Читать книгу Louisa du Toit Omnibus 8 - Louisa du Toit - Страница 4

1

Оглавление

“Oppas tog, meisie …”

Vervaard kyk Berna om. Dis die vaderlike toon in die stem, eerder as die daarmee gepaardgaande dringende greep op haar arm, wat haar tot besinning bring. Toe eers besef sy dat sy byna teen die rooi mannetjie in gestap het. Dit was so hittete of sy het onder die massiewe dubbele wiele van ’n swaar voertuig beland.

“Dankie, meneer,” sê sy, en trek haar arm subtiel weg uit die helpende, byna krampagtige greep, sonder om te kyk hoe die man lyk wat aan die arm vas is. Sy voel skaam, en verder het sy haar buite weste geskrik. Dit was nie totaal onbeplan nie, besef sy. Die gedreun het haar in ’n soort beswyming geplaas en sy het vorentoe getree sonder om te dink. ’n Oordeelsfout was dit nie, daarvoor ken sy die stadsverkeer en hierdie bepaalde robotkruising gans te goed. Sy was self soos ’n robot met uitgebrande draadjies diep binne.

Haar hart klop nog hewig. Amper was die tweeling algehele weeskinders. Hulle sou op die gewone tyd by die hekkie van die dagmoeder wag, en daar sou niemand kom om hulle op te laai nie. Ondenkbaar. Sy, wat haar eie behoeftes ten bloede toe verloën om hulle tweetjies tog net goed te kan versorg en grootmaak.

Julia Joubert sou in haar noppies gewees het om haar twee twisappel-kleinkinders eindelik volledig in haar besit te hê. Sy doen mos enigiets in haar vermoë om haar skoondogter se onvermoë te bewys. Maar sou sy die algehele sleur van twee kleuters op haar hande ewe goed kon aanvaar?

Ek het nie meer beheer nie. Ek het uitgehaak, besluit Berna toe sy agterkom dat sy dwarsdeur die groen mannetjie stil bly staan het reg by die voetoorgang, terwyl ander voetgangers oorgestroom het.

“Eers te haastig, en nou glad nie haastig nie.” Haar weldoener se stem. Dus het hy ook bly staan, seker om te kyk dat sy nie weer iets onbesonne aanvang nie.

“Dankie, maar ek wou net iets uit my handsak haal,” soek sy ’n uitweg, en begin dadelik in haar skouersak krap … op soek na niks. Sy weet immers wat daarin is, behalwe die gewone items wat in elke werkende vrou-en-moeder se handsak is. Die nuwe item is die stywe tjek waarmee Christiaan Hartogh haar pas ontslaan het. Drie maande se salaris, jaarlikse bonus, agterstallige verlof. Die pensioenuitbetaling sal later volg.

“U kan maar loop, meneer, en baie dankie,” herhaal sy, en voeg onwillig by: “Dalk het u vandag my lewe gered.”

Maar die man bly nog staan, sodat sy moet opkyk na hom toe. Hy is middeljarig, moontlik van ’n ouer geslag plattelanders volgens sy konvensionele beste klere, met selfs ’n hoed daarby, wat hy nou beleef lig by wyse van groet. Onder die haarlyn is sy voorkop wit. Hy is dus ’n gereelde hoeddraer. In die reënblou oë is daar ’n ietwat vasgekeerde blik, en sy herken dit as dié van iemand wat nie aan die stadsverkeer gewoond is nie. Daarom, miskien, dat hy waaksaam genoeg was om haar amper noodlottige beweging dadelik te onderskep.

“Ek sou geloop het, juffrou, as ek maar net geweet het waarheen,” erken hy nou.

“Is meneer verdwaal?” Om vir hom die pad te beduie, sal meer as net ’n gebaar van erkentlikheid wees. Dit sal ’n reddende daad wees, iets wat haar kan uitsleep uit die poel van bedruktheid waarin sy die afgelope uur verkeer. ’n Uur, ja, dis so lank as wat dit geneem het om al haar bande by Hartogh & Seun af te sny. En dit na alles wat sy vir hulle gedoen het. Die aande der aande wat sy laat gewerk het, dikwels paniekerig moes reël vir toesig oor die tweeling. Gelukkig dat Annalien, haar beste en dalk enigste vriendin op die personeel, in dieselfde woonstelblok as sy gebly het en altyd bereid was om ’n helpende hand uit te steek.

Annalien, wat netnou by haar kom staan het toe sy voor die wye venster trane wegsluk en nikssiende op die woelige stadstraat uitstaar. “Die vroue wat vandag bereid is om ’n prys te betaal vir hulle eer, is maar min, Berna. Wees bly jy is een. Jy sal weer ander werk kry, jy sal regop kom. En jy sal nog Berna wees, nie uitverkoop aan hierdie … hierdie …”

“Sjjt,” het Berna dringend gemaan, bang dat Annalien ook haar werk kan verloor. Wie weet watter woord wou sy gebruik om Hartogh mee te beskryf? Want vir haar het Berna in die kleedkamer kortliks die waarheid meegedeel.

Die ergste was dat die wulpse Cathy gevra het, na die bekendmaking van die nuus van Berna se “bedanking met onmiddellike effek” (dis hoe Christiaan Hartogh dit nogal heel diskreet genoem het): “Was jy nie goed genoeg nie?” O, die duister betekenis van die snedige woorde. Die hoeveelste een is sy op wie Hartogh Junior hierdie strategie beproef het … reg wees, of weg wees?

“Kan ek vir u die pad iewers heen beduie?” vra Berna nou aan die vreemde man wat gerusstellend veel soos ’n oom lyk. Daardie “meisie” van hom het haar so ontwapen; sy, ’n jong weduwee wat in elk geval ’n ontnugterde mens was toe sy onverwags dié staat betree, en sedertdien suf gesukkel is met die sorg van twee woelige kleuters en die stryd om hulle in haar besit te hou. Dis waar, geen hof sal hulle van haar af wegvat en aan die ouma gee nie, so glo en hoop sy. Maar wat as die morele druk te sterk word? Of as Julia dit in haar kop kry om te probeer aantoon dat sy ’n swak moeder is? Iemand wat in ’n onbesonne oomblik amper selfmoord gepleeg het deur blindelings voor ’n lorrie te wou inloop? Emosioneel ontoerekenbaar, sou die argument wees.

“Jirlikheid, meisie, ek weet nou nie,” sê die oom. “Ek het gedink ek weet waarheen ek wil gaan, maar nou weet ek glad nie meer nie.”

“Sê maar, meneer, ek ken die stad.” Al het sy dan nou byna onklaar getrap by die robot, sy het deur en deur ’n stadsmens geword.

“Ek wil nog ’n stukkie plakpapier vir die vrou se winkeltjie op Rensdal gekoop het, maar teen hierdie tyd dink ek verf sal maar net so goed wees, wat.”

“Rusdal?” vra sy belangstellend.

“Nee, Rénsdal.” Hy spreek dit egter steeds uit soos “Rêsdal” met ’n lang “ê”, so half liefkosend. Dan vervolg hy: “Ek wil maar na my bakkie toe, maar ek weet glad ook nie eens meer waar dié staan nie.”

“Kom ons soek hom dan, beduie my net,” bied Berna aan, amper opgeruimd in die wete dat sy hier met ’n tasbare, hoogs oplosbare probleem te doen het. En ook ten dele, snaaks genoeg, omdat sy besef dat sy opeens al die tyd in die wêreld tot haar beskikking het. Vir die eerste keer in hoeveel jaar? En vir hoe lank vorentoe nog? Wat sy die nodigste het, wou sy oor haar dooie liggaam nie van Hartogh vra nie: ’n verwysing. Sy sal hom nie die genoeë gee om haar nog ’n keer te verneder nie … dalk nie deur wat hy sê nie, maar deur wat hy weglaat. Op geen beroepsprofiel waarmee sy vir nuwe werk aansoek doen, durf sy eens haar ondervinding by Hartogh noem nie … want bel hulle hom as referent, hoe weet sy wat hy agter haar rug kan kwytraak?

En selfs al getuig hy positief genoeg, selfs hy weet nie hoeveel werk sy huis toe gevat het, hoe lank sy dikwels nog na hom op kantoor was nie. Daardie verlate uitstap in die leeggeloopte aandstrate, en die skuldgevoel teenoor die kleintjies. Sal sy die littekens daarvan altyd aan haar gees moet saamdra?

“Toe maar, meisie, wys liewers net vir my die naaste kafee, ek dink ek het ’n koppie koffie nou die nodigste van alles,” sê die man toe hy, hinkstappend van verkeersvrese, eindelik saam met haar die straat oorsteek.

“Ek ook, oom,” sê Berna met ’n oorgawe wat haar verstom. Die “oom” het sommer uitgeglip, en hy betig haar nie met die geykte afjak dat hulle nie, sover hy weet, familie is nie. “Ek het die sterkste koffie nou dringend nodig.”

“Nou waarvoor wag ons dan, meisie?”

Sy weet van ’n naby plek waar jy “bottomless” kan bestel. Drie koppies filterkoffie later weet Berna Joubert en Dawie de Vries sommer al veel van mekaar af. En Dawie se verontwaardiging ken geen perke nie. Reken, dat ’n man, en nogal ’n werkgewer daarby, ’n eerbare vrou so boos kan behandel.

Dit vlei haar dat hy haar as eerbaar deurgekyk het. In die stad kon hy maklik ’n tert op die lyf geloop het wat hom letterlik en figuurlik kaal uittrek, of doodgewoon belieg en besteel. “Ag, oom Dawie, dit was ook my eie skuld. Dit lyk vir my ek bly maar ongeleerd in die weë van die wêreldwyses.”

“Wêreldwyses my voet. Sê liewers ellendelinge.”

“Ek moes deur sy plannetjie gesien het, en ek het nie.”

“Jy het niks verkeerds gedoen nie. Wat jy gegaan het om kastig by sy huis te doen, het jy jou plig geag, tot jy uitgevind het dis ’n slagyster. Hy het jou dan mos wysgemaak dis ’n konferensie of ding waarmee jy hom moes gaan bystaan.”

“So het ek geglo, ja. Hy het ’n toegeruste konferensiekamer by sy huis. Gerieflik. Dit sou nie die eerste keer wees dat hy dit bo die kantoor verkies nie. Ek was al meer as een keer daar, maar dan as deel van ’n groep.”

Sy versluk haar byna aan die koffie, so ontsteld raak sy weer as sy aan gisteraand se gebeure dink. Die spesifieke video waarna hy haar eers wou laat kyk, kastig “voortgesette opleiding”. Verseker wou hy haar sag maak met ’n byna-blou video, beslis niks met die advertensiewese te doen nie. Toe daar niemand anders opdaag nie, het daar alreeds ’n klokkie in haar kop begin lui. Gesonde verstand het haar gemaan om nie die drankie te neem wat hy haar aanbied nie. Sy wou haar oordeel suiwer hou.

Wat ’n skok om so onwetend daar aan te kom, nogal met haar kantoortas, en dan te moet uitvind dat hy eintlik “bystand” van ’n ander aard in gedagte gehad het. Om te dink sy het spesiaal ’n draai by die kantoor gemaak om ’n aantal leggers en rekenaardiskette op te laai, wetende wat hy gewoonlik verlang as hy byvoorbeeld voornemende kliënte ontvang.

En daar staan sy met haar tassie toe hy die voordeur oopmaak, ontspanne aangetrek en drankie in die hand, en iets in sy oë en in die hele atmosfeer vertel vir haar dat ’n yslike strik vir haar voorberei is. Die talmende beweging waarmee hy die tas uit haar hand gevat en amper met minagting agter ’n potplant neergesmyt het, terwyl sy blik weier om hare ’n oomblik lank los te laat, het boekdele gespreek.

Die ergste vir haar is die vernietiging van ’n droom, ’n ideaalbeeld. Deur maande heen, sedert hy sy pa kom opvolg het, het sy vir hom respek gehad; het sy sy teenwoordigheid opwindend gevind sonder dat sy noodwendig in die geswymel van die ander kantoormeisies verval het. Soms het sy selfs gedink: hoe maklik sal dit nie wees nie, as ek en hy … hy is gevestig, het ’n huis, hy sal in my ’n maat hê wat weet wat daar in sy wêreld aangaan en wat hom sal kan bystaan, terwyl my kinders ’n vaderfiguur sal hê. Hoe naïef kan ’n vrou wees? Onnosel, eintlik. Wat van die geroemde vroulike instink?

“Hou ek jou nie op nie, oom Dawie?” wil sy besorg weet toe sy besef dat hulle reeds meer as ’n uur lank hier in die koffiekroeg sit. Vir haar is dit ’n eindelose lang oggend. Dit voel soos gister toe Hartogh haar ingeroep het.

Sy het dit verwag; sedert sy gisteraand bykans moes wegbreek uit sy greep en uit daardie huis van hom, het sy dit verwag. Het heelnag wakker gelê, en was min verbaas toe sy vanmôre direk na sy kantoor ontbied word. Vir die skyn het sy ’n stapeltjie leggers saamgedra, maar haar bene het gebewe.

“Ek is so jammer, mevrou Joubert …” Die allerfynste grinniktrekkie om sy lippe het hierdie uitgesproke spyt volkome weerlê. “Ek het onverwags opdrag gekry om die personeel meer stroombelyn te maak.”

Opdrag? Van wie? Van homself, of van sy pa wat oorsee toer om sy aftrede te vier? Sy het die leggers soos ’n koeëlvaste skans in haar gekruiste arms voor haar bors gehou. “U sê my aan om te loop?” Sy was versigtig om nie na die vorige aand te verwys nie. Hy kon gemeen genoeg wees om ’n mikrofoontjie iewers te versteek en haar eie woorde teen haar te draai. “Is daar fout met my werk, meneer Hartogh?”

“Nee, inteendeel. Maar ons praat nie hier van die gewone kantoorvaardighede en kennis van die advertensiewêreld nie.” Sy duiwels aantreklike mond het in geveinsde nadenke getuit. “U het alles onder die knie ten opsigte van bemarkingstrategieë en die seleksie van media en van promosieprogramme en uitleg en die hele lot. Maar u vermoë om ’n dinamiese bestuurder persoonlik te assisteer, skiet om die een of ander rede te kort. Dalk het u persoonlike probleme, ek weet nie.”

Sy wou sê dat dit ’n tekort is waarin sy haar verbly. Sy wou sê dat sy hom by sy pa sal verkla as dié terugkom. Sy wou vir hom sê sy het nog nooit haar huisprobleme saam kantoor toe gedra nie. Sy wou sê hy kan tien keer warmplek toe vlieg en nooit terugkom wat haar betref nie. Maar haar geskoolde professionaliteit het haar te hulp gekom. “As ek bedank, wil ek ten minste verseker wees dat ek volle finansiële voordele kry soos dit aan my verskuldig is, meneer Hartogh.”

Hy het haar ten minste met die “bedank” laat wegkom, die kwessie van afdanking het nie ter sprake gekom nie. Daarvoor moes sy hom ’n bietjie onwillige krediet gee.

Dus het hulle formeel gepraat oor haar bonus en oor agterstallige verlof, en sy het ’n bietjie voorligting gegee aan die einste wulpse Cathy, wat haar plek tydelik sou inneem. Nou ja, hopelik slaag Cathy beter in die “persoonlike assistering”. Dalk oefen sy lankal. Mens kon bykans ’n elektriese geknetter hoor as sy en Hartogh in mekaar se teenwoordigheid kom. Dit sou ook Cathy se katterige opmerking vanoggend verklaar.

“Nee, meisie, jy hou my nie op nie.” Dawie het trouens ’n rustigheid oor hom wat getuig van die oop ruimtes waaraan hy gewoond is. ’n Mens kan sê hy sit en mediteer oor die koffiekoppie soos oor die gang van die son en maan, volkome ongehaas. “Want as ek hier uitgaan, moet ek my pad uit die miernes uit kry terug Rensdal toe.”

“Ek sal saamstap tot by oom Dawie se bakkie en die pad uit mooi teken.”

“Dankie, dit sal help. Maar ek sit my ook en kwel: wat word van jou en jou twee kindertjies? Jy was gewoond aan ’n groot salaris, en hier sit jy nou.”

“As ek regtig vasbrand, kan ek na my skoonouers toe gaan, oom Dawie.” Net of sy dit sal doen. Sy sal liewers skottelgoed gaan was in hierdie koffiekroeg. Maar vir Julia ’n stok in die hand gee? Aikôna.

“Jy lyk nie baie gretig nie. Kom jy en jou skoonouers ooit goed klaar?” vra Dawie terwyl die opregte blou oë haar fyn dophou. Daar is ’n paar ongetemde wenkbrouhare wat so te sê op aandag staan om haar antwoord af te wag.

“Nie juis nie, oom Dawie. Ek moet maar eerlik wees. My skoonma dink ek is nie ’n goeie opvoeder vir die kinders nie, omdat ek met hulle in ’n woonstel sonder tuin en swembad bly, en voltyds werk ook. As sy kan, sal sy hulle graag self wil vat. Met genoeg gehuurde hulp, bygesê. Maar die waarheid is, sy hou meer van my seuntjie as van my dogtertjie. Ek kry vir Mientjie so jammer as ons daar is. Dis altyd Ronnie wat eerste opgetel of gedruk word.”

“Ek word sommer vies as ’n meisiekindjie hond gemaak word,” sê Dawie de Vries met ’n vuur wat haar verbaas. “Nee, jy bly weg van jou ou skoonma af. Ons sal ’n ander plan maak.”

Die “ons” gee haar ’n warm gevoel om die hart. Vir iemand wat nooit self ’n pa geken het nie, is dit wonderlik koesterende woorde.

“Dis nou net jammer, jy sal nie weg uit die stad uit aard nie …”

“Maar wie sê, oom Dawie? Ek het dorps grootgeword. My ma was al die jare kosmatrone in ’n dorpskoshuis. My pa is dood nog voor ek gebore is.”

“Maar dan is daar mos niks wat keer dat jy hier padgee nie,” sê hy. “Kom Rensdal toe, Berna, meisie, dat ek en Lam na jou kinders kan help omsien. Lam se plekkie het ’n slim mens nodig.”

Netnou nog het Berna gedink dat hy maklik deur iemand uitgebuit sou kon word. Nou wonder sy: waarom vrees ek nie vir my dieselfde nie? Dat hy ’n gebore swendelaar kan wees? ’n Wolf in skaapsklere? Maar een blik in sy eerlike oë oortuig haar anders. Hy beduie meegevoer met sy hande, en sy dink: niemand kan só goed toneelspeel nie.

“Ons sal nou nie vir jou die salaris kan gee wat jy hier gekry het nie, maar ons kan vir jou verniet blyplek gee. Dis ’n grote dorpserf met buitekamers wat mooi reggemaak en ingerig kan word.”

“Dankie, oom Dawie, maar ek kan nie net op julle nekke gaan lê nie. Ek moet maar hier bly en nuwe werk vind, beter blyplek ook.”

“Nekke, op wie se nekke gaan jy lê? Ek sê vir jou ons het iemand dringend nodig. Lam het maar al die jare die plekkie alleen gehad, so ’n tuisnywerheidjie, veral toe ons nog op die plaas was. Vandat my stiefseun boer, sit ons op die dorp, en die winkeltjie brei uit, en vra al haar krag en aandag. Nou is daar maar gedurig ’n paar vroue wat wil aansluit en Lam weet nie mooi hoe om te maak met so ’n koöperasie-ding nie.”

Toe sy hom net sonder woorde sit en aanhoor, vervolg hy onseker: “Ek weet dis nou nie juis ’n uitdaging vir jou wat sulke hoë werke gewoond is nie, maar …”

“Ek soek nie uitdagings nie, oom Dawie. Ek wil net oorleef en vir my kinders ’n menswaardige bestaan bied. Maar ek is gewoond om self reg te kom, my lewe lank al.” Dis nie nou die plek om te vertel van Ronald wat so vas aan sy ma se rokpante was dat hy nooit ’n volwasse eggenoot, vader en versorger geword het nie. Tog is sy seker dat hierdie oom Dawie haar diepste gedagtes verstaan. Hy het net iets van daardie aartswysheid wat dit moontlik maak om ’n ander se gemoed te deurgrond. “Dit het vanmôre genoeg vir my beteken dat iemand net na my gesit en luister het, en daarvoor sê ek dankie.”

Genoeg? dink sy nietemin vasgekeer. Genoeg om te betaal vir woonstelhuur, motorpaaiement, die kinders se bewaarskool, kos en klere? Veral klere, ja. Sy het ’n aansienlike klererekening. Een van die vereistes waaraan Christiaan Hartogh verwag het dat “sy meisies” moet beantwoord: om modieus geklee te wees.

En Dawie verstaan ook dit. “Luister maak nie magies vol en sit nie klere aan kindergatjies nie,” sê hy met ’n stout laggie. “Vat nou my naam en adres en telefoonnommer, en bel sodra jy al jou sakies uitgestryk het. As jy nie self Rensdal toe kan kom nie, kan ek en Lam of Roux jou kom haal.”

“Roux?” wil sy weet.

“My stiefseun, die boer.” Hy speel met die teelepel terwyl hy dit sê.

“As ek daar moet kom, sal ek op my eie daar kan kom, oom Dawie. Maar ek sal regtig eers baie goed moet nadink.”

“Nou dink dan, maar moenie te lank dink nie.” Die hand waarmee hy skryf, is nie te geoefen nie, al doen hy sy bes om dit so te laat lyk. “Kom kyk dan maar net eers as jy wil sien hoe dit lyk. Maar ek sê vir jou, op Rensdal kan ’n mens nog asemhaal, nie soos hier waar al die voëltjies hoes nie.” Hy staan op en lyk benouderig. “En nou moet jy vir my help uitvind waar die plek se kleedkamer is, meisie, want ek het lank laas so baie koffie gedrink en die pad is ver.”

“Het oom vanoggend deurgery?”

“Nee, gister al, het laas nag by Lam se niggie-hulle geslaap, maar moenie vra hoe ek daar uitgekom het en hoe ek weer hier gaan uitkom huis toe nie.”

“Nou ja, loop oom se draai, dan moet ons gaan soek waar oom se bakkie geparkeer is.” Volgens wat hy beduie het, het sy ’n redelike goeie idee. Mag dit tog nie gesteel wees nie, hoop sy vuriglik.

Dis skuins voor twaalf toe Berna die tweeling gaan oplaai. Om buitenstyd hier te kom, is ook sommer ’n goeie geleentheid om te sien of dit goed gaan by die dagmoeder waar sy hulle elke dag los; met aansienlike moeite, want dis ’n redelike ent wat sy moet ry, meestal deur spitsverkeer.

Wat sy sien toe sy uit die motor klim, laat onmiddellik haar moed laag in haar skoene sak. Verwese sit Mientjie op die skoppelmaai en huil terwyl sy haarself liggies wieg-wieg. Daar is op hierdie oomblik niemand wat na haar klagtetjies luister nie. Diep in haar hoor Berna weer Ronald se stem: “Jy trek haar voor, net om my en my ma te wys.”

“En wat wil ek nogal vir julle wys?” Hulle was so in die groef van meningsverskil dat elke uitlating aanvegbaar bewoord was.

“Dat ons en ons naam nie so watwonders is nie.”

“Raai, ek het darem ons seunskind Ronald laat doop. Ek het vermoed ’n naam moet voortreflik wees as dit geslagte lank voortgedra word.” Die sarkasme nou weer van haar kant af.

“Ek glo nie dis iets waarvoor jy juis eerbied kan hê nie. Jy wat nie eintlik weet van familiebande en ’n eie tuiste nie.” Haar ma se huisloosheid was sy sterkste wapen.

“Hoor ek jou moeder praat?”

Dit moes sy nooit gesê het nie. Net een ding was groter as sy verslaafdheid aan sy ma, en dit was sy wrewel teenoor haar omdat hy dalk aan haar verslaaf kon wees.

In hierdie stadium was die rusie gewoonlik volryp, en het hy hom onttrek en padgegee, na sy ma toe of kroeg toe. Hoe jonk en dom was ek tog, dink sy. As sy haar kortstondige huwelik nou weer kon hê, sou sy veel meer geweet het van selfverloëning. Of sou alles maar weer dieselfde vermoeiende ou paadjie geloop het, met Julia die groot skeidende faktor tussen hulle?

Dat sy so gou swanger geraak het, was ook grootliks om die grootouers te behaag. Nie dat sy nog ooit spyt was nie, maar destyds wou sy nog graag in hulle goeie boekies wees. Hulle het egter die kleinkinders, veral vir Ronnie, aangegryp asof hulle geheel en al uit die baarmoederlose lug geval het. Sy, Berna, was nog steeds geen faktor in hulle lewe nie. As haar skoonpa maar ’n sterker sê kon hê. Sy is seker hy is haar nie ongeneë nie, maar hy is so geskool in die wegsteek van sy emosies. Seker ook nodig; dis die enigste manier om te oorleef langs ’n vrou soos Julia.

Verteder loop Berna na die swaaie toe en haal vir Mientjie af. Die kleintjie is so bly dat sy haar ma byna versmoor, en ’n stroom onsamehangende klagtetjies word in die gewillige moederoor uitgestort. Ook Ronnie kom nader gehol toe hy haar sien, die wangetjies drillend, gesig ernstig getrek om die rol van vertellende ouboet te vervul.

Berna hoor dat die dagmoeder stad toe is. Aan die moedeloos sloffende assistent gee sy ’n briefie en ’n tjek om te oorhandig. Toe raap sy haar kinders besitlik bymekaar en bondel hulle in die motor. Sy het nogal gedink sy doen die regte ding omdat die vrou nie meer as twee kinders op ’n slag invat nie. Sy moes raakgesien het dat dit die vrou bloot van vele reëls en regulasies vir dagsorg vrywaar, sonder dat dit noodwendig beter diens waarborg.

“Waantoe gaan ons, Mamma?” vra Ronnie, altyd die woordvoerder.

“Huis toe,” sê Berna kort.

Louisa du Toit Omnibus 8

Подняться наверх