Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 9

6

Оглавление

Dis ’n eienaardige gevoel waarmee Berna uit ’n diep slaap na die oppervlak kom: ’n gevoel van herkenning, ’n intense herbelewing. Maar sy kan net nie wakker genoeg word om te weet wat dit is nie. ’n Wakende droom, ’n reuk, ’n klank, ’n truuk van die onderbewussyn? ’n Slaapgeluid van een van die kleintjies? Uiteindelik dommel sy weer dieper weg, maar dit voel of dit onmiddellik daarna is dat haar rekenaarwekkertjie aan ’t blieb-blieb-blieb gaan.

Vandag is die dag van die vergadering, onthou sy. Byna twintig Rensdalse vroue het reeds laat weet dat hulle belangstel, nadat sy ’n advertensie in die koerantjie laat plaas en ook strooibiljette versprei het.

Die eienaardige naggevoel wil haar egter nie heeltemal verlaat nie. Nadat sy die tweeling se gesiggies gaan was het in die badkamer op die agterstoepie en hulle op die toilet laat sit het, steek sy voor haar woonkamers vas. In die sanderige kolletjie net langs een van die twee buitemure, reg onder die slaapkamervenster, lê daar spore … die groot spore van rubbersoolskoene.

Dawie dra gemaklike winkelvelskoene, onthou sy onmiddellik, anders sou sy haar gerieflik kon wysmaak dat hy nuwe verfkolle van die ruite af verwyder het, of wat ook al. Die mense wat die ruite kom insit het? Reeds twee weke terug al. Of die verwers van die rame? Ook meer as ’n week gelede. Maar daar was nie wind intussen nie, dit kan wel spore wees wat sy voorheen net nie raakgesien het nie, waarvoor sy nou opgeskerp is deur haar vreemde nagtelike gewaarwording.

Dis ’n lang dag wat voorlê, met ’n vol program. Sy besluit dat sy wel van haar duister vermoedens sal vergeet sodra sy goed aan die gang is.

In ’n sekere opsig gebeur dit so. Daar is gebraaide niertjies vir ontbyt, en die tweeling word opeens daarvan bewus dat mens en dier onbekende verskynsels en organe binne-in hulle het wat so gou moontlik en met soveel vrae moontlik deur hulle tweetjies volledig vasgestel en uitgeken moet word.

“Kniertjies is giftig,” besluit Mientjie, terwyl sy tydsaam haar voetjies onder die tafel sit en swaai, ’n soort bevestiging van wysheid.

“Nee, jy dink aan kliertjies,” onderrig Lammie geduldig, ’n geduld wat vir Berna deurentyd verstom. Die twee mense is immers lankal nie meer gewoond aan woelwaters onder hulle voete nie. “En kliertjies is ook nie giftig nie, mens eet dit maar net nie.”

“Hiekom nie?” vra Ronnie, wat met die aanleer van die welluiende “r” ’n paar nuwe onhebbelikhede in sy spraak aangeleer het. Die “hiekom” in plaas van “hoekom” is skynbaar een van die foefies waarmee hy Mientjie probeer belet om al die aandag op te eis. Want hy weet dat hy gekorrigeer sal word, en korrigering is aandag.

“Sommer omdat al die afvalstowwe van die skaap se lyf daardeur gaan,” probeer Lammie uitlê. Dan onthou sy: “En dis hoekom, nie hiekom nie.”

“O,” sê Ronnie. “Hiekom is hoekom nie hiekom nie?”

Die gemessel en geverf by die winkel is klaar en dit moet vir vanaand se vergadering skoongemaak word. Dawie het genoeg stoele met sy bakkie aangery, sommer by die bure ook ligte stoele of van die opvousoort geleen.

Dit begin heel skaflik lyk en soos altyd maak die reuk van nuwe verf en vernis ’n opgewondenheid in Berna los. Sy is besig om eiehandig die toonbank met behulp van ’n skoonmaakmiddel en ’n poetslap blink te vryf, toe ’n vreemde meisie binnekom. Voor sy nog haar naam sê, so nadruklik asof sy ’n beëdigde verklaring aflê, weet Berna dat dit Nerida Nel moet wees, die “spesiale vriendin” van Roux. Sy is mos glo ’n kunstenares, en dit word vertel dat sy so boheems is.

Nou nie juis dat kunstenaars vir Berna vreemd is nie. Hoeveel het sy nie sien kom en gaan in die advertensiefirma waar sy gewerk het nie. Self het sy haar tot dusver daarvan weerhou om die meisie se kunsboetiek te besoek, al het sy gedink dat daar dalk iets nuttigs vir die verfraaiing van Koskas kan wees. Sy wil geen nuuskierigheid hoegenaamd in die sake van meneer Roux toon nie. As hy maar net op ’n keer haar lekker gemaklike skoen teruggee, sal sy ook al dankbaar wees, maar selfs dit sal sy nie oor haar dooie liggaam vir hom vra nie. En waar kry sy hom ook in die hande?

“Ek is Nerida Nel. Oor vanaand se vergadering,” sê die meisie wat ’n toonbeeld van bestudeerde onbestudeerdheid is, “ek sal nie hier wees nie, ek assosieer my nie juis met kudde-bedrywigheid nie. Maar ek sal ’n swyende lid word.”

Haar gesig sit redelik bleek tussen die warboel hare en die losserige rok wat haar van nek tot tone bedek. Modieus genoeg, seker, vir dié wat nog nie weer sterk, skoon lyne ontdek het nie. Eintlik lyk sy soos ’n lappop wat buite in die reën en wind gelê en verbleik het, en Berna voel nogal teleurgesteld. Sy het iets vlammends van Roux se ongewenste nooi verwag. ’n Verhouding tussen die twee lyk nou meteens doodgewoon moontlik, glad nie eens opspraakwekkend nie.

Berna reik na die lys in haar ruim handsak en skryf die meisie se naam by. “Sê net of u wil bak, of wat.” Van ’n swyende lid het sy nog nooit gehoor nie, tensy die meisie “erelid” bedoel.

“Bak?” ’n Trek van pyn verskyn op die vermoeide gesig van die kunsgevoelige. “Nee, nie bak nie, o nee. Ek wil van my werk hier uitstal.” Die “werk” klink na ’n veilige samevatting van wat dit ook al sal wees wat hier uitgestal word.

“Maar verkoop jy nie jou werk in jou eie kunsplek nie?” wil Berna weet. “Dis mos meer gespesialiseerd.”

“Juis, en daarom loop baie Rensdallers wye draaie sodat iemand hulle tog nie dalk daar sien ingaan nie. Jy moet hierdie mense uit die grond uit opvoed vir kuns. Begin by hulle broodmandjies,” besluit sy, en tik op haar eie maag wat iewers onder die klere wegskuil.

Berna het nie lus vir ’n kragmeting met woorde nie. Daarvan het sy genoeg in haar lewe gehad, tot pas voor haar vertrek nog met Julia Joubert. Die minagting wat die meisie het vir hierdie gebakwinkel en vir die vroue wat hulle met sulke dinge ophou, is in elk geval opsigtelik. “Kom maar liewers self na die vergadering vanaand,” nooi sy. “Daar sal ’n bestuur gekies word, en hulle sal besluit wat hier moet kom of nie moet kom nie.”

“O nee, my gesig sien jy nie hier nie.”

Jou gesig sien ek in elk geval nie, dink Berna misnoeg; net ’n bleek maskertjie wat jou ware self bedek. Maar, nou ja, van maskers is geen mens vry te spreek nie. Sy probeer dus geduldig wees. “Hoekom nie? Niemand sal jou vereenselwig met die breë, bakkende tantes nie. Trouens, die meeste van hulle, breed of smal, pas glad nie by die stereotipiese beeld nie. Hulle lyk maar soos ek en jy.” Die laaste ’n bietjie moedswillig.

“Dink jy ek sal vir miesies De Vries die genoegdoening gee om my uit te werp?” vra Nerida Nel nydig. “Sy probeer mos haar bes om tussen my en haar seun in te kom. Ek hoor dan glad hulle soek self vir hom vrou.” Sy bekyk Berna op en af met ’n blik wat alles moet sê wat uitgelaat is.

“Dan het jy ook die storie gehoor,” sê Berna met ’n glimlag wat, so hoop sy, nie siekerig lyk nie. “En dan is dit seker tyd dat ek jou ook gerusstel, soos ek jou liewe vriend Roux gerusgestel het. Ek het nie kom man soek nie. Ek kon een in die stad gekry het … my baas self, ryk en aantreklik en jonk … as ek hom wou gehad het.” Smeer dit op jou brood, juffrou Nel. Jy hoef nie te weet dat my ryk jong baas ’n loslyf en manipuleerder is nie.

“Wys my die weduwee wat nie man soek nie,” daag die ander meisie. Haar pupille is uitermate groot en die irisse vreemd kleurloos. Vroetelend steek sy ’n sigaret aan.

“Hier staan een,” sê Berna, en druk haar wysvinger teen haar bors … wat, so merk sy tot haar genoegdoening, heelwat voller as dié van juffrou Nel is. “En kan ons nou persoonlike sake uitlos en oorgaan na besigheid? Kom jy vanaand, of nie?”

“Ek sê jou, ek gaan nie die skynheilige ou feeks kans gee om my te verneder nie. Dis omdat sy self agter die deur staan … al die reëls van owerspel ken …” Dan bedink die meisie haar, asof sy bang is dat Berna sal gaan klik.

Maar dis gesê, en die uitlating tref Berna met ’n skok. Wat op aarde moet dit beteken? Vele dingetjies skiet haar meteens te binne, vrae, ontbrekende antwoorde. Sy werp dit van haar af nadat Nerida Nel weg is. As Lammie ’n verlede het, het dit niks met haar te doen nie. Die vrou is goed vir haar en haar kinders. Tog bly die lastige gevoel dat sy iets miskyk, iets eenvoudigs, wat al die leemtes moet opvul en die rafelrande saamtrek.

En asof dit verband hou, kom laas nag se gebeure weer sterker na vore. Gebeure? Daar was immers geen gebeure nie, dit was hoogstens ’n verwarde naggevoel. En in die nag is mens se gedagtes en gevoelens nie logies nie, eintlik nikswerd. Dit besef jy sodra die eerste lig alles tot die werklikheid terugroep.

Dit word ’n lang dag, maar Berna is hoogs tevrede toe sy en Lammie teen tienuur die aand tuiskom. Dawie het gebly om ’n oog oor die kinders te hou. “Ek het hulle maar in die bed gaan sit toe hulle te vaak word,” vertel hy met die trots van ’n Armstrong wat die eerste tree op die maan gegee het. “Mientjie het dadelik geslaap, maar Ronnie wou nog weet wat die verskil is tussen ’n beroerte-aanval en ’n beroemde aanval.”

“Dis oor ons vanmôre met brekfis gesels het oor ou tante Roos se beroerte,” onthou Lammie, en sy begin vir Dawie met kleur en geur vertel van die geslaagde vergadering en die algemene entoesiasme wat heers oor die nuwe Koskas.

Dis nogal ’n idee, dink Berna terwyl sy agter die rekenaar inskuif om al die gegewens te verwerk en te stoor. Hulle kan die plek noem: Nuwe Koskas. Of nee wat, na ’n tydjie sal dit tog maar weer afgekort word na Koskas. So speel sy met gedagtes en idees, haar brein te aktief om los te knoop sodat sy kan gaan slaap.

Dis Lammie wat haar met ’n koppie kookmelk kom bederf en bed toe jaag. “Mens kan nie alles in een dag doen nie,” vermaan sy ernstig. Sy en Dawie is eindelik uitgesels, en sy kan nie anders nie as om na te dink oor die harmonie tussen die twee nie. Dis waar, hulle kritiseer mekaar onvermoeid, maar sonder angel of werklike kwade bedoelings. Lammie en Dawie is lief vir mekaar, en dis die hele storie. As Nerida Nel net nie daardie kwaadwillige opmerking gemaak het nie.

Toe Berna in haar buitewoonstel kom, staan sy na die slapende tweeling en kyk. Dit behoort haar met vreugde te vul om die tweetjies so pragtig slapend daar te sien lê, snoesig en rosig, elk in ’n eie smal bedjie aan weerskante van hare in die ruim kamer. Dit is egter dieselfde onrus van verlede nag wat aan haar knaag sonder dat sy dit kan verklaar. Sy staan doodstil op die ovaal, roomkleurige los mat, terwyl sy haar gedagtes en gewaarwordinge probeer uitsorteer. Sy hou nie van onverwerkte gegewens nie, veral nie as dit jou gemoedsrus en doeltreffendheid aan bande lê nie.

Sy kyk in die slaapvertrek rond. Venster, dak, mure; niks besonders nie. Vloer … die mat onder haar voete. Dan sien sy dit, reg tussen haar skoenpunte: die ronde silindertjie sigaretas. Sy is self nie ’n roker nie, maar probeer uitwerk wat daar moet gebeur alvorens die as op so ’n manier val. Die roker moet ingedagte gewees het. Hy het vergeet om te teug of om die aspuntjie af te tik, sodat dit gegroei en gegroei het tot ’n silindertjie en ongesiens afgeval het. Daarna het hy in sy spore omgedraai en uitgestap (of uitgesluip, liewer?). Indien hy vorentoe getree het, sou hy die as waarskynlik vertrap het.

Wie die roker ook al was, hy het nie kwade bedoelings gehad nie; altans, nie voorlopig nie. Maar sê nou hy het, dalk onbedoeld, die plek met sy argeloos hangende sigaret aan die brand gesteek? Hy het na die slapende kinders gestaan en kyk, soos wat sy nou doen. Dalk is hy nog iewers buite, dalk kruip hy hier in die slaapvertrek weg. Growwe hoendervleis slaan oor Berna se arms uit, sodat sy haar moet omhels om die onaangename sensasie te verlig. Haar vel voel soos skuurpapier waar sy daaroor vryf.

Verlede nag se gewaarwording is meteens swaar in haar kop, in haar geheue, deur haar hele wese. Was dit sigaretrook wat haar uit haar diep slaap opgetrek het? Oorhaastig, met rukkende bewegings, lig sy die afhangende beddegoed om onder die drie beddens te loer. Haar eie is ’n dubbelbed, en sy kon nie protesteer en sê hoe eindeloos groot en leeg ’n dubbelbed teen voordagmôre kan word nie. Dis al wat Dawie en Lammie nog te spare gehad het, en dit bied sommer ’n geleentheid aan kleine lyfies om snags by haar in te klouter.

Sy deursoek elke hoekie wat moontlik ’n booswig kan verberg, maar vind tot haar bewerige verligting niks. Die kamerdeur kan nie sluit nie, tensy dit ’n nuwe slot kry, wat bra onnodig was. Maar Dawie het vir haar ’n grendel aan die binnekant laat aanbring, wat sy snags kan toeskuif. Nie dat toesluit hoegenaamd op Rensdal nodig is nie, het hulle haar verseker. Die deur was dus natuurlik ongesluit nadat Dawie die kinders vroeër vanaand in die bed kom sit het. Van nou af sal sy die grendel deurentyd ophou en die ander buitedeur, wat wel kan sluit, gebruik wanneer sy die woonstel verlaat. Die twee vertrekke is met ’n middeldeur verbind.

Van aan die slaap raak, is daar natuurlik geen sprake nie, en dit word ’n gewoonte. Berna lê uur na uur wakker. Verwarde indrukke van die skrik van laas nag en vanaand, asook van die dag se knaende bedrywigheid, Nerida Nel se besoek en die vergadering, marsjeer soos afkopspoke deur haar gemoed.

Niemand in hierdie huis rook nie, keer die sirkelgedagte maar weer terug. Dit was ook nie die stink dampreuk van ’n zol of goedkoop sigaret, wat mens met ’n gewone rondloper sou assosieer nie. Wie ken sy wat rook, en wat genoeg belang sal stel in haar en haar kinders, om hier te kom rondsnuffel? Nerida het vandag gerook. Of Roux rook, weet sy nie. Christiaan Hartogh rook, en die firma se kunsdirekteur, en Annalien, en verder die helfte van die personeel, en Ron Joubert, en honderd ander mense wat sy ken.

Dis egter die herkenningsgevoel van laas nag wat haar bybly. Dit moet ’n bekende persoon wees, of ’n sigaret met ’n bekende handelsmerk dan. Wat van Johan Jonker? wonder sy met misplaaste skerpheid in haar halfsluimer. Rook hy? Sy vae figuur kom meteens skerper omlyn na vore, sodat hy ’n soort baken word. Iemand met wie sy kan praat, wat na haar sal luister, moet luister. Benewens sy roeping is dit sy werk, hy word selfs daarvoor betaal, dink sy byna arrogant, asof hy haar reeds weggewys het.

Môre, sommer op pad van die winkel af, sal sy by die pastorie inval en ’n bietjie ontboesem. Dis hierdie voorneme wat haar eindelik dermate kalmeer dat sy aan die slaap raak. Sy vergly in die greep van ’n angsdroom. Ronald is teenwoordig sonder dat sy hom kan sien. Ronald, wat vreemd emosieloos is, en wat ’n rokende, gebuigde uitlaatpyp probeer regtimmer terwyl slobberige babatjies soos vratte orals aan hom hang.

Soos al die ouer huise hier op Rensdal, is ook die pastorie se voordeur deur ’n diep stoep teen stof en hitte beskerm. Die voordeur staan oop en Berna is op die punt om te klop, toe sy vir Johan Jonker hoor praat, skynbaar oor die telefoon. Dus wag sy geduldig en staan intussen en rondkyk. Noudat ’n volle dag se sonskyn en arbeid oor haar kop heengegaan het, lyk haar besoek ongegrond en onnodig, maar sy weier om weg te draai en doodgewoon huis toe te stap, soos sy ander middae hierdie tyd doen. Die De Vriese se huis is naby genoeg om te stap, en as daar tyd is, verkies sy dit. Dis tans al oefening wat sy kry.

Die portaal se plankvloer verklap nie dat hier ’n vrygesel woon nie. Seker ’n poetsvrou wat daardie diep glans optower. In die aanskoue van soveel versorgdheid, rys haar hoop op ’n koppie tee met aangename, simpatieke geselskap, heelwat hoër. Dit is wat sy ten alle koste nodig het. Na die aanvanklike geselligheid tussen haar en Jonker, was alle daaropvolgende kontak in die teenwoordigheid van ander mense, en dus redelik formeel. Sy het hom konstant ge-“dominee”, en sy kon aanvoel dat hy dankbaar oor hierdie takt is, en dat sy wederkerige “mevrou” so half met voorbehoud was, tussen aanhalingstekens, verskonend.

Sy was nie van plan om na die telefoongesprek te luister nie, maar die menslike gehoorsintuig is seker die moedswilligste ding wat daar is, en dis veral die skreiende klank in sy stem wat haar aangryp en dwing om na die inhoud van die gesprek te luister.

“Nie ons besluit nie, Riana,” sê hy. “Dis jy wat besluit het. Jy het ’n keuse gemaak, en as jy dit vir ons al twee makliker wil maak, moet jy by daardie keuse bly.” Stilte. Dan, in ’n vermoeide stem: “Riana, wat wil jy bereik? Het ons nie seer genoeg gekry nie?” Instink moes hom gewaarsku het dat hy nie alleen is nie, want hy beëindig die gesprek met ’n gemompelde: “Kyk, ek kan nie nou verder praat nie. Die verantwoordelikhede waarvoor jy so bang was, vereis op hierdie oomblik my aandag. Wees dankbaar oor jou noue ontkoming. Tot siens.” Die toon in die laaste woorde laat dit soos ’n onherroeplike vaarwel klink.

“O, dis jy … sjoe.” Johan klink verlig toe hy by die voordeur kom en vir Berna sien staan. “Ek moet onthou om my poorte na die straat se kant toe gesluit te hou. Laas jaar was ek nog in ’n studentehuis waar almal geweet het wie jou nooi is, tot hoe laat julle gekuier het, dat jou geld op is, jou kar stukkend. Dit het nie saak gemaak wie wat hoor nie.”

“Wie sê ek het wat gehoor?” Dan kry sy ’n skielike, onverklaarbare terglus, ’n dringende behoefte aan ’n bietjie ligtheid. “Behalwe dat jy skynbaar gepraat het met ’n eksmeisie, wat jou afgesê het omdat sy nie kans sien vir die eise van die bediening nie, en wat nou spyt gekry het oor haar besluit?”

Maar hy neem dit nie so lig op as wat sy gehoop het nie. “Weet jy hoe het ek geweet jy is hier?” verander hy die onderwerp. “Kom studeerkamer toe, dan wys ek jou.” Dis duidelik dat hy totaal onwillig is om oor sy hartsake te gesels. “Kyk, hierdie portret van my oorlede oupa en ouma,” beduie hy toe sy langs hom staan. “As iemand op ’n sekere plekkie by die oop voordeur staan, kan ek die weerkaatsing in die glas sien, net so mooi langs die voorvaderlike skouer.”

“Ek het altyd gehoor mens se voorouers kan uit die graf uit waarsku,” sê sy, en in dieselfde asem, sonder dat sy dit hoegenaamd beplan het: “Ek het laas nag van my oorlede man gedroom. Dat hy nie regtig dood is nie.”

“Seker ’n onbewuste begeerte om hom terug te hê?” Hy nooi haar nie sitkamer toe nie, maar trap ietwat ongemaklik rond, om ’n rede wat sy nie kan verstaan nie.

“Nee, ek glo nie. Ek dink … ek het gisteraand geskrik. Daar was sigaretas op my kamervloer by die slapende kinders toe ek van die vergadering af kom. Toe lê ek en dink aan almal wat ek ken wat rook. My man was ’n kwaai roker.”

“Maar hy is dood,” sê Johan Jonker met geduld wat op vertroosting gemik is, want dis mos sy werk.

“So het almal vir my gesê toe ek bykom. Ek was bewusteloos na die ongeluk waarin hy dood is. Hulle het gesê hy is begrawe, en ’n graf is vir my gewys.”

“Natuurlik is hy dood, Berna. Jy is oorspanne. Dis nie so eenvoudig vir ’n man om te verdwyn nie, as dit is wat jy insinueer.”

“Ek weet. Sy ouers laat my dit buitendien vergeet nie. Ek is belaglik. Dalk wil ek hom tog terughê. Ek het dit nie besef voor laas nag se droom nie. Ek het altyd gedink dit was beter so, ons huwelik het tog op ’n breuk afgestuur. Maar tyd het ’n manier om die onaangename herinneringe te verdof en dit wat mooi was, skerper na vore te bring.”

“Weet ek dit nie?” sê hy raaiselagtig, in dieselfde stemtoon waarmee hy daardie aand die digterlike siening van verdriet aangehaal het.

“Vergewe my dat ek vra, maar … die Riana.”

“Ons was verloof, redelik lank ook al,” beantwoord hy haar vraag sonder sigbare skroom. “Na my ontvangs hier – sy het dit bygewoon – het sy die verlowing gebreek. Gesê sy sien nie kans om gedurig in die openbare oog te wees en oral die leiding te moet neem nie. Hoe meer ek vir haar gesê het dat dit ’n kwessie van persoonlikheid is en dat sy net haarself sal hoef te wees, hoe meer onwrikbaar was sy. Persoonlik dink ek ’n derde persoon het haar meer ingeblaas as wat sy self bedink het. ’n Persoon met wie sy begin uitgaan het kort nadat ek en sy … Ewenwel, of dit tussen hulle skeefgeloop het, weet ek nie. Ek het nie netnou gevra nie. Sy wou net weet of sy my by ons tuisgemeente se kwarteeufees sal sien. Ons is van dieselfde dorp, sy hou nou daar skool en bly by haar ouers. Dis die hele storie. Nie baie opwindend nie, of hoe?”

“Dis die gewone stories wat die diep onderstrome het,” verseker sy hom. “En loop elke mens nie maar met sy storie rond nie? Gister was Nerida Nel by my, die meisie teen wie die De Vriese so is vir hulle seun Roux. En sy het iets gesê … Ag, ek moet dit seker nie noem nie. Jy kan dink ek vis uit, en dit oor lidmate van jou. Laat ek jou liewers vertel hoe die einste Roux nou die dag my skoen gevat het.”

“Jou skoen gevat? Hoekom op aarde? Dit klink vir my mos baie betekenisvol. In die Bybelse tyd het die uittrek van ’n skoen enige saak van krag gemaak tussen twee mense. Rut en Boas se storie …”

“Nee, dit was net sy manier om my te verneder. Hy reken mos ek het agter ’n man aan geloop. Agter hóm aan.”

’n Half onwillige pret broei diep agter in sy oë. “Vertel?” versoek hy.

En sy vertel die hele klein storie, belaglik soos dit nou agterna klink.

Johan lag. “Ek het al gehoor hy is nie op sy mond geval nie. Toe almal vir hom probeer vrou soek het na sy vrou se dood …”

“Wat, was hy dan al getroud?” Berna kan omval van verbasing. ’n Man het dit darem maar makliker. Hoe swaar moet sy aan haar weduweeskap dra, terwyl hy sy lyf jongkêrel kan hou. Maar dis waar, daar was mos sprake van ’n kind, sy het skoon vergeet.

“Ja, ek dog jy weet. Hulle was kort getroud, agtien maande of so, toe is sy in ’n motorongeluk dood, nie ver van die huis af nie. Sy was alleen in die motor. Roux het agtergebly met hulle babadogtertjie.”

“En waar’s dié nou?”

“’n Niggie van hom maak haar groot.”

“Hoekom nie Dawie en Lammie nie?” Berna se verbasing ken geen perke nie. “Die twee is dan juis so dol oor veral dogtertjies.”

“Dalk juis omdat hulle eie kleinkind hulle ontsê word.”

“Maar hoekom?”

“Luister, Berna, dit is, soos jy sê, almal lidmate van my, en ek …”

“Ek verstaan. Jy kan hulle nie met ’n ander lidmaat bespreek nie.”

“Ek kan maar net vir jou sê wat nie regtig ’n geheim is nie. Dalk weet jy dit al: Roux se vrou was Dawie se dogter.”

Sy is stomverbaas. “Ek verstaan nie. Is dit ingewikkeld, of is ek dom?”

“Roux en sy vrou, Luna, was ’n skoolkys, afkomstig van buurplase. Na skool het hulle gaan studeer. Hulle is eers getroud nadat Roux terug plaas toe gekom het. En daarna is haar pa, Dawie, getroud met Roux se ma, Lammie. So ’n oorkruis familieknoop.”

“Ideale teelaarde vir familievetes,” reken sy. En genoeg rede vir die grootouers om self ’n tweede vrou vir hulle seun te soek, snap sy verder, bly oor die bietjie lig wat uiteindelik op die groot raaisel skyn; ’n vrou wat self moeder is en dalk nog enetjie in haar sorg sal wil opneem. Die rede seker ook hoekom hulle so teen Nerida Nel is. Sy sal waarskynlik nie kans sien om ’n ander vrou se kind groot te maak nie.

“Ja. Dit was voor my tyd. Maar toe ek hier kom, was Roux swaar in rou, oor sy vrou se dood.” Dis al wat Johan Jonker sê, terwyl hy haar steeds nie nooi om te sit of ’n koppie tee te drink nie. Meteens besef Berna die waarheid: haar besoek stel hom in die verleentheid. Vrou-alleen, en daarby ’n jong weduwee. Die ou koster verrek dalk sy nek. Wat ’n sensitiewe situasie vir iemand in sy posisie.

Byna oorhaastig neem sy afskeid, en hy keer haar nie. Eers toe sy op pad is na die groot sinkdakhuis tussen die vrugtebome, dink sy: Hy weet nie eens wat ek by hom kom doen het nie. En om die waarheid te sê, weet sy self ook nie meer mooi nie . Sy onthou net dat sy, om die een of ander rede, opreg gefnuik en diep weemoedig voel, asof ’n veilige toevlug haar ontsê is.

Louisa du Toit Omnibus 8

Подняться наверх