Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 11

8

Оглавление

Roux se dogtertjie lyk so gesond soos ’n vis in die water toe hulle haar sowat ’n uur later oplaai. Die familie by wie sy grootword moet skatryk wees, te oordeel na die indrukwekkende hek wat soos ’n poort die weg na die opstal toe aandui.

Hy het vir my gejok, besluit Berna toe die dogtertjie, fraai soos ’n pop aangetrek, saam met haar pleegmoeder na buite kom en skugter haar armpies om haar pa se nek sit. Die kind makeer niks wat die oog kan waarneem nie. Wou hy my werklik net aan ’n geleentheid help, tob Berna, en het hy onder die voorwendsel van ’n denkbeeldige siekte ’n onnodige rit aangepak?

Sy word voorgestel en Roux weier die aanbod om ontbyt te nuttig, gee net die koffiefles om weer volgemaak te word. Die daaropvolgende gesprek tussen Roux en Mynie Rode oortuig vir Berna dat sy verkeerd geoordeel het. Die kind het wel ’n verborge ongesteldheid.

“Wanneer laas het sy die aanval gehad?” vra Roux gedemp sodat Bambie nie kan hoor nie.

“Nou die aand, terwyl die bure hier gekuier het. Sy en hulle dogtertjie, haar beste maatjie, was aan ’t speel toe sy weer kom kla van die pyn in haar regtersy. Sy het later so lê en krul op die bed dat ’n knoop van haar rokkie afgeskiet het.”

“En dan weier jy nog dat ek haar na ’n kinderarts toe neem,” sê Roux. Dis duidelik dat daar onderliggende spanning is. Wat anders verwag hy dan ook as hy nie self sy kind opvoed nie? Sy eie skuld. Daar sit sy ouers naby hom, verlangend na hulle kleinkind, begerig en bekwaam om haar vir hom op te pas en te help grootmaak, al trou hy met wie ook al. Die kind sou fisiek en andersins binne sy bereik wees.

“Roux, ek sou haar al self gevat het as ek oortuig was dat sy iets makeer,” protesteer Mynie in haar welluidende brystem terwyl hulle almal in die kombuis verkeer waar sy vars koffie maak. “Maar ons dokter is nie onnosel nie. Hy is bekend vir sy raak diagnoses, en hy reken dis alles bloot sielkundig. ’n Manier om aandag te kry.”

“En ek sê dis bog,” weerlê Roux. “As ’n kind op haar lekkerste aan ’t speel is met haar beste maatjie en sy kry onverwags ’n pynaanval, is dit nie sielkundig nie. Hoor nou wat ek vir jou sê.”

“Ag toe, ou slimme,” probeer Mynie die erns maar met ligtheid besweer, “ek het al drie kinders grootgemaak. Hulle kan wonderlike streke uithaal, glo my, en dit self ook glo.” Dan kyk sy reguit na Berna. “Vergewe dat ek vra, maar is jy die nuutste belangstelling? Laas was dit glo nog daardie onderwyseressie wat toe kunstenares geword het en vir Rensdal uit sy onkunde probeer ophef.”

“Nee, o nee, ek ry maar net saam met Roux omdat my kar stukkend is en ek dringend by my ma se begrafnis moet uitkom.”

“Jammer om te hoor. Onsensitief van my.”

“Buitendien,” sê Berna betekenisvol en asof Roux nie lyflik langs hulle staan nie, “een blik in sy onweersgesig behoort jou te oortuig dat hy net so min soos ek van die raaiskoot hou.”

“Skei uit,” sê Roux, “en kry klaar met die koffie, dat ons kan ry. Ek wil nie laat vir die afspraak wees nie. En, nig Mynie, ek dink dis hoog tyd dat julle almal julle monde van Nerida af begin hou. Julle wat so maklik oordeel, hoe goed ken julle haar eintlik? Net omdat sy nie presies is soos wat julle wil hê sy moet wees nie … Sy is eintlik ’n baie afhanklike en onseker entjie mens. Sy het seerkrye waarvan die wêreld nie weet nie.”

“En jy help haar om haarself te vind?” snip Mynie. “Nee kyk, my ou neef, ek glo mos nie daaraan dat man en vrou daar moet wees vir mekaar se selfbevestiging nie. As iemand nie sy eie mens kan wees nie, verdien hy nie ’n maat nie.”

Roux trek net sy lippe stywer, duidelik nie begerig om die dreigende rusie te laat ontwikkel nie. “Sê groete vir Cas. Is hy al op die lande?”

“Ja, Cas glo mos hy moet voor al sy werksmense op die been wees; hy is douvoordag al uit. Waar slaap jy en Bambie vanaand?”

“Sommer in ’n hotel. Ek weet nog nie hoe ons bewegings sal wees en wanneer ons terugkom nie, dit hang af van Berna se ma se begrafnis op Tierhoek.”

“Bambie kan vanaand saam met my in my woonstel slaap,” bied Berna aan. “Ek huur nog daar tot die einde van hierdie maand. Eintlik kan jy ook maar daar slaap, Roux. Dit sal heel veilig en fatsoenlik wees, my vriendin Annalien bewoon dit op die oomblik.”

“Dankie, ons sal sien,” sê hy bloot. Maar Berna wou haar tog verbeel dat daar ’n glimming van dankbaarheid in sy oë kom. Dalk sien hy op teen die onpersoonlikheid of die onnodige uitgawe van ’n hotelverblyf.

“Sit jy maar van hier af voor,” los hy haar probleem op toe hulle motor se kant toe staan. “Bambie kan nou weer agter lê en slaap. Soos ek haar ken, was sy so opgewonde dat sy vroeg al op is. Reg, ounooi?” Liefderik druk hy haar teen hom vas en sy reageer deur hom terug te druk, asof hulle mekaar nou weer begin ontdek.

“Dis maar ’n kwaai ding om van jou kind af te sien,” sê Roux toe hulle weer goed op pad is en Bambie inderdaad onder die bokhaarkombers aan die slaap geraak het.

“Hoekom het jy dan?” vra Berna reguit. “Sy kon op Rensdal gebly het, by jou ma. Jy sien liewers af van jou kind as van jou familievete, lyk dit vir my.”

Sy verwag ’n afjak, maar kry dit nogal nie. Hy glimlag net suur. “As jy alles weet, kan jy praat,” sê hy kort.

“Nee, ek hoef nie alles te weet nie. Daar is niks wat so onvergeeflik is dat dit jou jou kind hoef te kos nie.”

“Hoeveel weet jy van my ma en stiefpa af? Goed, ek noem hom maar my stiefpa, maar ek dink eerder aan hom as my skoonpa. Ek verkies dit so.”

“Ek weet dat jou vrou sy dogter was, en jy het dit so pas bevestig.”

“En dat hy en my ma ’n vryery aangehad het voor sy vrou … ’n invalide … nog dood is?”

“Dit gaan my nie aan nie,” sê Berna, innerlik wel siek van ontsteltenis oor sy woorde wat haar tog diep skok.

“O, dit gaan jou nie aan nie? Maar oor my en Nerida, wat ’n fatsoenlike verhouding het, word die monde gerek. Maar daar sit hulle twee, Dawie en Lammie de Vries, wat die hele Rensdal aan die brand gehad het met hulle agteraf vryery, en dit gaan niemand aan nie.”

“As dit waar is, dan het Rensdal hulle vergewe. Ek kan agterkom dat hulle met respek behandel word. Hoekom sal jy dan nie vergewe nie?”

“Hoekom? Ek sal jou sê hoekom. Omdat my vrou nog kon gelewe het. Sy was op pad na haar ouers se plaas toe sy verongeluk het. Sy het haar ma gaan versorg, en by haar pa gaan pleit om sy skelm vryery te los. My ma het daardie tyd in die tuishuis op die dorp ingetrek, en daar het die twee duifies mekaar ontmoet.”

“Dat jou vrou verongeluk het … dit kan met enigeen gebeur.”

“Sy was ’n goeie bestuurder, maar sy was daardie dag te ontsteld om te ry, te betraand. Ek lê haar dood voor die deur van my ma en van Dawie de Vries.”

Die tuishuis wat nou Koskas heet … g’n wonder Roux kom nie graag daar nie, dink Berna met ’n gevoel van oorweldigende droefheid.

“Sy vrou was ook kwalik onder die grond, toe trou die twee,” vervolg Roux grimmig. “Gelukkig het hulle stemmig en stil voor die landdros getrou. Want as ek in die kerk moes wees, sou ek dalk opvlieg en beswaar maak … sê dat hulle my vrou en my dogtertjie se moeder vermoor het.”

’n Rukkie lank is daar net die geluid van die suisende motorwiele op die teer. Die son het nou reeds hoog begin opskuiwe, en daar is ’n vars blinkerigheid oor die veld wat die swaar atmosfeer in die motor loënstraf. “Nou lewe Lammie le Roux en Dawie de Vries ewe gelukkig saam. Wie sê dat feëverhale nie meer plaasvind nie?”

“Hoekom het jy dit vir my vertel?” vra Berna. “Grief dit jou dat ek met hulle klaarkom, dat ek by hulle bly, dat ek vriende in hulle vind, ouers eintlik? Wat ek nooit juis gehad het nie, en nou glad nie meer nie? Wat weet jy van mý lewenstragiek, en hoekom probeer jy my verhinder om daarvan weg te kom?” Sy stuif so op dat sy hom op hierdie oomblik behoorlik haat. Oor wat hy haar vertel het, ja. Omdat hy een van haar min vashouplekke vernietig het; omdat hy dit vir haar swaar maak om terug te gaan na daardie huis in Langstraat in Rensdal.

“Ek het niks probeer vernietig wat nie al klaar vernietig is nie,” sê Roux met strak lippe. Hy het ’n mooi profiel, sterk. Hy is ’n baie aantreklike man. Maar hard en onbuigsaam. As Nerida Nel hom sag kan maak, kan sy hom maar kry. Met liefde en met grote komplimente.

“Wat wou jy dan doen?” eis sy. “My teen hulle opstook?”

“Opstook? Hoekom sou ek jou wou opstook? Kom dit nie dalk by jou op dat ek doodgewoon iemand soek aan wie ek daardie stuk pyn kan meedeel nie? Omdat dit so lank al in my is dat dit my gestel vergiftig?”

“Ek is so jammer om dit te sê, maar jy het die verkeerde een gekies. Ek beskou myself as ’n lojale mens. Jou skoonpa of stiefpa of wat hy ook al van jou is, het my so te sê op die straat opgetel, op ’n dag toe ek totaal moedverlore en alleen was. Hulle het my in die huis gevat soos ’n weggooikat. Jammer as dit dramaties klink, maar dis die waarheid. Wat kan ek of jy baat as ek hulle begin veroordeel oor dinge wat verby en versoen is?”

“Maar is dit?” hou hy vol. “Verby, ja, maar ver van versoen af.”

“Dis net in jou hart wat dit nie versoen is nie. Laat die gras daaroor groei.”

“Nou kry ek nog ’n preek ook,” mompel hy. “Gedink jy en die doompie is te veel ingeklits. Ek hoor dan glad jy kuier vir hom by die pastorie.”

“Ek wie rek nou sy mond oor ’n vriendskap wat werklik fatsoenlik en platonies is? Terloops, ek soek nog my skoen, asseblief.”

“Watter een? Ek sal tussen die versameling optelskoene onder in my kas moet kyk. Of almal vir jou kom aanpas. Dit raak al hoe meer ’n Aspoester-storie.” Dan leun hy skuins oor haar en maak die paneelkissie oop. Hy haal ’n gevulde bruinkardoes uit en gooi dit argeloos in haar skoot. “Hierso.”

Sy oorweeg eers om dit te ignoreer, of terug te plaas, of by haar voete neer te gooi. Maar ordentlikheid noop haar tog om die papier los te wikkel. Dis inderdaad haar skoen, uitgevoer met sneespapier en gevul met sjokolade, die goeie soort wat jy per gewig by eenkant toonbanke in supermarkte koop, elkeen apart en veelkleurig toegedraai. Om te keer dat dit uitval, is daar kleefplastiek om die hele skoen.

Sy kan nie anders as om suur te glimlag nie. “Dankie vir die rente,” sê sy.

Berna vra vir Roux om haar by die Jouberts af te laai. Sy sal op eie stoom by haar woonstel uitkom, waar hy en Bambie teen die aand se kant by haar sal aansluit. Môre sal hulle dan Tierhoek toe vertrek. Sy sal maar vandag reeds telefonies met die begrafnisondernemer daar skakel om te hoor hoe ver die reëlings gevorder het.

Sy lui die voordeurklok en wag lank, sonder dat daar enige beweging van binne die deftige huis kom. Ook by die skuifdeur is sy onsuksesvol. Is sy dalk voor dooimansdeur? Sy wou juis nie ’n vaste afspraak maak nie. Hoe sal sy nou by ’n telefoonhokkie uitkom om ’n huurmotor te bel? En wat sal sy die hele dag met haarself aanvang? Dis nou eers elfuur. Sy het geen behoefte daaraan om by die kantoor ’n draai te maak of om in die stad te gaan ronddwaal of inkopies te doen nie. Op ’n tyd het sy niks meer begeer nie as om, vry van werk en kleingoed, ’n dag lank te ontsnap na die naamlose miernes van die stadsbestaan. Nou is dit egter asof haar hele waardestelsel verander het. Sy dink nie aan dinge nie, maar aan mense: aan haar ma, aan Roux en Nerida, Dawie en Lammie, aan die vrouelede van die nuut gestigte koöperasie, aan Johan Jonker.

Veral aan hom. Het sy hom in die verleentheid gestel met daardie besoek as selfs Roux daarvan weet? Johan het dus heeltemal reg gehad toe hy so ongemaklik rondgetrap en nagelaat het om haar vir tee te nooi. En sal hy haar kwalik neem omdat sy hom nie van haar ma se dood verwittig het nie?

Sy is op die punt om weg te draai, nadat sy weer ’n keer tevergeefs die klokkie gedruk het van die voordeur wat ietwat oordadig versier is met houtsneewerk vol krulle en blomme, toe sy agterkom dat daar darem lewe in die huis is.

Voetstappe, ietwat slepend, ’n geringe stilte soos wat die persoon deur die loergaatjie kyk, dan die gesoek na die sleutel, die lompe invroetel daarvan in die sleutelgat, die langsame draai, die oopkraak van die deur.

Teen hierdie tyd is Berna dodelik nuuskierig oor wie dit kan wees. ’n Nuwe huishulp, dalk aan die ouerige kant? Dan sal dit ’n wonder wees dat “Djoelia Djoubêr” haar toelaat om die voordeur oop te maak. En waar sou Julia self wees? Uit, waarskynlik, op een van haar sosiale uitstappies. Die moontlikheid bied vir Berna amper ’n gevoel van verligting, groter as die wete dat sy toegang tot ’n telefoon sal hê.

Maar dis Julia self wat voor haar staan. Wel, dis Julia se gestalte en gelaatstrekke, maar die wese is dié van iemand anders; van ’n verslonste, uitgesakte vrou langs die paaie van die lewe. Weg is die stywe, onvanpas jeugdige klere. Die kamerjas is vol pluisies. Julia het nooit voorheen in ’n kamerjas verskyn nie, nadat sy eenkeer glo gelees het ’n ware lady word nooit in dié kledingstuk gesien nie.

Die hare, gewoonlik so helder gekleur en opsigtelik in ’n salon versorg, hang nou slierterig teen haar slape, die wortels grys uitgegroei. Haar vel sonder grimering is suf, sodat die vergrote porieë duidelik sigbaar is. Die blik wat sy Berna toewerp, is vol agterdog.

“O, dis jy. Kom maar in. Waar is die kinders?” Sy kyk by Berna verby.

“Hulle het nie saamgekom nie, Julia. Ek het per geleentheid gekom. My ma is oorlede en ek gaan nog begrafnis toe. Net nadat jy my eergisteraand gebel het, het my stiefpa ook gebel om te sê, van my ma.”

“O.” Nie ’n woord van simpatie nie, maar ’n vlak oplewing in die flets oë vertel dat Julia onthou van die bruilof wat sonder haar hulp en bystand geskied het. Dan: “Jy moes die kinders saamgebring het. Ek het net vir hulle gewag. Jy moet weet dat hulle al is wat ek en Ron oorhet.” Die halwe verwyt is soos ’n deurgekoude ou sokkie.

“Eendag bring ek hulle sommer vir ’n hele week.” Die belofte is vaag en veilig. “Hoe gaan dit met Ron?”

“Hoe gaan dit met Ron, hoe gaan dit met Ron? Hoe dink jy, hoe gaan dit met ’n man wat die huis verlaat het? Ek hoop jy besef dis jou skuld.”

Berna staan verslae in die stywe sitkamer met sy swaar fluweelgordyne en ewe formele bankoortreksels. Wat bedoel die vrou? Dat sy, Berna, ’n flirtasie met haar skoonpa gehad het?

Dan praat Julia verder, met haar rug na Berna, deur die venster starende. Dit sou nie so snaaks gewees het as die gordyne nie toegetrek was nie. “Toe jy die kinders wegvat, was dit verby. Ron het altyd gevra: ‘Was hulle nie hier nie? Wanneer bring sy hulle weer? Het jy iets van hulle gehoor?’ Maar nee, toe vat jy hulle net nog verder weg. En daarna was dit klaar. Hy het darem altyd die een of ander tyd in die nag huis toe gekom, maar nou bly hy net weg, hy verkies ’n hotel.”

Berna onthou vir Ron by die verkeerslig, skuins van agter, sy hand onder ’n vreemde vrou se elmboog. Dus het Julia van sy wegbrekies geweet, maar die blink kant bo bly hou. Sy luister tot Julia klaar gal-af gegaan het. ’n Halfuur, ’n uur. Sonder ’n koppie tee eens. Soveel bitterheid, soveel verwyte. ’n Bedreigde, gegriefde, verontregte mens.

En Berna besef dat niks, maar niks wat sy kan doen of sê naastenby ’n duik sal slaan in hierdie borswering van Julia Joubert nie. Solank sy in hierdie smart verkeer, is sy veilig teen ander aansprake. En solank sy vir Berna die hoofbeskuldigde kan maak, is sy veilig teen selfbeskuldiging.

Daarom besef Berna dat sy nog ongewilder sal word as sy al hierdie skyn vernietig, en sy dra haar luisterlas met deemoed. “Ek verstaan jou probleem,” sê sy net ten slotte. “En ek is baie bly dat jy en Ron so baie vir die kleintjies omgee. Volgende keer bring ek hulle saam. Teen daardie tyd is Ron dalk terug in die huis. Maak jou solank mooi. Jy lyk sleg, Julia. Jy lyk nie soos ’n lady nie. Hier is nou rêrig niks vir Ron om na toe terug te kom nie. Het jy nog van die Franse parfuum wat hy jou laas op jou verjaarsdag gegee het?”

“Ek het, ja. Maar waarvoor sal ek tog …”

“Gaan bad en trek jou aan en sit daarvan aan, en gaan kuier vir Ron in die hotel waar hy bly.”

“Dit sal ek nooit doen nie!” roep Julia smartvol uit. “Sê nou maar hy het die vroumens daar?”

“Jy sê self jy is nie seker of daar een vroumens of baie is nie. En jy is ook ’n vroumens. Die ma van sy kinders en die ouma van sy kleinkinders. Maak jou mooi en gaan probeer, magtie.”

“Ek wil nie en ek sal nie. Hy het die huis verlaat, nie ek nie.”

“Ek het jou al dikwels agter jou honde en katte aan sien uitdraf strate toe om hulle terug te bring. Maar jou man is dit nie vir jou werd nie.” Berna is nou stil boos. “Bly sit dan hier in jou afgeremde ou kamerjas, ek moet nou loop. Kan ek net jou telefoon gebruik, asseblief?”

Julia antwoord nie eens nie. Toe Berna klaar gebel het en terugkom, sit Julia haar kamerjas en bestudeer, arms bak gehou voor haar lyf asof sy ’n diep put binnestaar. Sy beantwoord nie Berna se groet toe dié by die swierige voordeur uitstap en met verligting die son oor haar voel breek nie.

Darem gelukkig dat ek die duplikaatsleutel van die woonstel by my gehou het, dink Berna toe sy oopsluit. Dis kantoortyd, en Annalien sal nie hier wees nie. Sy het ook nie weer vir Annalien van Julia se huis af gebel nie. Die gesprek van eergisteraand is nog te verwarrend vars in haar geheue.

Indien sy verwag het dat die woonstel die een of ander geheim aan haar sal openbaar, het sy dit egter mis. Alles staan op hulle gewone plekke, die bekende meubeltjies en ornamente. Dinge waarmee daar nog ’n plan gemaak sal moet word. Iewers stoor, dalk by die Jouberts. Hulle het genoeg ruimte. As Annalien sal toesien dat dit gelaai word. Wat uit Annalien se kleiner woonstel hiernatoe oorgebring is, pas moeiteloos tussen Berna se besittings in.

Dalk moet sy hoor of Annalien haar nie ’n aanbod wil maak en alles net so oorneem nie. Sy wens egter sy kon die handige yskassie op Rensdal kry. Toe sy die yskas oopmaak, tref dit haar dat dit leeg is. Nie eens botter of melk, niks nie. Dis egter nie afgeskakel nie. Die liggie brand en na ’n tydjie begin die motor gons.

Noudat sy met skerper blik kyk, kan Berna net een afleiding maak: Annalien bly nie in hierdie woonstel nie. Tog was sy eergisteraand hier om die foon te beantwoord. Maar, ofskoon die geiser aan is, is daar nie handdoeke of seep in die badkamer, geen tydskrif of gebruiksartikel wat rondlê nie, en dit terwyl Annalien eintlik maar ’n argelose mens is. Berna vroetel met haar wysvinger in die grond van die potplante en stel vas dat dit nie verdroog is nie.

Onbegryplik en onverstaanbaar. ’n Draai by Annalien se ou woonstel, een verdieping hoër op, bevestig dat daar ’n nuwe huurder is wat glad nie weet wie Annalien is nie en wat met ’n opperste geselshonger vir Berna probeer vashou. Indien die ou dame kon, sou sy haar gewillig verander het na die gesoekte persoon ter wille van die voortgesette menslike aanraking.

Met ’n soort grimmige vasbeslotenheid bel Berna die kantoor en vra om na Annalien deurgeskakel te word. Nie lank nie, of Annalien se “Hallo” klink in haar oor. Hierdie keer probeer Annalien uit die staanspoor wakker en meelewend klink, maar dis duidelik dat sy geskrik het toe sy hoor waar Berna is.

“Luister, Annalien, bly jy ooit in hierdie woonstel van my?” vra Berna onomwonde. “Kyk, ek gee glad nie om nie, dis om ’t ewe, ek moet dit tog betaal tot die einde van hierdie maand toe. Maar jy gaan dan mos in my plek huur, of hoe?”

“Nie meer nie,” sê Annalien vaag. “Ek was van plan om jou te laat weet.”

“Jy het eergister met my gepraat, en jy sê niks? En jy het dan hoe lank gesukkel om so ’n groot noordewoonstel in hierdie selfde blok te kry.”

“Snaaks, ek wil nie meer daar bly nie. Dalk omdat jy en die kinders weg is. Ek maak net elke middag ’n draai daar om na die plante en alles te kyk.”

“Van waar af? Daar is dan ’n nuwe huurder in jou woonstel.”

“Ek sal jou laat weet sodra ek sekerheid oor my nuwe adres het.”

“Maar ek sien jou vanaand, dan gesels ons. Ek slaap hier.”

“Ek weet nie of ek vanaand by die woonstel sal uitkom nie. Regtig, ek weet nie.”

“Sal uitkom nie, of wil uitkom nie?” vervies Berna haar. “Jy móét hier uitkom, Annalien.” Anders is ek in ’n penarie, besef sy. Alleen met Roux en sy kind in die woonstel. Hy sal mos nooit glo dat sy hom met suiwer bedoelings genooi het nie. Sy was immers doodseker dat Annalien ook hier sal wees.

Sy sal werklik haar pinkie gee om te weet wat met Annalien aangaan. Het iemand by die kantoor kwaad gestook, denkbeeldige skinderstories oorvertel, of iets in dier voege? Het Hartogh dalk ’n eie storie oor haar weggaan versin en versprei?

Annalien is lank stil aan die ander kant.

“Annalien? Wat makeer, jong? Moet ek kantoor toe kom?” Hoewel dit die laaste ding is wat sy sal wil doen: om in Christiaan Hartogh se gesig vas te kyk tensy dit bitter nodig is.

“Nee,” sê Annalien gesmoord. “Moenie kom nie.” Dan sê sy nog iets, haar stem byna tot onhoorbaarheid gesmoor deur ’n onbekende emosie.

Nadat die gesprek beëindig is, staan Berna nog verdwaas en nadink oor daardie laaste woorde. Sy is seker dat sy nie verkeerd verstaan het nie. “Moenie kom nie,” het Annalien gesê, en toe iets wat kompleet geklink het soos: “En moet my nie veroordeel nie.”

Veroordeel waarvoor? wonder Berna terwyl sy doelloos in die lewelose woonstel rondbeweeg. Hoe ontsettend verlang sy na haar kinders noudat sy hier is, hier waar sy en hulle tweetjies so baie dinge saam deurgemaak het. Die probleem wat haar voor die deur staan, sou dalk kleiner gewees het as hulle ook hier was. Hulle sou meteens na ’n veilige menigte gevoel het.

Hoe gaan sy anders die situasie aan Roux verduidelik as hy hier aankom? Sal hy veelbetekenend glimlag en haar op en af bekyk, oortuig daarvan dat sy kop in een mus met sy ouers is om hom aan te keer en die strop met geweld om sy nek te dwing? Die ouers wat hy juis so verfoei?

Sy wens sy kon vir Johan Jonker raad vra.

Maar hy was nog nooit verder buite haar bereik as juis nou nie.

Louisa du Toit Omnibus 8

Подняться наверх