om ’n twisappel te wees. Wat is die lewe tog ingewikkeld. Ja, ook hier op Rensdal. Is dit nie wat Johan Jonker die eerste aand gesuggereer het, toe hy vir Uys Krige aangehaal het nie?
Enkele ure na Julia bel Berna se ou stiefpa. Hy huil ook, maar sy eien dit onmiddellik as krokodiltrane. “Is my ma siek, oom Japie?” Sy het hom nooit “Pa” kon noem nie.
“Nee, erger,” sê hy in ’n gebroke stem. “Sy het die tydelike met die ewige verwissel.”
“Dood?” Berna voel die bloed uit haar gesig wegsyg. Haar ma, die enigste band met haar andersins familielose verlede. Die enigste een wat geweet het hoeveel eindelose middae die klein Berna op die koshuisstoepie gesit en drome droom het, die een wat uit powere middele ’n bruilof gegee het, “want ek smeer nie my eie kind aan ander af nie, en jy is ook nie slegter as ander mense se dogters wie se ma’s vir hulle instaan nie”. Gevolglik was daar, tot Julia Joubert se opperste ongeloof en teleurstelling, ’n klein maar behoorlike bruilof waarvoor haar raad en ondersteuning geensins gevra is nie.
Ek moet gaan, dink Berna oorbluf. Om te gaan wát, weet sy nie. Vir die begrafnis, natuurlik, maar daarvoor en daarna? Daar is nie eens wafferse besittings om uit te sorteer nie. ’n Testament sal niks beteken nie, want ’n erfporsie is daar nie. Die ou man (wat nie eens so baie oud is nie, maar Berna dink altyd aan hom as “ou stiefpa”) sal seker aanbly in die huisie wat met haar ma se spaargeld gekoop is. Moontlik is daar nie eens geld vir ’n begrafnis nie.
Die laaste gedagte is ontstellend. ’n Begrafnis kos vandag baie geld, en sy as dogter het dit nie. Goed en wel, sy beweeg in die rigting van sukses, geregtig op die helfte van die skoon wins van Koskas. Maar dis geld wat nog moet inkom. Sy was ’n maand lank sonder salaris, wou niks vat van Dawie en Lammie wat soveel vir haar oorhet nie. Sy het van die geld wat Hartogh aan haar uitbetaal het, gebruik. Die pensioengeld het ook gekom, dit probeer sy werklik spaar.
Toe sy ’n bietjie gehuil het, ook ’n bietjie gebieg het teenoor Dawie en Lammie, voel sy beter. Sy sal aan praktiese reëlings moet dink. Lammie en die res van die komitee kan waarneem solank sy weg is. Met dank aanvaar sy die aanbod om die tweeling hier te los. Op die pad is hulle net blootgestel aan ongerief en gevaar, en daar anderkant aan ’n verdriet wat vir hulle verstandjies onvatbaar is omdat hulle hierdie ouma kwalik geken het.
Sy gee haar motor wat so lui en slukkerig is, vroegmôre in om versien te word, en hoor dat sy dit teen laatmiddag weer sal kan kry. Dit pas; dan kan sy môreoggend vroeg ry. Die ou stiefpa het skynbaar nog niks begin reël nie. Sy sal moet gaan instaan. Die nikswerd ou ding. As dit van hom afhang, sou hy sy gedienstige vrou balsem indien sy hom so nog langer van diens kon wees, koffie aandra en leë medisynebottels weggooi.
Na die begrafnis, maak Berna planne, kan sy dan stadlangs terugkom en by Julia-hulle aangaan. Die draai sal nie meer as tweehonderd kilometer wees nie, en sy sal geen rus vir haar siel hê alvorens sy weet wat daar by die Jouberts aan die gang is nie. Want wat hulle raak, raak ook haar en haar kinders. So onvernietigbaar, ja, is die bande tussen haar en Ronald aan wie sy deesdae met soveel meer deernis as voorheen begin terugdink.
Sy bel skuins voor vyfuur die middag vir Annalien. Dan is sy gewoonlik by die woonstel. Dis darem ten minste een ligpunt: om met hierdie goeie vriendin te praat, en vir haar te vertel dat hulle mekaar binne enkele dae dalk sal sien. Indien Annalien weer aanbied om die twee maande se huurgeld te gee, sal sy dit met dank aanvaar. Daar sal nou, rondom haar ma se dood en begrafnis, baie gaatjies wees wat toegestop moet word.
Annalien is wel tuis, maar dit is byna asof sy nie registreer wie dit is wat met haar praat nie. Haar stem klink ver, swewend, afgetrokke.
“Annalien! Dis Berna, jong. Hoe lyk dit jy ken nie meer my stem nie?”
“O, Berna.” Die blydskap, die borreling ontbreek.
“Wat het oor jou lewer geloop, mens? Ek bel om jou te vertel dat my ma oorlede is, baie onverwags. Ek weet nie eens wat en hoe, of sy ooit siek was nie.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Regtig jammer.”
“Ek sou dink jy’s jammer. Jy weet self sy was al wat ek gehad het. Ek gaan begrafnis toe, en daarna kom ek by jou aan. Sal jy ’n koppie tee hê vir die wettige huurder van woonstel nommer 103?”
“Ek sal my bes doen om te probeer tuis wees. As daar net nie iets voorval nie, jy weet mos hoe dit gaan.”
“Nee, ek weet glad nie hoe dit gaan nie.” Berna is ietwat vererg. Wat kan nou so danig voorval? Annalien sit van dag tot dag tuis en bekla haar lot omdat sy aan niks behoort en nooit uitgaan nie, omdat sy soos ’n esel tussen werk en huis ploeter. “Wat makeer jou, Annalien?”
Annalien ruk haar skynbaar reg daar aan die ander kant. Iets van die ou hartlikheid skemer deur toe sy weer praat: “Ag, Berna, ek het hoofpynpille gedrink, en ek dink dit was te sterk vir my ou gestelletjie. Ek hoor wat jy sê, en wees verseker van my innige meegevoel met jou verlies.”
Dis op die punt van Berna se tong om uit te vra oor die hoofpynpille wat so sterk is. Het Annalien haar tot susmiddels gewend toe sy werklik alleen raak, sonder Berna en die kleintjies naby haar? Dalk harder dwelms? Sy bedink haar en praat gewoon voort: “Dankie. Hoe gaan dit op kantoor? Is daar al ’n permanente aanstelling in my plek gemaak?”
“Jy sal lag, maar ek neem op die oomblik in jou plek waar.”
“Nee, hoekom sal ek lag? Jy weet meer as daardie Cathy.”
“Danksy alles wat jy my altyd van jou werk vertel het.” Annalien is ’n wyle stil, dan vra sy asof terloops: “Het Christiaan vir jou die goed gestuur wat hy wou stuur?”
“Watse goed?” Vreemd … het Annalien nie altyd gepraat van “Hartogh” of “die baie belangrike baas”, sommer kortweg BBB nie?
“Hy het so kort na jy hier weg is, jou adres gevra. Hy wou goed vir jou aanstuur.”
“Hy het niks vir my aangestuur nie.”
“O, ek dog dis geld of iets wat hy jou nog skuld.”
“Nee, ek het alle geld gekry wat ek moes kry. Die ander skades wat ek gely het, kan hy my nie voor vergoed nie.”
“Ander skades?” Annalien is beslis nie van plan om weer oor die woonstelhuur te praat nie.
“Emosioneel, wat ook al. Annalien, jy weet tog waarvan ek praat.”
“Weet ek?”
“Dis nou ’n snaakse vraag.” En ’n snaakse gesprek, besluit Berna toe sy na nog ’n klompie niksseggendhede die gehoorbuis neersit. Annalien tree soos ’n slaapwandelaar op. Was sy dalk nie alleen nie?
Was daar dalk ’n brand in die woonstel, of iets anders wat sy probeer verberg? Sy is spyt dat sy die eens dierbare vriendin gebel het. En sy is spyt omdat sy spyt is. Dit voel of sy ’n skat verloor het. ’n Suster het sy nooit gehad nie; Annalien het nog die beste in die behoefte voorsien. Hoekom is die lewe so? Hoekom moet jy mense vind net om hulle weer te verloor? Of hoekom soms verloor voordat jy hulle nog gevind het? Lê dit in jouself?
By die agterdeur wag die motorwerktuigkundige vir haar. “O, het u my kar gebring?” vra Berna verlig. Dis darem een probleem minder. Hoop nie die spulletjie kom te duur uit nie. Wat ’n deurmekaar dag.
“Nee, ek het juis kom sê die dame sal nie môre met daardie kar kan ry nie,” kom die onheilspellende berig. “Dis daardie vergasser! Ek weet nie hoe die dame nog met hom gery gekry het nie. Ek het ’n nuwe carburettor tune-up kit bestel.”
“Maar dit sal dae vat. En ek móét môre ry.”
Die man haal sy breë, eerlike skouers in die olierige blou oorpak op. “Die dame kan ry as die dame langs die pad wil gaan staan. Maar ek sal myself verwyt, want ek laat nie my eie vrou ry as die kar nie piekfyn is nie.”
“Natuurlik is jy reg,” sê Berna, diep moedeloos. Om die trein soontoe te vat, sal ’n hopelose spul wees, veral wat haar terugryplanne betref. Wat op aarde sal Julia-hulle te sê hê as dit blyk dat sy uit haar eie vervoer uit geraak het? Julia sal dadelik dink dat sy hierdie enigste nalatenskap van Ronald vir ’n pot lensiesop iewers langs die pad verkwansel het.
“Ons sal vir jou ’n ander ryding moet kry,” reken Dawie. “Nie die bakkie nie, die ou ding is te swaar, en Lam se karretjie is te lig en glad nie meer betroubaar nie. Ek kan hoor … Roux se kar …”
“Nee,” sê Berna. Dan ry sy liewer op ’n besem.
“Maar die voorman het mos vanmôre gesê Roux gaan stad toe vir daardie watwonderse alarmstelsel wat hy wil aanskaf,” berig Lammie. “Jy kan tot daar saam met hom ry, en dan kry jy dalk geleentheid begrafnis toe.”
“Te omslagtig,” reken Berna. Wanneer dit ook al vir haar klink of die ou Roux-storie weer kop uitsteek, raak sy sku. Dalk oordryf sy dit. Dalk dink Dawie en Lammie glad nie meer daaraan om vir haar en Roux by mekaar uit te bring nie.
“Ek wonder of hy nou rêrig trouplanne het as hy die nuwe ding koop,” brom Dawie. “Het glo ’n kamera-oog wat kan sien as daar ’n inbreker in die huis kom, en wat dan die alarm laat afgaan. Sommer weer net ’n geldmorsery.”
“Ek dink darem nie ’n vrou vra te veel as sy veiligheid vir haar huis vra nie,” waag Berna omdat dit haar stadsgeskoolde oortuiging is en nie juis omdat sy vir Nerida Nel wil ondersteun nie. Dié gee vir haar uit die staanspoor probleme by Koskas. Sy is net nie in staat om saam te werk nie. Vir haar vorige diensbeurt het sy nie opgedaag nie en as sy daar is, veil sy haar eie skeppings sodanig uit dat sy die klandisie afskrik. Toegegee, sy het seker ’n redelike kunsaanleg, maar vir ’n konserwatiewe gemeenskap is haar skilderye maar ’n bietjie vreemd. “Mock-reality,” noem sy dit. Onderstebo gestaltes wat deur die lug swem, visse met sambrele, ’n kameel wat in ’n leunstoel sit, en ’n ondraaglike frustrasie omdat die Rensdalse gepeupel die dieper boodskap van die werk (die “innuendo”) nie kan of wil snap nie.
Berna gaan maar hoopvol inpak. Dalk gebeur daar die een of ander wonderwerk, anders sal sy maar die ongerieflike en omslagtige trein moet vat. ’n Padbus ratel soms hier deur, maar nie vir passasiers nie. Een keer per dag fluit ’n trein darem nogal daar uit die stasietjie se koers.
Toe sy weer die kombuis binnekom, roep Lammie juis om te sê dat daar vir haar iemand in die sitkamer wag. Omdat dit so sterk aan daardie eerste aand herinner, wil Berna haar verbeel dat dit weer Johan Jonker sal wees. Dis egter Roux le Roux wat in die middel van die sitkamer staan, duidelik onwillig om enige welwillendheid te laat blyk deur op ’n stoel te gaan sit.
“Ek hoor my ma sê jou motor lol en jy soek ’n geleentheid stad toe,” verklaar hy sy besoek. “Ek ry môre, as jy wil saamry.”
“Baie dankie, maar dit sal my nie goed pas nie. Ek moet eintlik Tierhoek toe vir my ma se begrafnis en dis tweehonderd kilometer uit die stad.” Hoe op aarde … het Lammie hom stilletjies gebel, of het hy heel toevallig en vir die eerste keer in maande self hier aangekom en van haar penarie gehoor?
“Ons kan ’n plan maak.” Hy klink nogal onverwags inskiklik. “As ek klaar is met my besigheid in die stad, kan ek jou by jou bestemming gaan aflaai en tot na die begrafnis talm. Of moet jy oorbly?”
Sy dink na. Sy kan haar program omswaai en eers haar besoeke in die stad afhandel. Die begrafnis kan met een dag uitgestel word. Daar is geen groot familie wie se bewegings in ag geneem moet word nie. En sy sal waarskynlik nie hoef oor te bly nie. Maar die waarheid is dat sy nie graag van hierdie Roux se guns afhanklik wil wees nie. Sy vertrou bowendien nie die vrede nie.
“Weer eens dankie, maar ek kan nie van jou verwag om op ’n vreemde dorp tussen vreemde mense te sit en wag vir die begrafnis van ’n onbekende nie. Ek dink ook nie ek en jy gee so baie vir mekaar om nie.”
Dat hy meteens so gaaf kan wees, oortuig haar geheel en al nie. Sy het die ongemaklike gevoel dat iets anders daaragter skuil, dat dit vir hom ook ’n oplossing van die een of ander aard was toe hy van haar probleem hoor.
Sy is nie verkeerd nie. “Toegegee,” erken hy. “Maar ek wou my kind halfpad oplaai, my dogtertjie. Haar stad toe vat, na ’n kinderarts toe. Sy is nie lekker nie.” Hy het sy stem so laag laat sak dat, al sou Lammie by die deur probeer afluister, sy niks sou kon hoor nie. “En ek het iemand nodig om haar in die kar op te pas. Ek is bang die situasie raak my baas.”
“Dan dink ek Nerida Nel is die logiese een om jou te vergesel,” sê Berna afsydig.
“Jy verstaan nie,” gebaar hy hulpeloos.
“Nee, ek is bevrees ek verstaan nie. Dink jy hoegenaamd juffrou Nel sal tevrede wees as ek saam met jou rondrits? En dink jy ek sal my kop in so ’n byenes steek?”
“Sy hoef nie te weet nie. Asseblief. Ek het vanaand my trots in my sak gesteek en kom hoor of my ma maar sal saamry. Toe vertel sy my van jou probleem met die kar. Gelukkig het ek haar toe nog nie van die kind se siekte vertel nie. Ek wil liewers nie hê hulle moet weet nie.”
“In die geheim saamry, sonder dat jou meisie uitvind? Ek is nie onwillig om te help nie, maar ek was in die verlede al ’n twisappel hier tussen julle, sonder dat ek wou. Ek wil nie nog dieper betrokke raak nie. Vra haar saam. Ek sal regkom, al moet ek ’n motor huur.”
“Dis ’n ope verstandhouding tussen my en Nerida dat sy nie instaan vir my kind nie. Sy wil nie gebonde wees nie en ek respekteer dit so. Bambie is in goeie sorg en daar is geen rede om dit te beëindig nie. Ek sien haar eintlik selde, maar nou is dit nodig.”
“Aag, wat de hek,” sê Berna, meteens sat vir die kleinsieligheid waaraan sy self haar ook skuldig maak. “Ek sal saamry, as jy dink ons sal die reëlings uitgestryk kry. Maar vertel vir Nerida openlik die waarheid, anders lyk dit juis verdag.”
“Dit sal ek oorweeg as ek netnou na haar toe gaan. Hoe laat kan ons môre ry?” Hy klink verlig, dog saaklik.
“So laat soos jy sê.”
“Ek is maar bekommerd, en wil so gou moontlik by die dokter uitkom.”
“Vroeg sal reg wees. Gee ’n tyd dat ek gereed kan wees.”
“Vieruur?” vra hy twyfelend.
“Goed so. Sal ek voor die huis wag?”
“Nee, nie daardie tyd van die oggend nie. Ek sal by jou kamers klop.”
Gemeensaam, asof hy presies sal weet waar om te klop. Sy kyk hom stip aan. Dan kruis ’n ander gedagte haar gemoed: Annalien het gesê dat Christiaan Hartogh haar adres hier wou weet. Om wat mee te maak? Dis al weke en hy het niks aangestuur, soos hy voorgehou het nie.
Sy skud die twyfelvrae af en probeer prakties beplan. “Dalk is dit beter dat ek maar in die huis slaap,” sê sy, “dan is die kinders veilig tot opstaantyd toe. En dan kan ek deur die voorvenster sien as jy stilhou.”
Sy vra liefs nie waar hy die nag gaan deurbring nie, hier op die dorp, of op die plaas. Dit gaan haar nie aan nie. Laat hy maak soos hy wil, sy sal hom bloot ’n guns bewys in ruil vir ’n guns aan haar, en verder het sy niks met hom uit te waai nie.
Lammie en Dawie draai om haar soos motte om ’n kers. Wat Roux eintlik kom doen het, dit is wat hulle bitter graag sou wou weet. Berna wend haar tot ’n veilige uitleg: “Ek skat hy het seker maar brandstof ingetap en toe by die garage van my kar gehoor. Gaaf van hom dat hy kom aanbied het.”
“Roux het nie ’n slegte hart nie,” sê Lammie, waarmee sy dalk te kenne wil gee dat hy wel ’n paar ondeugde iewers het.
Stiptelik om vieruur die volgende oggend kom motorligte aangery. Nie vanuit die dorp nie, maar vanaf die buitepad, besluit Berna met ’n soort verligting. Beslis nie van Nerida se plek af nie, tensy hy draaie gery het om ’n vals indruk te wek.
Dis ’n ongewone, vereensamende tyd van die dag vir iemand wat nie in die gewoonte is om voor dagbreek op te staan nie. Selde in haar lewe nog het Berna so verlate gevoel soos toe sy voor die kildonker venster staan en uitkyk. Iewers was daar die skor gekraai van ’n haan en die yl, verlore geblaf van dorpshonde. Sy verlang heftig na haar kinders wat naby haar lê en slaap, verlang asof sy hulle lank laas gesien het, in ’n vorige lewe. En na haar ma, vir wie sy werklik in ’n vorige lewe laas gesien het. Sy gun Roux geen kans om uit te klim en haar te kom haal voordat sy uitstap, toesluit, en die sleutel volgens afspraak in die malvapot sit nie. Sy het ’n enkele tas by haar, benewens haar handsak en ’n kospakkie wat Lammie gegee het.
Hy neem die tas en sit dit in die kattebak terwyl sy voor langs hom inklim. “Ek het eintlik gedink jy kan verder slaap terwyl ons ry,” sê hy, “so ek het vir jou ’n kussing agterin gesit. En ’n kombers, dis koel so vroeg in die môre.”
“Soos jy verkies,” sê sy, en gaan agter inklim. Net so of sy weer aan die slaap sal raak. Sy kan nie help om effens gesteurd te voel nie. Was hy dalk bang dat hy een strook deur sal moet gesels as sy langs hom sit? Dan ken hy haar nog maar sleg. Of wou hy haar plat agter in die motor hê, sodat iemand nie per abuis haar gestalte voor langs hom herken nie?
En hoekom sal sy haar hoegenaamd bekommer oor wat sy motief is? Die kombers is heerlik sag; bokhaar, stel sy vas toe sy daaraan voel, en dit ruik na linnekas en sigaretrook. Syne, besef sy toe hy ’n ent buite die dorp ’n sigaret uit die pakkie haal en omkyk om te sien of sy wakker is.
“Jy kan maar,” gee sy toestemming. Daar is ’n loom gevoel in haar, asof niks werklik saak maak nie, asof sy nie op pad is na haar enigste moeder se begrafnis nie. Dat hy ’n roker is, en die een kan wees wat in haar donker kamer gestaan het terwyl die kinders slaap, kan later ontleed word, nie nou nie.
Dis ’n gevoel van ontspanning soos wat sy lank laas geken het. Daar is immers iemand anders agter die stuur, iemand wat bekwaam is om haar veilig te bring waar sy moet wees. Dis dit wat haar laat besluit, week en byna tranerig: sy wil weer trou. Sy is jonk en sy het ’n behoefte aan liefde en beskerming. Sy moet haar nie so toesluit vir attensies nie. Sy moet haar oë oophou, en haar gemoed.
Vir wie, is vir haar nie mooi duidelik nie. Sy moet net wag, wag en geduldig wees, en intussen doen wat haar hand vind om te doen. Onverwags dink sy daaraan dat sy ten minste vir Johan Jonker moes vertel het van haar ma se dood en dat sy weggaan vir die begrafnis. Hy weet natuurlik nie, anders sou hy haar dadelik besoek het. Hy sal haar verkwalik. Maar alles het so dol gegaan.
Dalk sou hy haar weggebring het Tierhoek toe as sy hom gevra het. Vir seker sou hy geïnteresseerd gewees het in die dorpie se naam, en die geskiedenis probeer uitpluis het. Of sou hy bang gewees het vir wat die mense kan sê?
’n Tikkie meegevoel met die onbekende Riana flits deur Berna terwyl sy lê en kyk na Roux se profiel in die dowwe lig van die paneelbord. Hy het net een sigaret gerook; gelukkig is hy dus nie ’n kettingroker nie.
Buite begin die dag roosgrys verkleur.